Reageer op die waarheid

 

He counts the stars and calls them by name, yet he heals the broken in heart and binds up their wounds. —C.H. Spurgeon

 

Reageer op die waarheid

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

 

Ons moet ander mense se wêreldsiening verstaan. Christene word dikwels van anti-intellektualisme beskuldig – nie altyd sonder rede nie. Wat Paulus hier demonstreer, skryf hy van in 2 Korintiërs 10:4 – 5: Die wapens van ons stryd  is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies van elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

 

Paulus gebruik die taal van die filosowe en digters om dit wat sy gehoor glo, uit te daag. Daarna daag hy hulle uit om op hierdie nuwe kennis van God te reageer. Hierdie God kan nie deur dooie beelde verteenwoordig word nie. Dit is tog ontoepaslik om te dink dat God wat alles gemaak het deur goud of silwer of hout verteenwoordig kan word. God kan tog nie deur die handewerk van mense wat Hy gemaak het, verteenwoordig word nie. Mense kan immers sien en praat en loop terwyl hierdie beelde wat hulle gemaak het niks hiervan kan doen nie.

 

Paulus verwerp die mense se vals sienings van gode – hulle het tempels nodig en word deur beelde verteenwoordig. In die verlede het God die mense se onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer. Die feit dat Paulus praat van die Atyeners se onkunde moes hulle ontstel het, want hulle het hulle beslis nie as onkundig gesien nie. Hulle moet berou hê oor hulle vals sienings en hulle optrede wat daaruit voortgevloei het. Die Ateners moet hulle denke oor wie en wat God is en wat Hy van mense verwag, verander.

 

Paulus se mees kontroversiële punt kom in die laaste vers van sy toespraak (17:31). Hy sê twee dinge wat geen Atener sou sê nie.

  • God gaan oor die hele wêreld oordeel. Die Ateners het geglo dat die dood die einde van alles is.
  • God gaan die wêreld oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan. Die Ateners sou enige idee van liggaamlike opstanding onmiddellik verwerp het.

 

Wat Paulus hier sê pas nie in by sy gehoor se wêreldsiening nie. Dit staan wel binne die tradisie van die Bybel. Paulus sien die opstanding van Jesus as bewys van al sy aansprake aan die Ateners.

 

 

 

 




Hoe definieer jy sukses?

 

God doesn’t need our consent in order to govern us. He made us. —RC Sproul

 

Hoe definieer jy sukses?

As jy op Amazon soek vir “hoe om te slaag” gaan jy meer as 27000 antwoorde kry. Daar word baie oor sukses geskryf, maar dikwels help dit ons nie. Baie mense sukkel met wat sukses werklik is. In die kerk meet ons ongelukkig sukses dikwels aan getalle: erediensbywoning, begroting, ens. Die vraag wat ons moet vra, is: Hoe definieer God sukses?

 

  • Vir God is sukses getoue gehoorsaamheid

Vir God gaan sukses daaroor dat ek my aan Hom oorgee en sy pad loop – maak nie saak wat die getalle is nie. Ons stel God tevrede as ons geloof beoefen in ons najaag van sy koninkryk. As ons Hom gehoorsaam, maak nie saak wat ons moet opoffer of selfs persoonlik ly nie, sê Hy vir ons: Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf (Matteus 25:21).

 

  • In God se koninkryk beteken sukses dat ek my swakhede aanvaar

Meeste suksesvolle mense sal erken dat hulle ander mense op hulle reis nodig gehad het. Baie van ons besef ons kan nie alles alleen doen nie. Baie mense glo egter dat om suksesvol te wees hulle onafhanklik moet wees. Verkeerd. As ons werklik sterk wil wees, moet ons besef hoe swak ons is – dat ons ondersteuning nodig het; ons het God se hulp nodig. Soos lote moet ons in die ware wingerdstok bly (Johannes 15). My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is … want as ek swak is, is ek sterk (2 Korintiërs 12:9 – 10). Sukses beteken nie dat ek my swakhede ontken nie – ek aanvaar dit in nederige afhanklikheid van die Heilige Gees.

 

  • Met God word sukses deur ons volharding gemeet

Dit gaan meer oor die reis as die finale bestemming. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou (2 Timoteus 4:7). Diegene wat waarlik suksesvol is, is diegene wat die wedloop met volharding hardloop (Hebreërs 12:1 – 2).

 

Een van ons probleme is dat ons sukses definieer volgens die kultuur van die wêreld – en dan moedeloos word. Ons het ‘n ander perspektief nodig: wat is God se doelwit vir my lewe?

 

 

 




Kry ‘n kultuur-relevante vertrekpunt

 

So long as you have food in your mouth, you have solved all questions for the time being. -Franz Kafka, skrywer (1883-1924)

 

Kry ‘n kultuur-relevante vertrekpunt

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

 

Paulus begin sy toespraak deur vir die gehoor te wys dat hy die klassieke Grieks-Romeinse retoriek kan gebruik. Ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is (17:22). Met hierdie kompliment is sy gehoor meer bereid om na hom te luister. Hy begin nie deur te sê hulle gaan almal hel toe as gevolg van al hierdie afgode nie. Hy begin deur ‘n brug na sy gehoor te bou.

 

Hy gebruik ook geen direkte aanhalings uit die Skrif nie – sy gehoor sou in ieder geval nie hierdie aanhalings herken het nie – dit sou net ‘n mors van tyd wees.

 

Paulus gebruik sy waarnemings wat hy in Atene gemaak het as vertrekpunt vir sy aanbieding van wie en wat God werklik is. Hy sê nie al hulle gode, tempels, altare is dwaas nie.

 

Paulus neem klein treetjies soos hy hulle na Jesus toe lei. Hy begin by iets waarmee die gehoor bekend is en gaan dan geleidelik verder tot by Jesus Christus en die evangelie. Die onvermoë van sy gehoor om die ware God te herken is ‘n belangrike tema in hierdie toespraak.

 

Paulus begin by die gehoor se geloof en lei hulle na die lewende God, Skepper van alles. Hy wys wat God nie nodig het nie. In 17:24 verwys Paulus na twee kernidees:

  • God het die wêreld met alles wat daarin is, gemaak. Hierdie is ‘n algemene tema in die Ou Testament. Paulus sê die Ateners is onkundig oor wie God werklik is. Hy is groter as die skepping, maar nie deel daarvan nie.
  • God woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het (1 Konings 8:27). God staan dan teenoor al die gode met hulle tempels en priesters in Atene.

 

17:25 is nou die volgende stap in Paulus se argument. As die twee idees in 17:24 waar is, is dit duidelik dat God nie mense nodig het om Hom te versorg nie; Hy het nie hulle offers nodig nie. God is ‘n Gewer en nie ‘n Ontvanger nie.

 

Hierdie God is oppermagtig oor alles en almal: Uit een mens het Hy al die nasies gemaak (17:26). Die Ateners het geglo dat hulle uit die kosbare grond van Atene ontstaan het. Nou daag Paulus hierdie hoë siening wat die Ateners van hulleself gehad het, uit. Alle mense se oorsprong is by God. Aan die einde gaan Hy hulle oordeel. Hierdie God bepaal hoe lank en waar mense sal woon. God is beheer en daarom kan Hy grense vir mense stel. God het hulle gemaak om Hom te soek (17:27). Paulus sê dat mense moet rondtas om God te vind, al is Hy nie ver van enigeen van ons af nie.

 

In 17:28 haal Paulus dan die Griekse digters aan. Paulus ignoreer nie die sekulêre kultuur nie; hy ignoreer nie die klassieke tekste en filosofie nie. Paulus beperk nie sy lees en leer tot Joodse en Bybelse onderwerpe nie.

 




Hoekom misluk ons?

 

When you go through a trial, the sovereignty of God is the pillow upon which you lay your head. —C.H. Spurgeon

 

Hoekom misluk ons?

Mislukking hoef nie finaal te wees nie. Almal ondervind mislukkings in hulle lewe. God laat dikwels ons mislukkings vir ons werk. Volgens Spreuke is daar vyf dinge wat mislukking in ons lewens veroorsaak.

  • Ons misluk, want ons beplan nie vooruit nie

‘n Verstandige mens sien onheil kom en sorg dat dit hom nie tref nie, onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor (27:12). Sommige van ons is geneig om impulsief te wees, maar die verstandige man beplan vooruit. Die impulsiewe mens kyk nie vooruit nie en moet dan die gevolge hanteer.

 

‘n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop (16:9). Jesus vertel die verhaal van die man wat ‘n gebou gebou het, maar voor hy klaar was, moes hy tou opgooi, want hy het nie vooraf beplan nie. Beplan, maar jou beplanning kan nie los van God gedoen word nie.

 

  • Ons misluk, want ons dink ons het alles bymekaar

Die oomblik as ek dink ek het alles in beheer, moet ek versigtig wees. Hoogmoediges wat op ander trap, word vernietig (15:25 – Die Boodskap). Hoogmoed laat ons val. Een van die simptome van trots is dat ons dink dat ons nie die raad van ander nodig het nie.

 

  • Ons misluk as ons te bang is om te waag

Die oomblik as ons ons begin bekommer oor wat ander mense dink, trap ons in ‘n strik. Die grootste mislukking is om nie eers te probeer nie. Vir God se heerlikheid moet ons waag. Dit is wat sukses in die lewe bring. As ons te bang is om te waag, misluk ons.

 

  • Ons misluk, want ons gooi te gou tou op

Mislukking is die pad van minste weerstand. Die probleem is nie dat hulle nie probeer nie, maar dat hulle te gou ophou. As jy aanvanklik nie slaag nie, is jy normaal. Probeer weer. Dikwels is sukses net om die draai. ‘n Luiaard se pad is met dorings besaai (15:19). Jy is nooit ‘n mislukking totdat jy ophou probeer nie.

 

  • Ons misluk as ons nie na God luister nie

Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood (14:12). God se woord is vol riglyne en beginsels om ons lewe te rig. Maar meestal luister ons na ons gevoelens: “Ek voel dit is die regte ding om te doen al sê God se woord anders.” God se woord verskil dikwels van ons gevoelens. God sê om te kry, moet ons gee; die pad na grootheid is deur te dien. As ons nie na God luister nie, kom ons in die moeilikheid. Baie van ons mislukkings gebeur omdat ons nie bid nie.

 

Almal van ons sal op een of ander stadium misluk. Wat belangrik is, is wat ons doen as ons misluk. God stel meer in my toekoms belang as in my verlede.