Apologetiek: Inleiding

Such as forsake the Church … wholly alienate themselves from Christ.” – Calvyn

Apologetiek: Inleiding

[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

The object of opening the mind, as of opening the mouth, is to shut it again on something solid (G. K. Chesterton)

In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord (apologia) te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking (logos) eis oor die hoop wat in julle lewe (1 Petrus 3:15).

 

Petrus aanvaar dat Christelike idees verkeerd verstaan of verklaar kan word. Hy doen ‘n oproep op sy lesers: stel dit reg. Maar: Doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Die doel is nie om mense buite die kerk kwaad te maak  of te verneder nie. Die doel is om hulle oë oop te maak vir die werklikheid, betroubaarheid en toepaslikheid van die Christelike geloof. Daar mag geen verskil wees tussen die boodskap wat verkondig word en die toon van die boodskapper nie.

As mense probleme met die evangelie het, moet dit wees as gevolg van die intrinsieke aard en inhoud van die evangelie – nie met die manier waarop dit verkondig word nie. Dit is tragies as die evangelie aanstoot gee as gevolg van swak woordkeuse of ‘n aggressiewe en neerbuigende gesindheid van gelowiges teenoor buitestanders. Veral in Handelinge kry ons voorbeelde wat die Christelike geloof verduidelik en verdedig. Kyk na Petrus se toespraak op pinksterdag  waarin hy argumenteer dat Jesus die toppunt van die hoop van Israel – die Messias – is (Handelinge 2). In Handelinge 17 lees ons van Paulus se toespraak in Atene waarin hy argumenteer dat Jesus die toppunt van die mens se soeke na wysheid is.

Hierdie taak om die Christelike geloof te verdedig,duur vandag steeds voort. Vandag staan ons voor nuwe kulturele uitdagings en geleenthede. Dit is maklik om so deur die uitdagings oorweldig te word dat ons glad nie die geleenthede raaksien nie. Dikwels wil ons hulle nie raaksien nie, want ons weet nie hoe om hulle te hanteer nie.

Ek hoop hierdie reeks gaan ons help om die geleenthede raak te sien en ook hoe om hulle te hanteer. Volgende keer gaan ons na die basiese temas van apologetiek kyk.