Die Groot Geloofswoordeboek: Die Goddelikheid van die Heilige Gees

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Goddelikheid van die Heilige Gees

Die Goddelikheid van die Heilige Gees

Oor die *Heilige Gees bely die kerk dat ook Hy God is, en verder dat Hy ‘n Persoon is, en nie maar net ‘n Goddelike krag of die onpersoonlike krag van God nie. Dit beteken dat die Gees nie maar net die onpersoonlike krag of invloed van God is nie, maar ‘n Goddelike Persoon. Na Hom word oor en oor in persoonlike terme verwys, nie as “dit” nie (dus nie ‘n krag nie), maar as “Hy”, ‘n Persoon. Die dinge wat aan Hom toegeskryf word, is ook dinge wat ‘n persoon doen. Hy sal die dissipels herinner, Hy sal die wêreld oortuig, Hy praat en besluit, wat alles handelinge van ‘n persoon is (Joh 14:17-26; 16:7-14; Hand 13:2; 15:28). Die Goddelikheid van die Gees spreek daaruit dat ook na Hom as “Here” verwys word, en dat dinge wat in die Ou Testament deur God gesê is in die Nuwe Testament aan Hom toegeskryf word (vgl Jes 6:9 met Hand 28:25-26; en Jer 31:31 ev met Heb 10:15-16). Petrus sê dat Ananias vir die Heilige Gees gelieg het, en dat dit beteken dat hy vir God gelieg het (Hand 5:3-4).

 

Drie, en tog Een

Ons het nou na die Bybel gekyk. Uit hierdie getuienisse het die kerk afgelei dat daar drie Persone is wat God genoem word, maar dat daar net een God is. Op een of ander manier moet die drie dus saam die een ware God wees. Die vraag is nou hoe ‘n mens dit kan probeer verstaan.

Baie voorstelle is deur die eeue gemaak en word vandag nog gemaak. ‘n Mens moet altyd aan twee kante waak: óf dat ons die drie so selfstandig teenoor mekaar stel dat ons uiteindelik met drie verskillende Gode sit, óf dat die drie eintlik net drie verskillende gesigte van die een God is.

Ons moet hulle onderskei, maar ons mag hulle nie skei nie. Dit is nie die Vader wat aan die kruis gesterf het. Dit is nie die Seun wat op die Pinksterdag uitgestort is nie. Dit is nie die Gees wat die Seun gestuur het nie. Elkeen het sy eie lewe en werk, al is dit net so duidelik dat al drie voortdurend by mekaar en in mekaar se werk betrokke is. Natuurlik het die Vader ook gely toe Jesus aan die kruis gesterf het. Natuurlik het Jesus op die Pinksterdag saam met die Gees na ons gekom soos Hy beloof het. Maar in elke Goddelike handeling is een Persoon primêr die verantwoordeli­ke Een.

Een Wese, drie Persone

Hoe formuleer ons dit nou? Die kerk het gekies vir twee woorde wat nie in die Bybel voorkom nie, maar eerder in die Griekse wysbegeerte. God is een Wese, maar drie Persone. Hierdie woorde is egter nie op sigself belangrik nie. ‘n Mens kan enige betekenis aan ‘n woord gee. Maar die bedoeling is taamlik duidelik. Daar is net een ware God, maar daar is drie (Persone) wat al drie saam hierdie een ware God is. Hulle kan duidelik van mekaar onderskei word, maar hulle is nooit geskei in die sin dat hulle op hul eie handel nie. Al drie was by die kruis betrokke, al is dit net die Seun wat aan die kruis gehang het. Al drie was by Pinkster betrokke, al is dit die Gees wat uitgestort is en nie die Vader of Christus nie.

Dit gaan nie om die woorde (een Wese, drie Persone) nie, maar om die saak. Dis duidelik dat die evangelie deur Griekeland na die wêreld gekom het. Dis Griekse filosofiese begrippe. As die evan­gelie deur Afrika suid van die Sahara na die wêreld gekom het, sou ons nie hierdie woorde gebruik het nie. Afrika se tale het nie sulke onderskeidings nie. Maar die saak sou dieselfde gebly het: Daar is net een ware God, die God van Israel, maar daar is drie wat op een of ander manier saam hierdie God is.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

OuteurProf Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Doop

Die Groot Geloofswoordeboek: Doop

Doop

[ Die doop • Die kinderdoop • Die doop van Jesus • Grootdoop • Die doopmetode • Doopbediening

Kleingroepdoop Oordoop/Herdoop Bekeringsdoop Doopviering ]

• Die doop

Die doop het ‘n verrassend ryk betekenis. Daar is min indien enige kerke wat regtig hierdie ryk betekenis tot sy reg laat kom. In die meeste gevalle word die doop net beskou as ‘n bevestiging van God se beloftes of as ‘n teken van bekering, om nie eens te verwys na die gedagte dat ‘n mens jou naam kry by die doop nie.

In die Nuwe Testament word minstens ses verskillende bete­kenisse aan die doop gegee.

 

•             Deur die doop word ons die eiendom van die drie-enige God (ons word in sy Naam gedoop – Matt 28:19).

•             Deur die doop word ons met Christus verenig sodat ons deel kry in sy lyding, kruisiging, dood, begrafnis, opstanding en hemelvaart (Rom 6; Kol 2-3).

•             Deur die doop word ons in die geloofsgemeenskap (die kerk) opgeneem (1 Kor 12:13, 1953-vertaling).

•             Deur die doop word ons in die Abrahamverbond opgeneem (Gal 3:26-29).

•             Deur die doop ontvang ons die Heilige Gees (Tit 3:5, waar die Grieks die ontvangs van die Gees aan die doop ver­bind).

•             Deur die doop ontvang ons vergifnis en reiniging van son­de (Hand 2:38; 22:16; 1 Kor 6:11; Tit 3:5).

 

Omdat doop en *geloof omtrent altyd in dieselfde asem ge­noem word, is dit duidelik dat die doop nie outomaties hierdie betekenis­se het nie. Dit is ook nie regtig die doop wat dit doen nie, dit is God wat dit doen. Hy werk deur die doop in ons lewe. Maar dit is wel duidelik dat die doop nie net ‘n bevestiging van God se beloftes is nie. Die doop verwys nie net na die heil (wat Christus deur die kruis en die opstanding verwerf het) nie, die doop is self deel van die wyse waarop God die heil in ons werk (‘n heilsmiddel).

God werk in die doop

Dit is opvallend dat al die betekenisse van die doop verwys na dit wat God in ons lewe doen, en nie na dit wat ons moet doen nie. Daarom noem ons die doop ‘n sakrament. Die betekenis van die doop lê nie in ons bekering of belydenis nie, en daarom behoort ons nie na die doop as ‘n belydenisdoop of bekeringsdoop te verwys nie. Dít is eerder die betekenis van die doop van Johannes. (*Bekeringsdoop) Daar­om word die vraag na ‘n bekeringsdoop afsonderlik behandel. Dit is heeltemal iets anders as die Christelike doop. Dit gaan in die Christelike doop oor God se werk in ons lewe, nie oor ons antwoord op sy werk (ons geloof, bekering, belydenis) nie.

Dit beteken nie dat die doop geen verband het met ons geloof en bekering nie. Inteendeel. Ons geloof, belydenis en bekering word reëlmatig in die Nuwe Testament in die allernouste verband met die doop genoem, maar nie as die inhoud en betekenis van die doop nie. Dit is net verbandhoudende sake.

  • Die kinderdoop

Die doop is eintlik bedoel om alle Christene aan mekaar te verbind. Vandag skei die doop egter twee groe­pe Christene en kerke. Daar is kerke wat die kinderdoop aan­vaar, en kerke wat dit verwerp. Dit is foutief om te praat van “grootdoopkerke” en “kinderdoopkerke”, of kerke wat grootdoop en kerke wat kinders doop. Alle kerke wat die kinderdoop aanvaar, aanvaar ook die grootdoop. Dit is hoe hulle mense doop wat van buite die kerk inkom omdat hulle hulle bekeer het. Die werklike verskil is eenvoudig oor die kinderdoop. Daar is kerke wat die kinderdoop verwerp, en ander wat dit aanvaar.

Die “regte” woorde

Verskillende woorde word deur ver­skil­lende groepe gebruik. Som­mige wil nie die woord “grootdoop” gebruik nie omdat hulle nie men­se doop omdat hulle groot is nie, maar omdat hulle glo. Daarom word geloofsdoop of be­ly­denisdoop dikwels verkies. Sommige kerke wat ook die kin­derdoop/kleindoop aanvaar, hou ook nie van hier­die woorde nie. Volgens hulle doop hulle nie kinders of kleintjies nie, maar kinders van gelowige ouers, kinders van ouers wat in die verbond is. Sommige verkies dus verbondsdoop.

In hierdie bespreking sal gerieflikheidshalwe die begrippe “grootdoop” en “kinderdoop” gebruik word, maar die veronder­stel­ling sal wees dat grootdoop verwys na die doop wat bedien word aan mense wat self glo, en kinderdoop na die doop van kinders van gelowige ouers.

Die kerke wat die kinderdoop verwerp, is oortuig dat dit van alle gevalle geld dat die dopeling eers self moet glo voor hy of sy ge­doop kan word. Hulle wys op die voorbeelde van doop in die Nuwe Testament en op uitsprake in die Nuwe Testament wat in hierdie rigting wys. Daar is geen voorbeelde van klein kinders/babas wat gedoop is nie, en elke voorbeeld van mense wat gedoop is, is mense wat self geglo het. Daarom verwerp hulle die kinderdoop. Daar is nog bykomende argumente soos dat Jesus self grootgedoop is. (*Doop van Jesus)

Die kerke wat naas die grootdoop ook die kinderdoop aan­vaar, wys daarop dat dit net die helfte van die waarheid is dat daar geen duidelike voorbeelde is van babas wat gedoop is nie. Die ander helf­te is dat daar glad niks in die Nuwe Testament is oor hoe gelowiges se kinders gedoop is nie. Dit beteken dat elke groep sy eie afleidings uit die Bybel moet maak oor hoe gemeen­tekinders gedoop moet word. Die kerke wat die kinderdoop verwerp, aanvaar dat hierdie kinders behandel moet word soos buitestanders in die Nuwe Tes­tament behandel is: hulle moet ook eers tot geloof kom. Die kerke wat die kinderdoop beoefen, wys daarop dat die doop ons in die verbond met Abraham inlyf (Rom 4:16; Gal 3:26-29), en dat daar altyd in hierdie verbond plek was vir die kinders van gelowiges. Hulle meen dit sou vreemd wees as daar so ‘n radikale verandering in die Abrahamverbond gekom het sonder dat daar enige spoor daarvan in die Nuwe Testament is. (*Besnydenis)

  • Die doop van Jesus

‘n Mens moet versigtig wees met die doop van Jesus. Dit is nie ‘n voorbeeld van hoe mense vandag gedoop moet word nie. Jesus se doop was uniek met ‘n buitengewone betekenis. Dit word duidelik uit Johannes se huiwering om Hom te doop (Matt 3:14). Johannes was volkome reg in sy huiwering, want hy het ‘n bekeringsdoop gedoop en Jesus het nie bekering nodig gehad nie. Tog dring Jesus daarop aan, en sy rede is dat Hy “alle geregtigheid moet vervul” (Matt 3:15, 1953-vertaling). Natuurlik moes Jesus nie ter wille van Homself alle geregtigheid vervul nie. Hy het self alle geregtigheid gehad. Hy moes ter wille van ons alle geregtigheid vervul. Daarvoor het Hy nie net aan die kruis in ons plek gehang om ons met God te versoen nie. Hy staan al in sy doop in ons plek. Hy handel asof Hy ‘n sondaar is omdat Hy die saak van sondaars op sy skouers neem. Paulus skryf dat God Hom in ons plek as sondaar behandel het sodat ons deur God vrygespreek kan word (2 Kor 5:21). Dit gebeur al by Jesus se doop. Sy doop het dus ‘n baie ryker betekenis as om maar net ‘n voorbeeld daarvan te wees dat ons juis grootgedoop moet word.

Trouens, ‘n mens vergeet dan dat Johannes se doop heeltemal ‘n ander betekenis gehad het as die Christelike doop wat Jesus eers lank daarna ingestel het. Dat dit twee verskillende dope was, blyk uit die feit dat Paulus mense wat Johannes se doop ontvang het, agterna met die Christelike doop doop. (*Bekeringsdoop)

  • Grootdoop

Die grootdoop is maar net een vorm van die Chris­telike doop. Maar dit het ‘n wonderlike betekenis. Deur die kinderdoop behou ons wat die Here ons gee. Deur die grootdoop wen ons op die wêreld. Daarom behoort ‘n kerk wat kinders van gelowiges doop, ten min-ste net soveel grootdope te hê. En kerke wat die kinderdoop ver-werp, moet hulle afvra hoeveel van hulle grootdope werklik wins op die wêreld is, en hoeveel maar net “uitgestelde kinderdope” is, die doop van gemeentekinders, of oordope van mense wat alreeds in ander kerke gedoop was.

  • Die doopmetode

Daar is ‘n eeue oue diskussie of die doop deur besprinkeling of deur onderdompeling bedien moet word. Ook in hierdie verband is daar egter ‘n misverstand. Dit is nie so dat daar kerke is wat net die besprinkeling erken en ander weer net die onderdompeling nie. Die vraag gaan net oor die besprinkeling. Daar is kerke wat dit verwerp, en daar is ander kerke wat dit saam met die onderdompeling as doopmetode erken.

Onderdompeling

Daar is veral drie argumente waarom die doop juis deur on­der­dompeling bedien moet word. Die eerste is dat die Griekse woord vir “doop” onderdompeling beteken. Dit sou beteken dat elke keer waar die woord “doop” in die Nuwe Testament voor­kom, daar eintlik “onderdomp” moes gestaan het. Dit is eg­ter nie ‘n sterk ar­gu­ment nie omdat die Griekse woord vir “doop” baie keer voor­kom in verbande waarin dit onmoontlik onderdompeling kan be­te­ken. Jesus verwys na sy kruisiging en ook na die uitstorting van die Gees as “doop” (Mark 10:39; Hand 1:5). Dit kan beswaarlik as onderdompeling voorgestel word. En daar is ‘n hele aantal ander soortgelyke gevalle (Mark 7:4; 1 Kor 10:2; Heb 9:10). Om dan te be­weer dat die woord vir doop wel onderdompeling beteken wanneer dit in verband met die waterdoop gebruik word, is natuurlik om die punt te ontwyk.

Die tweede argument is dat daar inderdaad deur onder­dom­peling gedoop is in die Nuwe Testament. Daar word verwys na die gevalle waar daar uitdruklik sprake is van mense wat in die wa­ter ingaan en uit die water uitkom (oa Matt 3:16; Hand 8:38-39). Hierdie voorbeelde veronderstel egter nie regtig onder­dompeling nie. Sowel die Etiopiër as Filippus gaan in die water in, dan doop Filippus hom (hoe word nie gesê nie), en dan kom beide weer uit die water uit. Dit beteken dat beide van hulle in die water gaan staan het, dat Filippus hom toe gedoop het, en dat beide toe weer uitgekom het. As ‘n mens onthou dat daar in die vroeë kerk met baie water besprinkel is en nie met net ‘n paar druppels nie, is dit nie vreemd dat hulle in die water gaan staan nie. ‘n Ou rotstekening wys hoe Johannes vir Jesus doop. Sy hande is bo Jesus se kop, en die water stroom van sy hande af oor Jesus.

Die derde argument is dat die betekenis van die doop dit nood­saaklik maak dat dit met onderdompeling gedoen word. Ons word immers deur die doop verenig met Jesus in sy begrafnis en opstan­ding. Die argument is dan dat ‘n mens dus onder die water moet verdwyn (begrafnis) en weer bo die water moet verskyn (opstan­ding). Daar is egter heelwat vrae rondom hierdie siening. Allereers verenig die doop ons met Christus se begrafnis en opstanding. Maar Hy het nie met sy begrafnis onder die grond verdwyn en met sy opstan­ding weer bo die grond verskyn nie. Hy is glad nie begrawe soos ons vandag doen nie. Hy is horison­taal in ‘n grot ingedra, wat beteken dat Hy met sy opstanding weer horisontaal uit die grot sou uitkom. Onderdompeling kan nie daarvan ‘n simbool wees nie. Ons kan dus nie simbolies deur onderdompeling met Hom in sy begrafnis en sy opstanding verenig word nie.

Die tweede probleem is dat die doop baie meer beteken as ons vereniging met sy begrafnis en opstanding. Ons word ook ver­enig met sy lyding, kruisiging, dood en hemelvaart (Kol 3:3). Hoe sou dit alles deur onderdompeling voorgestel word? En wat van al die ander betekenisse van die doop? Daar is reeds verwys na vyf ander betekenisse.

En derdens is daar die vraag waar die gedagte in die Nuwe Testament voorkom dat die metode van doop die betekenis van die doop moet simboliseer. Nog meer, waar is daar ook maar enige beklemtoning van hoe ons moet doop?

Intussen moet ons nie vergeet dat die kerke wat die sprinkeling toepas nie onderdompeling ontken nie. Daar is in beginsel niks met onderdompeling verkeerd nie. Die probleem kom eers as onder­dompeling as die enigste aanvaarbare metode voor­gestel word. Omdat die metode van doop nêrens in die Nuwe Testament beklem­toon word nie, is ons vry om meer as een me­tode te ge­bruik.

Besprinkeling

Daar is kerke wat ontken dat die doop wel deur besprinkeling bedien mag word. As die metode nie in die Bybel beklemtoon word nie, behoort dit natuurlik nie eintlik ‘n vraag te wees nie. Maar die kerke wat daarop staan dat die doop juis deur onderdompeling gedoen moet word, verwerp besprinkeling. Daarom moet ‘n mens ernstig hierna kyk.

Daar is ‘n paar argumente in die guns van besprinkeling. Eer­­stens word die woord “besprinkeling” twee keer gebruik in ver­bande wat heel waarskynlik op die doop betrekking het. Ons lees: “Ons harte is immers (Grieks: “deur besprinkeling” – ook die 1953-vertaling) gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is ge­was met skoon water” (Heb 10:22). Dit kan min twyfel lei dat dit na die doop verwys. Daar is ‘n argument dat “liggame gewas in skoon water” nie na besprinkeling kan verwys nie, maar juis na on­der­dompeling. Dit is egter nie korrek nie. ‘n Mens was jouself nie deur onderdompeling nie, maar deur besprinkeling. Jy verdwyn nie onder die water as jy was/bad nie. As ‘n mens bad, sit jy in water en gooi dit oor jou. In die vroeë kerk is met baie water besprinkel. Daarom staan hier dat hulle “gewas” is.

Die tweede verwysing: “Hy het julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om besprinkel te word met die bloed van Christus”
(1 Pet 1:2). Ook hierdie verwysing kan beswaarlik iets anders as die doop bedoel.

Dit sal ook nie vreemd wees as die vroeë Christene deur be­sprinkeling gedoop het nie. Besprinkeling was vir eeue lank deel van hulle groot versoendag waar dit juis om die reiniging van sonde gegaan het (Lev 16). En wanneer die profeet dan praat oor die toekomstige reiniging van die volk, verwys hy ook daarna as besprinkeling (Eseg 36:25: “Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi”). Terwyl die vroegste betekenisse van die doop juis son­devergifnis en reiniging van sonde is (Hand 2:38; 22:16), sou ‘n mens kon verwag dat hulle dit deur besprinkeling sou doen.

Daarteenoor is daar nêrens in die Ou Testament van onder­dom­peling sprake nie, en die Fariseërs sou seker nie die kans laat ver­bygaan het om Johannes te kritiseer as hy ‘n nuwe metode ingevoer het nie.

Met hierdie argumente ten gunste van besprinkeling as die doop­metode van die vroeë Christene word geen pleidooi gelewer dat die doop juis só bedien moet word nie. Dit beteken net dat die argument dat dit onderdompeling moet wees, nie water hou nie. Nêrens word ‘n bepaalde metode beveel nie, nêrens word ‘n be­sondere betekenis aan ‘n bepaalde metode gekoppel nie, en daar­om is ons vry in ons keuse. Dit bevestig die klassiek Gere­for­meerde doopformulier al vir meer as vier eeue lank. Oor die doop­me­tode hoor ons: “Dit (naamlik die betekenis van die doop) word ons geleer deur die indompeling in en besprinkeling met die water.”

 

  • Doopbediening

Oor die presiese manier waarop gedoop word, moet ook op­mer­kings gemaak word. Wat onderdompeling be­tref, is daar die vraag of die dopeling een of drie keer on­der­dompel moet word. Daar is geen besondere argumente vir of teen enige van hierdie gebruike nie. Wat die besprinkeling betref, is dit goed om te onthou dat daar in die Nuwe Testament van baie water sprake is (Joh 3:23; Tit 3:5 – “die bad van die wedergeboorte”, 1953-vertaling; Heb 10:22). Heelwat Christene meen dit ver­wys na onderdompeling, maar ‘n mens bad of was nie deur onder­dompeling nie. Maar jy het wel baie water nodig. In die Ou Tes­tament is daar dan ook inderdaad van “bad” sprake, maar nooit van onderdompeling nie (Lev 14:9; 15:16; 16:4).

Maar dit beteken dat daar met baie water besprinkel is. Al­hoe­wel dit nooit in die Bybel beklemtoon word asof die presiese metode belangrik is nie, is dit tog goed om só te besprinkel dat die gemeente van die water bewus word omdat dit inderdaad die simboliese betekenis van reiniging het.

By die bediening van die doop behoort die dopeling se naby geloofsgroep (familie, selgemeente, vriende) betrek te word. In die geval van ‘n grootdoop sal ‘n getuienis van die dopeling of an­der betrokkenes baie beteken. En in die geval van ‘n kleindoop, ‘n ge­bed van een van die ouers. Juis omdat daar in groot gemeentes dik­wels te veel dopelinge is sodat daar eenvoudig nie tyd is vir hierdie persoonlike betrokkenheid nie, word die moontlikheid van doop in kleiner groepe ook bespreek. (*Kleingroepdoop)

Die ou gebruik in sommige kerke om die presiese geregistreer­de naam van die dopeling te gebruik, is onnodig en versterk net, in die geval van die kinderdoop, die ou vreemde idee dat ‘n kind sy of haar naam by die doop kry.

  • Kleingroepdoop

In groot gemeentes is daar dikwels soveel dopelinge dat dit nie moontlik is om ‘n sterk element van per­soonlike betrokkenheid, soos getuienisse of gebede, in die doop­bediening in te bou nie. Daar is gemeentes wat dan die doopdiens op ‘n ander tyd as die gewone dienste hou. Die nadeel daarvan is dat die gemeente nie meer die bediening van die doop beleef nie.

Kleingroepdope kan die druk op die doopdiens verlig. Die be­trokkenes kan die keuse hê om die doop tydens ‘n spesiale diens te laat plaasvind waar die naby geloofsgroep teenwoor­dig is (sel­gemeente, familie, vriende). Sulke geleenthede kan ‘n be­sondere waarde hê. Die diens word in samewerking met die sel­gemeente/familie beplan, dit sentreer rondom die doop, dit gee voldoende geleentheid vir persoonlike betrokkenheid (ge­bede, getuienisse, spesifieke liedere en ander dinge wat vir die groep spesiaal is), dit bied ook die geleentheid om vriende wat nie self die Here ken nie uit te nooi en die betekenis van die doop en die evangelie spesifiek met hulle te deel.

Daar is selfs die gedagte om die doop in die openbaar te be­dien soos by ‘n swembad op ‘n tyd wanneer daar ander mense teenwoordig is. Dit verhoog die getuieniskarakter van die doop. ‘n Mens kan in gedagte hou dat daar nie ‘n enkele doop tydens ‘n gemeentebyeenkoms in die Nuwe Testament opgeteken is nie, maar wel dope in huise, by riviere en in ander openbare plekke. Dit kan meer as toevallige betekenis hê.

  • Oordoop/Herdoop

Daar is verskillende groepe mense wat ‘n tweede keer gedoop wil word. In die meeste gevalle is dit mense wat as kinders gedoop is. Maar Pinkster- en Baptistekerke ken ook hierdie versoek van hul eie lidmate wat oortuig is hulle was nog nie gereed by hul doop nie. Sommige wat as kinders gedoop is, ontwikkel ‘n onsekerheid oor hul doop as kinders, ander het eenvoudig net ‘n behoefte om duideliker uiting te gee aan hul oorgawe aan die Here.

Daar is baie min kerkgenootskappe wat amptelik ‘n tweede doop bedien. Dit is ‘n redelik algemene Christelike oortuiging dat die doop net een maal bedien behoort te word. Ook Pinkster- en Baptistekerke sal eerder aan hul lidmate verduidelik dat hulle doop tog geldig is al voel hulle hulle was nog nie gereed daarvoor nie.

Daar het egter ‘n praktyk ontwikkel wat deur sommige kerke as oordoop/herdoop beskou word. Lidmate wat as kinders gedoop is, word (weer) deur kerke gedoop wat die kinderdoop verwerp. Die kerke wat die kinderdoop erken, is oortuig dat hul lidmate oorgedoop word, en in sommige gevalle tree hulle op een of ander wyse teen hierdie lidmate op. Maar die kerke wat die kinderdoop verwerp, is oortuig dat hulle glad nie hierdie mense oordoop nie, maar hulle vir die eerste keer werklik doop.

In baie gevalle is die reaksie teen die oordoop by die kerke waar­van die lidmate oorgedoop word, vandag nie meer so heftig as voorheen nie. Die besef het al meer deurgebreek dat dit nie ‘n saak is wat op die vlak van ernstige dwaling lê nie.

• Bekeringsdoop

Die begrip “bekeringsdoop” word in verskillende betekenisse ge­bruik. Twee betekenisse is belangrik.

Daar is groepe wat die Christelike doop as ‘n bekeringsdoop beskou. Hulle is oortuig die doop is deel van ‘n mens se getuienis van jou bekering. Hulle praat ook van ‘n belydenisdoop met die­selfde bedoeling. Jy bely jou sonde, en as deel van jou belyde­nis laat jy jou doop. Hulle verwys na die feit dat die doop in die Nuwe Testament dikwels saam met bekering genoem word. Die mense wat in die Nuwe Testament gedoop is, is gedoop nadat hulle hul bekeer het. Petrus roep die skare op die Pinksterdag op om hulle te bekeer en dan gedoop te word (Hand 2:38). Sowel die Etiopiër as Lidia en die tronkbewaarder moes eers in die Here Jesus glo en toe is hulle gedoop (Hand 8:16; 16:11; 16:16).

Uit die verduideliking van die doop wat reeds gegee is, is dit duidelik dat dit nie korrek is om van die Christelike doop as ‘n be­kerings- of be­lydenisdoop te praat nie. God handel in die Christeli­ke doop, nie die mens nie. Al die betekenisse van die doop wat reeds genoem is, verwys na God se werk in ons lewe. Al staan die bekering in die nouste verband met die doop, is die doop nie ‘n deel van ons bekering nie, maar van God se werk.

Maar daar is ‘n tweede betekenis vir “bekeringsdoop”. Om dit te verstaan moet ons onderskei tussen twee dope: die Christelike doop en ‘n bekeringsdoop. Oor die betekenis van die Christelike doop is nou gesê dat dit verband hou met wat God in ons lewe doen. Die bekeringsdoop is iets anders. Daarin gaan dit om die mens se bekering.

Johannes die Doper het so ‘n doop bedien. Sy doop word tel­kens ‘n bekeringsdoop genoem, anders as die Christelike doop wat nooit so genoem word nie. Sommige vertalings omskryf dit so breedvoerig dat die tegniese term nie meer uitkom nie. Maar die 1953-vertaling het nog letterliker gelui: hy het die doop van bekering tot vergifnis van sondes verkondig (Mark 1:4; Luk 3:3; Matt 3:11; Hand 19:4). Die Christelike doop word nooit ‘n bekeringsdoop genoem nie, en dis duidelik dat Paulus ook oortuig was dat die Christelike doop en die doop van Johannes twee verskillende dope was. Immers, hy doop mense wat reeds die doop van Johannes ontvang het, agterna met die Christelike doop (Hand 19:1-6).

Dit is nie moeilik om die verskil tussen die twee dope te ver­staan nie. Jesus stel die Christelike doop eers na sy opstanding in (Matt 28:19), lank na die tyd van Johannes. Verder word die Christelike doop bedien in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Johannes het nie in hierdie Naam gedoop nie. Die Christelike doop verenig die persoon wat gedoop word met die kruisiging, sterwe, begrafnis en opstanding van Jesus. Die doop van Johannes kon dit nie doen nie omdat Jesus toe nog nie gekruisig is en op­gestaan het nie. Die Christelike doop staan in verband met die ontvangs van die Gees. Dit was nog nie waar van die doop van Jo­hannes nie, iets waarvan Johannes wel deeglik bewus was. Toe hy die mense gedoop het, het hy nog die ontvangs van die Gees in die vooruitsig gestel (Matt 3:11). Dit is die basiese rede waarom Paulus die Johannesdissipels met die Christelike doop doop. Hulle het nog nie die Gees ontvang nie, ondanks hulle bekeringsdoop.

Daar is dus sprake van tenminste twee verskillende dope in die Nuwe Testament: die doop van Johannes, en die Christelike doop.

Dit is bekend dat daar in die historiese kerke altyd lidmate is wat huiwering oor hul doop het. ‘n Groot persentasie van hulle aan­vaar nog die betekenis van hulle Christelike doop (wat ge­woonlik in die vorm van die kinderdoop bedien is). Maar hulle wil deur ‘n twee­de doop getuig van ‘n besondere geestelike er­varing.

Terwyl kerke omtrent sonder uitsondering aanvaar dat die doop net een maal bedien behoort te word, gaan dit natuurlik om die Christelike doop. Maar as ‘n lidmaat die betekenis van sy of haar Christelike doop aanvaar, maar graag deur ‘n beke­ringsdoop van sy of haar bekering wil getuig, kan daar nie in beginsel teologies of pastoraal beswaar daarteen wees nie.

So ‘n bekeringsdoop kan nie bedien word in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees nie omdat dit ‘n herhaling van die Christelike doop sou wees. Dit is daarom ook nie ‘n doop wat met God se werk in ons lewe verband hou nie, maar eerder met ons antwoord op sy werk. So ‘n doop word dan iets van wat Johannes se doop was. Hy het mense gedoop as hul getuienis van hulle bekering.

Eintlik is dit heeltemal sinvol in terme van die verbond om twee dope te hê. Dit gaan in die verbond om God en mens. Dit gaan in die Christelike doop om God se ingryping in ons lewe, en in die bekeringsdoop om ons antwoord daarop. Dit is seker nie nodig om dit as ‘n reël te aanvaar nie. Ons het nêrens die op­drag om juis deur ‘n doop van ons bekering te getuig nie. Maar by wyse van uitsondering kan dit seker bedien word aan iemand wat om goeie redes daarop aandring. Dit kan ‘n kragtige getuienis wees.

 

Besware en probleme

Dit is byna vanselfsprekend dat daar huiwering, en selfs proble­me en besware geopper sal word. En dit is ook goed. Dit kan meer helderheid bring.

Eerstens sal gesê word dat ons dan twee verskillende dope het, en dit kan verwarring skep. Dit is waar. Maar dit sal ook ‘n goeie geleentheid bied om te verduidelik hoe ons die doop ver­staan. Dit is altyd goed om dinge met mekaar te vergelyk. Twee dope van verskillende betekenis skep ‘n heerlike ver­dui­delikingsgeleentheid. Dit sou byvoorbeeld die kans bied om die doop van Johannes die Doper te vergelyk met die Christelike doop. Johannes se doop was ook ‘n bekeringsdoop, terwyl die Christelike doop ‘n sakrament is. In Johannes se doop het die mense van hul bekering getuig, en die Christelike doop hou ver­band met God se werk in ons lewe.

‘n Verdere beswaar sou kon wees dat ons dan ‘n doop bedien wat nie ooreenkom met ons eie siening van die doop nie. Maar dit kan nie regtig ‘n beswaar wees nie. Waarom kan ons nie twee dope met verskillende betekenisse bedien nie? In die Nuwe Testament is sprake van twee verskillende dope, die doop van Johannes die Do­per en die Christelike doop, en elkeen het sy besondere betekenis gehad.

Daar is trouens van meer dope in die tyd van die Nuwe Tes­ta­ment sprake. Behalwe die doop van Johannes en die Christelike doop, was daar ook die Joodse proselietedoop, die doop waar­mee Jesus se dissipels mense gedoop het tydens Jesus se aardse bediening (Joh 3:22; 4:1-2), en die doop vir die dooies (1 Kor 15:29), dus vyf verskillende dope. Dit lyk dus vreemd om te sterk nadruk te lê op die verwarring wat twee dope met verskillende betekenisse vandag sal veroorsaak.

  • Doopviering

Daar is verskillende vorme waarin die doop gevier kan word. Die Katolieke het al eeue lank die gebruik dat die gemeente hulle doop tydens Paasfees vier terwyl die priester water oor die gemeente sprinkel.

Die doopdiens neem in baie kerke ook die vorm van ‘n doop­viering aan wanneer daar in die prediking aan die betekenis van die doop aandag gegee word. Dit gee die gedooptes die geleentheid om weer die betekenis van hul doop te beleef.

Daar is hier en daar ‘n doopviering in swang waar die ge­lo­wige deur ‘n seremonie met water sy of haar doop vier. Dit is nie ‘n herha­ling van die doop nie, en word dan ook nie in die Naam van die Vader en die Seun en die Gees bedien nie, maar ‘n herbevestiging of hertoe-eiening van die doop. Dit word dikwels gedoen nadat die persoon ‘n besondere geestelike ervaring gehad het.

‘n Gebruik wat maar onlangs begin toeneem het, is om die doop jaarliks op die doopdatum te vier, baie soos die verjaarsdag. ‘n Kers kan die aand aangesteek word as simbool van Christus wat die lig van die wêreld is, die gesin kan saam bid, en ‘n ge­sprek kan volg oor die doop, die verhouding van die persoon (en van ander gesinslede) tot die Here en die res van die gesin. (*Doopbediening) Dit kan jaarliks ‘n baie sinvolle gesinsgesprek word, iets waarvan ons glad te min het.

Outeur: Prof Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Doop met die Heilige Gees

Die Groot Geloofswoordeboek: Doop met die Heilige Gees

Die uitdrukking “die doop met die Heilige Gees” kom ses keer in die Nuwe Testament voor. Vier keer kom dit voor in die mond van Johannes die Doper as hy verwys na Jesus wat met die Heili­ge Gees sal doop (Matt 3:11; Mark 1:8; Luk 3:16; Joh 1:33), een maal as ‘n uitspraak van Jesus self (Hand 1:5) wat na die uitstorting van die Gees verwys (Hand 2), en een keer in die mond van Petrus tydens Kornelius se bekering (Hand 11:16).

Hierdie uitsprake verwys almal direk of indirek na die uit­stor­ting van die Gees op Pinksterdag (Hand 2). Johannes kontrasteer sy doop, wat ‘n *bekeringsdoop was, met Jesus wat met die Gees kom doop. En Jesus verwys direk na die uitstorting van die Gees as Hy praat van “die doop met die Gees” (Hand 1:5).

Die enigste ander keer wat die uitdrukking voorkom, is Petrus se verwysing na Kornelius se bekering. Terwyl Petrus gepreek het, het die Gees op Kornelius-hulle gekom. Lukas verklaar dat die gawe van die Gees op hulle “uitgestort” is (Hand 10:46 ev) net soos op die dissipels op Pinksterdag. Nie minder nie as vier keer beklemtoon hy dat die Gees ook op die heidene gekom het “net soos op ons” (op die Joodse gelowiges – en wel op Pinksterdag). Wat dit beteken, word duidelik as ‘n mens dink aan die stryd wat die Here gehad het om Petrus te oortuig dat heidene net soos Jode deel het aan die volle heil wat Christus bewerk het (Hand 10). Die gebeurtenis by Kornelius is in hierdie sin net ‘n bevestiging dat Pinkster ook vir die heidene was, soort van ‘n Pinkster-vir-die-heidene.

Maar dit beteken dat “die doop met die Heilige Gees” ‘n teg­niese term is vir Pinkster. Die uitdrukking word dan ook nooit in die Nuwe Testament gebruik vir ander ervarings nie, ook nie vir individuele ervarings van mense na hul bekering nie. Net soos die kruisiging en die opstanding van Jesus is die koms van die Gees tydens die Pinksterfees (Hand 2) ‘n unieke gebeurtenis wat nie her­haal word nie. Dit is dus ‘n ongewone gebruik van hierdie term om vandag van gelowiges se individuele ervarings te praat as “doop met die Gees”. Die Nuwe Testament gebruik ander terme vir indi­vi­due se ervarings, soos *vervulling met die Gees. Ons het veral in Han­delinge ook nog ander uitdrukkings, soos dat die Gees op of oor mense gekom het. Dit is ‘n ervaring wat ge­lowiges herhaalde­lik kan hê. Maar tegnies is die doop met die Gees, of die uitstorting van die Gees, die eenmalige gebeurtenis waarna Handelinge 2 verwys.

Dit beteken nie dat mense nie vandag wonderlike ervarings met die Gees het nie, maar net dat dit nie is wat in die Nuwe Testament die doop met die Gees genoem is nie.

 

OuteurProf Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Die Drie-eenheid

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Drie-eenheid

Die Drie-eenheid

Die begrip

Die begrip “Drie-eenheid” word in die Christelike geloof gebruik vir God. Ons glo dat daar net een God is, maar dat die Vader én Jesus én die Heilige Gees al drie saam hierdie een God is. Logies lyk dit moeilik dat drie maal een (Vader én Seun én Gees) een kan wees. Daar was dan ook altyd groepe wat dit ontken en selfs belaglik voorgestel het. En daar was ook altyd welmenende Christene wat ernstige probleme daarmee gehad het. Maar dit is tog nie regtig so moeilik om iets daarvan te verstaan nie.

Daar word in twee betekenisse van Drie-eenheid gepraat, we­senlike of immanente Drie-eenheid en ekonomiese Drie-eenheid. Wesenlike Drie-eenheid beteken dat God van alle ewigheid af Drie-enig was, dat Hy dus wesenlik Drie-enig is en dit altyd was, selfs voor die skepping. Dit is nie so dat God voor die skepping eintlik net een was, maar tydens sy werk op aarde drie geword het, as’t wa­re in drie verdeel het toe Hy as die Vader die Seun gestuur het en later die Gees nie.

Die tweede betekenis, ekonomiese Drie-eenheid, is dat God ook in die geskiedenis as drie-in-een optree. Al Drie is betrokke by alles wat enigeen van die Drie doen, maar Hulle bly tog on­derskeie van mekaar. As die Seun as mens op aarde gebore word, is dit die Vader wat Hom stuur en die Gees wat oor Maria kom. Maar dis die Seun wat mens word, nie die Vader of die Gees nie. As Jesus gekruisig word, is dit die Vader wat Hom oorgee en verlaat (Rom 8:32), en die Gees wat Hom bystaan (Heb 9:14), maar dis nie die Vader of die Gees wat gekruisig word nie.

Terloops, die woord “ekonomies” het vroeër ook die betekenis gehad om dinge te laat werk.

Waarom glo ons so ‘n moeilike leerstelling oor God? Net omdat ons oortuig is dat ons dit in die Bybel kry. Dit word natuurlik nie presies só in die Bybel geformuleer nie, maar ons kry daar duidelik twee gedagtes:

 

•             Daar is net een ware God.

•             Daar is drie wat saam as hierdie God vereer word.

 

Daarom gaan ons nou na die Bybel kyk.

Net één ware God

Dit is duidelik genoeg uit die Bybel dat daar net een ware God is: die God van Abraham, Isak en Jakob, wat ook die God van Israel genoem word. Natuurlik is daar volgens die Bybel ook baie ander gode, maar net Israel se God is die ware God. Dit is alreeds duide­lik uit die eerste gebod: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie” (Eks 20:3; kyk ook Deut 6:14-15). Veral in die tweede deel van Jesaja is daar ‘n sterk nadruk op die uniekheid van God. Net die Here is God, die ander gode is “nikse” (Jes 40:18 ev; 43:8 ev; 44:8 ev; 45:14 ev; 45:20 ev; 46:1-12).

Die feit dat daar net een ware God is, het niks met die getal een te doen asof dit vanself beter is dat daar net een God is, en nie meer as een nie. Die getal “een” is nie ‘n heilige getal nie. As daar meer as een ware God was, sou die Bybel dit met net soveel nadruk geleer het.

Maar juis dit stel ons voor die probleem dat meer as een in die Bybel inderdaad God genoem word. Soos reeds gesê, word die eenheid van God in die Ou Testament beklemtoon. Die God van Israel is die een ware God. Maar in die Nuwe Testament is daar naas God die Vader ook Jesus en die Heilige Gees, en beide van Hulle word skynbaar ook as God beskou.

 

OuteurProf Adrio König