Ongelooflik of Godgelooflik – Vraag

Ongelooflik of Godgelooflik – Vraag

Koos Rousseau vra die volgende vraag:

Ek is nie seker of ek op die regte plek is om my mening te lug nie maar nietemin hoor my asseblief net uit! Ek beskou myself nie as n Afrikaner puris nie maar daar is ‘n ding wat my dwars in die krop steek. Ons as Afrikaners en Christene spreek onsself so maklik uit en beklemtoon tog so maklik ons sterk gevoel veral in die konteks van ons geloof deur van die woord ONGELOOFLIK gebruik te maak.

Ons gebruik dit in ons huise by die werk en dan nog meer skokkend in ons plekke van aanbidding. Na my mening is die woord in die Engelse konteks van sy gebruik heel in die kol, maar dan gaan ons slaafs en pleeg die mees onaanvaarbare anglisistiese flater en wend die woord net so aan in sy betekenis in n Afrikaanse sinsnede en dan verwys ons dikwels na Bybelse verwante gebeurlikhede of nog erger na ons Skepper in Sy Drie-Eenheid en ons haal al die betekenis van die Grootheid van wat ons eintlik wil beklemtoon eensklaps uit deur te sê dit is ongelooflik…met ander woorde ons spreek die teendeel uit en gee aldus n totale ander betekenis aan dit wat ons Skepper toekom. Ons skep in ons onvermoë om n plaasvervanger te kry vir die woord “unbelieveable” n teelaarde vir die duiwel in dit wat eintlik na die oor en die kop oorgedra word! Help n bietjie daar! Die woord behoort verban te word in sy Afrikaanse konteks en ai asseblief kom ons begin by ons Kansels! Kom ons vervang dit eerder met die woord GODLOOFLIK…dan loof ons mos ons Magtige Skepper en gee totale erkenning! Vanoggend van julle webtuiste gehoor oppad na Moreleta erediens…die ding pla my al lank! Groetnis en Geseënde Paasfees.

 

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord soos volg:

Een van ons intekenaars (Koos Rousseau) het gevra dat ons iets moet skryf oor die alewige gebruik van die woord”ongelooflik”, selfs vanaf die kansels, in kontekste waar ons dikwels selfs oor die geloofswaarhede praat! So sal iemand byvoorbeeld vertel van die ongelooflike storie van Moses en hoe hy die Israeliete deur die bloeddorstige woestyn gelei het en hoe dit net ongelooflik was hoe die Here voorsien het. Nie net is dit volgens hom ‘n onaanvaarbare anglisistiese flater nie, maar spreek ons ook die teendeel uit van dit wat ons so pas gesê het. Interessant genoeg, as mens die definisie van die woord “ongelooflik” in die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse taal naslaan, sien mens onder andere die volgende betekenis: “Onaanneemlik; so dat ‘n mens daar geen geloof aan kan heg nie.” Die vraag is dus of ons waarlik bedoel wat ons sê, en sê wat ons bedoel? Sy voorstel is dat ons eerder die woord Godgelooflik gebruik om sodoende eer en lof aan God te gee. Met die eerste oogopslag van sy brief het ek onmiddellik gedink aan die Griekse woord pisteo (geloof) wat ongeveer 98 keer (vgl. byvoorbeeld net Johannes 1:12; 50; 2:21; 3:10; 15, 16, 18, 36, 4:21, 42, 48, 50; 5:24 ens.) alleen net deur Johannes in sy Evangelie voorkom. Johannes leer ons dat geloof jou ganse menswees beïnvloed. Volgens Johannes beïnvloed geloof mens se dade, mens se woorde en mens se ganse bestaanstoestand, lewensoriëntasie en toekoms. Daarom het geloof ook altyd ‘n etiese dimensie omdat dit onlosmaaklik gekoppel is aan hoe jy leef. In Johannes gebeur daar iets met jou identiteit as jy tot geloof kom. In Johannes 3 verduidelik Jesus vir Nikodemus dat mens geestelik wéér gebore moet word voordat jy werklik die volle implikasie van die Koninkryk van God sal insien. Wedergeboorte en geloof maak jou deel van ‘n nuwe familie (Johannes 1:12), naamlik die familie van die Koning. Skielik begin jy optree soos iemand wat aan daardie nuwe familie behoort. In jou lewe maak woorde soos sonde (16:9), haat (17:14), duisternis (3:19) en blindheid (9:40-41) plek vir woorde soos lig (1:4), lewe (3:16; 10:10), liefde (15:9) en geestelike insig (12:40). So ‘n mens praat ook anders en sy woorde getuig van iemand wie se lewe aangeraak is deur die Lig. Woorde soos on-geloof en on-gelooflik maak plek vir geloof en God-gelooflikheid omdat mense van die Lig sensitief is vir die woorde van en oor die Woord. Miskien is ons vriend reg as hy opmerk dat ons eerder die woord ongelooflik vir Godgelooflik moet verruil (veral as ons oor geloofsake praat), omdat ons immers mense is wat met ons hele bestaanstoestand en lewensoriëntasie, ons woorde en ons optrede, moet aantoon dat ons kinders van God is en dat ons ganse lewe deur Hom verander is. Onthou altyd dat die woorde wat jy na buite spreek ‘n refleksie behoort te wees van dit wat in jou hart leef. Mag ons mense wees wat bedoel wat ons sê en sê wat ons bedoel – mense wat sensitief is vir die woorde wat ons spreek! Mag ons veral rondom hierdie tema die woorde van Jakobus 3 in gedagte hou: 3Vir perde sit ons ‘n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. 4Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met ‘n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. 5So is die tong ook maar ‘n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.’n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek. 6Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. 7Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, 8maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ‘n rustelose kwaad, vol dodelike gif. 9Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. 10Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. 11’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. 12’n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of ‘n druiwestok vye nie. ‘n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie! 

 

Skrywer: Dr Kobus Kok

 




Het Jesus werklik vir die mense in die doderyk gepreek?

Het Jesus werklik vir die mense in die doderyk gepreek?

Sommiges wonder hier rondom die tyd van Paasfees oor die vraag of Jesus werklik vir die mense in die doderyk gepreek het.

In die Bybelse tyd is geglo dat alle mense na hulle dood na die doderyk onder die aarde gaan wat in Grieks Hades genoem is. Ek onthou self uit my kategese dae in die vroeë tagtiger jare hoe die dominee die storie vertel het van hoe Jesus met sy kruisdood na die hel neergedaal het en daar gepreek het vir almal van Adam en Abraham dwarsdeur tot anderkant Noag en die vloed. Die wat sy prediking geglo het en tot bekering gekom het, het dan saam met hom na die hemel toe gegaan (vgl. die Apokriewe Evangelie van Nikodemus [450-550 n.C. geskryf] hoofstuk 17-27 en veral 25). Was dit regtig so, en waar lees ons dit? Kom ons kyk of ons op die spoor van hierdie vraag kan kom.

Ons reis begin in 1 Petrus 3:18-19 en ons maak met die eerste oogopslag by die Afrikaanse Ou Vertaling oop wat lui:18Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring-Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;19in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis.” En daar het jy dit, dit staan tog daar in Ou Vertaling! Het ons dus alles daaroor gesê? Inderdaad nie! Indien ons dit met die Nuwe Vertaling vergelyk, sien ons ‘n interessante ander perspektief. Die Nuwe Vertaling lui: “19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig.”

Sien jy die duidelike verskil? In die Ou Vertaling staan daar Jesus het gepreek vir die geeste in die gevangenis en in die Nuwe Vertaling staan daar dat Jesus sy oorwinning aangekondig het. Die twee vertalings verskil wesenlik van mekaar, veral as jy aan die implikasie daarvan dink. Dit is egter belangrik om na die groter konteks van die paar verse te kyk. In die volgende verse word verder gekwalifiseer wat met die geeste in die gevangenis bedoel word. Die konteks dui op die volgende: “19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Die groot vraag is dan wie was hierdie geeste presies? Die woord in Grieks wat hier gebruik word vir geeste verdien aandag. Dit word volgens sommige geleerdes in die NT 99% van die kere gebruik om te verwys na bonatuurlike onrein geeste en nie na mense nie. Dit wil volgens navorsing egter voorkom of 1 Petrus deur die Joodse tradisie van 1 Henog (15:8-10) beïnvloed is waar die geeste moontlik verwys na die engele van Genesis (6:4) wat met die mense gemeenskap gehad het en die onrein geeste wat daaruit voortgekom het wat in die hel gebind word (vgl. 1 Henog 10.4-6, 12-14; 13.1; 14.5; 18.14-16; 21.6, 10) In die tweede Petrus brief wil dit lyk of hierdie gedagte elders ook voorkom soos in 2 Petrus 2:4 waar daar verwysing is na die engele wat in Noag se tyd gesondig het en in die hel gestort is: “4God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel.” Dit herinner ook aan Judas 6 (wat tematies en tekstueel aansluit by 2 Petrus) wat soos volg lui: “6Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag.” Die woord gevange gehou (fulakê) kan ook dui op die wat onder sekuriteit gehou word. Indien dit so verstaan word as dat Jesus sy oorwinning aangekondig het aan die onrein geeste wat onder sekuriteit gehou word, kry die teksgedeelte nuwe implikasies en betekenis. Myns insiens het Jesus dus ‘n sterk boodskap van oorwinning gaan aankondig sodat elke knie (bo en onder die aarde) sou buig en elke tong moet bely Jesus is Here en dat hy die angel en mag van die dood oorwin het (vgl. Filippense 2:9-11). Dit is die belangrike punt van die teksgedeelte. 

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Vreemde Vrouens in Jesus se gelagsregister volgens Matteus

Vreemde Vrouens in Jesus se gelagsregister volgens Matteus

Indien mens in ons tyd wil wys hoe belangrik iemand is, of as jy aansoek doen vir werk, sal jy jou CV voorlê. In jou CV vertel jy van al jou ervaringe, jou kwalifikasies, jou prestasies, ens. In die Bybelse tyd het mense hulle belangrikheid aangetoon deur middel van hulle geslagsregister.

Afkoms is nou verbind aan identiteit. Indien mens gebore is uit ‘n familie wat ‘n voorvader sonder aansien gehad het, word mens sommer onder dieselfde kam geskeer en anders om. In die eerste paar verse van die evangelie volgens Matteus, lees ons van Jesus se geslagsregister. As mens dit vergelyk met byvoorbeeld Lukas (hoofstuk. 3:23-38) se evangelie, sien mens dat dit baie anders lyk. Matteus doen baie moeite om aan te toon dat Jesus van koninklike afkoms is en daarom word hy ook Seun van Dawid, die groot Koning van Israel genoem.

Die interessante was dat Joodse mans, en veral belangrike mans in die antieke tyd, amper nooit hulself en hul afkoms of identiteit beskryf of kwalifiseer in terme van ‘n vrou nie. Inteendeel, vrouens is beskou as die eiendom van die man. Daarom is daar altyd gesê die vrou is die dogter van hierdie man, of die vrou van daardie man, maar nooit andersom nie. Die opvallende is dan dat Matteus Jesus en sy identiteit beskryf en vrouens daarin vermeld. Dit is verder interessant om te verneem dat baie van die vroue wat in Jesus se gelagsregister genoem word, vrouens was wat foute gemaak het in hulle lewe, of vrouens was wat volgens die algemeen aanvaarbare reëls van die Joodse denke in ‘n sekere sin uit plek uit was. Die eerste vrou waarvan ons lees is Tamar. Lees gerus die storie van Tamar en hoe sy haarself as tempelprostituut vermom het en met Juda gemeenskap gehad het (Genesis 38). Rut self was nie ‘n Joodse meisie nie, maar ‘n Moabiet. In Deuteronomium 23:3 word dit baie duidelik gestel dat ‘n Jood hoegenaamd nie met ‘n Moabiet mag meng nie en dat laasgenoemde nie deel van die Joodse gemeenskap mag vorm nie: “Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie.“(NAV). Verder weet ons dat Tamar ‘n Arameër was en Ragab die prostituut (Hebreërs 11:31) van Kanaänitiese afkoms was, wat dus beteken dat die meeste van die vrouens van uitlander afkoms en volgens die Joodse sosiaal-religieuse kartografie uit plek uit was. Hiermee dui Matteus juis aan dat Jesus se afkoms universeel geïnterpreteer kan word en dat hy dus vir alle mense gekom het. In Matteus 1:7 word die vrou van Urija genoem, wat natuurlik niemand anders as Batseba was nie (2 Samuel 11). Dit was hierdie Batseba met wie Dawid oor die tou sou trap en wie se man Urija deur Dawid om die lewe gebring is.

In Jesus se geslagsregister sien ons dus vreemde vrouens met vreemde reputasies, maar nogtans het God hulle gebruik. Die les wat ons daaruit kan leer, is dat God onmoontlike dinge moontlik kan maak en dat sy plan altyd groter is as wat ons nou kan sien. Dikwels omskep God die grootste verleentheid in die grootste geleentheid. God kan selfs ons foute gebruik tot Sy eer.

Skrywer:  Dr Kobus Kok 

 




Prof Kobus Kok

Prof. Kobus Kok

Prof. Kobus Kok is Hoof van die Departement Nuwe Testament en Direkteur van die Instituut vir Vroeë Christelike Studies aan die Evangelische Theologische Faculteit Leuven in België. Leuven is die oudste universiteitsstad in die Benelux (België, Nederland en Luxemburg) en naby Brussels in die hartjie van die Europese Unie geleë. Kobus is ook verbonde aan die Institute of Leadership and Social Ethics in Leuven. Voorheen was hy ’n predikant en toe Medeprofessor aan die Universiteit van Pretoria (2009-2015) waar hy steeds ’n NRF Y1 gegradeerde navorser en senior navorsingsgenoot is. Kobus het twee doktorsgrade – een in Nuwe Testament en een in Religiestudies en Sendingwetenskap. Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria, die Universiteit Bonn in Duitsland en die Radboud Universiteit Nijmegen in Nederland en spesialiseer op die gebiede van Antieke Mediterreense Antropologie (Siekte en Genesing in Johannes) asook in Sosiale Identiteit, Dialogiese Self Teorie en die trek en transendering van (sosiale) grense in tye van konflik en verandering. Kobus is getroud met Martelize en hulle het twee seuns, Joshua en Heinrich. Hulle woon tans in Leuven naby ‘n pragtige woud.