Psalm 32 (3)

 

Heaven is much too serious a place for work. It will be all dance and play there –C. S. Lewis

 

Psalm 32 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

32:8 – 10: Ek wil ander vertel

8Ek wil jou insig gee, ek wil jou die pad leer wat jy moet loop. Ek wil jou raad gee, my oog op jou hou.

Die Here reageer op die psalmis. Hy gaan die psalmis leer om in die toekoms op die regte pad te loop. Vroeër in die psalm het ons die indruk gekry dat die psalmis nie altyd die pad van die Here geloop het nie. Na sy belydenis bied die Here aan hom die hulpbronne om te verseker hy ondervind nie weer dieselfde probleme nie. My oog op jou wys dat die Here aandag gee. Hoekom? Is dit omdat Hy vir ons omgee of  omdat Hy ons dophou? Miskien doen Hy beide.

 

9Moet julle nie soos ‘n perd, soos ‘n muil sonder verstand gedra nie: Met toom en stang moet sy krag beteuel word, anders bly hy nie by jou nie.

Die perd is gewoonlik ‘n simbool van krag. Hier word dit gebruik om aanbidders te waarsku dat hulle die Here moet gehoorsaam.

 

10Goddelose mense het baie smarte, maar wie op die Here vertrou – troue liefde omring hom.

Hierdie is ‘n algemene waarneming. Dit mag ook dien as leidraad van die psalmis se geheime mislukking en opstand. Ontrou veroorsaak smarte, maar diegene wat op die Here vertrou, ondervind sy liefde. Die psalmis ontdek dat ontrou aan die Here ‘n sonde is wat nie vergewe kan word nie.

 

Die digter het sy les geleer. Hy wil dit nie vir homself hou nie. As verloste het hy die verantwoordelikheid teenoor ander. Die mense se keuse is eenvoudig: of sonde (goddeloosheid) en smart of geloof en omvou met God se liefde. Die alternatiewe word so sterk en duidelik gestel dat dit amper onverstaanbaar is dat daar nog mense is wat sonde kies. Weereens staan ons voor twee paaie. Sommige mense is hardkoppig soos muile. Hulle weier om God se leiding te aanvaar, daarom moet Hy hulle voortdurend lei en dissiplineer. Gebeur dit nie, is hierdie mense nie bruikbaar vir God nie. Nee, ek moet op die Here vertrou en my sonde bely. Elkeen wat dit doen, troue liefde omring hom.

 

32:11: ‘n Oproep

11Verbly julle in die Here, en juig, regverdiges: ja, jubel dit uit, almal met opregte harte.

Regverdiges kan hulle in die Here verbly. Hy is die voorwerp van ons blydskap.

 

Die tempelmusikante neem nou die voorafgaande tien verse en sing ‘n gemeenteloflied. Waaroor jubel hulle? Vergifnis? Nee, in die Here. Die digter het sy les geleer; hy kan dit nie vir homself hou nie. Daarom deel hy dit met die gemeente. Reeds in hierdie lewe kan hulle wat met God se liefde omvou is, bly wees en jubel. Hoekom? Want God het hulle tot regverdiges verklaar. Deur die regverdiges ook opregtes te noem, beklemtoon die digter dat ‘n mens se berou en skuldbelydenis nie net uit woorde kan bestaan nie. Om net vir God te sê: “Ek is jammer,” is nie goed genoeg nie. My berou moet blyk uit my dade. Dit moet sigbaar word in die manier waarop ek God met toewyding volg. Dit sal getoets kan word aan die opregtheid waarmee ek gaan probeer om aan sy wil gehoorsaam te bly.

 

 




Agt padblokkades op pad na geestelike gesondheid

 

Men despise religion. They hate it and are afraid it may be true –  Blaise Pascal

 

Agt padblokkades op pad na geestelike gesondheid

Pediaters moniteer gereeld die ontwikkeling van kinders. In sekere gevalle bevind hulle dat die groei afgestomp is – sy metings val onder ‘n sekere persentiel. Dieselfde gebeur met sekere Christene – hulle geestelike groei is afgestomp. Hulle openbaar ‘n ongesonde groeipatroon of mag selfs agteruitgaan.

 

Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus (2 Petrus 3:18). As gelowiges word ons beveel om te groei. Die Puriteinse pastor, John Owen (The Grace and Duty of Being Spiritually Minded), verwys na die agt sondes wat verhoed dat ons geestelik ontwikkel. Om hierdie padblokkades te identifiseer, is ‘n kritiese stap op pad na die herstel van volle geestelike ontwikkeling.

  • Mense is agterlosig en hou nie wag oor hulle harte nie.
  • Hulle verwaarloos hulle heilige pligte.
  • Hulle beoefen nie nadenke en selfondersoek nie.
  • Hulle jaag die dinge van die wêreld na.
  • Hulle is nie bereid vir die swaarkry van ‘n hemelse lewe nie.
  • Hulle is hooghartig in hulle gesprekke.
  • Hulle is korrup in hulle kommunikasie.
  • Hulle is onder die invloed van sekere begeertes.

 

Maak nie saak wat die oorsaak is nie, die oplossing bly dieselfde: Hernude vertroue in Jesus Christus, belydenis van sonde, vertroue in die Heilige Gees en gebed.

Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry (1 Petrus 2:2).

 




 

Dag 15: Berei voor vir die koms van die Verlosser

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Elke jaar met die Advent seisoen word ons opgewonde – nie net oor die geskenke en etes nie, maar omdat ons die ware en verbasende storie van die geboorte van ons Verlosser kan herdenk. Die ware storie van ‘n ware Persoon – die enigste Verlosser van die wêreld.

 

Mense rondom ons smag na ‘n ware Verlosser. Daar is oorgenoeg vals gode en artifakte. In hierdie spesifieke seisoen het ons die voorreg om harte vir hierdie unieke fees voor te berei. Ons moet nooit die wonder en ontsaglikheid van hierdie gebeure verloor nie. Tradisioneel sonder Advent vier Sondae af. Dit help ons om voor te berei vir hierdie jaarlikse herdenking van die wonder.

 

In ons kitssamelewing moet ons voortdurend weer leer wat dit beteken om te wag en vir iets voor te berei. Maria het swanger geword en geduldig gewag vir Hom om gebore te word. God kon net eenvoudig ‘n volwassene na die aarde gestuur het. Nee, Hy kies vir Maria om vir Jesus te dra en voor te berei vir sy geboorte. Dit was nie ‘n kitsoplossing nie, maar dit was God se toewyding aan die mensdom – van die wieg tot die graf en daarna. Die moeder van Jesus het geweet daar was ‘n advent – ‘n aankoms – met Jesus se geboorte. Die vraag was nog nooit of Jesus die Verlosser van die wêreld is nie – Hy was en Hy is. In die lig hiervan moet ons bereid wees om diegene wat nog nie die Verlosser ken nie, voor te berei.

 Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors (Jesaja 9:5).

 




Hoop (2)

 

A leader … is like a shepherd. He stays behind the flock, letting the most nimble go out ahead, whereupon the others follow, not realising that all along they are being directed from behind – Nelson Mandela.

 

Hoop (2)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Hoekom is die Christelike verstaan van hoop uniek?

  1. Die Christelike hoop is persoonlik

Liefde tussen mense is die  kern van die Christelike hoop. Jonathan Edwards sê dat Christelike hoop nie iets abstrak is nie, maar ‘n verhouding. In die hemel word alle liefde beantwoord en is volkome wedersyds. In die hemel sal ons nooit skeiding van dié wat ons liefhet ervaar nie. Onderbreekte liefde, die ergste wat met ons op aarde kan gebeur, sal vir ewig weg wees.

 

  1. Die Christelike hoop is konkreet

Lyding, goddeloosheid en die dood ruïneer ons lewe op aarde. In die nuwe Jerusalem sal God self ons trane afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan (Openbaring 21:2 – 4). Christene kyk vooruit na ‘n lewe wat hulle altyd wou gehad het, maar nooit gehad het nie. As ons glo dat die opstanding ‘n historiese feit was, sal ware geregtigheid eendag op aarde geskeid.

 

  1. Die Christelike hoop is ongelooflik wonderlik

Die evangelie is die een verhaal wat al ons begeertes bevredig en is histories waar. Ons sal tyd en die dood ontsnap; ons sal liefde sonder skeiding ken; ons sal sien dat die bose finaal vernietig word.

 

  1. Die Christelike hoop is verseker.

Vir die Christen is verlossing ‘n gawe. Dit behoort nie aan die goeie mense nie, maar aan die mense wat erken dat hulle nie goed genoeg is nie en ‘n Verlosser nodig het. Hoe kan ons weet dat ons geloof in Christus ons die toekoms sal in neem? Die opstanding van Jesus Christus is ons waarborg. Ook die voorsmaak van die toekoms wat ons nou reeds ondervind, is verdere grond vir ons hoop. En die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Romeine 5:5).

 

Hierdie is die redes waarom Dietrich Bonhoeffer uit die dodesel kon skryf dat die dood van ‘n Christen the supreme festival on the road to freedom is. D. L. Moody het geskryf dat ons eendag sal lees dat hy dood is. Don’t believe a word of it. At that moment I will be more alive than I am now. En dan dink ons weer aan Jesus se woorde aan die misdadiger aan die kruis: Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees (Lukas 23:43).