God is regverdig daarom is daar iets soos straf

God is regverdig daarom is daar iets soos straf

Baie keer wonder ons waarom God mense straf. Hy is dan ʼn liefdevolle God wat vir mense omgee.

Ons vergeet dat daar mense is wat niks met God te doen wil hê nie. As hulle na God toe wil kom en Hom dien, is hulle welkom. Maar as hulle hulle rug op die Here draai, kan hulle Hom nie kwalik neem as Hy uiteindelik dieselfde met hulle doen nie. Om die waarheid te sê, hulle het net hulleself te blameer as God ook sy rug op hulle draai. Ons moet onthou dat een van die eienskappe van God is om regverdig te wees. Hy sal nie vir die een persoon sê om in Hom te glo om gered te word en vir die ander om Hom maar te ignoreer en nogtans gered te word nie. Daarom steek Hy nie weg wat met mense gebeur wat Hom eenkant toe skuif nie. Hulle sal eendag regtig sonder Hom moet klaarkom. Meer nog, jy kan nie God jou vyand maak, Hom beledig of maak of Hy nie bestaan en dan verwag dat niks gaan gebeur nie. Die Here sal ook sy eie eer beskerm en dan mag die mense wat gedink het hulle kan met God maak soos hulle wil agterkom dat dit ʼn groot fout was. Ja, hulle mag agterkom dat God straf ook.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die mense wat vir ons veiligheid moet sorg (die staat)

Die mense wat vir ons veiligheid moet sorg (die staat)

ʼn Mens stem nie altyd saam met wat die staat doen nie. Dit was ook so in die Bybelse tyd.

Soos die situasie verander het, word die staat ook anders in die Bybel gesien, hoewel die houding van die gelowige dieselfde bly. In Romeine 13:1-7 kry ons egter ʼn baie positiewe beskrywing van die staat. Hulle moet die veiligheid van die mense waarborg en die mense wat die wette oortree straf. Hier lyk dit dus of die verhouding tussen die Christene en die staat nie te sleg was nie. In 1 Petrus 2:13-15 gaan dit nie meer so goed met die Christene nie. Hulle word sosiaal vervolg. Tog sê Petrus dat hulle nog vir die staat moet luister en selfs vir die staat moet bid. As ons by Openbaring kom, gaan dit sommer sleg tussen die staat en die Christene. In Openbaring 13 word die staat met ʼn dier vergelyk wat vir Satan werk. Hulle probeer die Christene om elke hoek en draai vervolg of seermaak. Nogtans word die Christene nie opgeroep om wapens op te neem nie. Nee, hulle wapen moet hulle boodskap wees. Soos profete van ouds moet hulle die goeie boodskap ook aan die staat bly verkondig en die verkeerde dinge uitwys. Hulle moenie stilbly nie. Nie koeëls van yster is die Christene se wapens nie, maar koeëls van woorde.

Die Bybel sê dus dat Christene nie aktief met wapens die staat moet omver werp nie. Die staat werk ook vir God. Die staat moet sorg dat alle mense in sy gebied veilig en goed moet leef. As jy jou neus by jou voordeur uitsteek, moet dit nie afgeskiet word nie en daar moet darem basiese geriewe wees. Iemand moet daarvoor sorg en dit is die staat. Dit is die taak van die staat om ʼn goeie ruimte vir sy mense te skep om in te leef. Daarom moet Christene die staat ondersteun om dit moontlik te maak. As die staat dit nie meer doen nie, moet die Christene met die wapens van hulle woorde die staat oproep om hulle plig na te kom.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God se gesondheidsplan (Sonde en sondebelydenis)

God se gesondheidsplan (Sonde en sondebelydenis)

Niemand van ons is perfek nie. Ons het almal ons foute en maak God soms maar ongelukkig. Maar die Here ken ons darem ook en weet ons maak foute. Dit is daarom dat Hy ʼn gesondheidsplan vir ons uitgewerk het.

Ons moet weet dat as ons God se kinders is, ons nie ophou om sy kinders te wees as ons foute maak nie. Ons bly sy kinders, al is ons soms maar net sy stout kinders. God wil egter nie hê dat ons stout moet bly nie. Nee, Hy wil hê dat ons verhouding met Hom sterk en mooi moet wees. Daarom vra Hy dat as ons iets verkeerd doen, ons dit nie moet los nie. Dan word dit soos ʼn bakterie wat in ʼn vrug is. As jy dit los maak dit vinnig die hele vrug vrot. Nee, jy moet so gou as moontlik van daai fout voor die Here ontslae kom raak. Jy moet dit met Hom kom uitpraat. Hy wag vir jou om dit te doen. Op die manier kan jy geestelik gesond bly, want as die “sonde bakterieë” nie kans kry om in jou te groei nie, sal jy ook nie geestelik siek word nie. Bely dus ʼn sonde so gou as moontlik. Dit sal jou gesond hou.

 

Maar wat beteken dit om sonde te bely? Dit behels drie dinge (lees ook 1 Johannes 1:8-10):

  • Jy moet erken dat jy ʼn fout gemaak het. Sondebelydenis is dus baie spesifiek. Jy bely nie maar net so in die algemeen nie. Jy wys die “sonde-bakterie” in jou lewe uit, want dit is spesifiek daarvan dat jy ontslae moet raak. As dit oneerlikheid is, dan wys jy dit uit; as dit humeurigheid is, of skinder, of vloek of wat ook al, jy wys dit uit en erken dat jy daar gefouteer het. Sondebelydenis is dus baie spesifiek.
  • Die tweede ding is dat jy in jou hart en verstand daarvan ontslae moet raak. Dit is baie keer die moeilikste, want jy moet vir die ding wat jy verkeerd doen totsiens sê, vir altyd. Jy moet vir die Here sê jy wil dit nooit weer doen nie en vir Hom vra om jou daarmee te help. Jy moet dus finaal daarvan afskeid neem.
  • Die derde ding is om net weer vir die Here te sê dat jy Hom en Hom alleen graag wil dien. Jy soek nie iemand anders om te dien nie, nie eers jouself nie. Daarom wil jy aan Hom gehoorsaam wees. Wy jouself so aan die Here toe en vra Hom om elke dag, nee, elke tree saam met jou te wees. En as die sonde jou weer bekruip, hou Jesus se hand styf vas en daai sonde sal nie ʼn kans hê nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Mense wat God ongelukkig maak (Sondaars)

Mense wat God ongelukkig maak (Sondaars)

Sondaars is mense wat nie doen wat God wil nie. Hulle maak God ongelukkig. Die woord sondaars beskryf iemand se status en posisie as ʼn mens wat nie leef soos God dit wil hê nie omdat hy of sy nie aan God behoort nie. Dit is wie die persoon is… ʼn sondaar.

Christene dra nie meer die titel van “sondaars” nie, al doen hulle nou en dan nog sonde. Nee, God het elkeen wat in Hom glo sy KIND gemaak. Christene is koningskinders, geredde mense wat God se erfgename geword het. Om dus ʼn kind van God ʼn sondaar te noem is so goed as om ʼn multimiljoenêr ʼn boemelaar te noem. Dit pas net nie. Daarom praat die Nuwe Testament ook nie van Christene as sondaars nie. Nee, hulle dra ʼn ander status; hulle is God se kinders.

Dit beteken nou nie dat Christene nie ook soms sonde doen nie. Maar dit maak nie van hulle skielik sondaars en nie meer kinders van God nie. As jy ʼn fout maak, hou jy nie skielik op om jou ouers se kind te wees nie. Net so hou ʼn Christen nie skielik op om God se kind te wees as hy of sy sonde doen nie. Wat wel moet gebeur, is dat jy daardie sonde voor God moet regstel. Jy moet om verskoning gaan vra.

Moet jouself nie iets maak wat jy nie is nie. As jy aan God behoort is jou status voor Hom nie die van ʼn sondaar nie, maar van ʼn koningskind. Leef so!

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy