Augustus Toplady

Expand Thy wings, celestial Dove, brood o’er our nature’s night; on our disordered spirits move, and let there now be light.” Charles Wesley

Augustus Toplady

Augustus Toplady is in 1740 in Engeland gebore. Sy vader was ‘n Koninklike Marinier en is kort na sy seun se geboorte oorlede. Toe hy 15 jaar oud was woon hy  ‘n Metodiste herlewing in ‘n Ierse skuur by en kom tot bekering. Later word hy oortuig dat die Calvinistiese perspektief beter was en word ‘n predikant in die Anglikaanse Kerk. As gevolg van sy sterk onderskrywing van die uitverkiesingsleer bots hy met John Wesley – ‘n rusie wat soms maar lelik was. Hy sterf toe hy 38 jaar oud was aan tuberkulose.

 

Hoekom is Toplady vir ons belangrik? Hy het ‘n lied geskryf wat die evangelie kragtig kommunikeer: Jesus, Rots vir my geslaan (Rock of Ages). In 1923 sê Benson dat hierdie lied in meer Engelse liedboeke opgeneem is as enige ander lied – Kersliedere uitgesluit.

Die eerste vers is in 1775  in The Gospel Magazine gepubliseer en die hele lied die volgende jaar in Toplady se boek Psalms and Hymns for Public and Private Worship. Daar is ‘n verhaal dat Toplady hierdie lied geskryf het toe hy tydens ‘n storm in ‘n rotsskeur skuiling gesoek het. Hierdie verhaal is waarskynlik nie waar nie.

Maak nie saak wie of wat Toplady geïnspireer het nie, die lied bly ‘n seëning vir baie mense. Dit bly ‘n getuienis van die groot offer van ons Verlosser en ‘n bemoediging vir gelowiges wêreldwyd.

Jesus, Rots vir my geslaan,

Laat my nie verlore gaan!

U was self van God verlaat.

Laat U lyding sonder maat,

my tot heil wees en tot krag,

teen die sondeskuld en mag.

En ek self- wat kan ek doen

Om my sonde te versoen?

Sou my hart met ywer gloei,

sou my trane ewig vloei –

Nog gebede, nog geween

Kan my red Heer; U alleen.

Die volledige lied – al vier verse – is Lied 239 in die Liedboek van die Kerk.