Die Handelinge van die Apostels: Heidene ontvang die Heilige Gees (Hand 10:44-48) – Francois Malan

10:44 Terwyl Petrus nog aan die praat was oor hierdie gebeure (rhêmata), oor die lewensloop van Jesus, het die Heilige Gees skielik neergedaal (epipíptō) op almal wat na die evangelie (lógos), die goeie boodskap oor Jesus, geluister het. God die Heilige Gees, wat al lank besig is om te werk in die harte van hierdie godvresende heidene, neem sigbaar besit van hulle lewens. Hulle word deur die Heilige Gees oortuig van die goeie boodskap oor Jesus wat gekruisig is en op die derde dag uit die dood opgewek is en deur God aangewys is as die goddelike Regter en Verlosser van lewendes en dooies (10:38-42; vgl. Joh 16:8). Toe hulle die Ou Testamentiese profesieë hoor dat elkeen wat in Hom glo, deur sy Naam vergewing van sondes ontvang, het God aan hulle geloof in Jesus en vergewing van hulle sondes geskenk (vgl. Ef 2:8 ‘Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God’). Soos op die Pinksterdag geskied hier die wonder van God, dat Hy in hierdie godvresendes uit die heidendom, harde Romeinse soldate van die Italiaanse garnisoen en hulle gesinne en vriende kom woon (vgl. Joh 14:1-17,23). Op die Pinksterdag was daar reeds vroom Jode en proseliete uit Rome wat die geluid van die koms van die Heilige Gees gehoor het, van wie sommige die boodskap aangeneem het (Hand 2:2,6,10-11,41). Hier vestig die Here sy kerk se sending na die heidene, soos Hy reeds met die man uit Afrika (Hand 8:27) en onder die Samaritane begin het (Hand 8:5). Petrus en sy metgeselle is die getuies van wat hier gebeur. Die eeue-oue afsondering van Israel is deur God beëindig.

10:45 Die Joodse gelowiges (letterlik: die gelowiges uit die besnydenis) wat saam met Petrus van Joppe af gekom het (Hand 10:23) was oorstelp verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgegiet is. Die perfektum passiewe werkwoord veronderstel dat die Gees deur God op hulle uitgegiet is om by en in hulle te bly (vgl. Joh 14:16-17). Die Jode was oortuig dat die verbond wat God by Sinai met Israel gesluit het, eksklusief met hulle alleen gesluit is, vgl. bv. Eksodus 12:43-45. In die tempel was daar ’n aparte voorhof vir die heidene waar o.a. besigheid gedoen is (Luk 19:45-46). Ook Jode wat Christene geword het, het aan die begin nie gedink dat die evangelie ook vir heidene bedoel is nie; dit ten spyte van aanduidings deur Jesus se woorde en optrede. Jesus het bv. verwys na die lang hongersnood in Israel toe slegs die weduwee van Sarfat saam met Elia gevoed is en na die baie melaatses in Israel maar slegs Naäman die Siriër se melaatsheid is genees. Toe wou die mense van Nasaret vir Jesus by die berg afgooi (Luk 4:25-29). Daarby het hy die soldaat van Kapernaum se slaaf genees (Luk 7:9-10). In die gelykenis waarmee Hy die wet verduidelik het, gebruik Jesus ’n Samaritaan wat hom oor die man wat deur rowers oorval is, ontferm het (Luk 10:25-37). Nineve het tot bekering gekom na Jona se prediking en die koningin van Skeba het gekom om Salomo se wysheid aan te hoor (Luk 11:31-32). Die Samaritaanse melaatse is die enigste van die tien wat genees is, wat die Here kom dank het (Luk 17:18). Met hierdie uitstorting van die Heilige Gees op die heidene word die Joodse Christene egter saam met Petrus uit die hemel wakker geskud en word hulle getuies dat God anders besluit het as wat hulle ooit kon dink.  

10:46 Die Joodse gelowiges kon hoor hoe die heidene God loof in verskillende tale (glossa verwys na verstaanbare tale, ekstatiese spreke en tonge). Sommige verklaarders meen dat hier sprake is van die onverstaanbare tale waarvan in 1 Korinthiërs 14:2 sê dat hulle moet stilbly as daar nie ’n verklaarder daarvoor in die samekoms is nie. Hier word, soos op die Pinksterdag (Hand 2:11) in tale gepraat wat verstaanbaar God geloof het. Dit beteken dat die groep wat in Kornelius se huis byeen was, in verskillende verstaanbare tale, soos bv. Latyn en Grieks en Aramees God geloof het. Toe Petrus hom later voor die gemeente in Jerusalem moes verdedig, het hy gesê: ‘die Heilige Gees het op hulle neergedaal net soos aanvanklik ook op ons (Hand 11:15). ‘Hulle het God groot gemaak’ (megalúnō) beteken hulle het God geloof oor die groot verlossing wat Jesus vir hulle bewerk het (vgl. Hand 2:11). Dit kon die Joodse gelowiges duidelik hoor uit die verskillende tale, wat eintlik ’n aanduiding was dat die Here wil hê die evangelie moet na verskillende wêrelddele uitgedra word om sy opdrag in Hand 1:8 uit te voer.

10:47 Petrus se antwoord op die uitstorting van die Heilige Gees op die groep mense in Kornelius se huis is ’n retoriese vraag wat volgens die Griekse taalgebruik (ingelei met mêti) slegs uitdruklik negatief beantwoord kan word: ‘kan enigiemand die water verbied dat hierdie (mense) nie gedoop word nie, hulle wat die Heilige Gees ontvang het net soos ons?’ Die waterdoop kan tog nie weerhou word van mense wat die Geestesdoop uit die hemel ontvang het nie! Die Here van die kerk het hulle reeds aangeneem, daarom kan sy kerk nie weier om hulle met die doop in die Naam van die Here Jesus in sy gemeente op te neem nie.

10:48 In opdrag van Petrus doop die manne, wat saam met hom uit die buurgemeente in Joppe gekom het of miskien selfs van die Joodse gemeentelede van Sesarea, hierdie mense wat reeds die Heilige Gees ontvang het as die uiterlike teken dat hulle deur die Here en sy gemeente in sy kerk opgeneem is. Hulle word gedoop in die Naam van Jesus Christus, dus namens Jesus en in die volle betekenis van sy Naam, wat Hom met al sy woorde en werke insluit (vgl. Rom 6:3-11).

Die nuwe lidmate vra Petrus om nog ’n paar dae aan te bly, soos die Samaritane van Sigar by Jesus aangedring het om by hulle te bly en baie meer van hulle tot geloof in Jesus gekom het (Joh 4:40-42). Deur by hulle te bly het Petrus bewys dat hulle as volle lidmate van die Christelike gemeenskap (as rein) aanvaar is, en dat Jode en nie-Jode met mekaar in gemeenskap kan lewe (vgl. ook Hand 16:15).

10:1-48 Lukas het die bekering van Kornelius uitvoerig behandel. Dit gaan in hoofstuk 11 voort en Petrus verwys weer daarna in hoofstuk 15. Dit was noodsaaklik omdat hier een van die belangrike aspekte van Jesus se sendingwerk deur sy kerk beskryf word. Dit gaan om die evangelie wat na die heidene gebring moet word, wat as die wil van God bevestig is deur die uitstorting van die Heilige Gees op die bekeerlinge uit die heidendom. Die beskrywing van die Here se sending na die heidene gaan veral deur Paulus voortgesit word onder leiding van die Heilige Gees.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Petrus se rede (Hand 10:34-43) – Francois Malan

Petrus se rede volg dieselfde orde as sy toespraak op die Pinksterdag (Hand 2): verse 34-35 skets die spesifieke omstandighede; 36-41 gee die hoofpunte van Jesus se bediening, en van sy dood en opstanding; 43a ’n Skrifbewys; 42-43b ’n oproep tot bekering.

10:34-35 Petrus se toespraak begin met ’n aanhaling uit Deuteronomium 10:17 ‘..die Here is die groot God wat vir niemand partydig is nie;’ vgl. 1 Samuel 16:7 Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike; 2 Kronieke 19:7 By die Here ons God is daar geen bevoordeling nie. Later sou Petrus self skryf  ‘ons Vader oordeel onpartydig volgens die optrede van elkeen (1 Petr 1:17; vgl  Gal 2:6 God slaan nie ag op die aansien wat ’n mens het nie; Rom 2:11 God beoordeel niemand volgens sy uiterlike nie; Ef 6:9; Kol 3:25; en Jak 2:9 waarsku: ‘as julle mense volgens hulle uiterlike oordeel doen julle sonde…as oortreders van die wet’). Nou begin Petrus eers reg verstaan wat die ou Skrifwoorde wat hy ken, werklik beteken. Vanuit die Skrif begin hy verstaan wat die Here deur sy visioen wou sê. Die Ou Testamentiese gelowiges het die wet slegs op Jode toegepas en gedink die Here maak wel onderskeid tussen rein en onrein diere, en Jode en nie-Jode, wat hulle heidene noem.

Petrus het toe begin praat (letterlik: ‘sy mond oopgemaak en gepraat’ ’n Semitiese idioom): ‘Waarlik, ek is besig om te ontdek dat God niemand voortrek nie, maar in elke nasie is dié een wat vir Hom ontsag het en doen wat volgens God reg is (dikaiosunê in die regte verhouding tot God lewe), vir Hom aanvaarbaar.’ God het nie witbroodjies nie, maar behandel alle mense op dieselfde grondslag (letterlik, God neem niemand se gesig aan nie, prosōpolêmptês, ’n Semitiese idioom). Jesus het juis gekom vir elkeen wat in Hom glo, wat glo dat Jesus God is wat vir sy sonde gesterf het om saam met Hom op te staan uit die sonde tot ’n lewe as kind van God saam met die Seun van God (vgl. Rom 6:11).

10:36-38 Die hoofwerkwoord van verse 36-38 is in die oorspronklike ‘Julle weet’ of: ‘Julle moet weet’  in vers 37.  Vers 36 bou op na ‘julle moet weet’ en vers 38 volg op die hoofwerkwoord. Dit gaan in hierdie gedeelte juis oor dinge wat hulle nog nie weet nie.

10:36 (Julle moet weet van) die woord/boodskap wat Hy aan Israel (die kinders van Israel) gestuur het toe Hy die evangelie van vrede deur Jesus Christus verkondig het (Ef 2:17): ‘Hy (Jesus) is die Here van almal (alle volke)/alles’ – wat oor alles en almal regeer in die koninkryk van God (vgl. Matt 11:27; 28:18; 1 Kor 15:27). Die boodskap van vrede wat aan die kom is, wat 500 jaar tevore reeds deur Jesaja aangekondig is (Jes 52:7), waarvan die godvresendes kennis geneem het, is nou deur Jesus Christus vervul. Hy bring vrede tussen God en dié mense in wie God ’n welbehae het,  en vrede tussen mense (Luk 2:13-14).

10:37 ‘Julle moet weet wat dwarsdeur Judea gebeur het, wat in Galilea begin het na die doop wat Johannes verkondig het…’ Nadat Johannes vir Jesus gedoop het, het Hy in Galilea begin preek (Luk 4:14-15). Hy sou vertel van die Heilige Gees wat op Jesus neergedaal het en van die stem uit die hemel (Lukas 3:21-22), ook van wat Jesus verkondig het o.a. in die veldrede (Lukas 6:17-49) en hoe Jesus hulle leer bid het (Lukas 11:1-13). 

18:38 (Julle moet weet) hoe God Jesus van Nasaret (met sy doop) met die krag van die Heilige Gees gesalf het (Jes 61:1; Luk 4:18), hoe Hy (die land) deurreis het, goed gedoen het (die dienende ‘weldoener’ van Luk 22:25-27 euergétês) en almal wat deur die duiwel verdruk is, genees het (Luk 11:20; 13:16;  1 Joh 3:8; as Verlosser, Luk 1:68-69; 2:11) omdat God met Hom was (Hand 2:22; Joh 3:2; maar dit op ’n unieke manier, want Hy is God met ons, Immanuel, Matt 1:23).

10:39 ‘Ons’ verwys na Petrus en sy metgeselle, maar ook na die apostels en ander volgelinge van Jesus. Hulle wat saam met Jesus was tydens sy bediening, oor wie die Heilige Gees gekom het, is die oog- en oor-getuies van Jesus en alles wat Hy gesê en gedoen het in die Joodse land (Hand 1:8,21-22). Die einddoel van sy bediening was wat in Jerusalem op Hom wag (vgl. Lukas 9:53). ‘Hulle’ verwys na die Jode en veral na hulle hoogste Raad in Jerusalem. Hulle het Hom doodgemaak (anairêō doodmaak om van Hom ontslae te raak) deur Hom aan ’n kruishout op te hang. Deutr 21:22-23 sê: wie aan ’n paal opgehang word, is deur God vervloek. Galasiërs 3:13: Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet toe Hy vir ons vervloek is, want daar staan geskryf: ‘Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang.’  Die verhoging aan ’n kruis sê eintlik jy het nie meer plek op aarde nie en die hemel wil jou ook nie hê nie. Maar dit is juis die plek waar God, wat ons mensheid aangeneem het, moes sterf vir die mensdom se sonde teen God om hemel en aarde te versoen. 

10:40  Voorop in die Griekse sin staan ‘vir Hom’ om die kontras te beklemtoon wat God met Jesus gedoen het teenoor wat die mense met Hom gemaak het. Hulle het gedink Hy is deur God vervloek omdat hulle Hom gekruisig het, waar Hy tussen hemel en aarde gehang het, maar God het sy liefdesoffer aangeneem deur Hom op die derde dag uit die dood op te wek en gegee het dat Hy sigbaar word. Sy verskynings aan die apostels en gelowiges na sy opstanding (vgl. Hand 1:3; 1 Kor 15:5-8) is die sigbare bewyse dat sy offer vir ons sonde deur God aangeneem is (Hebr 10:10).

10:41  Jesus se verskynings was nie aan die hele Joodse volk nie, maar aan getuies wat reeds vooraf deur God aangewys is (procheirontonéō – pro vooraf, cheir hand, teínō uitsteek; vgl Hand 1:2 eklégomai uitsoek). Dit is dié mense wat saam met die opgestane Jesus geëet en gedrink het as die ware oog-en oor-getuies van sy opstanding. Die saam eet en drink met Jesus verwys na die feesmale wat die opgestane Jesus met sy gemeente gehad het, saam met die Emmausgangers nadat Hy vir hulle die Skrif uitgelê het oor sy dood en opstanding (Luk 24:30-31) en nog dieselfde Sondagaand met die elf apostels en die mense saam met hulle (Luk 24:33,41-43). Johannes 21:12 vertel van die ete op die strand van die see van Galilea na die groot visvangs van 153 visse.

Die oorvloed visse wys ook na ’n toekomstige oorvloedige lewe van vreugde. By die instelling van die nagmaal tydens die Paasmaal die aand voor sy sterwe, het Jesus in Lukas 22:16 verwys na die toekomstige messiaanse maaltyd saam met sy volgelinge: ‘Ek sal die Pasga beslis nie weer eet totdat dit vervul is in die koninkryk van God nie’ (vgl ook Lukas 13:29: aanlê aan die tafel in die koninkryk van God; 14:15 deelneem aan die maaltyd in die koninkryk van God). Openbaring 19:6-9 verwys na die ewige lewe saam met Jesus as die bruilofsfees van die Lam.

 10:42 Jesus het aan sy dissipels die opdrag gegee om aan die volk in die openbaar aan te kondig (kêrússō om as herout aan te kondig, te preek) en kragtig te getuig (diamartúromai op grond van persoonlike kennis kragtig te getuig) dat dit Hy, Jesus, is wat deur God aangewys is as Regter oor lewendes en dooies. Die woord volk (laós) verwys hier na die gewone mense teenoor die leiers. Sedert Jesus se hemelvaart is Hy aan die regterhand van God as Regter, soos Stefanus Hom gesien het (Hand 7:56) en Jesus die Joodse Raad gewaarsku het (Luk 22:69), deur Daniël 7:14 en Mattheus 25:31-46 voorspel is en deur Openbaring 5:5 bevestig is (vgl. 2 Tim 4:8 die regverdige Regter). Lewendes en dooies verwys na die hele mensdom, na dié wat nog sal lewe by die wederkoms en almal wat reeds gesterf het (vgl. 1 Thes 4:15-17).   

10:37-42 is ’n kort lewenskets van Jesus om daarmee die praktiese betekenis van Jesus se lewe, sterwe, opstanding en hemelvaart vir elke gelowige te beklemtoon. Dit is ook ’n opsomming van die tipiese prediking aan die heidene om Jesus aan hulle bekend te stel, soos vers 42 uitgespel het.

10:43 Al die profete wie se woorde in die Bybel opgeteken is, getuig eintlik oor Jesus en dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes ontvang. Op die woord oor die Regter in vers 42, volg die woord oor vergewing van sondes deur sy Naam in vers 43. Dit is reeds vervat in Jesus se opdrag in Lukas 24:47. Die vergifnis van sonde word aan geloof in Jesus en sy Naam verbind. Sy Naam sluit sy hele bediening en lewenswyse in, vandaar die kort geskiedenis van sy lewe in die vorige verse. Dit is bedoel vir elke mens wat glo (vs 43) uit elke volk (vs 35), ’n universele uitnodiging. Die Regter oor almal is ook die Redder vir almal wat in Hom glo. Vir hierdie slot van Petrus se preek word, naas die apostels, al die profete as getuies gestel. Soos Petrus se rede met ’n aanhaling uit die Skrif begin het (vers 34 met ’n Skrifverwysing uit Deuteronomium), sluit dit af met ’n verwysing na die Skrifprofete. Vir die profete se verwysing na vergewing van sonde, vgl. bv. Jes 33:24 ‘die sonde van die volk wat in Sion woon, is vergewe;’ Jer 31:34 ‘Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie;’ Dan 9:24 ‘In dié tyd sal daar aan die goddeloosheid en sondes ’n einde gemaak word en sal daar versoening gedoen word vir die oortredings;’ en dan in die besonder Jesaja 53, Ps 103, ens. Dat dit universeel vir almal is, vgl. bv. Jes 53:6 ‘die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.’ Jes 53:11 ‘My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra.’ Joël 2:32 ‘Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.’

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Petrus in Kornelius se huis (Hand 10:17-33) – Francois Malan

10:17  Petrus is nog in homself verward was oor wat die visioen wat hy gesien het tog kon verteenwoordig – oor wat die Here aan hom deur die gesig wou sê. Die geweldige groot opset van die gesig beteken dat die Here se woorde oor wat rein en onrein is, iets vir hom wou sê wat vir die Here van besondere groot betekenis is. Kyk! (let op wat die betekenis is van wat nou gebeur) die manne wat deur Kornelius gestuur is, staan op daardie oomblik voor die deur van die leerlooier se huis, nadat hulle in Joppe daaroor rondgevra het.. Op die oomblik toe Petrus begin wonder oor die betekenis van die Here se woorde aan hom, antwoord die Here met die aankoms van die drie manne. Dit is ’n duidelik aanduiding dat die visioen met hulle koms te doen het.

10:18 Kornelius se manne roep toe hardop (fōneō) en vra of Simon wat Petrus genoem word as gas hier tuisgaan, soos die engel die opdrag aan Kornelius gegee het (Hand 10:5-6).  

10:19 Petrus hoor nie dat sy naam geroep word nie, omdat hy in twyfel (v17) nog baie ernstig nadink (dienthuméomai) oor die betekenis van die visioen, maar die Heilige Gees sê vir hom: Luister! daar is drie manne (by die deur) wat jou soek (sommige manuskripte het 2 manne, teenoor Hand 11:11 se drie). So bring die Here die twee partye bymekaar, deur die manne wat eers moes rondvra waar Petrus bly en toe op die regte oomblik by die huis aankom, en die Heilige Gees wat Petrus uit sy bepeinsing wegruk na die roepende manne. Dié aanwysing deur die Heilige Gees oor die drie manne moes vir Petrus help om die betekenis van die visioen te verstaan.

10:20 Die Heilige Gees neem met die opdrag eers Petrus se twyfel weg oor die visioen en oor Kornelius se boodskappers. Sonder verdere navrae of oorweging (mē diakrinómenos) word gesê wat hy moet doen: ‘staan op, gaan af en gaan saam met hulle sonder om te aarsel, want Ek het hulle gestuur.’ In 10:3 is dit ’n engel/boodskapper van God wat met Kornelius praat. In verse 13 en 15 is dit ’n stem vir wie Petrus in vers 14 ‘Here’ noem, wat met Petrus praat. Hier is dit die Gees wat met Petrus praat, en die Gees sê oor vers 3 se engelboodskap, ‘Ek het hulle gestuur.’ ‘Ek’ staan met klem voorop in hierdie sin. Die engel verteenwoordig die Mag van God en die Gees die Persoon van God, self God.

10:21 Petrus gehoorsaam die opdrag van die Gees dadelik. Blykbaar het niemand nog die Romeine ingenooi nie. Petrus stel homself aan hulle bekend as die man wat hulle soek, soos die Gees aan hom gesê het (v19). Hy vra: ‘Waarom is julle hier?’  (Die jonger Westerse teks voeg hier in ‘wat wil julle hê, of..’).

10:22 Die mans vertel van Kornelius se vroomheid, sy reputasie onder die Jode, en van die engel van die Here se verskyning en opdrag aan hom (10:3) om vir Petrus te laat haal sodat hulle na hom kan luister. Daaruit kon Petrus duidelik aflei wat die betekenis is van die visioen wat hy gesien het. Die vryheid van die Joodse wet van rein en onrein, wat die Here van Petrus vra, is om na die heidense hoofman toe te gaan om aan hom die evangelie te bring.

10:23 Dat Petrus die nie-Joodse manne innooi en as gaste die nag by hom laat oorbly, is reeds ’n aanduiding van sy gehoorsaamheid om die nuwe weg van Jesus na die heidene te volg. Die Jode het nie met Jesus se verhoor saam met Jesus in Pilatus se ampswoning ingegaan nie, omdat hulle nie onrein wou word nie (Joh 18:28). Nou volg Petrus Jesus se voorbeeld deur die ontvangs van heidene in die huis en gaan saam met hulle na ’n heidense huis. Daaroor is hy later deur die gemeente in Jerusalem verkwalik (11:3) en het hy nog later uit vrees vir hulle, hom aan die tafelgemeenskap met die Christene uit die heidendom onttrek (Gal 2:12).

Die volgende dag gaan hy saam met die mans en neem saam met hom ses van die Joodse Christene in Joppe, as getuies van die evangelie wat hy gaan verkondig (vgl. 10:37,39). Later is hulle ook Petrus se getuies van wat die Here gedoen het onder die nie-Jode (vgl. 10:45 en 11:12).

10:24 Hulle het blykbaar langs die pad van Joppe af oornag en die volgende dag in Sesarea aangekom, die vierde dag vandat hulle uit Sesarea vertrek het (10:30). Kornelius was hulle te wagte en het ’n groot groep mense bymekaar gemaak in afwagting van die belangrike boodskap wat die engel van God tydens sy aandgebed in ’n visioen aan hom aangekondig het. Hy het familielede en intieme vriende genooi, wat waarskynlik saam met hom ‘godvresendes’ was, om saam met hom en sy hele huisgesin na die boodskap van God te kom luister (10:2; 11:14). [Een Griekse manuskrip uit die 6e eeu en ’n Latynse manuskrip uit die 8e eeu skilder heeltemal ‘n ander prentjie om Kornelius se gereedheid te verklaar, met een slaaf wat vooruit gaan om Kornelius te waarsku van Petrus se koms]

10:25 Onseker oor hoe hy Petrus moet ontvang het Kornelius voor Petrus se voete neergeval en hom begin aanbid soos aan ’n hemelse wese. Kornelius het as heiden grootgeword wat hulle konings as halfgode of gode vereer het (vgl. Hand 12:22; 14:11-13,18; 28:6).

10:26 Petrus help hom op en wys sy verering af met die versekering:  ‘ek is self ook net ’n mens.’ Petrus ’n monoteïstiese Jood, wat grootgeword het met die daaglikse belydenis ‘die Here is ons God, Hy is die enigste Here’ (vgl. Deutr 6:4-9), sou geskrik het om as goddelik vereer te word, en het die eer wat Kornelius aan hom wou betoon streng afgewys met sy belydenis dat hy ’n blote mens soos Kornelius is. Hulle twee staan saam as mense voor God, hulle Skepper, wat aan albei van hulle ’n opdrag gegee het wat hulle hier bymekaargebring het.

10:27 Terwyl hy in gesprek (sunomiléō) met Kornelius instap tref hy die baie mense aan wat daar vergader het. Die versameling nie-Jode kom as ’n verrassing vir Petrus. Dit is ’n groot sendingveld wat die Here in die Romeinse hoofman se huis versamel het (vgl. Joh 4:35-38; Jes 55:5).

10:28 Petrus sê vir sy gehoor (en Lukas vir al sy lesers) dat hulle bewus daarvan is dat dit vir ’n Jood, volgens sy godsdienstige reëls en tradisies, onwettig is (athémitos) om met iemand van ’n ander volk om te gaan of om omgang te soek (vgl. Joh 4:9; die rabbi’s het die volk geleer dat heidene en hulle huise onrein is, vgl. Hand 11:3). God het egter aan hom getoon dat hy niemand besoedel of onrein mag noem nie, geen mens nie! ‘Mens’ staan beklemtoon laaste in die Griekse sin. In vers 26 het Petrus homself ook as ’n blote mens bestempel, wat hom nie bo ander mense mag verhef nie of hulle verering mag aanneem nie. Voor God is almal slegs mense, wat Hy gemaak het om Hom te loof en te dien! (Ps 139:14-18). 

10:29 Dat Petrus deur die Goddelike aanwysing die uitnodiging sonder beswaar aangeneem het, word deur Lukas vir die lesers ingeskerp. Daarom word die volgende uiteensetting so breedvoerig opgeteken. Waarom Kornelius die apostel laat haal het word vir Petrus al duideliker uit Kornelius se vertelling van sy ondervinding, vir die lesers is dit ’n tweede herhaling van 10:3-6,22 om dit in te skerp.

10:30 ’n ‘Engel van God’ in 10:3, word ’n ‘heilige engel’ in 10:22, en hier ’n ‘man in stralende gewaad’ (vgl. Hand 1:10 ‘twee mans in wit klere;’ Luk 9:30-31 ‘twee manne in hemelse glans;’ Luk 24:4 ‘twee mans met glansende klere;’ vgl. Matt 24:2-3). Vier dae gelede om 3nm. staan die man skielik voor Kornelius terwyl hy in sy huis op die Joodse gebedsuur besig is om te bid.

10:31 Kornelius se gebed is (deur God) verhoor en sy (baie) aalmoese is voor God in herinnering geroep – dit verduidelik 10:4 se ‘as gedenkteken verrys’). Aalmoese is in die meervoud, daarom die baie. Sy gebed was moontlik om groter duidelikheid te kry wat die Here van hom verwag. Die Here verduidelik dit nou vir hom deur Petrus se getuienis oor Jesus.

10:32 Die opdrag van die engel (10:5-6) word hier woordeliks deur Kornelius herhaal.

10:33 ‘Onmiddellik’ staan voorop in die Griekse sin om dit te beklemtoon. ‘Onmiddellik het ek toe na u gestuur, en u het goed gedoen om hierheen te kom. Nou is ons almal hier teenwoordig voor God om te luister na al “die besonderhede van die opdragte wat gegee is wat ons moet doen” (alles een woord: prostetagména) aan u deur die Here.’ Uit Kornelius se woorde blyk dat hierdie Romeinse godvresendes glo dat hulle in die teenwoordigheid van God is, in afwagting op sy opdragte deur Petrus, en dat hulle bereid is om dit te doen. Petrus weet nou wat die Here met sy visioen bedoel het. ‘Deur die Here’ is vir die godvresendes deur die God van Israel omdat hulle nog nie Jesus as die Here ken nie. Petrus kom juis die Here Jesus aan hulle voorstel. Die Here trek die lyn wat Hy met Kornelius begin het en die lyn wat hy met Petrus begin het, bymekaar deur altwee se gehoorsaamheid aan sy opdragte.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die wet se relevansie vir vandag – Hermie van Zyl

Janus vra:

Help my asb met die volgende vraag wat ‘n baie goeie vriend vir my vra: “Beteken die nuwe verbond dat die gebooie van Eksodus 20 en Deuteronomium 5, en nog ander, afgeskaf is?”

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die kort antwoord op die vraag hierbo is “nee”; die nuwe verbond beteken hoegenaamd nie dat die Tien Gebooie afgeskaf is nie. Inteendeel. Maar kom ek brei hierop uit.

Die rede hoekom baie Christene dink dat die Tien Gebooie nie meer geld vir hulle wat deel het aan die nuwe verbond in Christus nie, is ‘n verkeerde verstaan van Paulus. Soos ons weet het Paulus gesê dat die wet jou nie kan red nie, slegs geloof in Christus. God spreek ons vry van ons sonde, nie omdat ons so getrou die wet onderhou nie, maar slegs omdat ons in Christus glo. “Glo” beteken dat ons nie op ons eie vermoë staatmaak om ons verhouding met God reg te stel nie, maar dat ons slegs op Christus vertrou (vgl Rom 1:17; 3:20-26). Hy is die enigste Een wat ons in ‘n nuwe verhouding met God kan stel. Nie net was Hy sonder sonde nie (Heb 4:15; 7:26-28), maar Hy het ook ons sonde op Hom geneem en in ons plek die straf op ons sonde gedra. Daarom kan ons vry uitgaan; ons word vrygespreek van God se oordeel oor die sonde, en ons leef in ‘n nuwe verhouding met God, ook die nuwe verbond genoem.

Dit was egter nooit Paulus se bedoeling om te sê dat die wet – die Tien Gebooie – en al die goeie dade wat daaruit voortvloei, nie meer geld nie en dat ons nou maar kan leef soos ons wil. Daar was reeds mense in Paulus se tyd wat hierdie absurde idee gehad het dat ons nou maar kan voortsondig, want God vergewe mos ons sonde; hoe meer ons sondig, hoe groter is God se genade oor ons (Rom 6:1). Maar dan wy Paulus ‘n hele hoofstuk daaraan om hierdie onsinnige gedagte die nek in te slaan. Om in Christus te glo, sê hy, beteken dat jy in sy dood gedoop is. Jy is dus dood vir die sonde. Meer nog, jy het ook saam met Hom opgestaan uit die dood; jy is dus lewend vir God, jy is nou in staat om nie meer in die sonde voort te ploeter nie, maar ‘n nuwe lewe deur die krag van die Gees van God te leef. (Lees gerus die hele Romeine 6 om self te beleef hoe Paulus hierdie gedagte uitwerk.)

Maar, sou iemand kon vra, wat het die wet – die Tien Gebooie – met die nuwe lewe in Christus te doen? Is hierdie nuwe lewe dan nie iets wat deur die Heilige Gees in jou geskep word, met die gevolg dat jy nie meer die Tien Gebooie nodig het nie? Nee, Paulus het niks teen die wet nie. Inteendeel, die wet is heilig en goed en reg, sê hy (Rom 7:12); dit was en is steeds die uitdrukking van God se wil vir ‘n goeie, regte en God welgevallige lewe. Trouens, wanneer hy in Romeine 6 die nuwe lewe in Christus uitspel, dan is dit deurspek met die begrip “geregtigheid”, wat vanuit die Ou Testament verstaan moet word en beteken dat iemand volgens die wil van God, soos uitgedruk in die Tien Gebooie, sal lewe (vgl Rom 6:13,16,18-20; kyk 1933/53-Afrikaanse Vertaling; en Nuwe Testament en Psalms: ‘n Direkte vertaling [2014]). Verder verwys Paulus dikwels na die goeie werke/dade wat ons moet doen, soos in Efesiërs 2:10 (vgl ook Rom 13:3; 2 Kor 9:8; 2 Tess 2:17). Dit is moeilik om te dink dat Paulus iets anders in gedagte gehad het as die goeie werke wat voortvloei uit die Tien Gebooie. Wanneer Paulus ook sy etiese voorskrifte gee van hoe mense moet lewe om God te behaag, dan kom dit op niks anders neer nie as ‘n uitleg en toepassing van die Tien Gebooie in mense se lewe (bv 1 Tess 4:1-12). Dis verder interessant dat Paulus die vrug van die Gees in Galasiërs 5:22 in verband bring met die wet as hy sê dat hierdie vrug nie teen die wet is nie; met ander woorde, dit is uitdrukking van die wet/wil van God.

Kyk ons ‘n bietjie wyer na die Nuwe Testament is dit bekend dat in ‘n boek soos die Brief van Jakobus goeie dade of wetswerke ‘n baie sterk rol speel, in so ‘n mate dat Jakobus sê ‘n mens nie deur die geloof alleen regverdig verklaar word nie, maar deur dade (Jak 2:24). Hiermee is Jakobus nie in stryd met Paulus nie, maar wys hy ‘n bepaalde soort geloof af, naamlik ‘n geloof wat nie die bewys lewer dat dit ware geloof is nie. Geloof sonder goeie dade is nie regtig geloof nie en kan jou dus nie red nie, sê Jakobus. Geloof in Christus impliseer altyd die goeie dade wat daarmee gepaard gaan. En met goeie dade word natuurlik die wet van God bedoel.

Waarom Paulus so geweldig klem gelê het op die geloof alleen wat red, was omdat die gehoor met wie hy te doen gehad het sy Joodse volksgenote was wat van die wet en goeie werke ‘n sisteem van prestasie gemaak het om jouself vlekkeloos vir God aan te bied (m a w jy bewerk self jou saligheid), en te maak asof jy beter is as ander mense wat nie by jou standaarde kan kom nie. Nee, het hy gesê, die wet is nie in staat om jou te red nie, vanweë die erns van ons sonde (Rom 7:13-16). Ons kan slegs in die regte verhouding met God kom as ons Hom volledig vertrou, dat Hy genadig is en sonde vergewe. En dit het Hy gedoen in Christus. Maar dan, hierdie vertroue of geloof moet goeie dade tot gevolg hê; dit was vir Paulus so vanselfsprekend dat hy nie eens altyd die moeite gedoen het om dit uit te spel nie. ‘n Brief soos Jakobus het dit egter wel uitgespel.

En so het die Christelike kerk deur die eeue altyd die permanente waarde van die wet onderskryf en gehandhaaf. Die genade van God, en geloof in Christus, maak nie die wet oorbodig nie, maar bring dit weer terug as ‘n weg van lewe, ‘n manier om te wys dat jy dankbaar is vir jou verlossing. Want einde ten laaste is daar gaan ander manier waarop ons kan demonstreer dat ons deel is van God se verlossing nie. Die wet is immers die grondwet van die lewe; so het God dit van die begin af bedoel. Daarom het Christelike teoloë drie gebruike van die wet geïdentifiseer. Eerstens leer ons daaruit ons sonde ken. Ons sal nie weet wat sonde is as die wet dit nie vir ons uitspel nie (“jy moet …; jy mag nie …”). En so funksioneer die wet indirek ook as ‘n wegwyser na Christus toe (vgl Gal 3:24). As ons in die wet ontdek wat en hoe groot ons sonde is, lei dit ons na Christus toe waar ons verlossing kan vind. Maar tweedens, wanneer ons die verlossing in Christus aanvaar het, ontdek ons dieselfde wet weer as uitdrukking van God se wil vir ‘n goeie lewe, en aanvaar ons die Tien Gebooie as God se huisreëls, as ‘n manier om ons dankbaarheid vir ons verlossing uit te druk. Die wet is die goeie dade waarvan Paulus praat, die dade wat God vir ons voorberei het waardeur ons Hom kan behaag, die vrug van die Gees. En derdens is die wet ook die grondslag vir ‘n goed funksionerende samelewing, maak nie saak of dit Christelik is of nie. ‘n Samelewing of staat wat nie die beginsels van die Tien Gebooie handhaaf nie, sal gou in chaos en anargie verval. Die Tien Gebooie is immers ‘n universele wet wat nie net vir Christene geld nie, maar algemene beginsels bevat vir sinvolle bestaan en voortbestaan, ongeag die spesifieke geloofsoortuigings van ‘n gemeenskap.

Bogenoemde uiteensetting het spesifiek oor die Tien Gebooie gehandel. Natuurlik is daar afgeleide verordeninge, bepalings en seremoniële wette in die Ou Testament wat spesifiek vir die destydse Joodse samelewing gegeld het wat ons nie meer vandag handhaaf nie. Hierdie wette geld nie meer vir die Christene van die nuwe verbond nie (bv oor die besnydenis, die inrigting van die tempel, die offerandes, ens).

Skrywer: Prof Hermie van Zyl