Ek staan by die deur en Ek klop

On this side of the cross misery persists, but the scales are tipped in favor of joy. —Ed Welch

 

Ek staan by die deur en Ek klop

Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemnd my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My (Openbaring 3:20).

Hierdie vers word meestal op onbekeerdes toegepas – hulle moet net hoor dat Jesus klop en dan hulle harte vir Hom oopmaak. Is dit korrek? Jesus praat hier met die kerk.

Om Jesus te soek is nie iets wat die onbekeerde op sy eie doen nie. – ongelowiges soek nie em hulle klop ook nie. Gelowiges is mense wat soek. Jonathan Edwards het gesê: The seeking of the Kingdom of God is the chief business of the Christian life. Volgens R. C. Sproul is om te soek die gevolg en nie die oorsaak van geloof nie.

 

As ons toe bekering kom gebruik ons die taal van ontdekking. On praat daarvan dat ons Christus gevind het. Hierdie stelling is inderdaad korrek. Die ironie is dat as ons vir Jesus gevind het dit nie die einde van ons soeke beteken nie, maar die begin. As ons Christus gevind het, begin ons soeke. Die Christelike lewe begin by bekering, maar dit eindig nie waar dit begin nie. Dit is ‘n beweging van groei wat die gevolg is van ‘n voortdurende soeke na God.

 

In jou geestelike lewe is jy gedurig besig om vir God te soek?

 

 




Ignoreer ons ons erfenis?

 

We entertain ourselves to death, and so become estranged from ourselves. – Soren Kierkegaard

Ignoreer ons ons erfenis?

In 1 Korintiërs 3:18 – 21a kyk Paulus terug. Hy kyk weer na die kontras tussen die wysheid van God en die wysheid van die wêreld. Omdat God vir sy tempel omgee en omdat hy diegene wat sy tempel beskadig aanspreeklik hou, begin hy met ‘n waarskuwing: Niemand moet homself mislei nie. Ons moenie dink dat ons die waardes van die wêreld kan aanvaar en dat hierdie keuses nie ernstige gevolge vir ons inhou nie. Die wêreld hou van mag en prestige; God openbaar Hom in swakheid. Die wêreld hou van sterk leiers, maar kerkleiers is dienaars van Christus.

Ons kan nie vir God mislei nie: Hy vang die slimmes met hulle slinkse planne en: Die Here ken die gedagtes van die wyse mense en weet dit beteken niks. Die onmiddellike toepassing is ‘n afkeur van verdeeldheid en die vorming van faksies: Daarom moet niemand op mense roem nie.

Om met een of ander leier te spog, sny ons ons af van die erfenis waarop ons geregtig is. Jy spog omdat jy dink dat jy die beste deel het, maar in werklikheid beperk ons ons tot net een deel van die erfenis waarop ons in Jesus Christus geregtig is. Alles behoort aan julle: of dit Paulus of Apollos of Sefas of die wêreld of lewe of dood of hede of toekoms is, alles behoort aan julle, maar julle behoort aan Christus en Christus aan God. Om op een deel van ‘n projek te fokus asof dit alles is, is om jou van die projek as ‘n geheel af te sny. Om absoluut lojaal aan een leier te wees, beteken jy kry nie wat jy van al die ander leiers kan ontvang nie.

As ons aan Christus behoort en Christus behoort aan God behoort ons aan God. Hy is oppermagtig oor alles: die wêreld of lewe of dood of hede of toekoms.

 




Hoe is Judas dood?

Hoe is Judas dood? – Francois Malan

Japie vra:

My vraag gaan oor Judas waar daar twee verskillende dinge oor sy dood in die Bybel staan. ‘n Vriend van my het my daaroor gevra en ek sal hom wil antwoord met julle verduideliking, want ek het geen antwoord oor hoekom dit so verskil nie. Baie dankie Groete Japie

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Volgens Mt 27:3-10 neem Judas die 30 silwerstukke terug na die leierpriesters en familiehoofde en sê: Ek het gesondig, want ek het onskuldige bloed verraai. Toe hulle nie gehoor wou gee aan sy onskuldverklaring van Jesus nie, gooi hy die geld in die tempel neer en gaan weg en het homself opgehang. Die leiers oordeel dat dit ontoelaatbaar is om die geld in die skatkis te gooi omdat dit bloedgeld is. Hulle koop toe daarmee die grond van die pottebakker as begraafplaas vir vreemdelinge. Matteus sien daarin ‘n vervulling van Jeremia (Jer 18:2-3 praat van afgaan na die pottebakker se huis, Jer 19:4 praat van onskuldige bloed vergiet; 19:10-13 van die potskerwe wat gegooi word op die ashoop Tofet waar kinderoffers gebring is aan die god Molog, as beeld van wat met Jerusalem sal gebeur). Matteus se aanhaling kom eintlik uit Sagaria 11:12-13 waar o.a. staan: ek het die dertig silwerstukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi.’

 

(Matteus het voor Jesus se vonnisoplegging twee getuies van sy onskuld, vgl. Deuteronomium 17:6; 19:15 se vereiste vir die doodstraf: Judas getuig van sy onskuld voor die Joodse Raad,  en die vrou van Pilatus van sy regverdigheid voor haar man die Romeinse vonnis van kruisiging uitspreek; Mt 27:19).

 

Markus en Lukas Evangelies vertel niks van Judas se optrede na sy verandering van gedagte nie (die Griekse woord vir berou en bekering word nie in Mt 27:3 gebruik nie, maar ‘spyt kry’), maar in Lukas se tweede verhaal, Handelinge 1:16-20, verwys Petrus na Ps 41:10  in sy toespraak voor die gelowiges oor Judas se optrede teen Jesus: ‘Selfs my vriend, wat ek vertrou het en wat saam met my eet, het die hakskeen teen my gelig.’

 

            Petrus se weergawe van die gebeure is dan dat Judas ‘mos ‘n stuk grond aangeskaf het uit die geld wat hy as beloning vir sy bose daad ontvang het. Hy het egter vooroor geval, in die middel oopgebars en al sy ingewande het uitgepeul. Dit het onder die inwoners van Jerusalem bekend geword, met die gevolg dat daardie stuk grond in hulle eie taal as Akeldama bekend staan, dit is: ‘Bloedgrond’. Want daar staan in die boek van die Psalms geskryf: Laat sy woonplek verlate word en laat geen inwoner daarin bly nie (Ps 69:2). En: Laat ‘n ander sy amp as opsiener oorneem (Ps 109:8).’ Daarom het hulle toe vir Mattias in Judas se plek gekies en by die elftal gevoeg.

 

Matteus en Handelinge se weergawe van Judas se dood het twee punte van ooreenkoms: Hy het geweldadig gesterf, en hy is verbind aan ‘bloedgrond’. Maar daar is opmerklike verskille: volgens Matteus het hy selfmoord gepleeg, die priesters het die grond gekoop, die grond was bekend as die pottebakker se grond. Volgens Handelinge het Judas self die grond gekoop, dit is bloedgrond genoem omdat Judas daar geweldadig dood is (moontlik per ongeluk) – nie omdat dit met bloedgeld gekoop is nie. Hier is duidelik twee onafhanklike weergawes van die basiese verhaal oor Judas se dood wat hom aan die stuk grond, nl bloedgrond verbind. Matteus verbind die naam aan die onskuldige bloed van Jesus; Handelinge aan die skuldige bloed van die verraaier. Volgens Matteus is Judas se einde die gevolg van sy oordeel oor homself; volgens Lukas die oordeel van God – in Deuteronomium 27:25 staan: Daar rus ‘n vloek op elkeen wat omkoopgeld aanvaar om ‘n onskuldige dood te maak.

Matteus skryf waarskynlik vir Christene wat in Palestina woon, en Lukas verduidelik in Handelinge  vir sy lesers, wat buite Palestina bly, wat gebeur het. Hy verduidelik bv. vir hulle wat nie Aramees ken nie, die Aramese naam Akeldama  as ‘bloedgrond’.

 

Matteus se hele Evangelie wil telkens vir sy lesers wys dat wat met Jesus gebeur het ‘n vervulling is van die Skrif (vgl. bv. Mt 26:54,56) en die skandelike optrede van die owerpriesters. Hierdie verhaal oor Judas se dood, wat net in sy Evangelie voorkom, is ‘n vervulling van Jesus se waarskuwing in Mt 26:24: ‘Die Seun van die Mens gaan wel heen soos daar oor Hom geskryf staan (Jesaja 53:9), maar ellende wag op daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.’ Die owerpriesters het erken hulle geld is bloedgeld, maar het tog vir Judas daarmee omgekoop, en dit gebruik om die pottebakker se grond te koop as ‘n begraafplaas vir vreemdelinge.

 

Matteus se weergawe is waarskynlik beïnvloed deur die Sagaria-teks: ek het die dertig silwerstukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi (Sag. 11:13).

 

In die verlede is pogings aangewend om die twee verhale se verskille te verklaar. Vir die koop van die grond deur Judas self of deur die priesters is voorgestel dat die priesters die geld as die wettige besit van Judas beskou het en die grond daarmee in sy naam gekoop het. So sou hulle naam of die tempel nie daaraan verbind wees nie. Dat Judas homself opgehang het volgens Matteus en hy voorgeval het en oopgebars het volgens Handelinge is deur Augustinus al gekombineer: dat Judas se liggaam afgeval het nadat hy homself opgehang het, en toe oopgebars het; dat Matteus meer klem lê op Judas se wroeging wat tot selfmoord gelei het, terwyl Petrus in Handelinge wys na wat ná Judas se dood plaasgevind het, en die inwoners van Jerusalem die plek ‘Bloedgrond’ genoem het.

 

Die Johannes Evangelie het net ‘n sydelingse opmerking oor Judas se dood in Jesus se priesterlike gebed in Jn 17:12: ‘…Ek het hulle (wat die Vader aan Hom gegee het om in Hom te glo) beskerm; en niemand van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.’

 

             Terwyl Jesus by hulle op aarde was, het Hy die volgelinge, wat die Vader vir Hom gegee het, in die Naam  van die Vader = die openbaring van die Vader, bewaar, deur hulle te hou by die wil en woorde van sy Vader wat Hy aan hulle oorgedra het. Van dié groep het slegs Judas ‘verlore gegaan’ (apooleto kan ook aandui dat Judas homself vernietig het). Jesus verwys na Judas as ‘die seun van vernietiging’ (apooleia soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse pêsja‘  kinders van ‘opstand en oortreding’ in Jes.57:4 weergee). 2 Tes.2:3 gebruik die naam  ‘Seun van die verderf’ saam met  ‘man van wettelossheid’ vir die  Antichris. Met ‘seun van verderf’ word Judas se boosheid en sy einde aangedui. Hy het reeds sy hakskeen teen sy Meester opgelig (vgl. 13:18 wat Ps.41:9 aanhaal). Die dood van sy Meester en sy selfvernietiging is reeds aan die kom. Waarom hy die uitsondering onder die dissipels moes wees, word toegelig met die woorde: sodat die Skrif vervul kan word. Dit verwys waarskynlik na Ps.41:9;  en Ps.109:4-13 se beskrywing van die verkragting van die Here se reg en eer, wat ‘n spieëlbeeld word van Christus se lyding, en van Judas se einde soos Ps.109:8 in Hand.1:20 aangehaal word). Judas het die duisternis liewer gehad as die Lig (Joh.3: 18-19) en ‘n simbool geword van  God se straf (Joh.3:36; vgl. Ps.69:25-27).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Ek aanvaar die boodskap van die kruis

 

If God were not my friend, Satan would not be so much my enemy. —Thomas Brooks

Ek aanvaar die boodskap van die kruis

Paulus het baie geskryf oor die kruis wat mense verdeel. Hy het veral op diegene wat daardie boodskap verwerp, gefokus. Nou fokus hy op diegene wat die boodskap van die kruis aanvaar.

Paulus se punt (1:26)

Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. Kyk mooi na Paulus se argument: nie baie … nie. Die vroeë Christene was baie heterogeen. Daar was dus geleerdes, invloedrykes en mense van aansien onder hulle, maar ook baie arm en ongeletterde mense. Wat Paulus hier sê, is dat om wys, invloedryk en van aansien te wees, nie kriteria vir ‘n Christen is nie. God se genade kan enigeen bereik. God is nie beïndruk met politieke mag, rykdom en filosofieë – dit wat die wêreld so bewonder – nie.

 

Ons kan hierdie punt wat Paulus hier maak die ignoreer nie. Ons is so geneig om Christen sportsterre, mediapersoonlikhede en pop sangers voor te hou as voorbeelde. Hoekom dink ons hulle menings en ondervindings van God se genade is meer betekenisvol as dié van enige ander gelowige? Hierdie siening in ons gemeentes vernietig nederigheid, minimaliseer genade en gee te veel eer aan geld, invloed en die wysheid van ons dag.

Paulus se teologiese regverdiging (1:27 – 30)

Meeste van die gelowiges in Korinte kon nie spog met hulle agtergrond nie. Hoekom is dit so? God self. En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitverkies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is tot niet te maak (1:27 – 29).

Paulus se veronderstelling is dat mense nie na God sou kom tensy God hulle kies nie. God het dus voorkeur aan die mense sonder aansien gegee. God kies die onsinnige dinge om die geleerdes te beskaam. God het dus ‘n behae daarin om al die aansit van hierdie opstandige wêreld te prik. Terwyl selfgesentreerde leiers hunker na mag, kies God diegene sonder aansien. Alles wat iets is – dinge van belang in die wêreld – maak God tot niet. Hulle word afgeskrywe; hulle het geen ewigheidsbetekenis nie.

Hoekom doen God dit? Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie (1:29). Menslike trots word afgebreek. God skuld aan niemand vergifnis of die ewige lewe nie – dit is alles genade. As mense deur hulle wysheid of krag of status verlos is, sou hulle met reg trots daarop kon wees. Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie, die lof wat My toekom, gee Ek aan geen gesnede beelde nie (Jesaja 42:8). Paulus waarsku die Korintiërs gedurig oor hulle trots. Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit (Romeine 3:27).

God se kategorieë van wysheid en sterkte verskil radikaal van dié van die wêreld. Verlossing is God se vry gawe verseker deur sy kruisdood. Dit word deur diegene wat Hom vertrou verkry – nie deur die ryk en sterk mense nie

 ‘n Christelike visie van roem (1:30 – 31)

Het Christene dan niks om op te roem nie? Nee, hy sê as Christene roem op die dinge waarop die wêreld roem, roem hulle oor die verkeerde dinge. Dié wat wil roem, moet in die Here roem (1:31). Dit beteken nou nie selfgesentreerde godsdienstige fanatici kan rondhardloop en daarop aanspraak maak dat hulle menings oor alles altyd reg is nie. Menslike roem is verkeerd, want dit verhef die mens tot die toppunt van belangrikheid. Doen ons dit fokus ons op dit wat verbygaande is. – van geen ewigheidsbetekenis is nie.

Wat vir die mens belangrik is, is die kennis van God. Mense wat op hulleself fokus, kry nie hierdie kennis nie. Diegene wat God werklik ken se vreugde is in Hom – Hy word die middelpunt van hulle lewens. Hulle roem in Hom. Hulle kry hulle leidrade oor hoe om te lewe by Hom. Sy karakter is hulle model. Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, is God se plan en wysheid. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing (1:30). Die wysheid van Christus is die kruis. Hierdie wysheid lei tot ewigheidsveranderinge en bring mense in ‘n dieper verhouding met God.

Hierdie wysheid, hierdie plan, beteken ons vryspraak, heiliging en  verlossing. Hierdie wysheid van God is nie maar net ‘n beter uitgawe van die wêreld se wysheid nie. Daarom beskryf Paulus die gevolge van God se wysheid in Bybelse terme: vryspraak, heiliging en verlossing. Net nadat hy dit gesê het, haal Paulus vir Jeremia aan: Dié wat wil roem, moet in die Here roem.

Ons is net so dwaas soos die Korintiërs as ons dinge wat net tydelik is, opblaas; as ons die waardes, planne en programme van die wêreld bevorder. Hulle gaan verby. Hoe beter ons God ken, hoe meer wil ons hê dat ons hele bestaan om Hom sal wentel. Dan sien ons dat die enigste doelwitte en planne wat die moeite werd is, is die wat aan God verbind is. Jesus het immers self gesê dat sy volgelinge vir hulle skatte in die hemel bymekaar moet maak (Matteus 6:19 – 21).

Die boodskap van die kruis moet ons bediening vorm (1:18 – 25); Die uitreik van die kruis bevestig daardie boodskap en dryf ons terug na wat fundamenteel is (1:26 – 31). Daar is nog ‘n element om in gedagte te hou: die prediker en die kruis.