Die Taak van Bybelse Argeologie

Die Taak van Bybelse Argeologie – Daan Pienaar

Ons let op die taak van Bybelse argeologie. Bybelse argeologie wil nie die Bybel as waar of onwaar bewys nie, maar wil verseker dat ons die Bybel beter verstaan. Dit gee vir ons die agtergrond van die geskiedenis en kultuurlewe waarbinne die Bybelse verhaal afspeel.

Om tot ‘n antwoord te kom oor die taak van die Bybelse Argeologie is dit goed om aan te dui wat dit nie is nie:

Onder sommige vakkundiges is daar diegene wat die Bybel as waar wil bewys en op selektiewe wyse resultate van die argeologie gebruik om ʼn bepaalde standpunt te probeer bevestig.

Wat is die taak dan?

  •          Dit wil die Bybel nie bevestig of verdedig nie maar wil dit toelig en bydra tot ʼn beter verstaan daarvan.
  •          Dit voorsien ook ʼn fisiese konteks in tyd en plek wat identies is met die omgewing van die mense wat aan ons die Bybel nagelaat het
  •          Dit wil uit die studie van die antieke kultuurreste uitvind hoe die skepper daarvan gedink het en hoe hy sy idees tot uitdrukking gebring het in die organisering en funksionering van sy samelewing.
  •          ʼn Volgende vraag wat aan die orde gestel behoort te word, hang saam met die aard van argeologie. Omdat dit ‘n wetenskap is wat tipiese kultuurreste ondersoek, het dit ‘n noue verband met die geskiedenis. Die kultuurreste wat ter sake is, is ‘n uitdrukking van die wyse waarop die mens die natuur omvorm het tot kultuur. Klei word byvoorbeeld gevorm tot ‘n pot wat in ‘n bepaalde kulturele milieu ‘n spesifieke vorm aanneem. Argeologie behoort daarom ‘n spesifiek historiese belangstelling te vertoon, ondanks die aanwending van natuurwetenskaplike metodes en tegnieke.
  •          ‘n Volgende vraag wat gevra behoort te word is: wat wil ons bereik met die beoefening van argeologie? Die antwoord setel sekerlik daarin dat ons die motief vir die beoefening daarvan moet identifiseer. Aangesien ons in Bybelkunde ons op die Bybel rig, sal die aard daarvan die inhoud bepaal aangesien dit ten doel het om meer daaromtrent uit te vind.
  •          C.F. Keil, wat reeds in 1887 hieroor geskryf het, se taakomskrywing van Bybelse Argeologie is steeds relevant: Argeologie het ‘n noue verband met die geskiedenis: geskiedenis beskryf die groei en vordering van ontwikkeling terwyl die argeologie die feitelike toestand wat die ontwikkeling bereik het, beskryf. Die bepaalde vorms en manifestasies waarin die lewe in sy verskillende stadiums van ontwikkeling uitdrukking vind, is ter sake. Hierin vul argeologie en geskiedenis mekaar aan.
  •          Sir Frederick Kenyon is op sy beurt van mening dat die resultate van die argeologie bitter min direkte verbande met die teks van die Ou Testament het. Dit bied wel ‘n verrykte raamwerk daarvoor en het daardeur grootliks bygedra tot die beter verstaan daarvan.
  •          H.F. Hahn het op sy beurt die taak van die Bybelse Argeologie soos volg omskryf: “… the real function of archaeology in relation to biblical studies is not confirmation, but illumination. The goal is to understand the Bible, not to defend it. Archaeology best fulfills its function when it enlarges our knowledge of the background of history and cultural life against which the biblical story was played.”
  •          Argeologie moet voorts behulpsaam wees met die eksegetiese taak van die vakkundige deur meer inligting te bied oor o.a. die volgende:

o   Die verskillende stede en streke van die verskillende volke wat hier gewoon het (lande en plekke in die Bybel vermeld).

o   Die geografiese bou en klimaatsomstandighede van die gebiede deur die volkere bewoon.

o   Kultiese gebruike en handelinge wat vanuit die materiële kultuurreste merkbaar is.

o   Die wyse waarop die mense wat in die Bybel ter sake is, geleef het.

 

5.    Bronne vir die Bybelse Argeologie

  •          Die Bybel self
  •          Buite-Bybelse geskrewe bronne
  •          Resultate van opgrawings

 

Volgende keer kyk ons na sekere praktiese aspekte van die beoefening van argeologie. 

 

Outeur: Prof Daan Pienaar

 




Argeologiese tydperke

Argeologiese tydperke – Daan Pienaar

Ons begin met ‘n kort oorsig oor die verskillende argeologiese tydperke. Daarna kyk ons na wat argeologie is. Verskeie definisies word genoem. Elkeen beklemtoon ‘n besondere aspek van argeologie. Daarna word spesifiek na Bybelse argeologie gekyk. Dit is die wetenskap wat hom besig hou met die ontdekking en sistematiese studie van die materiële kultuurreste wat betrekking het op die Bybelse tye en lande. 

Argeologiese tydperke

Dit is belangrik om die volgende in gedagte te hou:

1.   Die metode om die verskillende tydperke ‘n NAAM te gee, is nie konsekwent nie.  U sal opmerk dat die eerste groep tydperke normaalweg na die belangrikste voorwerpe genoem is, bv. die Steen-, die Koper-, Brons- en Ystertydperke.  Daarna word dit vernoem na groot beskawings soos die Babiloniese, Persiese, Hellenistiese en Romeinse tydperke. 

2.   U sal nog ander benamings ook verneem soos die Herodiaanse tydperk.  Dit val saam met die Romeinse Tydperk, maar is beperk tot Palestina.

3.   Die Vroeëre tydperke word nie hanteer nie aangesien slegs dié wat direk op die Bybel betrekking het, hanteer sal word.

4.   U moet in gedagte hou dat die datums slegs tentatief is.  Vakkundiges stem nie altyd ooreen oor die presiese indeling daarvan nie.  As u nou die eerste indeling hieronder in gedagte hou, beteken dit nie dat die Aartsvaders in 2 200 V.C opgetree het nie maar in die tydperk tussen 2200 en 1550 V.C geplaas kan word.

 

TYDPERKE WAT IN DIE PALESTYNS/BYBELSE ARGEOLOGIE

Palaeolities

25 000 v.C.

Mesolities

10 000 v.C.

Neolities

7500 v.C.

Chalkolities

4000 v.C.

Vroegbrons

3 150 v.C.

Middelbrons

2 200 v.C. Aartsvaders

Laatbrons

1 550 v.C. Uittog en Intog

Yster lA

1 200 v.C. Rigters

Yster lB

1 150 v.C. Rigters & Eerste koning/s

Yster llA

1 000 v.C. Verenigde ryk)

Yster llB

900 v.C. (Israel en Juda)

Yster llC

700 v.C.  (Juda; Israel in Ballingskap)

Babilonies

586 v.C.  (Juda in Ballingskap)

Persies

539 v.C.  (Ballingskap en terugkeer)

Hellenisties l

330 v.C.  (Onder die Grieke)

Hellenisties ll (Hasmonees/Makkabees)

152 v.C.  (Onder die Grieke)

Romeins

37 v.C-325 n.C. (Romeine)

 

Wat is argeologie?

Vakkundiges het verskillende definisies gegee vir hierdie begrip. Elke definisie het ‘n betekenisvolle aspek daarvan na vore gebring:

  •          Dit is die studie van die mens se verlede deur middel van sy nagelate materiële reste.
  •          Dit is die studie van duursame puin.
  •          Dit is die studie en historiese interpretasie van al die materiële oorblyfsels wat verdwene beskawings in die grond agtergelaat het.
  •          Dit is die studie van dinge wat die mens gemaak en gedoen het sodat hulle hele lewenswyse verstaan kan word.
  •          Dit is die sistematiese herwinning en interpretasie van die oorgeblewe getuienis van menslike aktiwiteit.
  •          Kathleen Kenyon het dit egter soos volg beskryf: Dit is die metode om oor die verlede van die menslike geslag uit te vind in al sy materiële aspekte en die studie van die produkte van die verlede. Dit beteken dat alle menslike aktiwiteite, byvoorbeeld hoe hulle geleef het, die wyse waarop hulle aanbid het, hoe hulle gebou het, hulle kuns, hulle handel, hulle reise, alle voorwerpe wat hulle gemaak en gebruik het, hulle woonplekke en verdedigingswerke, hulle gereedskap en wapens, die oorblyfsels van hulle kos, hulle beendere en grafte is ter sprake, want hieruit word afgelei hoe die antieke mens geleef het.

Sedert die middel sestiger jare het al hoe meer stemme opgegaan om die term Bybelse Argeologie te vervang met ‘n ander term. Dit is veral W.G. Dever wat hom daarvoor beywer het dat Bybelse Argeologie as akademiese dissipline sy bestaansreg ontneem moet word. Hy sien dit nie eens as ‘n vertakking van Argeologie nie maar as ‘n interdissiplinêre studie of dialoog tussen spesialiste in Nabye-Oosterse Argeologie en Bybelse historici. Hy verkies die term Siro-Palestynse Argeologie en wil dit tot ‘n selfstandige vertakking van Argeologie uitbou.

In sy kritiek het F.M. Cross dit duidelik gestel dat eksponente van hierdie beweging die term Bybelse Argeologie wil skrap omdat dit hulle ten onregte herinner aan Teologie, Fundamentalisme, Amateurisme en dergelike sogenaamde euwels.

Die term Bybelse Argeologie kan goedskiks behou word. As rede hiervoor kan die standpunt van W.F. Albright hier genoem word:

“Bybels” is die kwalifiserende begrip vir ‘n sistematiese analise of sintese van enige fase van Bybelse geleerdheid wat verhelder kan word deur argeologiese ontdekking.

Bybelse Argeologie kan dan soos volg omskryf word:

Dit is die wetenskap wat hom besig hou met die ontdekking en sistematiese studie van die materiële kultuurreste wat betrekking het op die Bybelse tye en lande.

Volgende keer gaan ons kyk na die taak van Bybelse argeologie. 

 

Outeur: Prof Daan Pienaar

 




Inleiding: Waarom is dit belangrik om ‘n studie van Argeologie te maak?

Inleiding: Waarom is dit belangrik om ‘n studie van Argeologie te maak? – Daan Pienaar

Die Bybel bied vir ons ʼn skriftelike weergawe omtrent die geskiedenis van individue, volkere  en later ook die kerk. Die argeologie vul aan. So verwys die Bybel na Baälaanbidders en Fariseërs, maar gee min besonderhede oor hulle. ʼn Sekere voorkennis word aanvaar. Vandag kyk ons na waarom dit belangrik is om ʼn studie van argeologie te maak.

By ‘n internasionale Argeologie-uitstalling in Duitsland het die volgende slagspreuk verskyn:

Ich habe das Gestern gesehen, ich kenne das Morgen.

Dit is:  Ek het gister gesien, daarom ken ek môre.

Daar is ook ‘n ou Joodse spreekwoord wat lui:

As u wil hê dat die toekoms anders moet wees as die verlede, moet u die verlede bestudeer.

Die Bybel bied ‘n bepaalde skriftelike weergawe omtrent die geskiedenis van individue, volkere en later die kerk. Daar is egter ook ‘n andersoortige weergawe hieromtrent in die argeologie wat omvangryke inligting bied.

Artefakte is die resultaat van die mens se kulturele bedrywighede.  Hierdie “materiële kultuur” wat tot stand gebring is deur die tegniese vaardighede van die mens, kommunikeer bepaalde waardes aangaande die skeppers daarvan Ons kan dit dan  “lees”.  Dis interessant dat alle aspekte van menswees, daarin weerspieël word.

Geesteswaardes is daarop toegespits om die mens te beheers en te beïnvloed:

Die tegnologie het in dié geval die bedoeling gehad om die gegewe uit die natuur so te omvorm dat dit ‘n bepaalde waardesisteem wil kommunikeer.

Hierdie waardes word op verskillende maniere gekommunikeer:

As voorbeeld kan ons dink aan die vierde raadsaal in Bloemfontein en sy ontwerp.  Dit kommunikeer iets van mag, want hiervandaan word die Vrystaat regeer!  Dink aan die Glaspaleis, die stadsraad se gebou in Bloemfontein.  Wil dit dalk demokrasie weerspieël? Of wil dit dalk die indruk skep dat Bloemfontein ‘n plek van voorspoed is?

Geesteswaardes is daarop toegespits om die mens te beheers en te beïnvloed: Indien ‘n dame  (of ‘n heer!) juwele vir ‘n bepaalde geleentheid dra, is dit duidelik dat sy (of hy) daarmee een of ander indruk op iemand anders wil maak. Die tegnologie het in dié geval die bedoeling gehad om die gegewe uit die natuur so te omvorm dat dit ‘n bepaalde waardesisteem wil kommunikeer. Aan die bopunt van hierdie waardes, is die religieuse waardes waarin die mens se hart op God (of afgod) gerig is.

Hierdie waardes word op verskillende maniere gekommunikeer. Die argeologie bied dan bykomende inligting aangaande die waardesisteem van bepaalde gemeenskappe.

Argeologie en teks bied beide ‘n register van waardes wat gelees kan word.  Lank nadat ‘n bepaalde groep mense verdwyn het, kan hulle waardes in die artefakte gesien word.  Soms vertel die Bybel iets van die dinge maar soms nie, want dit is nie die bedoeling van die Bybel om sekere artefakte te beskryf of die gebruik daarvan te verduidelik nie.

Ons staan egter voor die probleem dat ons eie kultuur gebou is op waardes wat vandag geld. Al is meeste daarvan in die verlede veranker, is daar is ‘n bepaalde verskil.

Die Bybel doen ook nie moeite om mense se religieuse vooroordele te verduidelik nie.  Dink aan die Baälaanbidders en die Fariseërs.  Die Bybel veronderstel eenvoudig voorkennis by die leser. Al het ons die literêre mededeling daaromtrent, ons het nie die verduideliking waarom nie.

Ons het nou ‘n ander weergawe wat gebruik moet word, omdat dit bepaalde kennis vir ons ontsluit het.

Argeologie bied die konteks waarin ‘n bepaalde mededeling gemaak is en maak dit minder vreemd.  Dit vertel ons dus wat ons nie weet nie en ons moet weet dat die Bybel ons nie alles vertel nie.  Ons moet dit weet om dit te verstaan.  Argeologie kan van die besonderhede wat ontbreek, meedeel bv. bepaalde waardes van ‘n bepaalde kultuur, soos blyk uit hulle materiële nalatenskap.  Geskrifte bied soms ‘n persoon se politieke vooroordele en die Argeologie kan as ‘n kontrole daarop dien.  Die argeologie leer ons dikwels van ‘n heerser se politieke ingesteldheid soos bv. Herodes die Grote:

Hierdie aspekte kan bv. in die geboue wat daarvoor bedoel is, gesien word.

Aan die bopunt van hierdie waardes, is die religieuse waardes waarin die mens se hart op God (of afgod) gerig is.

  •          Godsdiens: Tempel, Geloof, Heilige Boeke ens.
  •          Hoe het die huwelik en gesinslewe daar uitgesien? Hoe is kinders opgevoed, was daar dalk skole?
  •          Hoe is die regspleging behartig? Regspleging/vergelding;  Stadspoort … ruimte waar dit gebeur het
  •          Kunsvorme: Kunswerke soos tot uitdrukking gebring in artefakte, geboue ens.
  •          Watter soort ekonomie kan gesien word?
  •          Die Maatskappy? Hoe het dit daar uitgesien? Omgang en verkeer met mekaar.
  •          Taal en Skrif.
  •          Hoe is mag uitgeoefen? Staatkunde, oorlogvoering, verdedigingswerke, waterwerke, diere vir vervoer ens.
  •          Tegnologie:  Die mens het die vermoë om logies te dink.  Die plek waar die logika beoefen word, soos ‘n universiteit/skool, lyk anders as ‘n woonhuis, net so-ook die ameublement.  Die mens manipuleer/ontgin die natuur dmv sy tegnologiese vaardigheid.  God het hom die opdrag gegee om oor die aarde te heers (Genesis 1:28) en hy benut sy eie vaardigheid in die tegnologie om die natuur te onderwerp en te beheers.  As ‘n mens ‘n ploeg maak, wil hy daarmee die grond bewerk en dit vrugbaar maak.

Volgende keer gaan ons kyk na verskillende argeologiese tydperke en na wat argeologie, veral Bybelse argeologie, is.

Outeur: Prof Daan Pienaar

 




Prof Daan Pienaar

Prof Daan Pienaar

Daan Pienaar is emeritus professor van die Departement Bybel- en Godsdienskunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy het ‘n doktersgraad in Semitiese Tale aan die Universiteit van Stellenbosch behaal.  Die titel van sy proefskrif was: Die dinastie van die Omriede in die lig van die Argeologie. Sy belangstellingsveld is Bybelse Argeologie. Hy het aan verskeie oorsese inrigtings navorsing gedoen en gereeld deelgeneem aan opgrawingsekspedisies  in Israel.