Bybelvertaling (5)

Bybelvertaling (6) – Jan van der Watt

‘n Voorbeeld van vertalings    (Jak 1:2-4)

1933/1953-vertaling

1983-vertaling

Die Boodskap

Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekings val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.

My broers, julle moet baie bly  wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want,  soos julle weet, as julle geloof  die toets deurstaan het, stel dit  julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit  volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.

My liewe mede-Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid ge-toets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees. Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef. Julle moet die Here toelaat om julle deur die dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil. So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie reg op te tree.

————————————————————————————————————-

 

Hoekom verskil Bybelvertalings? (1)

Vertaling kan nogal moeilik wees omdat tale so verskil. Tale oorvleuel nie, met ander woorde ʼn mens kan nie net ʼn woordeboek van n vreemde taal leer en dan dink jy kan die taal praat nie. Daar is baie ander dinge wat ʼn rol speel.

 

(a) Woorde oorvleuel nie tussen verskillende tale nie. Suid-Afrikaners het twee woorde vir sneeu (sneeu en kapok) terwyl die Eskimo’s ʼn hele rits het. In ʼn vertaling kan ʼn mens dus nie presies in Afrikaans sê wat die Eskimo’s oor sneeu kan sê nie.

Grieks het vyf woorde vir liefde waar ons net een het. Om net elke keer “liefde” in Afrikaans te gebruik beteken dat jy die spesiale betekenis van die Grieks gaan verloor. Daarom sal ʼn mens woorde so moet probeer gebruik en omskryf dat dit ʼn mens so na moontlik aan die Griekse bedoeling kom.

 

(b) Sinne in verskillende tale lyk ook nie dieselfde nie. Grieks hou van baie lang sinne; ʼn enkele sin in Grieks kan tot ʼn halwe bladsy lank wees.

Die eerste vyftien of sestien verse van Efesiërs is  byvoorbeeld een sin in Grieks. Vir ʼn Afrikaanssprekende maak dit nie sin nie. Ons praat kort sinne. As ʼn mens dus nie in die Afrikaanse vertaling die Griekse sinne ʼn bietjie korter maak nie, sal die Afrikaanse leser heeltemal die spoor byster raak. Die vraag is egter hoe, want die Griekse sinne wat so lank is, is soos ʼn fyn net geweef. ʼn Mens moet dus die sin korter maak sonder om die effek van die fyn weefwerk verlore te laat gaan. Dit is die uitdaging vir die vertaler.

 

(c) Idiome en metafore stem ook baie keer nie ooreen nie. Om te sê dat jy  vurige kole op iemand se kop gooi, klink vir ons na ʼn wreedaardige marteling. Dit is egter ʼn idioom in Grieks wat op ʼn ander manier in Afrikaans gestel moet word. ʼn Mens sou eerder sê jy maak iemand rooi van skaamte. Dit is dus nie meer ‘ vervanging van woorde’ nie.

 

(d) Daar word soms van beelde en simbole gebruik gemaak waarvan ons niks meer weet nie. ʼn Troon met ʼn see van glas voor en groen  kristalle wat skitter, is vir ons ʼn dooie prentjie van ʼn troon. Die antieke mens het egter  anders daaroor gedink. Vir hulle was die see die plek van die Bose en groen die kleur van getrouheid. Die vraag is of die vertaler die hedendaagse leser moet help om die nuanses deur die oog van die oorspronklike leser te sien. Die vryer vertalers dink die vertaler moet dit doen, die letterlike vertalers sê hulle moenie.

Hierdie is voorbeelde van dinge waarna vertalers moet kyk. Elke vertaling is dus ʼn stukkie interpretasie van die kant van die vertaler om die oorspronklike teks vir die hedendaagse leser toeganklik te probeer maak.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




God en Allah(1)

God en Allah – Pieter Verster

ʼn Leser vra:

Die antwoord op die webblad lees dat Allah ʼn god van Mekka wat verwar was met God (Here) en toe aanbid is. Maar ek verneem dat daar baie ooreenkomste is tussen die Bybel en Koran aangaande “Bybelse” geskiedenis en sommige mense sê ook dat God en Allah dieselfde god is. Dat Jesus ook erken word as ʼn profeet, maar dat Mohammed die eintlike ware profeet is. So ook met die Joodse geloof, ons dien dieselfde Vader God maar hulle glo dat Jesus vals was en dat die Seun nog moet kom. Nou my vraag: Ek is BAIE verwar aangaande al hierdie gelowe. Ek weet en glo dat Jesus die enigste lig, weg en waarheid is, maar hoe kan die Jode en Moslems “dieselfde” god en geskiedenis dan so verdraai om hulle te pas, om net een deel van die Bybel te glo en nie die res nie? Waar het Islam dan vandaan gekom? En die Jode verwar my totaal omdat die redding in Jesus soos daglig voor hulle is maar hulle ignoreer(en selfs haat) Hom.

Antwoord:

Prof Pieter Verster antwoord:

Vanuit die staanspoor moet daar bevestig word  dat daar maar een God is. Hy is Skepper van Hemel  en aarde,  die Here. Christene bely dat God  die Drie-Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees is. Daar is volgens Christene geen ander God nie. Die Bybel, naamlik die  Ou en Nuwe Testament openbaar Hom as die enigste Here. Die probleem is nie dat daar baie gode is nie-daar is slegs een God. Ons verskil egter oor die  wyse waarop God Hom openbaar. Die Jode aanvaar Jesus as profeet, maar nie dat Hy die ware en enige Seun van God is nie. Die Moslems glo onwrikbaar in  Een God, maar  nie dat Hy die Drie -Enige God is nie. Die wonder is dat Christene met groot  oortuiging aangaande die Drie -Enige God kan getuig sonder om hooghartig of veroordelend te wees. Ons kan van die wonder van Christus wat ware God en volkome mens is getuig. Daar hoef geen veroordeling van ander te wees nie maar slegs getuienis van die wonder van die lewende God. Ons kan inderdaad getuig dat Jesus die enigste Weg, Waarheid en  Lewe is.  Hy is ook die enigste Verlosser. Hierdie getuienis moet steeds in die wêreld uitgaan.

Outeur: Prof Pieter Verster

 




Bybelvertaling (4)

Bybelvertaling (4) – Jan van der Watt

Hoe doen ʼn mens Bybelvertaling?

Vertaling beteken om dit wat in een taal staan in ʼn ander taal om te skakel.

Daar is natuurlik verskillende maniere waarop ʼn mens dit kan doen. Dit kan as ʼn lang lyn of kontinuum voorgestel word met twee uiterstes: aan die een kant is daar die “letterlike vertaling” en aan die ander kant die “vrye vertaling”.

ü  Letterlike vertaling beteken dat ʼn mens eenvoudig die woorde uit die een (oorspronklike) taal met woorde uit die ander taal vervang. Die taal struktuur van die oorspronklike taal word net so behou, behalwe waar dit geen sin maak nie. Dan kan klein aanpassings gemaak word. Die 1933/1953-vertaling is hoofsaaklik so gedoen.

ü  Met vrye vertaling word daar heeltemal op die boodskap gekonsentreer. Soms word dit ook ʼn parafrase genoem. Daar word gevra wat die oorspronklike skrywer aan sy mense wou sê. As dit vasgestel is, word daar gevra hoe ʼn mens dieselfde boodskap vandag kan oordra, met vandag se taal en uitdrukkings. As daar uitdrukkings in die oorspronklike taal gebruik word wat nie vir die moderne lesers bekend is nie, kan selfs ʼn verduidelikende sin bygesit word. Dit gaan immers daaroor dat die hedendaagse leser dieselfde boodskap as die oorspronklike lesers moet hoor. Dit gaan nie oor die taal nie, maar oor die boodskap. Die taal moet jou net help om die boodskap uit te druk  Die Boodskap en Die Nuwe Testament vir kinders is byvoorbeeld sulke vertalings.

Vertalers kan tussen hierdie twee pole beweeg. Die 1983-vertaling is op sommige plekke nader aan Die Boodskap en op sommige plekke nader aan die 1933-vertaling. DIE Lewende Bybel neig meer na Die Boodskap se kant toe.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Bybelvertaling (3)

Bybelvertaling (3) – Jan van der Watt

Afrikaans spog met ʼn paar vertalings van die Bybel uit Grieks

In Afrikaans het ons ʼn paar volledige vertalings van die Bybel uit die oorspronklike tale.

Die eerste vertaling is die 1933- vertaling. Dié vertaling is sterk deur die Statevertaling van Nederland beïnvloed. Dit is baie letterlik vertaal.

In 1983 verskyn die Nuwe Afrikaanse Vertaling. In  dié vertaling is daar ʼn kombinasie van letterlike en vrye vertalingstegnieke gebruik. Die Good News Bible verskyn net voor die 1953-vertaling en spore van invloed uit die Good News is hier sigbaar.

In 2002 verskyn Die Boodskap. Die gedagte is geïnspireer deur die Engelse The Message, maar  Die Boodskap het verder niks in gemeen met die vertaling van The Message nie. Die Boodskap is op ʼn vrye manier uit die oorspronklike Grieks en Hebreeus vertaal. Hier kan ook die bybel@kinders.co.za  genoem word. Dit het ook in 2002 verskyn en is ʼn vertaling wat spesifiek met die oog op kinders gedoen is. Die vertaaltegniek van hierdie vertaling stem baie ooreen met die tegniek wat in Die Boodskap gebruik is.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt