Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (7)

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (7)

  • Wedergeboorte (Nuwe lewe) (*Kind/Kinders van God)

Soos die ander begrippe oor die heilsweg is wedergeboorte ‘n ra­dikale woord. Dis eintlik skokkend om te dink ‘n mens moet nog ‘n keer gebore word. Jou eerste geboorte was nie goed genoeg nie. ‘n Motor met ‘n paar lelike stampe kan nog by die duikklopper reggeklop word. Maar as jy die motor weer wil opsmelt om dit heel­temal oor te maak beteken dit dit was onherstelbaar be­ska­dig. Dis wedergeboorte. God moet ons oormaak.

‘n Paar sake is belangrik. Die eerste is dat dié woord eintlik baie min in die Bybel voorkom, net ses keer (Matt 19:28; Joh 3:3; Tit 3:5, 7; 1 Pet 1:3, 23 – in ‘n paar gevalle net in die 1953-vertaling). Dit skep die indruk dat dit nie eintlik baie belangrik is nie. Ook omdat ons nie in enige een van hierdie plekke ‘n goeie beeld kry van wat dit beteken nie. Maar dis ‘n misverstand. Dieselfde gedagte kom oor en oor in ander woorde voor. Dink maar net aan Paulus wat skryf dat ons nuwe mense of ‘n nuwe skepping is, en selfs dat ons nog dag na dag verder vernuwe moet word, en Johannes wat skryf dat ons uit God gebore is en kinders van God is.

Die gedagte dat ons totaal nuut gemaak is en heeltemal ‘n an­der soort lewe moet lei, kom sterk by Paulus na vore. Dink maar aan die radikale uitspraak: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nu­we mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God” (2 Kor 5:17-18). Trouens, dit kan selfs vertaal word met: Iemand wat aan Christus behoort, is deel van ‘n nuwe skepping. Die totale ou orde/tydperk is verby, ‘n totaal nuwe orde/tydperk het gekom. Dit oue en die nuwe is dus nie maar net die individu se ou lewe wat verby is en nuwe lewe wat begin het nie. Deur Jesus het die totale werklikheid ‘n nuwe tydperk ingegaan, die tyd waarin die koninkryk van God op hande is.

Natuurlik sluit dit ons eie individuele lewe in. Daarom die uit­gebreide vermanings in Efesiërs en Kolossense. Deur die geloof in Jesus het ons ‘n nuwe lewe ontvang. Ons is nuwe men­se. Daarom moet ons ‘n nuwe lewe lei, anders as die ou lewe in die sonde (Ef 2:10; 4:20 ev; Kol 3:9 ev). En dit word baie konkreet gemaak met lyste sondes waarmee ons moet ophou, en lyste nuwe dinge wat ons lewe moet vul. Lees dit gerus.

Die gedagte dat ons kinders van God is, kom nie op baie plekke in die Nuwe Testament voor nie, maar tog ‘n paar keer in Romei­ne 8 en 9, in Galasiërs 3 en 4, en in 1 Johannes 3. By Paulus kom die prag­tige gedagte voor dat ons nie net kinders van God is nie, maar selfs erfgename van God, wat beteken dat ons saam met Jesus gaan erf. In dieselfde verband word Jesus dan ook ons broer genoem (Rom 8:14 ev; Gal 4:7; Rom 8:29).

Veral Johannes ontwikkel die gedagte van kindskap verder (1 Joh 2:28-3:10). En dis interessant dat juis hy dit doen omdat dit ook juis hy is wat bekend is vir die begrip “wedergeboorte”.

Johannes begin met “Kyk”, wat ‘n uitroep van verbasing is. Dis eintlik ongehoord. Mense wat sondaars is, kom in die allernouste verhouding denkbaar met God: kinders! Dit is dus nie vreemd nie dat hy ‘n interessante toevoeging maak: “en ons is dit.” Dis asof hy wil sê “Kind van God” is nie maar net ‘n titel nie, dis die werk­likheid.

Dit ondersteun hy dan verder met die gedagte dat ons “uit God gebore is” en dat “die saad van God” in ons bly (1 Joh 3:9, 1953-ver­taling). Dit kom ook voor in sy Evangelie: ons het die reg om kin­ders van God te word, want “ons is uit God gebore” (1:12-13, 1953-vertaling) of God is ons Vader (1983-vertaling).

Maar daaruit ontwikkel hy dan ‘n merkwaardige gedagte, iets soos “aardjie na sy vaartjie” (‘n kind moet na sy pa aard). As ons kinders is, sal ons by ons Vader moet pas. Daarom is dit nie vreemd dat die wêreld ons nie ken nie. Hulle ken Hom nie (1 Joh 3:1). “Ken” beteken hier iets soos “verstaan”: die wêreld verstaan nie ons manier van lewe en veral ons lewenswaardes nie omdat ons oor­geskakel het na God se waardes, en dit lyk baie anders. Of lyk dit in jou lewe regtig so anders?

Daar kom ‘n tweede gedagte by: omdat Jesus die Seun van God is en ons is kinders van God, moet daar tussen ons en Hom ‘n soort ooreenkoms wees. Wanneer Jesus kom, sal ons “soos Hy wees”, maar intussen moet ons iets daaraan doen: ons moet ons lewe so rein hou soos Hy rein is (1 Joh 3:2-3). Hierdie “soos” laat ‘n mens na jou asem snak, maar dit word baie in die vermanings van die Nuwe Testament gebruik en is ‘n geweldige gedagte: tus­sen ons en Jesus, en selfs tussen ons en God, moet daar ‘n soort ooreenkoms wees. En dis ook nie heeltemal so vreemd nie, ons is dan sy beeld, of ons is tenminste veronderstel en bedoel om sy beeld te wees. (*Beeld van God)

Die pad wat Johannes dan hier verder loop in terme van die totale onaanvaarbaarheid van sonde in ons lewe (3:4-9), is ener­syds volkome logies, maar andersyds byna te veel om waar te wees. (*Kind/Kinders van God, *Perfeksionisme)

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (6)

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (6)

  • Verlossing

Verlossing word in die Bybel omvattend gebruik: vir bewa­ring, genesing, saligheid. Dit sluit dus die liggaamlike en geestelike behoeftes van mense in. In die Ou Testament word dit dikwels ge­bruik vir die redding uit Egipte, wat die bevryding van Israel uit konkrete nood was (Eks 15:2; Deut 32:15). Verlossing word gereeld in die Ou Testament en selfs tot in die Nuwe Testament gebruik wanneer Israel of ‘n individu se verlossing van vyande ter sprake is (2 Sam 22:2-4; Ps 107:13 ev; Luk 1:68-75). Verlossing word ook gebruik vir redding uit gewone nood (Matt 8:25; 14:30; Hand 27:43; 28:4) en vir Jesus en die apostels se genesings. Dit is jammer dat vertalings ander woorde gebruik wanneer dit om genesings gaan, maar dieselfde Griekse woord word vir genesing én saligheid ge­bruik (Matt 9:21-22; Hand 14:9-12).

Verlossing of redding word ook vryelik vir redding van sonde en saligheid gebruik (Mark 5:34; 10:52; Luk 7:50; 17:19; Rom 10:1; 13:11; 1 Kor 3:11; 15:2)

 

  • Verlosser (Enigste Verlosser)

In hierdie verband word Jesus dan verkondig as die Verlosser. Hy verlos mense dan omvattend deur in al hulle nood te voorsien. Maar die vraag wat dan telkens na vore kom, is of Hy regtig die enigste Verlosser is.

Argumente wat na vore gebring word teen die feit dat Jesus die enigste Verlosser is, is onder andere die feit dat baie mense alreeds voor die koms van Jesus dood is, dat baie mense sedertdien dood is sonder dat hulle van Hom gehoor het, dat ons hoogmoedig is as ons maak of ons godsdiens beter as ander s’n is. (*Godsdiensge­lyk­heid) Teorieë word dan aangebied dat God magtig is om mense deur enige gods­diens te red solank mense maar net eerlik en opreg in hul godsdiens is, of dat mense dit net nie besef nie, maar dat hulle in werklikheid tog Christene is as hulle net ‘n goeie lewe lei.

Kom ons kyk wat ons in die Bybel hieroor kry.

 

Nuwe Testament

In die Nuwe Testament is daar ‘n paar sterk uitsprake oor die uniekheid van Jesus. “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” Jesus “bring die verlossing, en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (Joh 14:6; Hand 4:12). Hierdie uitsprake sê so dui­delik as wat taal dit kan sê dat Jesus die enigste Verlosser is. Maar daar is meer.

Paulus loop in Atene rond (Hand 17:16 ev). Hy kom diep onder die indruk van hoe godsdienstig hierdie mense is, in so ‘n mate dat hulle selfs ‘n altaar het vir ‘n onbekende God. Hulle wil nie dalk iewers “uitmis” nie! Hulle het ruimte vir alle gode, selfs dié waarvan hulle nog nie gehoor het nie.

Wat is Paulus se reaksie? Hy verkondig aan hulle juis hierdie onbekende God. Hy is die Een wat alle mense gaan oordeel. Hy is die een ware God. En Hy het een Man aangewys deur Wie Hy alle mense gaan oordeel. Almal moet hierdie Man aanvaar, en daarom het God Hom uit die dood opgewek (17:30-31). En as die gehoor dit nie wil aanvaar nie, verlaat Paulus die stad sonder enige toegewing asof ander gode ook goed genoeg kan wees.

As Paulus ruimte daarvoor gehad het dat ander gode ook goed genoeg is, was dit die ideale geleentheid om dit te sê. Immers, hy het nie veel sukses in Atene nie. Ons het hier een van die min geleenthede waar hy in ‘n stad preek en ons hoor nie dat daar ‘n gemeente gevorm is nie. Net ‘n paar mense reageer positief op sy boodskap. En tog lees ons: “So (sonder sukses) het Paulus van hulle af weggegaan” (v 33).

Jesus, of niks!

 

Ou Testament

Dat Jesus die enigste Verlosser is, is nie iets vreemds en buitenge­woons in die Bybel nie. Dit is deel van ‘n baie ou en sterk boodskap dat daar net een ware God is. (*Drie-eenheid) Die Ou Testament is bekend met baie gode: Baäl, Astarte, Asjera, Dagon, Nebo, die He­melkoningin, en nog ander. Trouens, die bewoording van die eer­-ste gebod veronderstel dat daar baie ander gode is: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie.” Israel mag net hierdie God dien, die ander mag hulle nie dien nie.

Natuurlik kan die teenargument wees dat dit net vir Israel geld, en dat Jesus net vir die Christene die enigste Verlosser is. Maar dit maak die vroeë kerk se sendingwerk sinloos, en ook die aansprake van die Ou Testament dat God die God van die hele wêreld is en dat al die nasies na Jerusalem sal stroom om Israel se God daar te aanbid (Jes 2:2-5, Jer 3:17; 4:1-4; 32:27; Ps 22:28 ev).

Dit is ‘n duidelike en sterk lyn in die Bybel. Daar is een ware God, en Jesus is die openbaring van hierdie God en die enigste Verlosser.

Dit beteken nie dat ons duidelikheid het oor mense wat nooit die evangelie gehoor het nie. Ons het nie daaroor duidelike uitspra­ke in die Bybel nie. Maar ons het duidelike uitsprake oor die God van Israel as die enigste ware God, en sy Seun, Jesus, as die enigste Verlosser, en ons roeping is om hierdie boodskap aan alle mense te verkondig en Hom as Verlosser aan hulle aan te bied.

En dit is ook nie duidelik of ons eendag aan God die vraag sal kan vra: “Wat van die mense wat nooit gehoor het nie?”, en of Hy dit nie dalk aan ons sal vra nie.

Verder is daar ook nog die beskuldiging dat Christene hoog­moedig is om hulle Verlosser aan te bied as die enigste een. (*Gods­diensgelykheid) As Christene dit uitgedink het, sou dit nogal ‘n argument gewees het. Maar omdat hulle dit ontvang het en deur­gee soos hulle dit ontvang het, kan dit dalk selfs uit nederigheid wees. Sou hoogmoed nie dalk juis die teendeel wees nie: om op eie gesag dit wat jy ontvang het te verander in dit wat jou pas nie?

 

Skrywer: Prof Adrio König




Wie het vir God gemaak as Hy alles gemaak het?

Wie het vir God gemaak as Hy alles gemaak het? – Kobus Kok

 

Suzanne vra:

My dogtertjie van 10 worstel met die vraag en ek weet nie hoe om haar te antwoord sodat sy dit sal verstaan nie. Sy wil by my weet: As God alles gemaak het, wie het dan vir God gemaak?

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

Wie het vir God gemaak as Hy alles gemaak het?

Dr. Kobus Kok

‘n Mamma se 10 jarige dogtertjie wil weet wie het vir God gemaak as God alles gemaak het? Nou ja, dit is ‘n goeie vraag! Daar is twee maniere om te die vraag te beantwoord. Die een is om te kyk wat die Bybel self daaroor sê en die ander een is om logiese denke aan te wend.

In die Bybel sien ons dat niemand vir God gemaak het nie omdat God nog altyd daar was (Openbaring 1:4). Alles wat vandag bestaan, is egter deur God gemaak. Voordat enige iets bestaan het in ons wêreld was God alreeds daar (Psalm 90:2). In Exodus 3:14 wil Moses graag weet wie God is en dan antwoord God hom: “Ek is wat Ek is”. God was nog altyd daar. As daar niks was nie, sou daar mos nooit iets gewees het nie. Kom ons maak gou ‘n sommetjie: Niks + Niks = Niks. Daar moes met ander woorde iets gewees het om iets anders te kon skep, of hoe? So, daarom was God eers daar en toe is alles daarna geskep. God is, was en sal altyd wees (Openbaring 1:4). Niemand kan dus probeer om hom vas te vang in ‘n boksie nie. God is net te groot daarvoor. Die probleem is net dat ons dit dikwels moeilik vind om te verstaan. Dit is soos die mensies wat in papierland in ‘n tweedimensionele wêreld woon. Een dag probeer hulle om vir mekaar te verduidelik hoe ‘n waatlemoen in die drie dimensionele wêreld van mense lyk. Die een teken toe ‘n sirkel met pitte in en die ander een teken ‘n groot ovaal vorm met pitte in.

rondovaal

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

‘n Reuse stryery het uitgebreek in papierland en mense het in twee dorpe gaan bly waar sommiges die ronde-waatlemoen leier gevolg het en ander die ovaal-waatlemoen leier en hulle het nooit weer met mekaar gepraat nie en oorlog gehou. Eendag kom iemand uit die driedimensionele wêreld en vertel vir die mense dat elkeen van hulle eintlik iets van die waarheid beet het. ‘n Waatlemoen is rond én ovaal. Sommige mense in die papierwêreld het die man uit die driedimensionele wêreld van mense geglo en opgehou oorlog hou. Hulle was diegene wat geglo het, al het hulle nie heeltemal verstaan nie.

Net so wil ons weet hoe God alles gemaak het maar dat God self nie gemaak is nie. Ons is mense wat in papierland woon. Ons sal dit nooit regtig kan verstaan nie. Ons kan alleen maar net die Bybel glo omdat Jesus vir ons kom wys het dat God alles gemaak het, dat hy die begin én die einde, die alfa én die omega is. Niemand het Hom gemaak nie, maar tog het hy alles gemaak.

Kom ons bid saam: Here, dankie dat u my gemaak het. Dankie dat u my geken het voor ek nog gebore was. Mag ek iemand wees wat altyd so leef dat u tevrede sal wees.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok

 




Die verskil tussen “gered uit die geloof” en “gered deur die geloof” in Romeine 3:30

Die verskil tussen “gered uit die geloof” en “gered deur die geloof” in Romeine 3:30 – Kobus Kok

Jan Smith vra:

Romeine 3:29 en 30: Of behoort God aan die Jode, en nie ook aan die heidene nie? Ja, ook aan die heidene, aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig UIT die geloof en die onbesnedenes DEUR die geloof. Wil u dalk sê wat die verskil is tussen UIT en DEUR, asb?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

 

Die oplettende leser sal oplet dat Romeine 3:30 in die Ou Afrikaanse Vertaling van 1953 anders vertaal word as in die Nuwe Afrikaanse Vertaling van 1983.

Ons lees in die Nuwe Afrikaanse Vertaling: 27Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof. 28Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie. 29Of is God net God van die Jode, nie ook van die heidennasies nie? Ja, ook van die heidennasies, 30want daar is net een God. Hy sal die besnedenes deur die geloof en die onbesnedenes deur dieselfde geloof vryspreek. 31Hef ons dan deur die geloof die wet op? Beslis nie. Ons laat die wet juis tot sy reg kom.

In die Ou Afrikaanse vertaling sien die teks soos volg daarna uit: 27Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. 28Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet. 29Of behoort God net aan die Jode, en nie ook aan die heidene nie? Ja, ook aan die heidene,30aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof.31Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.

Waarom is daar dan so ‘n verskil tussen die twee vertalings en is daar nie dalk betekenis weg vertaal in die proses nie? Die antwoord op hierdie vraag kan ons in die oorspronklike Griekse teks vind. Die Ou Afrikaanse vertaling het ‘n meer letterlike vertaling van die Griekse teks gevolg waar daar inderdaad in die Grieks staan dat die Jode (besnedes [peritomên]) uit die geloof (ek pisteos) deur God geregverdig (dikaioosei) sal word, en die onbesnedes (akroboestian) deur die geloof (dia tês pistêoos) geregverdig sal word.

Die spesialiste wat die tekste bestudeer (bv Newman en Nida) en die teologie van Paulus baie goed ken (Prof James Dunn se kommentaar op Romeine) is dit almal eens dat daar nie ‘n verskil tussen die uit die geloof en deur die geloof is nie. Die punt wat Paulus maak, is dat besnedenes en onbesnedes beide net deur geloof en nie die werke van die wet nie, geregverdig sal word.

Die Ou Afrikaanse vertaling is dus nader aan die oorspronklike vorm van die Griekse teks, maar die Afrikaanse Nuwe vertaling is die nasste aan die betekenis van die oorspronklike teks.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok