Apologetiek: Toegangsroetes (6)

 

Apologetiek: Toegangsroetes (6)

[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

Paulus gebruik ‘n hele reeks kragtige beelde in sy briewe om ons te help verstaan wat Jesus Christus  vir ons  deur die kruis en opstanding gedoen het. Een van die beelde wat hy gebruik is aanneming.

Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry (Romeine 8:23); Hy is uit ‘n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word (Galasiërs 4:4 – 5). Hierdie beeld is aan die Romeinse familiewet ontleen. Dit werp lig op die voorregte en plek van Christene en hulle verhouding met God.

‘n Familie besluit om aan ‘n kind wat nie in die familieverband gebore is nie dieselfde wetlike voorregte te gee as kinders wat binne die familieverband gebore is. Hulle het dus dieselfde erfreg as die natuurlike kinders. Christene is dus in die familie van God ingebring en ontvang dieselfde wetlike voorregte as enige natuurlike kind. Maar wie is die natuurlike kind van God? Jesus Christus. Wat Paulus sê, is dat alles wat God aan Jesus Christus as sy Seun gegee het, sal uiteindelik aan ons, sy kinders gegee word. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding,sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid (Romeine 8:16 – 17). Heerlikheid kom na lyding en ons moet leer om lyding te sien as ‘n voorreg wat ons met blydskap moet dra as gevolg van ons nuwe status as God se erfgename.

Aanneming maak ook ‘n appél op ons verbeelding en hart. Dit gaan nie net oor verstaan van die begrip nie. Aanneming gaan ook daaroor dat God my wil hê – ek behoort. Hierdie is emosionele temas wat die bekommernisse van baie mense in ons sukkelende samelewing hanteer. Om aangeneem te word, beteken dat jy uitgenooi word in ‘n liefdevolle en versorgende omgewing. Jy word verwelkom en waardeer. Jy word uitgenooi om deel van ‘n gemeenskap van geloof en liefde te word.

Daar is ‘n diep menslike verlange om iewers te behoort; ons wil aanvaar word. Om iewers jou wortels te kan inplant is ‘n baie belangrike behoefte van die mens. The sense of being lost, displaced and homeless is pervasive in contemporary culture. The yearning to belong samewhere, to have a home, to be in a safe place is a deep and moving pursuit (Walter Brueggemann).

Aanneming demonstreer nie net die voordele wat die dood en opstanding van Jesus Christus gebring het nie, maar hanteer ook die diep en betekenisvolle verlange van die menslike hart – ek wil iewers behoort.

Ander beelde wat ook gebruik kan word deur die apologeet is byvoorbeeld God as herder of Christus as die brood van die lewe.

Die volgende blog is die laaste in die reeks. Dan gaan ons ma God as kruk kyk.