Bedank ons Jesus genoeg?

 

Peace is the smile of God reflected in the soul of the believer – William Hendricksen

 

Bedank ons Jesus genoeg?

1n 1 Timoteus 1:11 sê Paulus dat die evangelie aan hom toevertrou is. Hy het die voorreg om as apostel in diens van Christus te staan.  Nou kan hy nie anders as om eers sy betoog te onderbreek nie en opnuut sy verwondering en dankbaarheid oor die genade van God uit te spreek.  Die feit dat hy ‘n apostel is, maak hom klein voor God.  Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel (1 Timoteus 1:12).

 

Daar is vier dinge waarvoor Paulus Jesus wil bedank:

  • Hy bedank Hom omdat Hy hom gekies Paulus het nooit die gevoel gehad dat hy Christus gekies het nie, maar altyd dat Christus hom gekies het.  Dit was asof, toe hy reguit op pad was na selfvernietiging, Christus sy hand op sy skouer gelê het en hom weggetrek het.  Dit was asof, terwyl hy besig was om sy lewe weg te gooi, Christus hom tot sy sinne gebring het.  Paulus was Christus se man; Christus het hom gekies.
  • Hy bedank Hom omdat Hy hom betroubaar geag Dit was altyd vir Paulus verbasend dat hy, die aartsvervolger van Christene, gekies is as sendeling van Christus.  Jesus het hom nie alleen vergewe nie, maar hom ook vertrou.  Ons vergeef soms iemand wat ‘n fout gemaak het of skuldig was aan een of ander sonde, maar ons maak dit baie duidelik dat omrede sy foute ons hom nooit weer kan vertrou nie.  Christus het vir Paulus vergewe en werk aan hom toevertrou.  Christus se vervolger word sy ambassadeur.
  • Hy bedank Hom omdat Hy hom in diens gestel God het op die Damaskus-weg beslag gelê op sy lewe.  Hy het hom aangestel vir diens.  Paulus het nooit geglo hy is aangestel vir eer of vir leierskap in die kerk nie.  Hy is gered om te dien.  Hy staan langs sy Koning in die stryd.
  • Hy bedank Hom omdat Hy hom krag gegee Paulus het lank gelede al uitgevind dat Christus nooit vir ons ‘n taak gee as Hy ons nie ook die krag gee om die taak te verrig nie.  Paulus sê nooit: Kyk wat het ek gedoen, nie.  Hy sê altyd: Kyk net waartoe het Christus my in staat gestel.  Geen mens is goed genoeg, rein genoeg, slim genoeg om Christus te dien nie.  Gee ons ons aan Christus, sal ons dien, nie in ons eie krag nie, maar in die krag van ons Here.

Is ons altyd dankbaar genoeg vir alles wat Jesus Christus vir ons gedoen het?

 

 




Wat is goed vir ons?

 

There are lots of people who mistake their imagination for their memory. – Josh Billings

 

Wat is goed vir ons?

Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge kan leer. Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer (Psalm 119:71 – 72 – OAV)

Ons probleem is dat ons definisie van wat goed is, is daardie dinge wat hier en nou vir ons voordelig is. Ons stel belang in wat ons tydelik sal bevoordeel, maar God stel belang in wat ons in ewigheid sal bevoordeel. Ons stel belang is dit wat ons vir ‘n tydjie gelukkig sal maak; God stel belang in wat ons heilig sal maak.

 

God het ons lief; Hy wil deur ons lewens verheerlik word. Daarom verwyder Hy nie altyd ons swaarkry nie, want dit kan ons sterker maak en nader aan Hom bring. Teenspoed hou ons nederig; sukses het ‘n neiging om mense trots te maak – hulle voel nie dat hulle ‘n behoefte aan God het nie. Eers as ons teenspoed ondervind, besef ons wat regtig in hierdie lewe belangrik is. Ons moenie so bang wees vir pyn nie. Daar is iets veel erger as pyn – voorspoed wat daartoe lei dat ons van God vergeet. Teenspoed leer vir ons ewigheidswaarhede wat ons dalk andersins nooit sou geleer het nie.

 

Ons wil ten alle koste pyn vermy. “No pain, no gain.”  Ongelukkig is dit waar van die lewe. Ons pyn herinner ons aan ‘n dieper behoefte – die behoefte aan God in ons lewens. God leer vir ons lesse in daardie valleie wat ons nooit op die bergtoppe sou leer nie.

 

 

 

 




Wat is die gesonde leer?

 

We belong to Jesus because He has purchased us by His blood. He will not return or exchange what He has bought. —Anthony Carter

 

Wat is die gesonde leer?

Die gesonde leer is in ooreenstemming met die evangelie wat aan my toevertrou is, die evangelie van die heerlikheid van die goeie God (1 Timoteus 1:11)

In hierdie bose wêreld kom die Christelike boodskap.  Dié gedeelte vertel ons vier dinge oor hierdie boodskap:

  • Dit is die gesonde leer. Die woord beteken letterlik “gesondheid gee”.  Die Christendom is ‘n etiese godsdiens.  Dit vereis van ons nie net die onderhouding van sekere rituele en wette nie, maar die leef van ‘n gesonde lewe.  Om Christen te wees, beteken nie dat ons  sekere rituele moet nakom nie – al is die ritueel Bybellees en kerk toe gaan.  Dit beteken om ‘n goeie lewe te leef.  Ware Christelikheid is genesend; dit is die morele antiseptikum wat ons lewe reinig.
  • Dit die evangelie van heerlikheid. Dit is heerlike goeie nuus; goeie nuus van vergifnis van sondes en die mag om sonde te oowin in die toekoms; goeie nuus van die genade en redding van God.
  • Die nuus kom van die goeie God. Die Christelike godsdiens is nie ‘n ontdekking wat ‘n mens gemaak het nie; dit is deur God geopenbaar.  Dit bied nie alleen die hulp van mense aan nie, maar ook die mag van God.
  • Die nuus kom deur mense. Dit is aan Paulus toevertrou om dit aan ander mense oor te dra.  God maak sy aanbod; Hy benodig boodskappers.  Die ware Christen aanvaar die aanbod van God, maar besef dat hy nie sulke goeie nuus vir homself mag hou nie – hy moet dit vertel aan ander wat dit nog nie gehoor en hul eie gemaak het nie.

 

Dit is die gesonde leer – die Goeie Nuus – wat ons aan ander moet oordra.

 

 




Kom weer aan die gang

 

Memory… is the diary that we all carry about with us. ~Oscar Wilde, “The Importance of Being Earnest”

 

Kom weer aan die gang

As jy misluk het, is daar een waarheid wat jy moet onthou: God is ‘n God van tweede kanse. Laat Hom toe om jou mislukking te gebruik om jou vorentoe te laat beweeg.

 

Hoe kan ek van mislukking herstel en na vore beweeg?

  • Aanvaar verantwoordelikheid vir jou mislukking

Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat die bely en laat staan, sal barmhartigheid vind (Spreuke 28:13). Weier ons om ons foute te erken, vermors ons ‘n leergeleentheid. Wees eerlik met jouself en met ander. Ons is almal kundiges om blaam na ander oor te plaas. God sê: “As jy weer voor wil begin, erken dit.” Ons hoef nie voor te gee dat ons volmaak is nie – niemand is volmaak nie.

 

  • Hou op jammer wees vir jouself; begin bely

Bely beteken dat ek my gedagte verander; ek kyk na die saak uit ‘n ander hoek. Jy sit nie op ‘n hopie en kla nie. Droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood (2 Korintiërs 7:10). Hier lees ons van twee soorte droefheid: Goddelike droefheid lei tot verandering – dit motiveer jou om iets te doen; wêreldse droefheid is terneerdrukkend en lei tot die dood. Sekerlik een van die emosies wat jou lewe kan vernietig is selfbejammering. Baie van die suksesverhale in die lewe is op mislukking gebou.

 

  • Vergeet van die verlede en fokus op die toekoms

Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus (Filippense 3:13 – 14). Watter gedagte oor die verlede laat jy toe om steeds jou lewe te manipuleer? Sommige mense laat toe dat hulle verlede hulle toekoms beheer. Jou verlede is verby. Jy kan nie jou verlede verander deur jou daaroor te bekommer nie. Fokus op die toekoms. Wat belangrik is, is nie waar jy was nie, maar waarheen jy op pad is. Jy verloor as jy tou opgooi, want dan verwerp jy God se genade. Jy kan jouself voortdurend veroordeel of jy kan bely en met jou lewe voortgaan.

 

  • Vertrou op God om alles op te los

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). God is besig om ons lewenspatroon uit te werk; alles pas mooi inmekaar. Vir ons lyk dit dikwels nie so nie. Maak nie saak wat die oorsaak van jou probleem is nie, God kan dit steeds gebruik.

 

Wat is jou probleem? God wil jou help om dit te oorwin. Hou op om jou te bejammer en laat Hom toe om in jou lewe te werk.