Apologetiek: Die basiese temas van Christelike apologetiek (2)

. —C.H. Spurgeon

Apologetiek: Die basiese temas van Christelike apologetiek (2)

[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

Ons sê dat apologetiek die verdediging van die Christelike geloof is. Wat beteken dit? Van watter take praat ons? Ons het reeds na die eerste taak – verdedig – gekyk. Ons kyk nou na twee verdere take.

 

1.Aanbeveel

Hier laat die apologeet toe dat die gehoor die waarheid en toepaslikheid van die evangelie waardeer. Om dit te kan doen moet mense die volle omvang van die Christelike geloof verstaan en waardeer. Ongelowiges moet verstaan waarom die Christelike geloof ernstige oorweging verdien. Jesus self het by geleentheid die koninkryk van God met ‘n waardevolle pêrel vergelyk: As hy (die handelaar) ‘n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel (Matteus 13:45 – 46). So moet ons wys dat die Christelike geloof meer sin maak as enigiets anders – ons moet alles verkoop om hierdie waardevolle skat in die hande te kry.

Ons mag egter nooit die aanspraak van die evangelie tot menslike rede beperk nie. Wat van die hart? In die evangelie lees ons herhaaldelik dat mense tot Jesus aangetrek is, want hulle het besef dat Hy hulle lewens kon verander. Argumente het sy beperkings. Mense word na die Christelike geloof aangetrek omdat hulle glo dat dit hulle lewens sal verander. Hulle vra nie: Is dit waar? nie, maar: Sal dit werk? Ons moet mense oortuig dat die Christelike geloof so opwindend en wonderlik is dat niks daarmee vergelyk kan word nie. Ons moet mense help om die aantreklikheid van die geloof te begryp. Dit is soos iemand wat ‘n skatkis oopmaak en juwele ophou – een vir een sodat mense hulle kan sien en waardeer. Dit is soos om ‘n diamant op te hou sodat mense die skoonheid van elke faset kan waardeer.

2.Vertaal

Die kernidees en temas van die Christelike geloof is vir baie gehore onbekend. Hulle moet verduidelik word deur bekende of toeganklike beelde en verhale. C. S. Lewis was die meester van hierdie benadering. Hy sê: We must learn the language of our audience … you must translate every bit of your theology into the vernacular. Ons moet in staat wees om ons geloof in ons kultuur te verduidelik deur taal en beelde te gebruik wat hulle verstaan. Dit is nie toevallig dat Jesus gelykenisse gebruik het om mense oor die koninkryk van God te leer nie. Hy gebruik die taal en beelde wat sy gehoor verstaan.

Bybelse terme  moet verduidelik en geïnterpreteer word sodat mense dit kan verstaan. Kom ons kyk na Romeine 5:1: God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Hierdie is duidelik ‘n belangrike stelling oor ons geloof. Moderne gehore sal dit nie sommer verstaan nie. Hulle sal waarskynlik Paulus se siening van vryspraak misverstaan.  Dit is duidelik dat Paulus se siening van vryspraak verduidelik moet word in woorde wat beide getrou aan sy oorspronklike betekenis en verstaanbaar vir hedendaagse gehore is.

Is apologetiek en evangelisasie dieselfde? Daarna gaan ons volgende keer kyk