Die karakter van Jesus

 

“The thing which breaks your heart is perhaps the very thing God wishes to do through you to move God’s mission forward.”

—Andy Stanley

Die karakter van Jesus

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

As ons die evangelies lees, wat let ons op? Ons kry geen beskrywing van Jesus se voorkoms nie. Ons leef in ‘n tyd wat baie waarde heg aan beelde en voorkoms. Wat vir die skrywers belangrik was, was nie Jesus se voorkoms nie, maar sy karakter. En sy karakter was merkwaardig.

 

In Jesus kry ons die deugde en eienskappe wat ons gewoonlik as teenstrydig in dieselfde persoon sou beskou. Jesus kombineer majesteit met nederigheid; Hy is aan geregtigheid toewy maar kombineer dit met genade en barmhartigheid. Ons sien teerheid sonder enige teken van swakheid, nederigheid sonder enige onsekerheid. Hy was toeganklik; Hy het op die waarheid aangedring, maar dit gaan altyd met liefde gepaard; sy mag gaan met sensitiwiteit gepaard, sy integriteit sonder rigiditeit en sy passie sonder vooroordeel.

 

‘n Interessante kombinasie was Jesus se waarheid en liefde.  Hy verbaas almal deur saam met tollenaars te eet – dit ontstel diegene wat teen die Romeinse beheer van Israel was. Hy eet  met prostitute; Hy raak doelbewus en met teerheid aan melaatses wat Hom seremomieel onrein maak. Hy vergeef sy vyande wat Hom gekruisig het – en sy vriende wat Hom in sy benoudste uur verlaat het.

Jesus getuig te alle tye van die waarheid. Saggeus, die gehate tollenaar, was verbaas deur Jesus se liefde om hom te aanvaar. Hy los onmiddellik sy uitbuitery.

 

As Jesus met mense wat deur die gemeenskap as sedeloos beskou is, verkeer, doen Hy dit met respek en genade wat diegene wat teenwoordig was verbaas. Maar Hy wys vir die Samaritaanse vrou op die wrakke van haar baie mislukte verhoudings, en sê sy moet van die ewige water drink. Toe die mense ‘n vrou wat in owerspel betrap is na Hom toe bring, sê Jesus vir haar dat Hy haar nie veroordeel nie, maar voeg dadelik by:  Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie (Johannes 8). Hy is vol genade en waarheid (Johannes 1:14).

 

Jesus keer die dominante sosiale patroon van sy tyd op sy kop. Hy eet met uitgeworpenes. Hy was nie bang dat hulle Hom sal kontamineer nie; Hy verwag dat sy liefde hulle sal beïnvloed en verander. Dit is wat gereeld gebeur het.

 




Psalm 32 (4)

 

I can no longer condemn or hate a brother for whom I pray, no matter how much trouble he causes me. —Dietrich Bonhoeffer

 

Psalm 32 (4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese implikasies

Mense het verskillende sienings oor die verband tussen sonde en lyding. Party beklemtoon dat daar ‘n verband is; ander fokus op gedeeltes wat ontken dat daar ‘n verband is. Beide sienings is ‘n oorvereenvoudiging. Die Bybel – beide Testamente – erken dat daar ‘n verband mag wees. In die Nuwe Testament impliseer Jesus die verband toe hy die verlamde man wat deur die dak neergelaat is, se sondes vergewe (Markus 2:1 – 12). In 1 Korintiërs 11 bespreek Paulus die ongepaste deelname aan die nagmaal. Hy sê onder andere: Want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ‘n oordeel oor homself.

 

Aan die ander kant ontken Jesus hierdie verband in die man wat blind gebore is: Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien kan word (Johannes 9:3). Die verhaal van Job ontken ook hierdie verband. Die psalms sê dat beide perspektiewe waar kan wees. In baie van die psalms is die veronderstelling dat mense ly sonder dat hulle gesondig het.

 

As iemand siek is, is dit verkeerd as ons soos Job se vriende optree – as ons daarop aandring dat die sieke sonde het wat hy moet bely. Maar dit is net so gevaarlik om die verband tussen sonde en lyding te ontken. Dit is dikwels teenproduktief en vererger net die situasie. Belydenis is goed vir die liggaam en siel.

 




Dag 18:Volg die tradisie van wyse mense

 

Dag 18:Volg die tradisie van wyse mense

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Van waar het die wyse manne/sterrekykers wat na die baba Jesus kom kyk het, gekom? Miskien is dit nie die regte vraag nie. Ons weet dat hulle uit die ooste gekom het – moontlik uit Persië. Maar hoekom het hulle gekom? Hoe het hulle in daardie verre land uitgekyk vir die geboorte van die koning van die Jode, Jesus?

 

Ons kan dit nie bewys nie, maar dit lyk tog asof hulle deur ‘n profesie van Daniël aangespoor was. Daniël, die Ou Testamentiese profeet, was in ballingskap in Babilon. Hy word die leier van ‘n groep wyse manne. In Daniël 9 profeteer hy die tyd van die geboorte en dood van die Messias. Het hierdie een profesie van ongeveer 400 jaar vantevore die wyse manne aangespoor om hulle goud, wierook en mirre as geskenke te bring?

 

Dit is moontlik. Dit is geen verrasing dat Jesus se geboorte vol moontlikhede is nie. As gevolg van Kersfees kan ons vir God deur sy Seun wat mens geword het, ken. As gevolg van sy geboorte is dit moontlik dat ons sondes vergewe kan word. As gevolg van hierdie geboorte kan almal wat in Hom glo toegang tot sy hemelse woning kry. As gevolg van Christus kan ons steeds aan die hoop vir vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het, vashou. Dit is vandag steeds wyse manne en wyse vroue wat reageer op die moontlikhede van daardie groot gebeurtenis wat die wyse manne uit die ooste na Betlehem gebring het.

Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys (Matteus 2:2).

 

 




Is dit redelik om in die Christelike godsdiens te glo?

 

The hard truth is that all people love poorly. We need to forgive and be forgiven every day, every hour increasingly – Henri Nouwen

 

Is dit redelik om in die Christelike godsdiens te glo?

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Christene glo dat dié manier om God te ken is nie deur filosofiese beredenering nie, maar deur God se selfopenbaring – nie deur ons denke nie, maar deur Hom wat met ons praat. Ons glo God het Hom oortuigend in Jesus Christus geopenbaar. As Jesus is wie Hy gesê het Hy is en as Hy uit die dood opgestaan het, is daar ‘n sterk saak dat God bestaan. Jesus is dié rede waarom ons die Christelike geloof kan glo.

 

Jesus is die invloedrykste mens wat nog ooit geleef het. Hoe weet ons wat Jesus gesê en gedoen het? Kan ons die Bybelse verslae van Hom vertrou? Dit word algemeen aanvaar dat Jesus Christus ‘n historiese figuur was. In die vier evangelies histories betroubaar? Die vroegste evangelie, dié van Markus, is ongeveer 30 jaar na Jesus se dood geskryf. Hoe het die verslae van Jesus se lewe behoue gebly deur die jare?

 

Die gebeure is mondeling oorgedra.  Omdat dit redelik vinnig neergeskryf is, was daar nog mense wat ooggetuies van die gebeure was wat geleef het. Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was (Lukas 1:2). Ons kry baie van die name van hierdie ooggetuies in die evangelies – Simon van Sirene, Kleopas, ens. Die evangelies is te gou na die gebeure geskryf om volksoorlewerings te wees. Hulle is ook nie so geskryf dat dit inpas by die behoeftes van die kultuur en gemeenskappe van destyds nie. Om die waarheid te sê ons kry beskrywings wat ‘n verleenheid geskep het – die gekruisigde Messias, die opstanding, die mense wat Jesus gelok het. Ons moet aanvaar hierdie storie se wortels lê in die geskiedenis.

 

Omdat Jesus Christus ‘n werklikheid was en omdat die Christelike geloof op sy lewe, dood, opstanding en hemelvaart berus, kan ons die Christelike geloof aanvaar as waar.