God wil hê dat ons moet weet wat ons moet weet (Onderrig)

God wil hê dat ons moet weet wat ons moet weet (Onderrig)

G’n mens weet sommer alles van God af nie. Hoe moet ons nou weet wat is sonde en wat nie? Wat moet ons doen om God gelukkig te maak en te dien? En as ons as gelowiges bymekaar kom, wat word van ons verwag? Wat is liefde en geloof en uitverkiesing en sulke dinge?

Die goed weet ons nie sommer maar net nie. Ons kan dit ook nie sommer uitdink nie. Ons moet dit leer. Daarom was dit vir die Here van die begin af belangrik dat daar “leraars” of geestelike onderwysers in sy gemeente moet wees. Mense moet weet wat aangaan en daar moet mense wees wat dit vir hulle leer. En die Bybel moet die bron van kennis wees. Daar openbaar God immers vir ons wat ons moet weet. Daarom moet ons die Bybel al hoe beter leer ken.

Daar is verskillende maniere waarop ons as gelowiges moet leer wat God van ons verwag. Die predikante se preke moet ons help om alles beter te verstaan. Dit is waarom ons vir ʼn uur stilsit en luister. Ons moet daar leer wat die Here vir ons wil leer. Dan is daar ander maniere van leer soos kategese of Bybelstudie.

Die belangrike punt is dat die Here nie wil hê dat enige van sy kinders moet sê: “Ek het nie geweet nie”. Ons moet sorg dat ons weet wat die Here wil hê en daarvoor is daar mense in die gemeente wat ons kan help. Miskien, as jy moeite doen en uiteindelik die boodskap van die Bybel goed leer ken, sou jy ook iemand kon word wat weer ander help om meer van die Bybel te leer.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die wonderlikste dinge wag vir ons in die hemel (die Nuwe Jerusalem)

Die wonderlikste dinge wag vir ons in die hemel (die Nuwe Jerusalem)

Baie keer as mense praat van wat vir ons wag as die Here weer terugkom en ons kom haal, dan praat hulle van die Nuwe Jerusalem. Dit is natuurlik ʼn beeld wat ons in Openbaring 21 kry. Daar word vertel dat na die laaste oordeel God by en tussen sy mense sal kom bly. Dit is wat die hemel eintlik gaan wees: God wat direk saam met elkeen van ons gaan wees.

Maar hoe moet ʼn gewone mens hom dit voorstel? Hoe gaan dit wees? Die skrywer van Openbaring sê dit gaan soos ʼn stad van goud en pêrels en allerhande edelgesteentes wees met die mooiste tuine en ʼn pragtige rivier. Wat die skrywer gedoen het, is om al die mooiste dinge waaraan hy kon dink bymekaar te sit en te sê: so gaan dit wees. Die mense van destyds was maar arm (tot 80% van hulle het nie genoeg kos gehad om te eet nie). Om te hoor dat hulle in ʼn stad van goud gaan bly met kos wat nooit gaan opraak nie en God wat self hulle trane vir hulle afdroog, was vir hulle onvoorstelbaar wonderlik. Wonderliker kon dit nie!

Met ander woorde: hoe gaan dit eendag in die hemel wees? Onvoorstelbaar wonderlik, soos ʼn nuwe Jerusalem. Wonderliker kan dit nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Om in niks te glo nie (Nihilisme)

Om in niks te glo nie (Nihilisme)

Daar is mense wat hulle neus optrek vir hierdie lewe. Hulle ontken dat daar ʼn God, of enige groter mag is, dat daar enige werklike sin in die lewe is, dat daar nie regtig so iets is soos “reg” of “verkeerd” nie, ook nie wat ons optrede betref nie. Daar is nie regtig waarheid en egtheid in hierdie wêreld nie en ʼn mens kan nie sê die een manier van leef is beter as ʼn ander nie. Dit hang alles maar af wat jy self uit die ou deurmekaarspul van ʼn lewe wil maak.

Die houding is presies die teenoorgestelde van wat die Bybel sê. Die Bybel sê daar is ʼn God en Hy het ons nog lief ook. Hy wil deel wees van ons lewe en wil ons lewe vir ons lekker maak. Hy het vir ons ʼn doel en sin in die lewe. Ons is nie maar net sommer hier op hierdie aarde vir niks nie. Nee, Hy het ons hier geplaas om ʼn verskil te maak. Hy het vir ons elkeen ʼn doel wat ons saam met Hom moet ontdek en najaag. Boonop is daar dinge wat reg is en ander wat verkeerd is. Dinge waarvan die Here nie hou nie, kan nie reg wees nie. Aan die ander kant is dinge waarvan die Here hou, reg. Immers, die Here het ons gemaak… en soos die firma wat jou TV gemaak het weet dat dit nie vir die TV goed is as jy dit saam met jou in die bad sit as jy bad nie (moet dit asseblief nie probeer nie!), net so weet die Here wat vir jou goed en reg is en wat nie.

As jy begin wonder oor dinge, gaan sit gerus op die skoot van God. Daar kry ʼn mens nogal baie antwoorde. As jy egter eenkant, weg van God af gaan sit en wonder, gaan jy op die ou einde maar net in jouself en jou eie tekortkominge vaskyk, soos die nihiliste.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




ʼn Ete saam met God (die Nagmaal)

ʼn Ete saam met God (die Nagmaal)

Die aand voor Jesus gekruisig is, het Hy ʼn laaste maal saam met sy dissipels geëet. Hy het hulle toe gevra om as Hy weg is, gereeld saam te eet en dan aan Hom te dink. Hy het brood gevat en dit gebreek en gesê hulle moet die brood eet; dit is soos sy liggaam wat natuurlik vir hulle aan die kruis gebreek is. Hy het toe wyn gevat en gesê hulle moet dit drink; dit is soos sy bloed wat gevloei het om op die manier vir hulle vrede met God te maak. So moet hulle dus gedurig aan Hom en wat Hy vir hulle gedoen het, bly dink.

Die brood en wyn was natuurlik goeie tekens. Brood was destyds deel van elke maaltyd. Hulle het dit gebruik as lepels om die sous uit die bakke te skep, as servette om hulle hande mee af te vee… sonder brood kon ʼn mens kwalik eet. Om dit as teken te gebruik was ideaal, want dit was altyd deel van die ete. Net so was wyn ook gewoonlik deel van etes.

Die mense saam met wie jy geëet het, het ook destyds iets van jou gesê. Jy het nie sommer enigeen uitgenooi om saam met jou te eet nie. Jy het net jou vriende genooi. ʼn Mens kon dus sien wie jou vriende is deur te kyk saam met wie jy eet. Daarom was die Fariseërs dikwels ontsteld as hulle sien die sondaars eet saam met Jesus. Maar wat hulle nie verstaan het nie, was dat die sondaars natuurlik die mense was vir wie Jesus aarde toe gekom het. Daarom is nagmaal ook net vir gelowiges, ja, vir die familie van God.

Ons hou vandag nog nagmaal – dan dink ons spesiaal terug aan wat Jesus vir ons gedoen het. Ons doen dit as gelowiges saam, omdat ons sy vriende is.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy