Gebedstaal – Vraag

Gebedstaal

Vraag:

Is daar iets soos ‘n gebedstaal soortgelyk aan spreek in tale.

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die Bybel ken nie iets soos ʼn spesiale gebedstaal nie. Gebed is om met God te praat. In die Joodse wêreld van Jesus se tyd was daar gewoonlik ook hardop gebid, al was dit soms fluisterend. In Romeine 8:26 lees ons egter dat ons soms sonder woorde kan raak, ja, dat ons nie weet wat om te sê nie. Dan sit die Heilige Gees ons gedagtes in woorde om vir God. Spreek in tale kan ook ʼn vorm van gebed wees, want as ʼn mens na 1 Korintiërs 14:2, 13-19 kyk, lyk dit of die spreek in tale plaasvind wanneer ʼn mens intense nabyheid aan God beleef. Die ervaring van die intieme verhouding mond dan in gebed by wyse van spreek in tale uit.   

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




God stel konings aan en sit hulle af – Vraag

God stel konings aan en sit hulle af

Jan Smith vra:

Daniël noem dat God konings aanstel en afsit. Maar die ou slang het soveel mag in alles dat hy ook die lewe wat deur God geskep is in die baarmoeder van ‘n moeder kan beïnvloed (byvoorbeeld onderontwikkeling van organe, Down sindroom, ens.).Is die afleiding dan nie ook maar dat die duiwel ‘n hand het in die vestiging van alleenheersers, despote, korrupte regerings ens. nie? Pilatus het nie die mag gehad as dit nie van Bo gekom het nie maar in sy geval was hy ook in die hande van die Joodse gepeupel. Romeine 13:1 sê: …want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel,…Hierdie is vir my ‘n paradoks want hoe kan/wil God dan ‘n nasie met baie onskuldiges – meeste kinders (byvoorbeeld Zimbabwe) deur een man ten gronde laat gaan? My kop is te plat. Baie, baie dankie vir hierdie webwerf. Ek glo dit is van die Here op ‘n baie tydige tydstip in ons lewe.

Antwoord deur Prof Jan van der Watt

Die vraag gaan oor die probleem van die mag wat die duiwel het al het God alles gemaak en al is dit God wat ook regerings aanstel en aan hulle mag gee. Die vraag sluit aan by ʼn vorige vraag wat op die webblad bespreek is, naamlik, waarom God lyding toelaat. Lees asseblief die artikel. Daar is gewys dat die duiwel wel nog toegelaat word deur God om sekere dinge te doen, soos om regerings te beïnvloed, lyding en siekte te veroorsaak, en so aan. As ons vra hoekom, is daar nie altyd duidelike antwoorde nie. Job sê dat God so groot is, dat ons nooit alles wat Hy doen sal kan verstaan nie. Daarom sal ons ook nie altyd kan verstaan waarom God lyding en sulke dinge toelaat nie. Openbaring verduidelik weer dat dit byna soos ʼn oorlog is – in ʼn oorlog is daar verskillende skermutselinge (veldslae), maar dan is daar die groot oorlog ook. Die groot oorlog is deur God klaar gewen. Jesus het die duiwel verslaan. Die duiwel val egter nog die gelowiges aan (klein skermutselinge waar die duiwel sy laaste stuiptrekkings gee) en God laat hom toe, want die finale uitwissing van die duiwel is naby. Daarom moet gelowiges maar net moed hou. God sal hulle uiteindelik laat seëvier. Dan lees ons ook dat mense van nature geneig is om sonde te doen – hulle het sonde in hulle harte.

Om terug te kom na jou vraag toe: God het wel die regerings aangestel en die wêreld ook goed gemaak, maar die sonde het dit skeef getrek en stukkend gemaak. Daarvoor was die duiwel verantwoordelik. Hy  meng die hele tyd in en probeer wat God gedoen het, deurmekaar krap. Daarom steek hy ook sy neus in regerings in en as die regeringsleiers toelaat dat hy hulle negatief begin beïnvloed, dan sien ʼn mens dit in die optrede van die staatsleiers.

Gelukkig, kan ons as gelowiges uitsien na die nuwe Jerusalem waar daar vrede en vreugde sal heers en mense nie siek word nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Die wit perd – Vraag

Die wit perd – Vraag

Annamarie Dekker vra:

Ek het net die volgende vraag asseblief: Joanita du Plessis het ‘n liedjie wat sy sing van die ruiter op die wit perd wat kom om ons te haal. In Openbaring lees en verstaan ons dat die ruiter op die witperd die antichris is, of verstaan ons verkeerd? Sal waardeer as u net dit vir ons kan uitklaar. Baie dankie.

Prof Jan van der Watt antwoord:

In Openbaring lees ons op twee plekke van ʼn ruiter op ʼn wit perd: Openbaring 6:2 en 19:11vv. Die ruiters in die twee plekke in Openbaring is nie dieselfde nie.

Net eers ʼn paar woorde oor simbole in Openbaring. Dieselfde simbole kan vir verskillende dinge gebruik word – neem byvoorbeeld die kruis: dit kan gebruik word as Christelike simbool, of in wiskunde kan ʼn kruis agter jou som wys dat jou antwoord verkeerd is; ʼn rooi kruis op ʼn kar kan die simbool vir die Rooikruis wees, en so aan. Die konteks help ʼn mens dus om die betekenis van ʼn simbool vas te stel. In Openbaring simboliseer “wit” oorwinning of heiligheid; ʼn “perd” staan vir oorlog. Die persoon wat dus op ʼn “wit perd” ry is dus die oorwinnaar (wit) in ʼn oorlog (perd).

In Openbaring 19:11vv. is die Ruiter op die wit perd Jesus wat teen die magte van die duiwel optrek. Die hele konteks sê dit vir ons: Hy kom uit die hemel, sy naam is “Woord van God” (Johannes 1:1), Hy is regverdig, ens.

In Openbaring 6:1-8 is die storie egter anders. Daar is die ruiter op die wit perd deel van ʼn groter prentjie van drie ander perde (ʼn weermag) wat geleidelik verskyn. Die vier ruiters met hulle perde wil dus saam ʼn boodskap gee. Al vier ruiters ry op perde – dus gaan dit oor oorlog. Die perde het egter verskillende kleure wat vir ons ʼn boodskap of preek gee: eers verskyn die wit perd. Dit lyk dus of die weermag wenners is; dan verskyn ʼn rooi (= bloed, lewe/dood) perd en daar kom onvrede op die wêreld. Die oorlog begin dus die wêreld deurmekaar krap. Dan kom die swart (= hongersnood) perd en mense begin honger ly. Dit begin dus al hoe slegter gaan – nie net die vrede begin verdwyn nie, maar mense het nie meer kos om te eet nie. As die grys (= dood) perd kom, sterf die mense. Hierdie weermag, hoewel dit lyk of dit aanvanklik wen, bring geleidelike vernietiging oor die wêreld – eers onvrede, dan hongersnood, dan dood.

Waarvan is die perde die simbool? Dit is ʼn simbool van die duiwel en sy werk. Die magte wat aan die kant van die duiwel veg (waarskynlik die Romeinse Ryk in daardie tyd) lyk aanvanklik of hulle die sterkste is en wen, maar tipies van die duiwel loop alles op ʼn gemors uit – onvrede, honger en dood. So, wat op die oog af aan die begin goed lyk, loop op die langer termyn op die dood uit. As jy in die weermag (van Satan) wil gaan veg, moet jy dus weet wat jou uiteinde gaan wees.

Dus, in Openbaring 19 verwys die Ruiter op die wit perd na Jesus wat oor die duiwel en sy magter seëvier. In Openbaring 6 verwys dit na die weermag van die duiwel wat uiteindelik alles vernietig. 

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Bybelvertalings – Vraag

Bybelvertalings

Vraag:

Daar is so baie verskillende weergawes/vertalings van die Bybel. Watter weergawe/vertaling is die regte een? Ek het gehoor ‘n mens moet versigtig wees watter een jy lees? Mag hierdie webtuiste GROOT EER vir die Here wees, dat Christene, en alle mense meer en meer van die Here sal leer. Vriendelike groete.

Prof Jan van der Watt antwoord:

Vertaling beteken om dit wat in een taal staan in ‘n ander taal om te skakel. Daar is natuurlik verskillende maniere waarop ‘n mens dit kan doen. Dit kan as ‘n lang lyn voorgestel word met twee uiterstes: Aan die een kant is daar die ‘letterlike vertaling’ en aan die ander einde die ‘vrye vertaling’.

  • Letterlike vertaling beteken dat ʼn mens eenvoudig die woorde uit die een (oorspronklike) taal met woorde uit die ander taal vervang. Die 1933 (ou) Afrikaanse vertaling is hoofsaaklik so gedoen.
  • Met vrye vertaling word daar heeltemal op die boodskap gekonsentreer. Soms word dit ook ʼn parafrase genoem. Daar word gevra wat die oorspronklike skrywer aan sy mense wou sê. As die vertaler dit vasgestel het, word daar gevra hoe ʼn mens dieselfde boodskap in goeie Afrikaans aan vandag se mense kan oordra – natuurlik met vandag se taal en uitdrukkings. As daar uitdrukkings in die oorspronklike taal gebruik word wat nie vir die moderne lesers bekend is nie, kan selfs ʼn verduidelikende woord of wat bygesit word. Dit gaan immers daaroor dat die hedendaagse leser dieselfde boodskap as die oorspronklike lesers moet hoor. Die Boodskap en Die Nuwe Testament vir Kinders  is byvoorbeeld sulke vertalings.
  • Daar is ook vertalings wat dinamies-ekwivalent genoem word. Die 1983 Afrikaanse vertaling probeer so vertaal. Dit beteken dat hulle probeer om waar moontlik letterlik te vertaal, maar as dit nie goeie sin maak of die betekenis goed weergee nie, dan word die vertaling aangepas en meer “dinamies” gemaak. Dit is dus ʼn manier van vertaal wat tussen die 1933/53 vertaling en die Boodskap lê. Die Nuwe Lewende Vertaling lê ook in die tegniek redelik naby aan die dinamies-ekwivalente manier van vertaal, hoewel daar soms vryer vertaal word.

Nou die vraag: watter vertaling moet ʼn mens lees? In Afrikaans kan ʼn mens al die vertalings langs mekaar lees – elkeen help hou om iets meer te verstaan. As jy belangstel in hoe die Grieks oorspronklik gelyk het, moet jy die letterlike vertaling (1933) lees. As jy meer belangstel in wat die boodskap van die Bybel is, moet jy die Boodskap lees 

 

Outeur: Prof Jan van der Watt