Wat is Hoop?

 

It is a poor sermon that gives no offense; that neither makes the hearer displeased with himself nor with the preacher. George Whitefield

 

Wat is Hoop?

Daar is baie dinge in die wêreld waarvoor ons “hoop” – ‘n salarisverhoging, bevordering, dat die Springbokke sal wen, ens. Hierdie hoop is ‘n uitdrukking van ons persoonlike begeertes. Ons hoop vir dinge wat onseker is. Ons glo maar dat as ons hoop, sal hulle waar word.

 

As die Bybel egter van hoop praat, word iets totaal anders bedoel. Bybelse hoop is ‘n vaste oortuiging dat God sy beloftes gaan vervul – dit is ‘n versekering van wat sal gebeur. Hierdie hoop besit ons  as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is (Hebreërs 6:19). Hoop is geloof gerig op die toekoms.

 

Hoop word op twee maniere in die Bybel gebruik:

  • Dit verwys na die objek van ons hoop – Christus is ons hoop.
  • ‘n Gesindheid van sekerheid oor die vervulling van God se beloftes – die meer algemene gebruik. Die Christen word opgeroep om te hoop. Dit is om ten volle verseker te wees van die opstanding van God se kinders en die koms van God se koninkryk.

 

Paulus herinner vir ons dat totdat God se koninkryk kom, ons deur geloof lewe, nie deur sien nie (2 Korintiërs 5:7). Hierdie hoop berus op ‘n vaste fondament – God.

  • Die Christen kyk na die dood en opstanding van Christus. Sy dood was die donkerste uur vir sy dissipels – die beloofde Messias is dood. Met die opstanding verander hierdie wanhoop in hoop. Ten spyte van lyding en swaarkry moet die Christen steeds bly hoop. God is getrou.
  • Die gelowige het die Heilige Gees. Sy teenwoordigheid verseker ons dat God se koninkryk volledig sal kom. Die Heilige Gees onderhou ons hoop. Dit is die Heilige Gees wat die gelowige bemoedig om te bid: “Laat u koninkryk kom.”

 

Opsomming:

  • Bybelse hoop is ‘n versekering en nie ‘n wens nie
  • Hoop is ‘n deug – nie ‘n swakheid nie
  • Geloof is vertroue in wat God reeds gedoen het. Hoop is vertroue in God se beloftes vir die toekoms.
  • Die opstanding van Christus gee aan ons hoop te midde van lyding.

 

 




Jy moet die Here jou God liefhê

 

If you are going to walk with Jesus Christ, you are going to be opposed … In our days, to be a true Christian is really to become a scandal. George Whitefield

 

Jy moet die Here jou God liefhê

Die manier waarop ons die verhaal van die Ou Testament lees en vertel, speel ‘n belangrike rol in die siening wat baie mense van die Christendom het. Vir mense buite die kerk kan die verhaal binne die raamwerk van ‘n antieke mite, of van ‘n outokratiese God geplaas word. Daar is baie sulke karikature in die sekulêre wêreld. Kom ons kyk na een aspek: My verhouding met God. Wat sê die Ou Testament hiervan?

  • Jy moet God alleen aanbid

Daar is een God; Hy het die heelal gemaak; Hy alleen is die moeite werd om te aanbid. Hy kan nie in woorde beskryf word nie. Mense is nie God nie en moenie probeer om sy plek in te neem nie. Die sogenaamde gode van ander volke is nie gode nie – hulle is deur mense van dooie materiaal gemaak. Die oproep om ontslae te raak van vals gode en afgode kry ons dwarsdeur die Ou Testament. Doen die volk dit nie, ondervind hulle probleme. Dit is die sentrale boodskap in die boek Daniël. In Daniël se wêreld het die aanbidding van die een ware God feitlik verdwyn. Dit gebeur wanneer die koning dink dat hy god is. Dit is duidelik dat om enigeen/enigiets te aanbid wat nie waarlik God is nie rampspoedige gevolge mag hê vir die mens en ook vir die skepping.

 

  • Vertrou op God se goedheid

Die psalms leer vir ons dat klaagliedere saam met vertroue kan gaan. Ons praat hier van ‘n fundamentele vertroue wat, maak nie saak hoe donker dinge om ons lyk nie, ons steeds op God kan vertrou as gevolg van sy onfeilbare liefde. Hierdie vertroue dat God goed is, is die fondament waarop ons geloof gebou is.

 

  • Jy moet die Here jou God liefhê

Geen gedeelde liefde nie. Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag (Deuteronomium 6:4 – 5). Hierdie opdrag om God lief te hê, is ‘n opdrag van heelhartige toewyding. Dit is alleen moontlik in ‘n gesindheid van vertroue.

 

  • Jy moet God gehoorsaam

Die Ou Testament leer vir ons ‘n gesindheid van gehoorsaamheid, maar gehoorsaamheid is nou verbind aan vertroue en liefde. Die regverdige persoon gehoorsaam God se opdragte, nie uit vrees of ‘n gevoel van plig nie, maar met blydskap. Toe Jesus die wet saamgevat het (Matteus 22:36 – 40), het ons nie iets nuuts nie, maar Jesus som bloot die onderrig van die Ou Testament op. Om God te gehoorsaam beteken om Hom lief te hê en om ander met opregte liefde te hanteer.

 

  • God self maak dit moontlik

Die Ou Testament vertel van ‘n God wat langs sy mense staan – wat dit vir hulle moontlik maak om sy gebooie te volg. Dink maar aan die verhaal van Jakob. Hy misluk op baie maniere en tog kry hy ‘n nuwe naam – Israel, God se uitverkorene. Hierdie is ‘n verhaal van verlossing en van God se genade. God staan langs sy mense en maak reg wat verkeerd is. God vereis nie net heiligheid van sy kinders nie; Hy loop nie net langs sy kinders en bemoedig hulle nie. God hanteer ook die afwesigheid van heiligheid by sy kinders. Dit is die kern van Israel se offerdiens. So reik God na die hele wêreld uit deur die kruisdood en opstanding van sy Seun.

 

  • Nie soos ander godsdienste nie

Die verhouding tussen God en mense verskil van alle ander godsdienste. Die Ou Testament skilder vir ons ‘n verhouding met ‘n oppermagtige, persoonlike God. Ons kry nie so ‘n persoonlike God in ander godsdienste nie. Daar is nog ‘n verskil: ander godsdienste het ‘n optimistiese siening van die mens se vermoë om homself te verander. Die Ou Testament skilder vir ons ‘n God wat mense roep om Hom te volg. In die proses is Hy aktief besig om menslike mislukkings en swakhede te herstel.

 

Ons is so geneig om die Ou Testament af te skeep. Dit is verkeerd, want daar lê die fondament van ons Christelike geloof.

 

 

 




Ons hou van stories

 

Beware of those who feed your ego. Befriend those who feed your soul. —Lecrae

 

Ons hou van stories

Eendag …

Lank gelede …

In die begin …

Daar is baie maniere om ‘n storie mee te begin. Stories, ten diepste, maak ons menslik. Die stories wat ons in ons lewens sien, definieer ons – ons siening van God, van die wêreld en van mekaar.

 

Die kerk se liturgie vertel ‘n storie – ‘n storie wat ons hoop en liefde openbaar. Ons onthou dat God heilig is en dat ons sondaars is. Ons hoor dat Jesus ons verlos en ons stuur. Stories vertel van hoop.

 

Soos ons die stories van die Bybel lees, het hulle ‘n groot impak op ons. Hulle vang ons vas deur ons verbeelding. “When our imagination is hooked, we’re hooked(J. K. A. Smith).

 

Maak ons genoeg van stories gebruik in ons gesprekke met ander mense?

 




Rus ons die gelowiges toe

 

“God is nothing but Mercy and Love.”   –Thérèse of Lisieux

 

Rus ons die gelowiges toe

Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus (Efesiërs 4:12)

Rus ons gelowiges in die gemeente toe? Soms dink ons ons is besig daarmee net om agter te kom ons is besig om ‘n program te volg en nie die DNS van die gemeente te verander nie.

 

Daar is ‘n paat mites wat ons in gedagte moet hou:

Mite #1: Ons glo dat toerusting ‘n nuwe program of ‘n potensiële kerkgroei tegniek is. Toerusting is die vervulling van ‘n Bybelse roeping om ander te lei en vir bediening toe te rus.

 

Mite #2: Ons fokus op die ontwikkeling van doeltreffende gesonde bedienings voor ons doeltreffende, gesonde mense ontwikkel. Sodra ons toerusting beskou as ontwikkeling van bedienings plaas ons programme hoër as mense.

 

Mite #3: Ons glo dat toerusting die verantwoordelikheid van iemand anders is. Maak nie saak wat ons rol in bediening is nie, toerusting is ons verantwoordelikheid.

 

Mite #4: Ons glo dat om take te voltooi belangriker as mense is. Ons kan nie op ons te-doen lysie fokus terwyl ons nie die behoeftes van die persoon wat ons nodig het, hanteer nie.

 

Om ‘n leier wat ander toerus, te word, moet ons hierdie mites oorwin. Dit is ‘n reis waartydens ons voortdurend ons motivering en trots moet moniteer. Dit is ‘n uitdaging om te verseker dat ons motivering die uiteindelike sukses en groei van ‘n ander persoon is. In die proses moet jy nie naderhand meer van jou en jou planne as vir God se kinders omgee nie.