Die kerk bid

There is no shame in not knowing, the shame lies in not finding out” – Russiese spreekwoord

 

Die kerk bid

Lukas en Handelinge is beide deur Lukas geskryf. J. D. Greear sê die twee boeke is soos ‘n hand en ‘n handskoen. In Lukas sien ons die vorm van God se hand in die persoon van Jesus. In Handelinge sien ons die onsigbare hand – die Heilige Gees –  wat die kerk vul. Die onderrig van Jesus in die evangelie word ondervind en toegepas in Handelinge.

 

‘n Goeie voorbeeld is die kerk wat bid. Wat Jesus in die evangelie oor volgehoue gebed leer, sien ons in Handelinge in aksie wanneer Petrus gevange geneem word. In Handelinge 12 sien ons die kerk in gebed. Daar is veral drie belangrike aspekte wat ons moet raaksien.

 

  • Waaroor hulle bang was, het hulle met God oor gepraat

Toe Petrus gevange geneem is, dra die gemeente sy bekommernisse aan God oor.  Herodes het pas vir Jakobus, die leier van die vroeë kerk, met die swaard laat doodmaak. Dit lyk asof Petrus volgende aan die beurt sou kom. Die situasie is ernstig; Petrus se vriende is met reg bekommerd, want dit is sy toekoms, maar ook die toekoms van die gemeente wat op die spel is. Daarom praat hulle met God. 

 

Wat doen ons as ons bekommerd, bang of ontsteld is? Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon (Psalm 4:9). As ons die praktyk van bid ontwikkel, sal dit vir ons ongelooflike rus gee, want ons weet ons gebede word gehoor deur Hom wat die heelal beheer. Bid; gaan lê; slaap.

 

  • Gebruik bid soos kommunikasie tydens ‘n oorlog

Dwarsdeur Handelinge kry ons dat die kerk nie net vir vrede bid nie, maar ook oor hulle sending. John Piper sê: “Prayer is primarily a wartime walkie-talkie for the mission of the church as it advances against the powers of darkness and unbelief. It is not surprising that prayer malfunctions when we try to make it a domestic intercom to call upstairs for more comforts in the den…Until you know that life is war, you cannot know what prayer is for: Prayer is for the accomplishment of a wartime mission.” Hierdie soort gebed weet daar is dinge in die wêreld wat verkeerd is; hierdie soort gebed kom in opstand teen die status quo. Hulle weet dat God se plan is dat die kerk die evangelie tot aan die eindes van die wêreld moet versprei – ten spyte van al Herodes se planne. Hulle het nie geweet of Petrus gaan leef of sterf nie, maar hulle het geweet dat God nie sy plan sal laat vaar nie. Daarom bid hulle, want hulle weet dat gebed situasies verander – dat gebed die arm van Hom wat die wêreld beweeg, beweeg.

 

  • Hulle het aangehou soos die weduwee in Lukas 18

Hierdie weduwee het die regter herhaaldelik kom vra dat reg aan haar moet geskied. Die regter geen nie om vir haar nie, maar om van haar ontslae te raak, hoor hy haar saak aan. Jesus sê dat dit is hoe ons moet bid – aanhoudend sonder om moedeloos te word. Die vroeë kerk het hierdie boodskap gehoor. Hulle bid aanhoudend. Toe God uiteindelik hulle gebede verhoor en Petrus uit die tronk kom, gaan hy na Maria se huis –  waar baie gelowiges saam was om te bid. Hulle klop aan God se deur.

 

Soms antwoord God nie ons spesifieke versoeke nie. Paulus bid drie maal dat God tog die doring uit sy vlees sal verwyder – en God sê vir hom dat hy moet ophou vra. Dit kan gebeur, maar gewoonlik hou ons te gou op met ons gebede. Maar Jesus het vir ons gesê dat ons moet aanhou vra. As die kerk so bid, gebeur daar dinge. Tronkdeure gaan oop; duisende mense kom tot geloof. Dit gebeur nie as gevolg van die inwoners se vaardighede of beplanning nie. Dit gebeur as gevolg van gebed.

 “The one concern of the devil is to keep the saints from prayer. He fears nothing from prayerless studies, prayerless work, prayerless religion. He laughs at our toil, mocks at our wisdom, but trembles when we pray… Prayer turns ordinary mortals into men of power…It brings fire. It brings rain. It brings life. It brings God. There is no power like that of prevailing prayer.” ~Samuel Chadwick




Die Rooms-Katolieke Kerk en Zion Christian Church

Die Rooms-Katolieke Kerk en Zion Christian Church – Francois Malan

Louis vra;

 

Sal mense wat aan die Katolieke Kerk en Zion Christian Church(ZCC) behoort, hemel toe gaan?

 

Antwoord

 

Prof. Francois Malan antwoord

 

Dieselfde vraag kan gevra word oor mense wat aan enige kerk behoort. Die maatstaf, oor wie hemel toe gaan, is of jy glo in die Here Jesus Christus as God wat mens geword het om vir ons sondes aan die kruis te sterwe, en dat ons Hom aanvaar as die Here wat die seggenskap het oor ons lewe.

            Joh 1:12: aan almal wat Hom aanvaar het, hulle wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Joh 3:16: so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Joh 3:36: wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hom.

Rom 10:9,11-13: as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word….Die Skrif sê tog: ‘Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.’ Dit maak inderdaad geen verskil of jy ‘n Jood of ‘n Griek (alle nie-Jode) is nie. Ons het almal dieselfde Here, en Hy deel sy rykdom uit aan almal wat Hom aanroep. Want ‘elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word’ (Joël 2:32).    

 

Die Roomse Katolieke Kerk bely ook die twaalf artikels van die apostoliese geloofsbelydenis in God die Vader as die Skepper van alles; en in Jesus Christus, sy enigste Seun en ons Here wat mens geword het, gesterf het, opgestaan het, na die hemel opgevaar het, sit aan die regterhand van God die Vader, wat weer kom as die Regter oor lewendes en dooies; en in die Heilige Gees met die geloof in die vergifnis van sonde deur die kerk en sy sakramente wat ons aan Christus verbind wat vir ons sonde gesterf het en opgewek is vir ons regverdiging, sodat ons ook sal lewe in die nuutheid van die lewe.

            Hoewel die Protestantse kerke met hulle verskil oor die rol van die kerk en die heiliges en die sakramente, glo ons saam in die Here Jesus Christus, die Seun van God wat mens geword het vir die verlossing van ons sonde om van ons kinders van God te maak wat aan Hom toegewy lewe.

            Daarby het pous Johannes 23 reeds in 1959 die kerk baie meer oop gemaak vir gesprek met ander kerke en bestudering van die Bybel, en is die huidige pous Franciscus ‘n baie nederige man wat die kerk begin leer om in nederigheid te dien.

 

Daar is twee Zion Christian Churches, die een wat nog die naam van die stigter, Engenas (Ignasius) dra (kenteken ‘n voëltjie), en die groter een wat tans deur biskop Barnabas Lekganyane gelei word (kenteken ‘n ster).

            Die biskop speel ‘n groot rol in die kerk wat hulle veral toelê op genesing en die seën van die kerk vir jou daaglikse lewe. Maar hulle lees uit die Bybel by hulle byeenkomste, en die liedere wat hulle sing en dans is egte Gereformeerde liedere wat deur die Gereformeerde kerke in Lesotho gesing word.

 

Die oordeel oor wie in die hemel toegelaat sal word of nie, oor elkeen se geloof in Jesus en hoe die geloof uitgelewe is, sal deur Jesus bepaal word met sy wederkoms as Regter. Vergelyk sy gelykenisse in Matteus 25 oor die tien meisies (25:1-13); van die muntstukke (25:14-30) en veral oor die laaste oordeel met die skeiding van die skape en die bokke (25:31-46).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Ek oorweeg selfmoord

Ek oorweeg selfmoord – Kobus Kok

‘n Leser vra:

Ek worstel al ‘n geruime tyd (sedert my beste vriend en vertroueling se dood) met die idee van selfmoord en oorweeg dit sterk. Inteendeel ek neem myself kwalik omdat ek nie die aand van sy dood ook my lewe beëindig het nie. Ek het hom voorberei vir sy graf en ook begrawe. Ek is n kind van die Here en het totaal die lus om te lewe verloor. Mense het totaal en al hul rug op my gedraai na sy dood en het die kerk ook nie enige simpatie getoon nie, maar net veroordeling! Daar is vir my geen sin om verder te lewe nie. Sal God nog genade teenoor my betoon?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Dit is waar dat slegte dinge met ons gebeur en dat ons op tye voel dat daar absoluut geen hoop meer is nie. Baie mense het ook al ernstig selfmoord oorweeg. Sommige het dit gedoen, maar al wat hulle nagelaat het, was seer en verwoesting. Sommige mense kom nie eers goed daarvan af nie en is soms in ‘n permanente gestremde posisie gelaat. In my jare as dominee het ek al sulke gevalle self beleef. Die gevolge is net verwoesting watter kant toe mens ook al daarna kyk. Sommige mense wat selfmoord ernstig oorweeg het, maar besluit het om dit nie te doen nie, sal vir jou vertel dat hulle vandag baie bly is dat hulle dit nie gedoen het nie. Sommige dinge in die lewe kom reg met tyd. God kan die verleentheid in n geleentheid vir jou omskep. God sê in Jeremia 29:11 dat hy vir jou ‘n toekoms wil gee, ‘n verwagting. Sy hart vir jou is dat jou negatiewe situasie omskep kan word. Dink maar net aan Dawid nadat hy droog gemaak het met Batseba daar in 2 Sam 11 en nogal haar man sommer ook laat vermoor het. Daarna het sy lewe nog erger skeef geloop toe sy een seun sy dogter verkrag en sy huis eintlik heeltemal uitmekaar val. Tog weet ons dat God sy situasie uiteindelik omgekeer het. God kan ook jou situasie omkeer. Gee dit net tyd, asseblief. Ek het ook al soos jy gevoel, ek verstaan…

 

Dis duidelik dat jy nou al lank worstel met die al die negatiewe goed. Het jy geweet dat die navorsing duidelik wys dat jou liggaam met tyd na al die stres soveel negatiewe emosies en slegte hormone  in nou liggaam loslaat dat jou serotonien en ander belangrike vlakke in jou brein heeltemal uit balans is. Dan is dit letterlik fisies en emosioneel baie moeilik om uit die gat te kom. Die probleem kom oor n lang tyd en mens kan dit nie sommer in ‘n paar dae regmaak nie. Wat nodig is, is dat jy iemand moet gaan sien. As ek jy was, sou ek na ‘n goeie sielkundige toe gegaan het of na ‘n dominee wat in pastoraat spesialiseer. Dan sou ek ook definitief ‘n goeie anti-depressant probeer kry sodat die medikasie al jou negatiewe simptome kan aanspreek en die balanse in jou brein kan herstel. Indien jy die volgende simptome het, oorweeg my raad baie ernstig:

* Voel sleg, neerslagtig, moeg of moedeloos op ‘n gereelde basis

* dink aan selfmoord

* geniet nie meer die lewe nie, wil nie meer lekker dinge doen nie

* onttrek van mense

*swak selfbeeld

* verlaagde seksdrang

* slaap sleg

 

As jy hierdie goed in jouself erken, mag jy dalk reeds depressie hê, wat ek vermoed. God het ons geseën met baie goeie mediese dokters en dominees of sielkundiges wat jou op hierdie pad kan help. Gaan sien iemand Benzo, voor dit te laat is.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Paasfees en die uitstorting van die Heilige Gees

Paasfees en die uitstorting van die Heilige Gees – Francois Malan

AnnaMaria vra:

 

Kan u asb die volgende vir my duidelik maak. Is Paasfees en die uitstorting van die Heilige Gees dieselfde? Ek weet Paasfees is die Kruisiging van Jesus en die Opstanding, maar wat is Paasfees nog? In Markus 15:6 word gepraat van “elke paasfees” Ek kan dit net nie snap nie. Verduidelik asb. Kan u die volgorde van gebeure en tye vir my verduidelik, asb.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord

 

Markus 15:6 se verwysing na ‘elke paasfees.’

 

Paasfees is ‘n Joodse fees wat ingestel is toe die Here vir Israel uit Egipte gelei het, waar hulle slawe was. Dit was 1230 jaar voor Christus, in Moses se tyd (vgl. Eksodus 12). Die dag voor hulle vertrek het die Israeliete in elke huisgesin ‘n lam geslag en heel oor die vuur gebraai vir die aand se ete (12:9). Die bloed van die lam is aan die kosyne van hulle voordeure gesmeer (12:7). Dié nag het die Here in elke huis, veral van die Egiptenare, wat nie bloed aan die kosyn gehad het nie, die eersgebore kind doodgemaak (12:12). Maar waar die bloed aan die kosyn gesmeer is, is die huis oorgeslaan (12:13) – die Hebreeuse woord pesag vir ‘oorslaan’ is in Engels vertaal as ‘pass over,’ en die jaarlikse fees, wat die bevryding uit Egipte gedenk, word die fees van die ‘paasoffer’ (Hebreeus pasag) genoem (12:27).

            In Numeri 9 lees ons dat Israel op hulle tog deur die woestyn die paasfees by Sinai gevier het. Voordat hulle Kanaän ingetrek het, het hulle ook die paasfees gevier (Josua 5:10-12). In die latere koningstyd is die paasfees nagelaat, totdat Hiskia (714-686 v.C.) en later Josia (639-609 v.C.) met hulle hervormings weer die paasfees laat vier het (2 Konings 23:21-23; 2 Kronieke 30; 35). Na die ballingskap in Babilonië (597-520 v.C), het Esra (485 v.C.) weer die paasfees laat vier volgens die opdrag van die Here deur Esegiël (Esra 6:19-22; Esegiël 45:21). 

 

Jesus het vir die paasfees na Jerusalem gegaan in die wete dat Hy tydens die fees gekruisig gaan word. Daarmee het Hy die Joodse paasfees vervang met ‘n nuwe paasfees, waar Hy as die Lam van God sterwe om die sonde van die wêreld weg te neem (Johannes 1:29), as die soenoffer vir ons sondes – nie net vir óns sondes nie maar ook vir dié van die wêreld (1 Johannes 2:2) – dit sluit ook die mense van die Ou Testament in, wat die woord van God geglo het. Hebreërs 9:15: Hy is Middelaar van ‘n nuwe verbond, sodat dié wat geroep is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang, aangesien Hy gesterf het as losprys vir die oortredings onder die eerste verbond. Paulus sê: ons paaslam, Christus, is geslag (1 Kor 5:7).

            1 Johannes 4:9-10 sê: Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar: dat God sy enigste Seun na die wêreld gestuur het sodat ons deur Hom kan leef. Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as soenoffer vir ons sondes.

            Daarom hou Christene die paasfees om Jesus se dood op Goeie Vrydag en sy opstanding op Paassondag te vier as ons verlossing uit die slawerny van die sonde, en die oorwinning oor die sonde en dood saam met Jesus. 

 

Uitstorting van die Heilige Gees.

 

Vyftig dae na die paasfees, met die begin van die koringoes (Eks 23:16; Eks 34:26), het die Jode ‘die fees van die weke’ gehou (Eks. 34:22); dit was sewe weke na die paasfees (Lev 23:15-16; Numeri 28:26; Deuteronomium 16:9-10). Die Grieks vir vyftig is pentakonta. Daarom word die fees in die Nuwe Testament die pinksterfees genoem. Dit was ‘n vrolike fees om die Here te dank vir die oes.

            Later is hierdie fees met die geskiedenis van Israel verbind en is die pinksterfees ook verbind met Israel se ontvangs van die wet by die berg Sinai, vyftig dae nadat hulle uit Egipte vertrek het.

 

Volgens Handelinge 1:3 het Jesus gedurende veertig dae na sy opstanding by verskeie geleenthede aan die dissipels verskyn, en het toe in die hemel opgevaar (Hand 1:9). Tien dae later, op die dag van die Joodse pinksterfees, was Jesus se volgelinge op een plek bymekaar en is hulle met die Heilige Gees vervul (Hand 2:1-4).

            Toe Petrus verduidelik wat met hulle gebeur het, het hy uit Joël 2:28-32 aangehaal wat sê dat God sy Gees sal uitstort (Hand 2:18; vgl. ook Hand 2:33; 10:45; Titus 3:5-6).

 

            Daarom vier Christene pinksterfees (party kerke kom vir 10 dae na hemelvaart voor die pinksterfees bymekaar vir gebed) om die blye wete te vier dat God in ons kom woon het deur sy Heilige Gees wat ons daagliks lei en bystaan.

 

Skrywer: Prof Francois Malan