Daar is net een God (Monoteïsme)

Daar is net een God (Monoteïsme)

Monoteïsme is ʼn woord wat afgelei is van die Griekse woorde, mono (wat “een” beteken) en teïsme (wat “God” beteken). Dit is dus die naam wat vir godsdienste gegee word wat aan net een God glo. Die Christendom is byvoorbeeld een so ʼn godsdiens. Ons glo daar is net een God en dit is die God wat alles gemaak het.

Monoteïsme staan gewoonlik teenoor politeïsme (“poli” is weer die Griekse woord vir “baie”). Die woord politeïsme dui op godsdienste met baie verskillende gode (sien by politeïsme). In die Tien Gebooie verbied God mense baie duidelik om enige ander gode behalwe die ware God te aanbid. Enige poging om meer as een god te aanbid, word deur die ware God gesien as ʼn verwerping van Hom. Jy mag die ware God dus nie saam met ander gode aanbid nie. Jy moet Hom alleen aanbid en dien. Ja, om so in net een God te glo en Hom alleen te dien, is monoteïsme.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Iemand wat namens ons ons saak by God behartig (Middelaar)

Iemand wat namens ons ons saak by God behartig (Middelaar)

Dinge kan so verkeerd loop tussen mense dat hulle niks meer met mekaar te doen wil hê nie. Hulle wil mekaar nie sien nie, nie met mekaar praat nie. Inteendeel, as hulle bymekaar kom, spat die vonke. Op hulle eie sal hulle nooit weer kan vrede maak nie. Iemand sal hulle moet kom help. Die persoon sal tussen (in die middel van = middelaar) die twee partye moet kom staan en boodskappe heen en weer dra om te kyk of  hy die probleem kan oplos.

Sonde het daarvoor gesorg dat die verhouding tussen God en mens heeltemal skeefgeloop het. Mense het so onrein geword dat hulle nie in die rein en heilige teenwoordigheid van God kon kom nie. Daar was geen manier waarop mense weer die probleme wat hulle met hulle sonde tussen hulle en God geskep het, kon regmaak nie. Dit is waarom Iemand nodig was om in die middel van die mens en God te kom staan. Jesus het dit kom doen en was so ons middelaar. Hy het die dinge wat verkeerd geloop het tussen mense en God kom regmaak. Hy kon dit doen, want Hy was die Seun van God wat toegang gehad het tot God, iets wat sondige mense nie het nie. Tog was Hy ook mens wat verstaan het hoe mense is. So kon Hy namens mense met God praat en hoor wat gedoen moet word om alles weer reg te stel sodat mense weer God se kinders kon word. Jesus het nie net by God gehoor wat nodig was om alles weer reg te maak nie. Hy het ook die prys betaal wat nodig was. Mense wat nie na God luister nie en sy liefde in sy gesig teruggooi, verdien die dood. Jesus het daardie prys as middelaar in ons plek betaal.

As Jesus nie in die middel tussen ons en God kom staan het en ons hande weer in God se hande kom sit het nie, sou daar vir ons geen pad terug na God toe gewees het nie. Dan sou ons maar in ons sonde gesterf het.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Maagdelike geboorte

Maagdelike geboorte

Maria het as jong meisie ʼn besoek van ʼn engel van die Here gehad wat aan haar gesê het dat sy ʼn seuntjie, Jesus, gaan hê.

God sou haar deur sy Heilige Gees swanger maak. Daarom word dit die maagdelike geboorte genoem. Die gebeure was natuurlik bonatuurlik en dui op die uniekheid van Jesus. Mense wonder dikwels hoe so iets moontlik kan wees, maar as God alles wat bestaan uit niks kon skep, is ʼn maagdelike geboorte ook seker binne sy mag en vermoë. Die maagdelike geboorte wil juis sê dat Jesus spesiaal is.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Jy behoort aan God. Hy het duur vir jou betaal (Loskoping)

Jy behoort aan God. Hy het duur vir jou betaal (Loskoping)

Die Bybel gebruik gewoonlik beelde om te verduidelik wat met ons gebeur as ons byvoorbeeld gered word.

Een so ʼn beeld is “loskoping”. Slawerny was destyds baie algemeen. Om ʼn slaaf te wees beteken om nie meer jou eie baas te wees nie; ja, jou vryheid is daarmee heen, jy is die eiendom van iemand anders. Amper soos met ʼn tafel of ʼn stoel kon jou baas met jou maak wat jy wil. Daar was tog maniere waarop ʼn slaaf destyds kon vrykom, en een van die maniere was deur “loskoping”. As iemand (sê maar ʼn familielid of vriend) die slaaf se prys vir die baas teruggee, kon die slaaf vrygelaat word. Of daar was ʼn ander gebruik. Die slaaf kon self geld spaar… en raai waar? In die tempel (kerk). Die priester moes dit vir hom hou tot hy genoeg gehad het om sy koopprys vir sy baas terug te betaal. Dan was die slaaf vry!

Hierdie alledaagse beeld pas die Bybel nou op gelowiges toe. Mense is soos slawe van die sonde en die duiwel. Hulle is nie vry nie. Die prys word egter vir ons betaal – Jesus self koop ons los! Dan is ons weer heeltemal vry. Die sonde speel nie meer baas oor ons nie, want ons is nou kinders van God.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy