Apologetiek: Petrus se toespraak op Pinksterdag (2)

 “The cruelest lies are often told in silence.” Robert Louis Stevenson

Apologetiek: Petrus se toespraak op Pinksterdag (2)

 ‘n Verwysing na die geskiedenis is baie belangrik vir die apologeet – dit verseker binnestanders van die werklikheid van die groot historiese gebeure waarop ons geloof berus. Wat van buitestanders? Die rol van die geskiedenis is belangrik, want dit weerspreek die kritiek van ateïste dat die evangelie opgemaak is – wensvervulling.

Klem op die geskiedenis by die ontstaan van die Christelike geloof wys dat die Christelike geloof ontstaan het as gevolg van die geskiedenis van Jesus.

Geskiedenis beskryf gebeure, maar hierdie gebeure moet geïnterpreteer word. In 49vC lei Julius Caesar sy leër suid uit die huidige Frankryk na Italië. Op ‘n stadium moes hulle die Rubicon-rivier kruis. Hierdie was nie ‘n besonder diep of breë rivier nie. Om oor die rivier te kom was nie fisies besonder moeilik nie. Maar die Rubicon was ‘n belangrike politieke merker: dit was die noordelike grens van die gebied wat direk deur die Senaat in Rome beheer is. As Caesar hierdie rivier sonder toestemming sou kruis, en dit met ‘n leër, is dit ‘n oorlogsverklaring teen Rome. Die kruising van die Rubicon is belangrik, want dit is die begin van een van die bekendste burgeroorloë in die geskiedenis. Iemand wat nie met die destydse situasie bekend was nie, sou nie die volle implikasies van wat Caesar gedoen het, besef het nie. Mense kruis tog elke dag  riviere; leërs kruis elke dag riviere – dit is deel van hulle militêre opleiding. Maar die kruising van hierdie spesifieke rivier op hierdie spesifieke tyd was ‘n oorlogsverklaring.

Ons moenie net vasstel wat gebeur het nie, maar ook hoe die gebeurtenis geïnterpreteer moet word. Ons moet die konteks wat aan die gebeurtenis sy betekenis gee, vasstel. Of dit nou Julius Caesar wat deur die Rubicon trek of Jesus wat aan die kruis sterf en weer opstaan bly die beginsel dieselfde: stel vas wat gebeur het en bepaal die betekenis van die gebeurtenis. Kyk hoe doen Paulus dit: Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word (Romeine 4:25). Sonder enige onderbreking word die historiese feite en die teologiese interpretasie aangebied.

Wat is die betekenis  van Petrus se toespraak op pinksterdag? Ons kan ‘n oortuigende saak  uitmaak dat Jesus die kulminasie van God se werking met sy volk is. Die opstanding van Jesus is die kulminasie  van die baie leidrade wat lei tot die uitspraak dat Jesus die Here en die Messias is. Maar ons kan nie net bewys dat Jesus aan die kruis gesterf en weer opgestaan het nie. Wat is die betekenis hiervan vir ‘n gevalle en verlore wêreld? Die teenoorgestelde is ook waar: ons kan nie net geestelike insigte bevestig nie. Die insigte kry ons in en deur die historiese gebeure. Verstaan ons hierdie gebeure kan ons die dieper geestelike betekenis ook begryp.

Volgende keer kyk ons na Paulus se toespraak in Atene.