Die eerste Sondag van Advent

Die eerste Sondag van Advent

Klim op ‘’n hoë berg en roep hard, Sion, jy wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie; roep hard, Jerusalem, jy wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie; sê vir die stede van Juda: “Julle God is hier!” Die Here God kom, Hy is die Magtige, Hy regeer, Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het en wat aan Hom behoort, is by Hom. Soos ‘’n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie (Jesaja 40:9 – 11).

Met die eerste Sondag van Advent staan ons in wonder oor die gawe van Jesus en die implikasies van sy koms. Maak ons nederig en bly en verander ons as ons ons oë op Jesus rig. Laat ons weer entoesiasties word oor die verhaal van Jesus met kinderlike verbasing en hernude hoop.

 

Volgens Jesaja kom Jesus om ons in sy arms bymekaar te maak. Soos kwesbare lammers word ons behandel na aan sy hart. Wat meer kan ons begeer? Hy wat nou die Goeie Herder is, was eers die Lam van God wat ons sondes aan die kruis gedra het. Hierdie reis neem Jesus van die hemel na die krip, na sy dood aan die kruis – vir ons. Sy ongeëwenaarde liefde en barmhartigheid, sy ongelooflike genade. Mag die Vader dit tasbaar vir ons waar maak in die komende weke.

 

.Maar soos Jesaja sê, kom Jesus ook as die Magtige wat regeer.. Hy regeer oor die hele geskiedenis, elke hartseer, oor alle konings en oor elke krisis. Niemand kan die storie wat jy vertel verander of onderdruk nie. Ook nie die koninkryk wat jy deur Jesus bevorder nie.

 

Daar is net een Koning en dit is Jesus en sy koms lei tot aanbiddende liefde by sy mense. Wys weer vir ons in hierdie Adventstyd dat Jesus die wonderlikste Verlosser vol genade is- Immanuel –God met ons.

 

 

 




Josef en die engel

 

Blessed is the season which engages the whole world in a conspiracy of love. – Hamilton Wright Mabie

 

Josef en die engel

In Matteus 1:18 – 23 lees ons van ‘n engel van die Here wat aan Josef verskyn. Uit hierdie gesprek leer ons ’n paar belangrike waarhede.

 

  1. Jesus is God

Wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. God is sy Vader. Die mees direkte stelling oor Jesus se identiteit kry ons in 1:23 waar Matteus Jesaja 7:14 aanhaal: “Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons. Die Jode kon glad nie aanvaar dat ‘n mens God kan wees nie. Paulus, ‘n Jood, sê: In Hom is die volle wese van God beliggaam (Kolossense 1:9). Petrus praat van ons God en Verlosser, Jesus Christus (2 Petrus 1:1). Dwarsdeur die evangelies lees ons van Jesus wat sondes vergewe – iets wat net God kan doen. Hy sê ook dat Hy sal terugkom en die aarde sal oordeel – iets wat net God kan doen.

 

  1. Jesus is mens

Dit is iets wat ons in geen ander godsdiens kry nie. Hier sien ons dat die onsigbare sigbaar geword het. Onmiddellik die vraag: Watter verskil maak dit aan ons lewens?

  • Ons moet ‘n lewe van diens leef.
  • Dit vertroos ons as ons ly. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Hebreërs 2:18).

 

  1. Jesus is met ons

Hulle sal Hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons. Die doel van Jesus se menswording is dat ons ‘n verhouding met Hom kan hê. Hy is toeganklik; ons kan Hom ken en ons kan sy liefde ken.

 

Die vraag is wat beteken dit vir ons as ons weet dat Jesus God en mens en by ons is.

  • Dit gee aan ons die moed om die wêreld se spot te verduur.
  • Dit gee aan my die moed om my reg om alles self te bepaal, prys te gee.
  • Dit gee aan ons die moed om te erken dat ons sondaars is.

 

 




Hoekom is ons samelewing so verdeeld?

Hoekom is ons samelewing so verdeeld?

Paulus skryf vir die gemeente in Galasië dat daar baie is wat mense verdeel, want ons probeer onsself regverdig. Jode het dit deur die wet gedoen Hulle het ‘’n hele stelsel wette gehad wat hulle van die ander nasies onderskei het. Die Ou Testament het 613 wette en die Jode het nog reëls bygevoeg om te verseker dat hulle nie die wette verbreek nie.

 

Om ‘’n lys reëls te hê om aanvaarding te verseker, is nie uniek aan die Judaïsme nie. Meeste godsdienste het sulke lyste om ons van ander te onderskei. Trots is ‘’n groot probleem in ons lewens. Ons is in ‘’n voortdurende kompetisie met ander, want die kern van kompetisie is trots. Dit bevorder verdeeldheid. Ons moet ons andersheid beskerm, want dit gee aan ons waarde bo ander.

 

Charles Spurgeon het in die 19de eeu drie sulke onderskeidings in die samelewing geïdentifiseer. Dit is verbasend hulle is steeds geldig.

 

  1. Die trots van ras

Vir baie mense is hulle etniese identiteit die manier om hulle van ander te onderskei. Ras maak hulle wie hulle is en vorm hulle identiteit. Hulle is trots omdat hulle wit of swart of Indiër is. Ons kulture is mooi en is deur God geskep soos ‘’n veelkantige diamant weerspieël dit sy heerlikheid. Sodra kultuur ons primêre onderskeidende identiteit word, veroorsaak dit verdeeldheid. Mense moet hulle kultuur eer, maar die oomblik as dit met trots gepaard gaan begin hulle daardie kultuur verdedig, want dit stel hulle apart.

 

Dit maak dus geen verskil of ‘’n mens ‘’n Jood of ‘’n Griek is nie, want dieselfde Here is here van almal en Hy seën almal wat Hom aanroep (Romeine 10:12). Daar is net een ras: die seuns en dogters van Adam en Eva. Ons het almal een kernprobleem: sonde. Ons het almal net een hoop.

 

Die wortel van rasseskeiding is dat ons etniese identiteit te groot geword het. As ons enige verdeeldheid tussen ons wil oorkom, moet ons identiteit in Christus groter word. – groter as enige ander identiteit wat ons mag besit.

 

  1. Die trots van gesig en plek

Ons neig om mense in kategorieë te sien –  suksesvol en onsuksesvol, intelligent en dom, mooi en lelik, fiks en vet, ryk en arm. Ons kyk neer op diegene wat minder as ons is op hierdie gebied en diegene wat meer as ons is, intimideer ons. Ons dink sekere persoonlike prestasies of kenmerke onderskei ons, en plaas ons hoër as hulle. Verstaan ons nie die evangelie nie. Besef ons dat ons krediet kan neem vir baie min van ons talente. Ons ouers het aan ons die gene gegee en God het aan ons die geleenthede en gesondheid gegee om ons talente te beoefen. Alles wat ons het, is ‘’n gawe. Besef ons hoe waardeloos ons talente is as dit kom by die dinge wat regtig saakmaak. Ons bankbalans en bevorderings kan ons nie voor God regverdig nie. Voor God is daar net en soorT sondaar- hopeloos.

 

Dit maak nie saak as ek nie nou intelligent of mooi of suksesvol is nie, want ek het die beloftes van God in Christus. Dit maak nie saak as iemand my nie waardeer nie, want in Christus het ek die ewige liefde van die Vaer.

 

Ons kan onsself nie red deur goeie werke of skoonheid nie. Wat ons nou in Jesus Christus het, in oneindig meer as enige van hierdie dinge.

 

  1. Die trots van genade

Spurgeon sê dat die trots wat kom as gevolg van ‘’n godsdienstige lewe, is waarskynlik die ergste van almal Jy voel trots omdat jy ‘’n goeie lewe geleef het – jy was nog nooit in die tronk nie en jy is nog nooit by jou wek afgedank nie; jy kom uit ‘’n goeie familie en jy is nooit geskei nie. Nou voel jy meerderwaardig teenoor ander wat hierdie dinge deurgegaan het.

 

Verstaan jy nie die evangelie nie. In God is daar nie goeie en slegte mense nie, wenners of verloorders of funksionele en disfunksionele mense nie. Daar is net opstandige en sondige rebelle sonder hoop in hierdie wêreld wat God in genade red. Die trots van genade is eintlik ‘’n ontkenning van genade

 

John Owen het gesê dat die saad van elke sonde is in elke mens se hart. Omstandighede, versoekings en verhoudings gee water vir daardie saad. Net omdat God jou van sonde weerhou het, maak jou nie meerderwaardig teenoor ander nie. As jy hoor iemand anders het gesondig en jy dink: “Ek weet dat ek nooit so iets sal doen nie,” weet jy bitter min van genade en die evangelie van Jesus.

 

Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Romeine 3 :23). Daar is nie een wat regverdig is nie; een wat God instinktief soek nie. Daardie waarheid vernietig enige vals onderskeiding tussen ons. Aan die voet van die kruis is die grond gelyk.

Die evangelie dat ons deur geloof alleen in Christus geregverdig word, vernietig alle vorme van trots. In Christus het ons die vryheid om te verenig.

 




Die evangelie keer die wêreld se waardes onderstebo

 

Each of us is an innkeeper who decides if there is room for Jesus. – Neal A.Maxwell

 

Die evangelie keer die wêreld se waardes onderstebo

Ons leef vandag in ‘n individualistiese kultuur waarin jy jouself bevorder deur jou grade en rykdom en prestasies. Matteus het in ‘n kommunale, familie-georiënteerde samelewing gewoon. Jesus se geslagsregister is in werklikheid ‘n getuigskrif. Destyds was dit jou familie en stam – die mense aan wie jy verbind was – wat jou getuigskrif was. Die geslagsregister was ‘n manier om vir die wêreld te sê: “Dit is wie ek is.”

 

Destyds het mense, soos vandag steeds, met hulle getuigskrifte gepeuter. Hulle het dele wat nie so goed lyk nie, uitgelaat. Die doel van die geslagsregister was om mense te beïndruk met jou wortels. Maar Jesus se geslagsregister skok ons. Daar is vyf vrouens in die geslagsregister – skokkend. In die patriargale sisteem van destyds is vroue feitlik nooit in sulke lyste genoem nie. Nog erger – drie van die vroue – Tamar, Rut en Ragab – was nie Jode nie. Hierdie volke was onrein en in nie eers op die tempelterrein toegelaat nie.

 

Nog erger: hierdie vroue herinner ons aan van die mees onsedelike insidente in die Bybel. Tamar het haar skoonpa verneuk om by haar te slaap. Sy word swanger en sy en haar seuns verskyn in Jesus se geslagsregister. Ragab was nie net ’n Kanaäniet nie, maar ook ’n prostituut. En dan is daar Dawid. Ons sou hom darem graag in ons geslagsregister wil hê. Maar Matteus sê: Dawid was die vader van Salomo by die vrou van Urija. Sy was natuurlik Batseba – nog ‘n tragiese verhaal. Hier het ons dus morele buitestanders – prostitute, owerspeliges – sowel as kulturele en etniese buitestanders. Maar hulle word in die openbaar beskryf as Jesus se voorgeslag.

 

Wat leer ons hieruit?

  • Mense wat as gevolg van kultuur, ras en selfs die wet uitgesluit is, kan deel van God se familie word. As jy in Jesus Christus glo, sal die genade van Jesus jou sonde bedek en jou met Hom verenig.
  • Daar is niemand, selfs nie die grootste gelowige, wat nie die genade van Jesus Christus nodig het nie.
  • Daar is niemand, selfs die slegste mens, wat nie Jesus Christus se genade sal ontvang as hy hom net bekeer en glo nie.

Hier sien ons dat verlore mense aanvaar word en dat Christus hulle liefhet. God is nie skaam vir ons nie – ons is almal deel van sy familie. Jesus se waardes verskil radikaal van ons waardes.

Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie (Hebreërs 2:11).