Kom my ambisie/drome van God?

 

I am no friend of present-day Christianity, though its Founder was sublime ~Vincent Van Gogh

 

Kom my ambisie/drome van God?

As kinders wil ons verskillende dinge word – treindrywer, brandweerman … Gewoonlik duur dit vir ‘n jaar of twee en dit is verby. Kinderagtige ambisies. Ek dink nie daardie ambisies het van God af gekom nie. Maar Hy het ‘n sekere dryfkrag in my gesit wat uiteindelik sou lei tot sy planne vir my. Die vraag dus: Hoe weet ek dat my droom vir my lewe van God af kom?

 

Hierdie is ‘n belangrike vraag, want as dit nie van God af kom nie, sal dit net tot frustrasie lei – ‘n mors van tyd en energie; beslis nie die moeite werd om na te jaag nie. Dit is nie altyd so maklik om ons selfsugtige ambisie van God-gegewe drome en begeertes te onderskei nie. Hier is ‘n paar filters wat ons kan gebruik:

  • Dit is tot verheerliking van God

‘n God-gegewe droom sal God verheerlik. Dit beteken nie jy moet nou kruise en vissies op jou drome plak nie. ‘n Droom wat met iets oneties te doen het, kom beslis nie van God af nie. God sal ons nooit vra om iets teenstrydig met sy woord te doen nie. ‘n Droom wat hoop, liefde en vrede genereer – daarmee word God verheerlik. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! (Romeine 11:36).

 

  • Dit sal ander bevoordeel

God se hartklop is mense. Hy is meer bekommerd oor hoe ons ander hanteer as materiële sukses. Enige droom wat behels dat ek ander uitbuit, kom beslis nie van God nie. Nee, God sal jou vra om iets te doen wat ander se behoeftes hanteer. Kyk na hoe ander mense voordeel uit jou drome kan trek. Dan is jy ‘n tree nader om die drome en planne wat God vir jou het te bereik. Leer om weer goed te doen, sorg dat daar reg geskied, gaan die verdrukker teë. Laat reg geskied aan die weeskinders, behartig die regsake van die weduwees (Jesaja 1:17).

 

  • Dit lyk groter as wat jy op jou eie kan behartig

God gee nie klein droompies nie; God doen graag dinge wat betekenisvol is deur mense wat oënskynlik nietig is. God hou daarvan om vir ons groot drome te gee sodat wanneer hulle verwesenlik word ons besef dat dit God en nie ons is wat dit gedoen het nie. Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink (Efesiërs 3:20).

 

Dink ‘n bietjie na oor die droom in jou hart. Vervul hierdie droom hierdie vereistes? Dit maak jou bang, want as jy besef dat God aan jou ‘n droom gegee het, verhoog dit jou vlak van verantwoordelikheid. ‘n Droom van God is nie ‘n kleinigheid nie – dit is lewensbelangrik en kragtig. As God aan jou ‘n droom gegee het, moet jy dit najaag – jy mag dit nie ignoreer nie, want dit maak saak.

 




Die toorn van God

 

As Christ was born of the Virgin’s womb, so must He be spiritually formed in our hearts. As He died for sin, so must we die to sin. And as He rose again from the dead, so must we also rise to a divine life. George Whitefield

Die toorn van God

Enige konsep van God se toorn ontstel ons; ons skram weg daarvan, want dit dui op onverdraagsaamheid. Ons leef in ‘n tydperk waartydens ons onsself as regters aangestel het. Hoe kan die hel regverdig wees? Hoe kan God die Israeliete opdrag gegee het om die Kanaäniete te vernietig? Hoekom lyk dit asof God altyd kwaad is?

Hoekom sukkel so baie mense met hierdie vrae? Dit beteken ons moet reg dink oor God se toorn. Kom ons kyk saam met Gordon MacDonald na vyf Bybelse waarhede oor God se toorn.

  • God se toorn is regverdig

Baie mense sien die God van die Ou Testament as ‘n morele monster – beslis nie iemand om te aanbid nie. Die skrywers van die Bybel het nie so ‘n probleem nie. Paulus sê: Maar deur jou verharding en jou onbekeerde hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag, wanneer God sy regverdige oordeel sal uitspeek (Romeine 2:5). God se toorn is in verhouding met ons sonde. As jy sou sê: “Ons weet daar niks van af nie”, sal God wat die gedagtes toets, weet wat die waarheid is. Hy wat oor jou wag hou, Hy weet en Hy vergeld ‘n mens vir wat hy gedoen het (Spreuke 24:12).

  •  Ons moet God se toorn vrees

Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Romeine 3:23). Omdat ons almal sondaars is, moet ons God se toorn vrees. Ook weet ons God is magtig om te doen wat Hy beloof het. En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe (Matteus 25:46).

  •  God se toorn is dieselfde in die Ou en Nuwe Testament

Ons dink dat die God van die Ot Testament vol toorn is, maar dit God van die Nuwe Testament is sag, geduldig en liefdevol. Ons kry beskrywings van God se toorn in beide Testamente. Kom ons kyk na twee voorbeelde in die Nuwe Testament: God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk (Romeine 1:18). Uit sy mond het daar ‘n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met ‘n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige (Openbaring 19:15).

  •  God se toorn is sy liefde in aksie teen sonde.

Klink teenstrydig. God is liefde, maar God doen alles tot sy verheerliking. God regeer die wêreld op ‘n manier wat Hom maksimaal sal verheerlik. Dit beteken dat God regverdig moet optree en die sonde oordeel – reageer met toorn – anders is Hy nie God nie. Daarom: Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val (Hebreërs 10:31).

  •  God se toorn is in Jesus Christus bevredig

Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos (1 Timoteus 1:15). Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo (Romeine 3:26). Luister net na hierdie lied van Charles Wesley:

And can it be that I should gain
An interest in the Saviour’s blood?
Died he for me? who caused his pain!
For me–who him to death pursued?
Amazing love! How can it be
That thou, my God, shouldst die for me?

 

 

 

 




Die Kerkjaar

 

Your astute minds have been completely turned into stinking mushrooms. – Martin Luther (Sjoe, hy draai nie doekies om nie).

 

Die Kerkjaar

Ek is deel van ‘n kerk waarin die kerkjaar nie juis nougeset gevolg word nie. Die kerkjaar begin met die eerste Sondag van Advent – die vier weke voor Kersfees. Vanjaar is dit op 30 November.

 

Kom ons kyk vlugtig na die indeling van die jaar:

  • Advent is die seisoen waartydens ons vir Christus se koms voorberei (4 weke).
  • Kerstyd (Chrismastide) is die seisoen waartydens ons Christus se menswording vier (12 dae).
  • Epifanie (openbaring van Christus as God) waartydens ons onthou hoe Christus God se heerlikheid aan die wêreld bekend gemaak het (tot 9 weke).
  • Lent (die Vastyd) wat lei na die kruis. Die klimaks is die Heilige Week wat hierdie seisoen afsluit (40 dae plus Sondae).
  • Die Paastyd herdenk Christus se opstanding, sy nuwe lewe en sy hemelvaart. Dit sluit op Pinksterdag (die dag waarop die Heilige Gees uitgestort is) af (50 dae).
  • Die Seisoen na Pinkster is die tyd van die kerk waartydens ons deur die Heilige Gees die lewe van die evangelie in die geloofsgemeenskap en wêreld uitleef (tot 29 weke).

 

Hierdie tradisie het in die vroeë kerk ontstaan en is deur die eeue van geslag tot geslag oorgedra deur die aanbidding van die kerk. Hoekom is dit nodig om die Kerkjaar te volg?

  • Dit stel ons in staat om in God se storie te leef, Dit fokus nie op beginsels of stappe of prrogramme nie.
  • Die belangrikste ding bly die belangrikste. Die Kerkjaar sentreer op Christus en word gevolg om sy menswording, bediening, dood, sterwe, opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees te herdenk. Ons sien, hoor en volg Jesus voortdurend.
  • Dit erken dat ons kalender ons lewens vorm. Dag tot dag en seisoen tot seisoen patrone vorm ons gedrag. ‘n Lewe gebou om die Kerkjaar is so ontwerp dat dit ons gewoontes om die een aspek vorm – om Jesus te volg.
  • Dit verbind persoonlike geestelikheid met aanbidding, familie en gemeenskap. Die Kerkjaar erken beide die individuele en korporatiewe reis van die gelowige.
  • Dit skep ‘n basis vir eenheid en ‘n algemene ondervinding vir Christene orals. Dit is ‘n eenheid van alle Christene in die evangelieverhaal. Ons vier dit dwarsdeur die jaar wanneer kerke van verskillende tradisies en denominasies die Kersjaar vier en hulle aanbidding en gemeente se lewens daarby aanpas.

 




Het lidmate ‘n rol te speel in bediening?

 

Common people respect more a preacher’s life than his learning. —Richard Bernard

 

Het lidmate ‘n rol te speel in bediening?

As ons praat oor God se sending en die kerk, is daar ‘n onderskeid tussen lidmate (vrywilligers) en leraars? Ons het ongelukkig die siening aanvaar dat as jy geroep is vir die voltydse bediening dan is dit jou taak. As jy nie geroep is vir die voltydse bediening nie, word jy verskoon van werk in die kerk. Daarom glo lidmate hulle taak is om te bid, te betaal en uit die pad te kom. Dit is verkeerd. In ons gemeentes moet ons ‘n atmosfeer van afwagting en verantwoordelikheid skep.

 

Ed Stetzer sê dat ons van hierdie lidmaat/leraar kastesisteem ontslae moet raak; dat ons die priesterskap van alle gelowiges moet terugeis; dat ons ‘n gevoel van eienaarskap moet ontwikkel; dat ons die kultuur van die kerk moet verander. Dit beteken geensins dat die amp van die leraar nie baie belangrik is nie. Die probleem is egter die eksklusiwiteit van leraars in bediening.

 

Maak die kastesisteem dood

Lidmate is die eienaars van bediening. Lidmate moet ‘n nuwe vlak van eienaarskap van bediening ontvang … en hulle moet dit wat aan hulle gegee word aanneem. God se begeerte is ‘n gemeente waar lidmate leef asof hulle sendelinge is. Maar as ons dan die kastesisteem doodgemaak het, hoe bemagtig ons die gelowiges in die banke?

 

Eis weer die priesterskap van gelowiges op

Almal in die liggaam van Christus het ‘n rol te speel in die gemeente; elkeen moet sy geestelike gawes beoefen – en elkeen het ‘n gawe(s). Wat gemeentes nodig het is ‘n kultuur van diens – van gedeelde verantwoordelikheid. Daarom moet elke gemeente ‘n strategie en proses hê om lidmate toe te rus. Dit beteken lidmate moet bemagtig word en in staat gestel word om te dien. As jy die liggaam bemagtig, verander hulle van kliënte na eienaars van die gemeente se visie.

 

Van kliënte na eienaars

‘n Algemene probleem in gemeentes is die lidmate wat blote toeskouers is – hulle is die ontvangers van bediening en nie mede-arbeiders nie; hulle ontvang godsdienstige “goedere en dienste.” Dit vereis harde werk om hierdie nuwe waarde van aktiewe diens in lidmate te vestig. Leraars moet daaroor preek; kleingroepe moet dit bespreek; mense moet opgelei word. As mense hulleself nie meer as toeskouers maar as eienaars van bediening sien, kry ons ‘n nuwe soort gemeente.

 

Verander die kultuur van verwagting in die gemeente

Een van God se grootste hulpbronne om sy sending te voltooi is mense wat tans of niks of baie min doen nie – en hulle is geleer dat dit is wat hulle veronderstel is om te doen. Gemeentes sit vol passiewe toeskoeuers eerder as aktiewe deelnemers in die sending van God. Hierdie kultuur moet van passiwiteit na aktiwiteit verander; die verbruikerskultuur in gemeentes moet gebreek word.

 

Hoe verander ons die kultuur in die gemeente

Daar is twee kernelemente van belang. Die eerste een is kommunikasie. Kommunikeer die gemeente se visie, verwagtings en ‘n plan om die verandering te weeg te bring. Die tweede element is om mense te bemagtig – veral die leiers. ‘n Gebrek aan leiers wat bemagtig is, ondermyn die gesondheid van die gemeente. Hindernisse vir ‘n gemeente om te groei het meestal met leierskap te doen. As jou visie om die gemeente se kultuur te verander van verbruik na bydrae duidelik is en goed gekommunikeer word en wanneer jou leiers bemagtig word om daardie visie te implementeer, sal jy ‘n dramatiese verandering sien.