Die Groot Geloofswoordeboek: Moralisme

Mense moet presies al die wette hou sonder dat daar klem gelê word op hulle verhouding met die Here. Dit is gewoonlik ‘n baie streng houding met min uitsig op genade en vergifnis. Dit kom ook voor as boeteprediking. God word ge­woonlik eensydig voor­gestel as die heilige God wat die sonde haat en straf.

Uit reaksie teen hierdie eensydigheid is daar weer die ander eensydigheid van net liefdesprediking sonder die eis van be­ke­ring. Dan word die genade goedkoop en die evangelie vreug­deloos, ‘n stuk­kie kultuur. Philip Yancey het ‘n boek geskryf, What’s so Ama­zing about Grace? (*Prediking, *Oordeel, *Redding)

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Moederbelofte

Die Groot Geloofswoordeboek: Moederbelofte

Genesis 3:15 word die “Moederbelofte” genoem; dit beteken die eerste van alle beloftes. Baie mense meen dit is alreeds ‘n belofte van die *Messias of *Verlosser wat eendag sou kom, en noem dit dan die “Proto-evangelie” of eerste evangelie. Genesis 3:15 is deel van die vloek wat die Here in die tuin van Eden oor die slang uitspreek. Daar sal vyandskap wees tussen die nageslag van die vrou en die van die slang. “Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”

Katolieke teoloë dink by die vrou graag aan Maria, die moeder van Jesus, sodat Jesus dan die nageslag is wat die slang se kop sal vermorsel. Ook Protestante dink aan Jesus as die nageslag en sien dan hier die eerste getuienis van oorwinning oor die Satan en van ons verlossing, en noem dit graag die eerste belofte van die Messias.

Die Messias sou egter ‘n nasaat van Dawid wees, en daarom is dit skaars moontlik om beloftes oor Hom te verwag voor die tyd van Dawid. (*Messias, *Messiaanse profesieë)

Dit is goed om net ‘n keer mooi te kyk wat regtig hier be­loof word. Hier is nie sprake van oorwinning nie, maar van voort­gaan­de stryd, presies wat in die eerste sin beloof word: vyand­skap. Die feit dat die slangbyt laaste genoem word, beteken dat dit ‘n voort­gaande stryd is en nog nie ‘n oorwinning nie.

En tog is dit ‘n wonderlike belofte. ‘n Mens skrik as jy dink hoe maklik Eva haar laat mislei het, en hoe maklik Adam haar ge­volg het. Sou dit beteken dat die duiwel totaal die oorhand gaan kry en die mense in ‘n sondemoeras insleep?

Die belofte is: Nee! Daar sal wel weerstand van die mense wees. Hulle sal die slange doodmaak, al sal die slange hulle telkens weer byt. Miskien is dit ‘n simbool daarvan dat die wêreld nie heeltemal in duie sal stort nie, dat mense nie volkome gelukkig in die sonde is nie, dat daar tog weerstand is en nog spore van reg en geregtigheid in byna elke samelewing is.

As sodanig is dit inderdaad ‘n wonderlike belofte. Maar dit is nog nie ‘n belofte van oorwinning oor die slang nie. Die en­kelvoud (jy, hom) is kollektief en het betrekking op die totale na­geslag.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Katolieke Kerk

Katolieke Kerk – Pieter Verster

Jurgens vra:

Is Katolieke Christene? Gaan hulle hemel toe? Hulle bid aan Maria as “tussenganger”. Is dit nie afgodery nie? Moet my asb nie hierdie politiese korrekte antwoord gee nie – maar ek weet reeds dis wat julle gaan doen…. As dit olraait is dat hulle bid tot Maria, hoekom kan ek nie tot my pa bid wat dood is toe ek 10 was nie? Komaan ouens – gee my ‘n reguit eerlike antwoord.

Antwoord:

Prof. Pieter Verster antwoord:

Die enigste maatstaf vir ‘n ware Christen is die ware geloof in Jesus Christus as Here  en die omhelsing in die geloof van sy wonderbare verlossing. Mens kan aan  watter kerk ook al behoort en nie werklik glo nie. Kan ‘n mens werklik so glo in die Rooms-Katolieke kerk? Ek is daarvan oortuig. Al het Maria ‘n uiters belangrike rol gespeel in Jesus se lewe, is dit verkeerd om tot haar te bid. Dit beteken egter nie dat daar nie verskeie opregte Rooms-Katolieke is wat net op Jesus hoop vir hulle verlossing nie.

 

Skrywer: Prof Pieter Verster




Openbaring 13

Openbaring 13 – Pieter Verster

Johny vra:

Verwys die draak en die dier in Openbaring 13 na die Rooms Katolieke kerk en die Pous?

Antwoord:

Prof. Pieter Verster antwoord:

Aanvanklik verwys die draak en die dier  na die Romeinse keiser wat die Christene  wreed vervolg het. Openbaring is geskryf om die Christene te versterk en te verseker van Jesus Christus se oorwinning. Luther was van mening dat die Rooms-Katolieke kerk in  sy tyd so verword het en die ware gelowiges ewe-eens vervolg dat die Pous  die Antichrist is en die Rooms-Katolieke kerk van sy tyd  die valse kerk was. Sake het baie verander en vandag is daar baie ander wat die ware gelowiges vervolg terwyl  die Pous  geloof in Jesus Christus bevorder. Die draak en die dier verset hulle radikaal teen Christus en sy kerk en is dus van toepassing op hulle wat die kerk redeloos vervolg.

 

Skrywer: Prof Pieter Verster