Is jou naam belangrik? – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

 Is dit verkeerd om jou kind Ruach te noem? Familie van my het, en die arme kind ken net pyn en lyding. Hy is meer in die hospitaal as by die huis. Sy longe is swak en nog baie ander.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Naamgewing van kinders was nog altyd ’n sensitiewe saak. Miskien nie meer vandag só soos ’n geslag of twee, drie gelede nie toe dit in sekere gemeenskappe (veral tradisioneel Afrikaner-gemeenskappe) nog baie belangrik was om die grootouers te vernoem. Vandag is daar baie groter rustigheid daaroor om nie noodwendig die grootouers pertinent te vernoem nie, veral waar dié name nogal “swaarwigtig” kan oorkom. Wat ’n mens dus deesdae aantref, is óf kombinasie-name (Susanna Maria wat Sumarie word), óf waar heeltemal wegbeweeg word van familiename in die rigting van eie skeppinge. Daar word dan geredeneer dat die kind nie belas moet word met ritse familiename wat “verleentheid” kan veroorsaak nie. Mooi-klinkende name word dan gekies, wat geen inherente betekenis dra nie, maar gewoon net lekker op die (hedendaagse) oor val. Die invloed van die rolprentindustrie en sosiale media moet in hierdie verband nie onderskat word nie. Dit skep nuwe sosiale naam-norme waaraan almal graag wil meedoen.

’n Ander weg wat dikwels opgegaan word, is om doelbewus name te gee wat een of ander betekenis dra of suggereer. In hierdie verband is vreemdtalige name, of name met ’n godsdienstige konnotasie dikwels gewild. En ek vermoed dat die naam Ruach in hierdie kategorie val. Ruach beteken “wind” of “gees” in Hebreeus, wat ook soms na die Gees van God kan verwys (vgl Genesis 1:2), en moontlik wou die ouers hiermee aandui dat hulle kind ’n draer van die (Heilige) Gees sal wees. Inderdaad is dit binne Afrikaanse konteks ’n ietwat vreemde naam, maar myns insiens nie so vreemd dat dit die oorsaak van die kind se gesondheidsprobleme kan wees nie. Laasgenoemde se oorsaak moet waarskynlik elders gesoek word.

Indien dit egter blyk dat die kind se naam tog ’n (bydraende) rede tot stres en lyding by die kind is (dit sal mens mooi moet deurpraat met die kind), sal dit myns insiens beter wees om eerder die betekenis van die naam aan hom te verduidelik sodat hy uiteindelik ’n trots daaroor kan ontwikkel. Wat veral belangrik is, is dat niemand daaroor moet stres dat die naam dalk op disrespek teenoor die Heilige Gees sou neerkom nie, veral as die ouers die naam uit godsdienstige oorwegings gekies het. Daar is geen teologiese rede waarom dit verkeerd sou wees om so ’n naam te dra nie. Inteendeel, dit moet eerder so gesien word dat die band tussen die kind en God op hierdie manier bevestig word. Die kind is nie net die ouers se kind nie, maar ook God s’n. Trouens, name met ’n godsdienstige konnotasie is baie algemeen en is in die geskiedenis dikwels aan kinders gegee. Byvoorbeeld, die groot klassieke komponis, Wolfgang Mozart, se tweede naam is Amadeus, wat “deur God geliefd” of “hy wat vir God liefhet” beteken. En so sou mens talle ander voorbeelde kon noem. Verder, Amadeus is die Latynse weergawe van die Grieks, Teofilus, met dieselfde betekenis, en dit was trouens Mozart se amptelike doopnaam. En ons weet van ten minste een persoon in die Bybel met dié naam, naamlik die persoon aan wie die boeke Lukas en Handelinge opgedra is (Lukas 1:3; Handelinge 1:1). ’n Mens bevind jou dus in goeie geselskap as jy ’n naam met ’n sterk godsdienstige konnotasie het. Op sy minste moet dit aan die kind ’n gevoel van trots gee, eerder as ’n verleentheid te wees.

Ten slotte, enersyds moet ’n mens nie te hoog opgee oor ’n naam nie, nie te veel afleidings daaruit maak nie. Na alles is dit nie die naam wat die mens maak nie, maar die mens die naam. Andersyds moet mens met groot omsigtigheid besluit op ’n naam vir jou kinders, want dit is iets wat hulle vir die res van hulle lewe met hulle saamdra. ’n Mens moet veral so kies dat dit nie net jou ideale, voorliefdes of vooropgesette idees is wat die naam bepaal nie, maar dat dit ook iets sal wees waarmee jou kind gemaklik sal kan saamlewe.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

 




Die Here sê vir my Here – Jan van der Watt

Vraag

‘n Leser vra

Waar in die Bybel staan die woorde: As die Here dan vir my Here gesê het…..

Antwoord
Prof Jan van der Watt antwoord:

Ps 110:1; Mat 22:44; Mk 12:36; Dit is dus ‘n Nuwe Testament aanhaling uit die Ou Testament

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Naam in Bybel – Francois Malan

Vraag

‘n Leser vra:

Iewers is n persoon in die Bybel ‘n naam gegee wat beteken “Ek het jou van God Gebid”

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Lees die hele 1 Samuel 1 vir die agtergrond van 1 Samuel 1:20: Hanna het haar seun Samuel genoem, ‘want,’ het sy gesê: ‘van die HERE het ek hom gevra.’ Die naam Samuel is in Hebreeus ’n samestelling van twee woorde: sjama ‘hoor’ en ‘verhoor;’ ‘el ‘God.’ Samuel ‘verhoorde van God’ wat beteken ‘deur goddelike verhoring geskenk.’

Skrywer:  Prof Francois Malan




Twee kinder die name van plunder en roof – Francois Malan

Vraag

‘n Leser vra

Waar staan dit dat twee kinder die name wat plunder en roof moet wees

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord

Die 2020-vertaling van die Afrikaanse Bybel is nader aan die oorspronklike Hebreeuse teks en word hier gevolg.

In Jesaja 8:3-4 staan dat Jesaja by die profetes ingegaan het en sy het swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring. Toe het die HERE vir my gesê: Noem hom ‘Vinnig-buit-spoedig-roof’ in Hebreeus maher-sjalal-gasj-baz. Want voor die seun weet om te sê: ‘Pa!’ en ‘Ma!’ sal hulle die rykdom van Damaskus en die buit van Samaria voor die koning van Assirië uitdra..

Dit volg op Jesaja 7. Damaskus, die hoofstad van Sirië, en Samaria, die hoofstad van Israel se tien noordelike stamme, het ’n verbond gesluit om Juda se gebied in te val en oor te neem, waar Agas koning van Juda in Jerusalem regeer het. Agas het toe vir Assirië ’n klomp goud gestuur wat hy van die tempel en die paleis gestroop het, om hom te kom help teen sy twee bure wat besig was om Juda se gebied oor te neem.

Die HERE het vir Jesaja gestuur om vir Agas te sê die HERE sal hom help en hy kan ’n teken vra om dit te bevestig. Maar Agas het klaar sy hoop op Assirië geplaas en gesê hy gaan nie die HERE versoek nie. Toe gee Jesaja aan Agas ’n teken van die HERE: 7:14 en 16: Kyk, ’n jong vrou is swanger, en gaan ’n seun in die wêreld bring. Sy sal hom Immanuel (‘God is by ons’) noem…voordat die kind weet om die kwaad te verwerp en die goeie te kies, sal die grondgebied van die twee konings oor wie jy verskrik is, verlate lê.

Jesaja het toe reeds by sy jong vrou ingegaan, wat swanger geword het en die seun in die wêreld gebring het. Die HERE het toe gesê hy moet die seun ‘Vinnig-buit-spoedig-roof’ noem. Dit is wat met Damaskus en Samaria gebeur het toe Salmaneser van Assirië hulle beleër het en Israel se tien stamme na Assirië in ballingskap weggevoer het (2 Konings 18:9-12). Dit het gebeur omdat die HERE by Juda was (Immanuel).

Die Griekse vertaling het die Hebreeuse ‘jong vrou’ (‘alamah) met ‘maagd’ (parthênos) vertaal en Matteus 1:23 het die Griekse vertaling se maagd op Maria toegepas oor die geboorte van Jesus as God met ons, ‘Immanuel.’

Skrywer: Prof Francois Malan