Videogreep: Woorde in die Bybel – Liefde – Jan van der Watt




Amos en Hosea – Jan van der Watt

Jaco vra:

 Verduidelik Amos 9 wie die heidene is in Hand 15:13-17 En Verduidelik Hosea 2 wie die heidene is in Rom 9:24-26 Handel die boek Amos en Hosea oor die nageslag van Jakob

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Jaco se vraag raak ‘n baie belangrike probleem aan, naamlik, hoe moet Ou-Testamentiese profesieë in die Nuwe Testament verstaan word, veral as dit aangehaal word soos in die voorbeelde wat hy gee. Profesieë in die Bybel is nie so eenvoudig soos ons dit baie keer wil maak nie. ‘n Paar riglyne hieroor behoort ons te help.

Die profete van ouds, soos Amos of Hosea, het in die eerste plek vir die mense van hulle eie tyd geskryf (anders sou die boeke nie sin maak nie). Die mense vir wie hulle die boeke geskryf het, kon dit verstaan omdat dit op hulle situasies gemik was en hulle aangespreek het. Profesieë in die ou tyd was soos preke vandag, hoewel dit ook toekomstige implikasies gehad het. Kyk maar na die profesieë in Openbaring 2-3. Soos in ‘n goeie preek staan daar dat as die lesers hulle nie bekeer nie, sal hulle gestraf word – dit is ‘n profesie. Tog is daar ook ander profesieë oor die nuwe Jerusalem, byvoorbeeld, wat vertel wat in die toekoms verwag kan word.  

Die profete was spreekbuise van die God, die God wat altyd dieselfde is, vandag, gister en in die toekoms. Dit beteken dat as daar ‘n spesifieke situasie was (soos in Amos of Hosea se geval) waaroor hulle geprofeteer het, en ‘n soortgelyke situasie duik in die toekoms op, kan verwag word dat God soortgelyk sal optree. Profesieë is dus aanvanklik op een situasie gemik, maar kan van toepassing wees op soortgelyke situasies in die toekoms waar God by betrokke is.

Daar is baie voor beelde hiervan: In ‘n Joodse kommentaar wat rondom op Hosea gemaak is, word alles op die Romeine, wat op daardie tyd ‘n probleem was, toegepas, hoewel Hosea self, met die skryf van sy boek, die situasie honderde jare tevore (om en by met die val van die Noordelike Ryk van Israel – 760-720 voor Christus) in die oog gehad het toe Israel die Kanaänitiese afgode begin dien het. Die Romeine sou eers 600 jaar later op die toneel verskyn, maar omdat God altyd dieselfde is, kon die Romeine en die Jode van hulle tyd dieselfde behandeling verwag as wat in Hosea beskryf word.

Dieselfde geld vir Jesus. As daar in Jes 6 van Immanuel gepraat word, gaan dit om ‘n seuntjie wat in die tyd van Jesaja geleef het en van wie Jesaja gepraat het. Hy moes die mense herinner dat God by hulle is. As Jesus kom, herinner Hy mense ook dat God nou op ‘n besondere manier by hulle is. Omdat God altyd dieselfde is, is wat Jesaja gesê het, ook van Jesus waar, natuurlik op ‘n baie spesiale manier.

Om die vraag dus te beantwoord: Ja en nee. Oorspronklik het die Ou-Testamentiese dele nie na Handelinge of Romeine verwys nie en is ook nie in die eerste plek daarvoor geskryf nie. Tog, wat in die verlede oor God en sy optrede waar is, geld vandag ook nog as die situasies ooreenstem. 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Tydlyn van die Bybel – Jan van der Watt

JG VRA:

Ek is op soek na ‘n Afrikaanse tydlyn van die Bybel. My kinders het ‘n behoefte om te tydsverloop visueel te verstaan ter ondersteuning van die jong-aarde argument. Natuurlik kan baie gebeurtenisse nie akkuraat tot op die dag bepaal word nie, dis nie waarna ek soek nie. Ek is eerder op soek na iets wat die korrekte volgorde van gebeure aandui, met ‘n geskatte tydstip daarby. Skrifverwysings saam met die gebeure sal wonderlik wees! Bestaan so iets?

 Antwoord

 Prof Jan van der Watt antwoord:

In die Bybel A-Z is daar aan die begin van elke boek wat bespreek word ‘n tydlyn wat by die boek pas. Dit help om die geskiedenis met die betrokke boek te verbind. Ek is nie seker of die tydlyne presies is wat gesoek word nie. Verder weet ek nie van iets wat kan help nie. Ek wil net waarsku teen tydlyne wat op die internet geplaas word. Dit is dikwels nie korrek nie, is spekulasie en wil ‘n betrokke standpunt ondersteun. Gebruik die gegewens maar versigtig. 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die wet in Deuteronomium 24 oor trou en skei – Hermie van Zyl

Vraag:

Benita vra

Ek wil graag weet hoe interpreteer ons in ons hedendaagse lewens dié spesifieke gedeelte in ’n Christen se lewe. Die jeug verstaan nie die konsep van die wet nie en ek vind dit net interessant, ten spyte daarvan dat dit ’n wet in die Ou Testament is.

Antwoord vanaf Prof Hermie van Zyl

Wie uit Deuteronomium (Dt) 24:1-4 op die klank af direkte lyne wil trek na vandag toe, loop haar/hom gou vas. Want nie net is daar onsekerheid oor presies hoe ons Dt 24 in sy antieke konteks moet verstaan nie, maar dit is ook duidelik dat hierdie verse deur die eeue herinterpretasies ondergaan het soos tye verander het. So byvoorbeeld verwys Jesus in Matteus 5:31-32 en 19:3-9 ook na hierdie teks. En Paulus redeneer eweneens teen die agtergrond van Dt 24 as hy oor trou, skei en hertrou handel in 1 Korintiërs 7. Maar beide Jesus en Paulus hanteer Dt 24 in hulle kontekste om die populêre opvattings van hulle eie tyd oor trou en skei uit te daag, terwyl hulle terselfdertyd God se diepste bedoeling met die huwelik beklemtoon. En dan moet ons natuurlik ons eie tyd en konteks ook in ag neem wanneer ons probeer raad gee oor hierdie kwessie. Kom ons probeer ’n bepaalde lyn trek.

Ons begin by Dt 24:1-4. Hier word verskillende situasies geskets. ’n Man trou met ’n vrou, ontdek dan iets onbehoorliks by haar, en skei haar. Die vrou trou vervolgens met ’n ander man, en dié kry ook ’n weersin in haar, en skei haar ook. Of dit gebeur dat die (tweede) man sterf. Nou word gesê dat die eerste man nie die vrou mag terugneem (hertrou) nie, omdat dit iets afstootliks vir die Here is. (Ek volg die bewoording van die 2020-Afrikaanse vertaling van die Bybelgenootskap van SA.) Die vraag is wat presies die rede is waarom die eerste man nie die vrou mag terugneem nie? Hoekom is dit iets afstootliks vir die Here? Veral omdat daar geen beletsel op die hertroue van die vrou met ’n tweede man was nie. Omdat die gegewens so karig is en die omstandighede rondom antieke huwelike in Israel gehul is in reëls en taboes wat vir ons vandag nie meer toeganklik is nie, is daar verskillende oplossings wat geleerdes aan die hand doen. Ek bespreek nie almal nie, maar handel net oor wat die mees waarskynlike argument hier is.

Die onderliggende agtergrond waarteen Dt 24:1-4 verstaan moet word, is dat die huwelik as ’n heilige instelling in Israel beskou is wat deur God in beskerming geneem is. Mense mag daarom nie vir enige bakatel skei nie. Verder is dit veral die vrou wat in hierdie verse in beskerming geneem word, omdat dié se posisie in die antieke samelewing – ook in Israel – uiters kwesbaar was; sy was grootliks uitgelewer aan die grille en giere van die man, veral in die huwelik. En in Israel is God veral die God van die weerloses – die armes, weduwees en wese. Hy waak in die besonder oor hulle (vgl Eksodus 22:22-24; Sagaria 7:10). En dit is ook die basiese saak wat in dié verse ter sprake is. Hoe verloop die argument?

Verkillende scenario’s word hier geskets. Die eerste kan mens so verstaan dat wat die eerste man as onbehoorlik aan sy vrou gevind het, die feit is dat sy nie ’n maagd was nie. Waarskynlik is sy as jongmeisie in die veld verkrag, waar niemand haar sou hoor as sy om hulp roep nie (vgl Dt 22:25-27). En dié geheim is deur haar pa stilgehou, om verstaanbare redes. (Sy sou nie goeie troumateriaal gewees het nie.) Toe haar eerste man dit ná hulle troue uitvind, kon hy eenvoudig nie daarmee saamleef nie, en het hy haar geskei. ’n Tweede scenario ontstaan wanneer sy ’n tweede huwelik aangaan, maar waar ook dié man haar geheim uitvind, en haar eweneens skei. ’n Derde scenario kan ontstaan wanneer die tweede man dit wel goed vind om met haar saam te leef, ten spyte van haar geheim, maar dan later tot sterwe kom. ’n Vierde scenario ontstaan as die vrou se eerste man dit as ’n geleentheid sien om munt te slaan uit die situasie deur sy twee keer geskeide ex, of tans weduwee, weer as vrou te neem. Moontlik sien hy dat hy geldelik daarby kan baat, aangesien sy ex ná twee huwelike met ’n aansienlike bruidskat kon sit. (Vroue is in bepaalde gevalle toegelaat om na ’n egskeiding hulle bruidskat te behou.) Maar dis nou op hierdie punt dat die Here bepaal dat ’n hertroue nie mag plaasvind nie, omdat die vrou nie ’n seksuele speelbal tussen mans mag wees nie, en omdat die vrou nie as ’n objek van winsbejag hanteer mag word nie. (Destyds is vroue as die man se besitting beskou.) Want dan word die huwelik bespotlik gemaak en in sy wese aangetas. En dis iets afstootliks vir die Here.

Hoe mens ook al die scenario’s van Dt 24 rekonstrueer, dit is duidelik dat die hele kwessie van skei en hertrou ’n spesifieke konteks in oud-Israel gehad het, wat nie noodwendig vandag meer geld nie. (Kyk byvoorbeeld ook die wetgewing rakende seksuele misdrywe in Dt 22:13-30 waarvan sommige vir ons vandag baie vreemd op die oor val. Net om te sê dat mens nie summier die OT wette net so vir vandag kan oorneem sonder inagneming van die konteks en ander uitsprake in die Bybel nie.) Die punt is egter dat die huwelik nie aan die willekeur van die man uitgelewer is nie, en dat die vrou se eer én die huwelik as eerbare en heilige instelling in Israel, deur God in beskerming geneem word. So word verhoed dat die land in sonde verval (Dt 24:4).

Kyk ons hoe Jesus die kwessie van egskeiding en hertroue hanteer, dan is dieselfde beginsels ter sprake, hoewel in ’n ander konteks. In Matteus 19:3-9 handel Jesus oor egskeiding en hertrou. As die Fariseërs Hom daarop wys dat Moses hulle toelaat om te skei (v7, verwysende na Dt 24:1-4), dan voer Jesus hulle terug na die oorspronklike bedoeling van die huwelik in Genesis 2:24, dat man en vrou een vlees is, dat God hulle saamgevoeg het, en dat ’n mens daarom nie mag skei nie. Hulle mag nie maak soos sommige Fariseërs Dt 24:1-4 geïnterpreteer het, dat mens sommer vir enige rede skei nie (Matteus 19:3). Jesus sê: slegs in geval van owerspel (v9, ook verwysende na Dt 24), kan dit oorweeg word. Maar eintlik is dit slegs by wyse van toelating, nie verpligting nie. As daar versoening kom, is dit steeds die beste as man en vrou bymekaar bly. Want soos die lewe in die algemeen, is ook die huwelik aan sonde onderworpe, en is ons geroepe om mekaar te vergewe, as dit enigsins moontlik is. Verder is Jesus streng oor die kwessie van hertrou na egskeiding: Hy sê dat ’n vrou wat sommer om een of ander ligsinnige rede in ’n egskeiding gedwing is, eintlik in ’n staat van egbreuk leef en nie weer behoort te trou nie (Matteus 5:32). En so, by implikasie, natuurlik ook die man wat die egskeiding aan die gang gesit het. Weer eens, so neem Jesus die huwelik as eerbare instelling in beskerming.

Dus, in die konteks van die ligtelike manier waarop Dt 24 deur sommige strominge in die Joodse gemeenskap van sy tyd hanteer is, gryp Jesus terug na die oorspronklike bedoeling van die huwelik, lê klem op die wesenlike onontbindbaarheid daarvan, en neem dus die huwelik en veral die kwesbare posisie van die vrou in beskerming.

Paulus, in sy raad aan die Korintiërs oor die huwelik in 1 Korintiërs 7, herhaal die opdrag van Jesus, naamlik dat man en vrou nie van mekaar mag skei nie, en ás hulle skei, dat hulle ongetroud moet bly, of met mekaar moet versoen (v10-11). Selfs in die geval waar gelowiges met ongelowiges getroud is, is die opdrag ook aan die gelowige partye om nie ’n egskeiding aanhangig te maak nie, want volgens Paulus word die ongelowiges deur die gelowiges geheilig (v12-14). Maar in die geval waar die ongelowige wil skei, laat Paulus dit toe (v15-16). Paulus is dus verbasend soepel in sy raad. Enersyds hou hy vas aan die heiligheid en wesenlike onontbindbaarheid van die huwelik, andersyds hou hy rekening met die praktiese omstandighede, veral in ’n heidense omgewing, soos waarin die Korintiese gelowiges hulle bevind het. Vir die ongetroudes hou hy selfs sy eie ongetroude status as voorbeeld voor, omdat die tyd kort is en mens eerder al jou kragte vir die koninkryk van God moet aanwend as vir die huwelik met al sy sorge (v25-35). Maar dit is slegs ’n suggestie, nie ’n gebod nie, soos Jesus ook impliseer in Matteus 19:10-12. Hierdie raad van Paulus oor die ongetroude status is eintlik baie rewolusionêr vir sy tyd, waar die huwelikstatus vir veral vroue uiters belangrik was. Paulus sê egter dat daar ’n belangriker status is, en dit is om voltyds in diens te staan van die koninkryk van God. Maar dis net vir sommiges bedoel, dis nie ’n algemene reël nie.

En so sal elke tyd sy eie reëls rondom die huwelik hê. Veral sedert die emansipasie van die vrou in die Westerse samelewing, waar die vrou op gelyke basis met die man behandel word, word daar anders gedink oor die huwelik, en is hertrou nie aan allerlei taboes onderworpe soos in die antieke samelewing nie. Maar vir die Christen, wat anders as die wêreldling leef, geld die wil van God oor die huwelik nog steeds. Daarom hou Christene vas aan die volgende beginsels, soos hierbo uitgewys: God het man en vrou saamvoeg in die huwelik; die huwelik is ’n permanente eenheid; egskeiding mag slegs om ernstige redes oorweeg word; en hertrou, hoewel toelaatbaar, mag nie ligtelik opgeneem word nie, juis omdat die huwelik vir die gelowige ’n ernstige en heilige verbintenis is en ligsinnige “marriage hopping” vermy moet word.

Ek vertrou dat bostaande oorsig vanuit Dt 24, in die lig van die latere hantering daarvan deur Jesus en Paulus vanuit hulle kontekste, en in die lig van my opmerkings daaroor vanuit ons konteks vandag, vir ons vraagsteller iets sal gee om te oordink.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl