ʼn Gay vriendin

ʼn Gay vriendin – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

‘n Vriendin van my is “Gay.” Sy was nie altyd nie – sy was 14 jaar getroud, ‘n girl ontmoet en verlief geraak op haar. Ek voel dit is my plig om my hand uit te steek na haar en haar te laat verstaan dat daar iemand is as sy iemand nodig het – almal het haar afgeskryf. Is ek verkeerd? Ek glo dit is nie my plek om haar te judge nie – sy gaan eendag verantwoording doen oor haar optrede.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie vraag gaan nie soseer oor die reg of verkeerd van homoseksualiteit nie. Daarom gaan nie daaraan aandag gegee word nie. Hier gaan dit oor die hantering van iemand wat wel ‘gay’ is.

Die absolute eis van die Bybel is dat ons liefde aan mekaar moet betoon. Nou moet ons nie te vinnig hieroor konklusies maak nie. Liefde het baie gesigte en word in verskillende situasies op verskillende maniere uitgedruk. Soms moet ek uit liefde selfs met iemand raas.

Vir ons argument se onthalwe, kom ons aanvaar dat ‘gay-wees’ nie reg is nie. (As ons aanvaar dat ‘gay-wees’ reg is, het ons natuurlik nie die probleem wat hierbo genoem word nie). In die eerste plek moet ons besef dat ‘gay-wees’ nie as die ergste sonde onder die son geteken word nie, maar dat dit saam met baie ander dinge genoem word: lees maar 1 Korintiërs 6:9 Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen 10of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.’

Die vraag kan dus anders gestel word: hoe moet ek teenoor iemand optree wat iets verkeerd doen? Die antwoord word dan duideliker. Natuurlik moet jy hom nie verwerp nie. Hy of sy het nou juis jou liefde baie nodig. Nou moet die persoon juis die moontlikheid van vergifnis en nabyheid van die Here op sy beste ervaar – en dit deur jou. Jesus sê mos dat Hy nie vir gesondes gekom het nie, maar vir die wat siek is. Juis vir hulle moet jy daar wees.

In jou ‘daar wees’ mag jy egter nie die sonde goedkeur of maak asof dit niks is nie. Jou liefde moet juis die persoon begelei om die probleem in te sien en daarvan werk te maak. Jy moet dus genesende liefde uitstraal.

As jy jouself nou van die persoon onttrek, sou dit beteken dat hy of sy alles wat ons hierbo gesê het, misloop. En oor die veroordeling: ons kan wel (versigtig) oordeel of iets reg of verkeerd is, maar veroordeling kan God alleen doen.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




God is nie met my nie

God is nie met my nie – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Hoe kan `n mens wat baie hardkoppig is en vas glo dat God nie met hom is nie, maak nie saak hoe hard hy bid nie, help? Dan moet ek by sê hy sê net daarna God gaan in elk geval nie my gebed verhoor nie. Hoe kan `n mens so persoon betrek? Hy gaan ook nie kerk toe nie omrede net skynheiliges gaan kerk toe gee.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is ‘n baie tipiese beskrywing wat ons baie kry. Dit is alles behalwe uniek. Iemand wat godsdienstig grootgeword het, nou nie meer veel belangstel nie, maar nog in ‘n huis bly waar godsdiens aktief beoefen word, reageer gewoonlik so.

Eers moet gesê word dat die probleem by die persoon self en sy geloof lê. Die argumente (en daar is meer as wat in die brief genoem word) is sekondêr. Dit word maar net gebruik om ‘n argument met redes op te bou. Al die ander (P)persone is skuldig, God wat nie hoor nie, Christene wat skynheilig is, ens, behalwe hyself. As ‘n mens dit besef, kan jy die probleem op die regte plek begin aanspreek. Dit help nie om so persoon te dwing of te probeer oortuig nie. Maar wat kan ‘n mens dan doen.

Daar is nie ‘n resep nie, want situasies verskil. Tog kan ‘n paar algemene opmerkings gemaak word.

  • Hanteer hom simpatiek sonder om te veroordeel of te beskuldig. Dit is die laaste ding wat nodig is, aangesien dit die persoon net meer op die verdediging plaas.
  • Liefde en positiewe getuienis (gedrag) is die beste salf vir so ‘n seerplek.
  • Moenie argumenteer nie (gee sy punte toe en sy jy begryp hy voel so en dat jy ook kan insien dat daar redes is waarom hy kan dink Christene is skynheilig. Dit sal die angel bietjie uit sy argumente neem), maar toon begrip.

Uiteindelik is dit net die Heilige Gees wat hom kan oortuig. Dit beteken dat jy maar dikwels op jou knieë die saak aan die Here moet opdra.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Bio-etiek (2): Wanneer begin lewe?

Bio-etiek (2): Wanneer begin lewe? – Coen Slabber

Hierdie is ʼn kernsaak in die debat oor aborsie, stamselnavorsing, kloning en baie ander etiese probleme waarvoor ons vandag staan. Kan ons bepaal wanneer lewe begin? Sommige sê dat ons hier met ʼn onsinnige speletjie besig is. Ons kan lewe op ʼn reguit lyn (kontinuum) plaas wat strek van die eiersel deur die embrio en baba tot by die volwassene. Om nou iewers op hierdie lyn  ʼn kruis te gaan trek en te sê dit is waar lewe begin, is arbitrêr en nie wetenskaplik nie. Geen wonder dat as ons vra wanneer lewe begin ons ʼn verskeidenheid antwoorde kry nie. Dit strek vanaf bevrugting tot waar die baba asemhaal met ʼn klomp moontlikhede tussen in. Mense wat sê dat lewe begin sodra die baba asemhaal, haal Genesis 2:7 aan waar ons lees dat die Here God lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ʼn lewende wese geword het. Beteken dit dat voor die eerste asemteug die baba nie ʼn lewende wese is nie?

 

Hoe nou gemaak? Daar is duidelik geen eenstemmigheid oor wanneer lewe begin nie. Hoe moet ons hierdie vraag vanuit ʼn wetenskaplike hoek benader? Om te bepaal wanneer lewe begin, moet die wetenskaplike twee sentrale vrae beantwoord:

(a)          Wanneer word ʼn nuwe sel wat duidelik onderskeibaar van die eier- en saadsel is, gevorm?

(b)          Is hierdie nuwe sel(le) ʼn menslike organisme?

 

I.             Wanneer word ʼn nuwe sel wat duidelik onderskeibaar van die eier- en saadsel is, gevorm?

Wetenskaplikes gebruik twee eenvoudige kriteria om te bepaal of selle onderskeibaar van mekaar is:

(a)          Hulle samestelling verskil; en

(b)          Die gedrag van die selle verskil.

Wat gebeur by bevrugting? Die saad- en eiersel kom langs mekaar te lê en die membrane tussen die twee verdwyn en ons kry ʼn enkele sel (die sigoot). Hierdie sigoot bevat komponente van beide sy samestellende selle. Hierdie is dus ʼn unieke sel met ʼn unieke samestelling wat verskil van die eier- en saadsel. Om net een voorbeeld te noem: die eier- en saadsel het elk 23 chromosome, maar die sigoot het 23 paar chromosome – soos ʼn normale volwassene.

 

Die doel van die saad- en eiersel is om mekaar te vind en saam te smelt. Nou kry ons die sigoot met ʼn nuwe ontwikkelingspad. Sy ontwikkelingspad – verdeling en ontwikkeling – lei tot ʼn embrio en uiteindelik ʼn baba.

 

Nie alleen is hierdie sigoot se ontwikkelingspad anders nie, maar ook sy genetiese samestelling verskil. Ons het hier ʼn sel wat duidelik onderskeibaar is van die eier- en saadsel.

[ʼn Embrio is die organisme wat ontstaan na die eier- en die saadsel saamgesmelt het tot ongeveer agt weke na bevrugting. Daarna praat ons van ʼn fetus.]

 

II.            Is hierdie nuwe sel(le) ʼn menslike organisme?

Ons het gesien dat ʼn nuwe sel – die sigoot – gevorm word, maar is dit die begin van ʼn nuwe menslike organisme? Het ons nie maar net ʼn nuwe sel wat verdeel en ʼn klomp selle vorm nie? Hoe definieer ons ʼn organisme?

(a)          ʼn Organisme is ʼn ingewikkelde struktuur bestaande uit elemente wat van mekaar afhanklik is. Hierdie elemente se eienskappe word bepaal deur hulle funksie in die totale organisme. [Soos in die volwasse mens. So byvoorbeeld is die niere se funksie, onder andere, afhanklik van die bloedsirkulasie. Wat die nier doen, word bepaal deur die hele liggaam. Die niere is nie ʼn eiland nie – hulle werk nie in isolasie nie.]

(b)          ‘n Organisme is saamgestel om die aktiwiteite van die lewe uit te voer deur organe wat verskil in funksie, maar interafhanklik is.

 

Is die menslike sigoot ʼn menslike organisme? Die gedrag en strukture van die volwasse mens is nie daar nie – embrio’s lyk nie en tree nie op soos volwasse mense nie. Die sigoot tree egter op soos ʼn volledige geheel. Al die dele van die sigoot tree in ʼn georkestreerde wyse op om na die volwasse toestand te ontwikkel. Die sigoot tree onmiddellik op om ʼn program van ontwikkeling te inisieer wat, as dit nie deur siekte of ʼn eksterne ingreep onderbreek word nie, sal lei tot ʼn mens.

 

Gevolgtrekking

Wat ek hier beskryf het,  is ʼn vereenvoudiging van ʼn baie ingewikkelde proses. Tog kan ons sekere afleidings maak:

(a)          Bevrugting vind plaas sodra die eier- en saadsel saamsmelt. ʼn Nuwe, unieke sel met ʼn eiesoortige ontwikkelingspad word gevorm.

(b)          Hierdie nuwe sel het die potensiaal om te ontwikkel tot ʼn volwasse mens.

 

Wetenskaplik moet ons aanvaar dat lewe begin sodra die eier- en saadsel saamgesmelt het – dit wil sê, by bevrugting. Met hierdie as agtergrond kan ons nou kyk na ʼn paar bio-etiese dilemmas. Ons gaan begin by aborsie.

 

Outeur: Dr Coen Slabber

 




Bio-etiek (1): ʼn Moderne Dilemma

Bio-etiek (1): ʼn Moderne Dilemma – Coen Slabber

[Di = twee; lemma = veronderstelling – ʼn situasie waarin ʼn moeilike keuse tussen twee of meer alternatiewe gemaak moet word.]

Ek gaan ʼn reeks artikels oor verskillende aspekte van bio-etiek skryf.

1.       Hoekom praat ek van ʼn dilemma?

Miskien sal dit makliker wees om te verduidelik as ek iets sê oor aborsies. Veertig jaar gelede was aborsies wettig in sekere state in die VSA. Duisende aborsies is sedertdien deur geneeshere gedoen – maklik, vinnig en veilig. Maar ons lees ʼn paar maande gelede van ʼn man wat in die kerk doodgeskiet is terwyl hy besig was om die kollekte op te neem! Hoekom? Hy was ʼn geneesheer wat aborsies gedoen het. ʼn Paar weke gelede lees ons van ʼn man 63 jaar oud wat voor ʼn skool doodgeskiet is. Hoekom? Hy het teen aborsies betoog! Wat hieruit duidelik is, is dat hier ʼn situasie is waar die Christen – en die kerk – tussen twee alternatiewe moet kies.

2.       Hoekom praat ek van ʼn moderne dilemma?

Natuurlik is van hierdie probleme nie nuut nie. Aborsie was immers reeds in die Romeinse Ryk ʼn probleem. Die slegte nuus: Met die geweldige vooruitgang op mediese gebied, veral op die gebied van genetika, gaan meer en meer soortgelyke probleme na vore kom. Party van hulle is reeds met ons (voorbeeld: genadedood); ander gaan ons iewers in die toekoms tref (voorbeeld: kloning).

Wat is bio-etiek?

Ons moet bio-etiek onderskei van mediese etiek. Mediese etiek is dit wat ʼn geneesheer mag doen en nie mag doen nie – dit is professionele etiek. Bio-etiek is ʼn wyer begrip en kan soos volg gedefinieer word:

Bio-etiek is die filosofiese studie van die etiese strydvrae wat ontstaan as gevolg van die vooruitgang in biologie en geneeskunde.

[Grieks – bios = lewe; ethos = karakter; natuur]

Etiese vraagstukke ontstaan as gevolg van die raakvlakke tussen die lewenswetenskappe, biotegnologie, geneeskunde, die reg, filosofie en teologie. Ons het hier met ʼn interdissiplinêre veld te doen. Sodra die morele waardes van die verskillende dissiplines bots, het ons ʼn etiese dilemma.

Wat hieruit baie duidelik is, is dat ons hier te doen het met ʼn probleem wat ver buite die grense van geneeskunde strek. Dit kan nie van geneeshere verwag word om die probleem op te los nie.

 

Die kerk het ʼn duidelike rol om te speel. Die verband tussen etiek en godsdiens kry ons reeds by Hippokrates. Luister net hoe begin hy sy bekende eed: Ek sweer by Apollo die geneesheer en Aesculapius … en al die gode en godinne dat, volgens my vermoë en oordeel, ek hierdie Eed sal onderhou.

 

Die studie van etiek het sterk op die voorgrond getree na die Tweede Wêreldoorlog toe dit bekend geword het dat daar allerhande eksperimente op Jode en mense met gestremdhede gedoen is.

 

Die basis vir etiese gedrag: Die morele wet

Op watter fondament berus ons oordeel van etiese gedrag? Dit is belangrik, want mense kom uit verskillende kulturele en godsdienstige agtergronde. Mense het egter ʼn ingeboude kennis van reg en verkeerd. Daarom is daar sekere waardes wat universeel aanvaar word. Wat is hulle?

 

1.            ʼn Geneesheer moet altyd optree in die beste belang van die pasiënt. Die Latynse woord beneficent – om goed te doen – word algemeen gebruik.

2.            Outonomie – die pasiënt het die reg om sy behandeling te kies of te weier. Die geneesheer moet respek hê vir die individu se vermoë om ingeligte besluite oor persoonlike sake te neem. Dit kan bots met ons eerste waarde as die pasiënt besluit om behandeling te weier. Dink maar net aan geneeshere se probleme met Jehova-getuies wat bloedoortapping weier.

3.            Primum non nocere: Moenie skade aandoen nie. Die geneesheer moenie medisyne voorskryf wat skadelik is of waarvan hy nie seker is watter uitwerking dit gaan hê nie. Die voordele moet meer as die nadele wees.

4.            Geregtigheid – verspreiding van skaars hulpbronne moet billik en regverdig geskied. Ek weet van geen land wat hieraan voldoen nie.

5.            Menswaardigheid – die pasiënt het die reg om menswaardig behandel te word. Die probleem van mense kunsmatig aan die lewe hou, is, onder andere, hier ter sprake.

6.            Die waarheid – die pasiënt moet weet wat hom makeer en wat die genesings- en behandelingsmoontlikhede is. Die geneesheer moet die pasiënt in staat stel om ingeligte besluite oor sy behandeling te neem.

7.            Vertroulikheid. Gesprekke tussen geneesheer en pasiënt is vertroulik en mag nie openbaar gemaak word nie – selfs nie in ʼn hof nie. Met verloop van tyd is sekere uitsonderings gemaak. Geneeshere sal onder protes op versoek van die voorsittende beampte (regter of landdros) inligting in ʼn hof bekend maak. Geneeshere moet ook inligting bekend maak in gevalle van aansteeklike siektes, waar kindermishandeling vermoed word en in geval van skietwonde.

8.            Die heiligheid van die lewe.

 

Hierdie waardes dien as raamwerk waarbinne ons alle etiese strydvrae moet hanteer. Die probleem kom  as:

  • Al die beginsels nie tegelykertyd bevredig kan word nie.
  • Verskillende mense verskillende gewigte aan verskillende beginsels heg.

 

Met hierdie as agtergrond kan ons nou kyk na sekere etiese dilemmas waarvoor ons vandag staan of binnekort gaan staan. Die sake wat ons gaan bespreek sluit in aborsie, genadedood, die menslike genoom, stamselle, kloning en verpligte toetsing van babas. Voordat ons hierdie sake hanteer, is daar ʼn basiese vraag wat ons moet hanteer: Wanneer begin lewe? Dit is van belang in baie van hierdie sake wat ons gaan hanteer.

Outeur: Dr Coen Slabber