Bybellees en bid

Bybellees en bid – Francois Malan

’n Leser vra:

 

Ek is n kind van die Here en baie lief vir Hom. In besige tye en selfs nie besige tye sal ek nalaat om my Bybel te lees en te bid. Ek voel later so skuldig en vra keer op keer om vergifnis omdat ek nie by Hom uitkom nie. Soms weet ek nie waar om te begin lees nie. Sal Hy nog vir my lief wees?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Om na te laat om jou Bybel te lees en te bid is jou skade, nie die Here se verhouding met jou s’n nie.

 

Hy is liefde (1 Johannes 4:816). Liefde is die eenheidsband tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Omdat God die wêreld lief het, het Hy sy Seun gegee om die sonde van die wêreld op Hom te neem om ons met God te versoen (vgl. Johannes 3:16), en het Hy sy Gees gestuur om in ons te kom woon, om ons tot geloof in Jesus te lei, en ons al meer soos Jesus te laat lewe (Joh. 14:15-17; 16:7-11; Romeine 8:8-11; 2 Korintiërs 3:18). Ons word deel van sy liefde, deur die Heilige Gees, sodat ons ook sal liefhê: vir Hom en vir mekaar (1 Johannes 4:16-21). Dit beteken ‘n persoonlike verhouding met God, wat Hy met ons het en wat ons steeds met Hom behoort te onderhou. 

 

Wanneer ons die Bybel lees, luister ons na wat die Here vir ons sê. Die Heilige Gees wat in ons kom woon het, gebruik die woord van God om ons te oortuig van verkeerde dinge in ons lewe en hoe ons moet lewe as kinders van God. Wanneer ons bid, dank ons die Here vir wat Hy elke dag vir ons doen, vra ons sy vergifnis vir ons oortredings van sy goeie wil vir ons, doen ons voorbidding vir ander, en bring ons ons eie versoeke na die Here en vra dat Hy sal gee wat die beste vir ons sal wees volgens sy oordeel.

      Bybel lees en gebed is die gesprek wat ons met ons Vader voer: Hy praat met ons deur sy woord se riglyne, beloftes en waarskuwings, en maak ons lewe vir Hom oop. En so groei ons in ons geloof in Hom en in ons vertroue op Hom.

        As ons nalaat om na Hom te luister en met Hom te praat, word ons lewe al meer ingewikkeld en besig, en al meer vrugteloos; omdat ons dan al meer op ons self vertrou met wat ons doen, en nie vertrou dat Hy die beste pad vir ons sal wys nie.

         In die gelykenis van die saaier verduidelik Jesus dat baie van die saad, nl. die woord van God, wat gesaai word, nie vrug lewer nie: (i) deurdat die Bose dit wegvat uit die hart van dié wat die woord gehoor het, maar nie verstaan het nie; (ii) deurdat die woord nie by die persoon wortel skiet nie, en dit nie lank hou nie; (iii) deurdat die bekommernisse en sorge van die lewe, en die verleidelikheid van die rykdom die woord verstik, sodat dit sonder vrug bly. Maar waar die woord gehoor en aanvaar word, volg baie vrug (Mat. 13:18-23; Mk 4:21).

Vir bedrywige Marta, wat kla dat haar suster wat by Jesus se voete sit en na sy woorde luister, sê Jesus: Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie (Lk 10:41-42).   

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Moses en sy geloof

Moses en sy geloof – Kobus Kok

‘n Leser vra:

Na aanleiding van Hebreërs 11:24-26, veral vers 26. Wat het Moses geglo?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Moses was ʼn aangenome seun van die Farao. Dit het hom ‘n erfgenaam gemaak. Hy het die keuse gehad om die rykdom en posisie wat daarmee saamgaan te hou. Tog kies hy om sy eie posisie van mag en voorreg op te gee en homself oor te gee aan die plan wat God vir sy lewe en sy eie mense gehad het. God se plan vir sy lewe sou behels dat hy homself moes leegmaak, en nie vas moes hou aan sy magtige posisie nie. Daardie pad het ‘n pad van lyding ingehou ter wille van dit wat God in en deur Moses wou doen – by name die verlossing van sy mense uit die greep van die oorheersing deur die Egiptenare. Moses moes die rykdom van ‘n paleis opgee vir die grenservaring van ‘n onsekere woestyn-tydperk. Moses kon net een ding doen – en dit is om te glo. Hy moes glo dat God ‘n pan en ‘n toekoms het. Geloof veronderstel vertroue in iets wat mens nie kan sien nie. Dit behels letterlik ‘n geloofsprong. Die vraag is of ons bereid sal wees om te doen wat Moses en Abraham gedoen het? Sal ons God vertrou vir sy beloftes?

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Dissipline van God

The Christian life is a process of God breaking our idols one by one – Elisabeth Elliot.

 

Dissipline van God

God se dissipline is nog ‘n manier waarop God ons beskerm en behou. Die waarskuwings van God lei tot selfondersoek – dit is hoe God ware gelowiges laat volhard. Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe (2 Korintiërs 13:5). En dissipline? Want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem. Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders (Hebreërs 12:6 – 7).

 

Maar ons word ernstig teen selfmisleiding gewaarsku. Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net Hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree (Matteus 7:21 – 23).

Wat sê hierdie gedeelte vir ons? Daar is baie wat daarop aanspraak maak dat hulle in Christus glo, maar die manier waarop hulle lewe weerspreek hulle aanspraak. Hierdie mense het gepreek, bose geeste uitgedryf en selfs wonders gedoen. In die oë van die mense was hulle geestelik. Maar hulle het hulleself mislei. Hulle het nooit werklik berou oor hulle sondes gehad nie; hulle het nie volgens die onderrig van Jesus Christus geleef nie; hulle het nie ‘n lewe van gehoorsaamheid nagestreef nie. Let wel: Jesus sê nie dat hulle hulle verlossing verloor het nie – Hy sê dat Hy hulle nooit geken het nie. Ons kry dieselfde in 1 Korintiërs 6:9 – 11).

As ons praat van ware geloof in God praat ons van ‘n nuwe skepping. Jy het die ou dinge gelos. Dit beteken nie dat jy nooit weer met hierdie sondes sal stry nie, maar dit beteken wel dat jy jou rug beslissend op so ‘n leefwyse gedraai het. Daar is mense wat sê dat hulle Christene is, maar hulle optrede, keuses en leefstyl wys dat hulle nooit werklik weergebore was nie.




Waarskuwings van God

Sin and the child of God are incompatable. They may occasionally meet; they cannot live together in harmony (John Stott).

Waarskuwings van God

God se waarskuwings is dikwels die manier waarop God verhoed dat sy kinders van die geloof afdwaal. In hulle briewe waarsku die apostels die gemeentes. Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy aan die lewende God afvallig word nie. Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het (Hebreërs 3:12 – 14); Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie (Hebreërs 12:14).

 

As God sy kinders waarlik behou en hulle nie verlore kan gaan nie, hoekom word hierdie waarskuwings aan die gemeentes gegee om nie afvallig te word nie? Die waarskuwings is God se genade waardeur Hy verhoed dat sy kinders van Hom af wegdraai. Sy kinders sal sy waarskuwings ter harte neem. Hierdie waarskuwings laat ons selfondersoek doen en help ons om te volhard. God kan belowe dat ons status veilig en verseker is, maar terselfdertyd gebruik Hy waarskuwings as metode om hierdie status te behou. In Handelinge 27 is Paulus ‘n gevangene aan boord van ‘n skip in ‘n geweldige storm. Paulus vertel hulle van God se belofte dat almal wat aan boord van die skip bly gered sal word. Maar terselfdertyd rig hy aan hulle ‘n waarskuwing: As hierdie matrose nie aan boord bly nie, kan julle nie gered word nie (27:31). In hierdie gedeelte kry ons ‘n duidelike belofte vir beskerming van God. Maar toe van die matrose die skip wou verlaat, waarsku Paulus die offisier. Hulle veiligheid en beskerming was verseker, maar die waarskuwing is die metode wat God gebruik om te verhoed dat hulle die skip verlaat.

God se waarskuwings is dikwels die manier van genade waardeur hy verhoed dat sy kinders van Hom wegdraai.