Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (5)

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (5) – Adrio König

8.3.4 Israel

Intussen bly Israel vir sommige gelowiges ‘n baie belangrike saak. En in ons tyd kom dit weer sterk na vore. Mense is oortuig dat bepaalde dinge wat nou in Israel gebeur die vervulling van profesieë is.

Kom ons kyk eers wat ons in die Nuwe Testament oor die toekoms van Israel het. 

 

  • Matteus 10:23  Dit is nogal een van die moeiliker uitsprake van Jesus oor Israel, maar dit sê nie meer nie as dat die verkondiging van die evangelie aan Israel sal voortgaan tot Jesus kom.
  • Matteus 19:28  Hier staan net dat Jesus se volgelinge iewers in die toekoms oor Israel sal regeer. Die woorde: “Wanneer alles nuut gemaak word” laat ‘n mens aan die nuwe aarde dink (Openb 21:5), maar dis moeilik om dit daarby in te pas.
  • Matteus 23:39  Dis ‘n besonder interessante uitspraak. Dis eintlik moeilik om te vertaal, want die Griekse vorm van “julle sal uitroep” dui  ‘n moontlikheid aan, nie ‘n voldonge feit nie. Dit beteken iets soos: “Julle sal My nie weer sien nie behalwe as julle sal uitroep …” Is dit nie van Jesus se kant af ‘n oproep tot bekering nie? Kom ons kyk na die verband.

 

Matteus 23 het die skerpste uitsprake van Jesus in die hele Nuwe Testament. Dit is oordeel op oordeel op oordeel. En dan volg die laaste, vernietigende oordeel: Jerusalem sal verwoes word. Dit beteken eintlik dat God se besondere verhouding met Israel verbreek word. Dit het Jesus al vroeër aangekondig (Matt 21:43).

 

Maar dan hou Jesus nie hier op nie. Dan nooi Hy hulle uit om tot bekering te kom. Hy gebruik dieselfde woorde wat die juigende skare kort tevore by sy intog gebruik het: “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom” (21:9). Hierdie volksleiers moet soos die skare word: Juigend oor Jesus. Vers 39 beteken dus skynbaar iets soos: Julle sal My net kan sien as julle tot bekering kom. Of: Indien julle tot bekering kom, sal julle My sien.

 

  • Lukas 21:20-24  Dis ‘n deel van Jesus se profetiese rede. Dit gaan oor die verwoesting van Jerusalem. Heidene sal Jerusalem inneem en “vertrap totdat ook hulle tyd verby is”. Die heidene sal Jerusalem dus vir ‘n bepaalde tyd lank vertrap. En daarna? Dit is die vraag. Hier staan niks oor wat daarna sal gebeur nie. Daar is mense wat dan baie dinge inlees wat daarna sal gebeur. Maar dit staan nie hier nie. Dit is dus ook moontlik dat die einde daarna kom, die wederkoms van Jesus en die nuwe aarde. Trouens dis presies waaroor Jesus dan verder praat (21:25-27).
  • Handelinge 3:19-21  Dit is Petrus se oproep aan Israel om hulle te bekeer. “Dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom.” Wat sal in hierdie tye gebeur? God sal alles nuut maak en vir Jesus stuur. Dit verwys tog seker na die wederkoms en die nuwe aarde.
  • 1 Tessalonisense 2:16  “Die Jode het nog altyd gesondig, maar nou het hulle die maat van hulle sondes vol gemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref.” Dit is die toekoms van Israel.

 

Wat het ons tot hiertoe oor die toekoms van Israel gekry?

  • Ons sal nie klaar kry om die evangelie aan Israel te verkondig voor Jesus kom nie.
  • Jesus se volgelinge sal iewers in die toekoms oor Israel regeer.
  • Die Israeliete wat tot bekering kom, sal die Here Jesus sien en Hom prys.
  • Jerusalem gaan verwoes word, en skynbaar deur heidene vertrap word tot Jesus kom.
  • Die oordeel van God het Israel begin tref.

 

Wat het ons gekry? Israel wat hulle moet bekeer, en die oordeel van die Here is oor hulle.

 

En die vyeboom? Sal die Here Jesus nie kom wanneer die vyeboom blare kry nie? Is die “vyeboom” nie Israel nie, en is “blare kry” nie Israel wat teruggaan na die staat van Israel nie?

 

Nee. Ons kry dieselfde woorde van Jesus in Lukas: “Let op die vyeboom en al die ander bome. Sodra julle sien dat hulle begin uitloop , weet julle vanself dat die somer naby is” (Luk 21:29ev).

  

As “die vyeboom” Israel is, en as “begin uitloop” beteken teruggaan na hulle land toe, dan moet al die ander volke ook teruggaan na waar hulle vandaan gekom het. 

 

As ‘n vyeboom iewers in die Ou Testament ‘n simbool van Israel is, beteken dit nie dit is elke keer so ‘n simbool nie. Hier is dit nie. Dis ‘n gewone vergelyking: Wanneer bome blare kry, weet ons die somer is naby. Net so weet ons die koms van Jesus is naby wanneer ons die tekens sien waarna Hy verwys het.

 

Wat bly oor in verband met Israel se toekoms? Natuurlik Romeine 11. Dit is ongetwyfeld die belangrikste en insiggewendste deel oor hulle toekoms in die Nuwe Testament.

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (4)

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (4) – Adrio König

8.3.3 Die heidensending      

Die evangelie moes eers aan alle mense verkondig word voor die Here sal kom. Jesus het self ‘n duidelike uitspraak: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom” (Mat 24:13). 

Beteken dit dat die Here dus nie nou al kan kom nie, trouens dat sy koms selfs nie eens naby kan wees nie? Immers daar is baie mense, selfs volke wat nog nie die evangelie gehoor het nie. Maar pas dit regtig in by die prentjie van die Nuwe Testament? Sy koms was dan al in die tyd van die Nuwe Testament naby. 

 

Wat het Jesus bedoel? Dis interessant om Paulus se briewe hieroor te lees.

  • In Romeine 16:26 skryf Paulus van die evangelie wat “aan alle nasies bekend gemaak is”.
  • In  Kolossense 1:6 skryf hy van die evangelie “wat in die hele wêreld vrug voortbring,”
  • en in Kolossense 1:23 van “die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is”,
  • en later lees ons: “Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor” (2Tim 4:17).

 

En skielik is dit duidelik waarom Paulus, en al die ander skrywers in die Nuwe Testament, kon verkondig dat die koms van Christus (in hulle tyd!!) naby was. Hulle was oortuig dat die uitspraak van Jesus deur hulle optrede in vervulling gegaan het: al die nasies (waarvan hulle geweet het) het reeds in hulle leeftyd die evangelie gehoor. En dit was ‘n teken dat Jesus reeds in die tyd van die Nuwe Testament enige oomblik kon kom. Ons kan immers nie aanvaar dat Jesus onder “al die nasies’ iets anders bedoel het as wat die apostels daaronder verstaan het nie.

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Heiligmaking – Vraag

Heiligmaking – Francois Malan

Willie vra:

My vraag handel oor die wedergeboorte en heiligmaking. 1Petrus 1;3 sê God Hy het Sy liefde aan ons betoon deur die proses te begin wat op ons wedergeboorte uitgeloop het .Ek verstaan God alleen kan die wedergeboorte bewerkstellig. Ek is nou ‘n nuwe mens . Is die heiligmaking die proses waar ek streef om soos Jesus te word – soos Hy was toe Hy as mens op die aarde was, want ek kan tog nooit aan Sy Goddelike natuur gelyk word nie . Speel die selfdissipline waarna Petrus in 2 Petrus 1 verwys ‘n rol ? Het dit te make met ‘n keuse wat ek maak? Het ek n rol/verandwoordelikheid in HeiligMaking?

ANTWOORD

Prof. Francois Malan antwoord:

1 Petrus 1:3 prys God, wat ons deur sy groot barmhartigheid weer laat gebore word het tot ‘n lewende hoop, deur die opwekking van Jesus Christus uit die dood. Daardeur het ons Hom lief as ons Vader en glo ons glo ons in Hom as ons God vir wie ons lewe (3:8).

 

1:1-2 het Petrus reeds gesê dat God ons uitgekies het om deur die Heilige Gees geheilig te word om aan Hom toegewyd te lewe, deur aan Jesus Christus gehoorsaam te wees en deur sy bloed gereinig te wees. 

 

Geloof in God en sy Seun word deur die Heilige Gees bewerk, deurdat Hy ons met die verkondiging van die woord van God oortuig van God se liefde en genade wat ons deur Jesus se liefdesoffer red. Die Heilige Gees het reeds in ons kom woon om ons tot geloof in Jesus te lei, ons aan Jesus te verbind om, saam met die Seun van God, kinders van God te wees (Joh 16:9-11; Rom 8:11, 14-17), sodat ons al meer soos Jesus word (2 Kor 3:18).

 

1 Petrus 1:13-16 is ‘n oproep om heilig te lewe: ons verstand moet ingespan word om God se woord te begin verstaan en hoe ons, as begenadigdes van God, aan Hom toegewyd moet lewe volgens sy woord.

            As God se gehoorsame kinders moet ons ons lewe nie meer inrig volgens ons eie begeertes en selfsug nie (vgl. ook Rom 8:12-13). Soos God heilig is, moet ons ook in ons hele lewenswandel heilig wees, dit beteken om toegewyd aan God en sy woord lewe.

            Dit beteken dat ons soos ons Vader moet word. In Matteus 5:43-48 sê Jesus: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. Wees julle dan volmaak in die liefde soos julle Vader volmaak is. Liefde is nie ‘n gevoel nie, maar ‘n wilsbesluit om selfs jou vyand lief te hê omdat God jou lief het en ook vir hom/haar.

 

My rol in heiligmaking is om die sonde te los, versoekings te weerstaan, en te lewe volgens die riglyne van God se woord. Dit kan ek nie op my eie en in eie krag doen nie, maar daarvoor het God in my kom woon deur sy Gees; om ons te lei en die krag te gee om reg te besluit en dit uit te voer. Hy staan ons ook by om reg te bid en so in afhanklikheid van God te lewe (Rom 8:26-30).

 

Maar sonder liefde is daar geen heiligmaking nie. Jesus se nuwe gebod aan sy dissipels voor sy dood was: julle moet mekaar liefhê, soos Ek julle liefhet moet julle mekaar liefhê (Joh 13:34; 15:12). En 1 Johannes 4:7-8 sê: God is liefde, elkeen wat liefhet is ‘n kind van God, en wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie.

            Die Heilige Gees maak ons deel van die liefde tussen die Vader en die Seun en die Gees. Galasiërs 5:22-23 sê die vrug van die Gees in ons lewe is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. So lyk heiligmaking, sodat ek sal begin lewe deur myself te verloën en Jesus te volg in gehoorsaamheid aan sy woord en sy voorbeeld.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesus is God (2)

Nothing that has not died will be resurrected – C. S. Lewis

 

Jesus is God (2)

Van vroeg af was daar groepe wat ontken het dat Jesus God was. Selfs vandag is daar baie mense wat dit steeds ontken. Daar is egter baie gedeeltes in die Bybel wat dit duidelik maak dat Jesus ook God is. In Johannes 1:14 word Jesus met die Woord geïdentifiseer. Daar lees ons: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God (1:1). Hierdie vers sê nie net dat Jesus by God was nie, maar dat Hy self God was. Paulus verwys na Jesus as ons God en Verlosser wat weer sal kom. Christene se hoop berus op die wederkoms van Christus. Terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn (Titus 2:13); Hulle stem van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore – Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig (Romeine 9:5).

 

 

Ons hoor dat die engel vir Maria sê, nog voor die geboorte van Jesus: hulle sal Hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons (Matteus 1:23). Die Bybel maak dit baie duidelik dat Jesus volledig God is.

 

Hoekom is dit belangrik? Jesus verdien om as die Seun van God aanbid te word. Hy het ons immers gemaak: Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie (Johannes 1:3). Hier praat Johannes van Jesus – die Woord. Hy het ons verlos; Hy het ons met sy bloed gekoop. Saam met die hemelwesens, ouderlinge en engele moet ons sing: Die Lam wat geslag is, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang (Openbaring 5:12).

 

Daar is baie gedeeltes in die Skrif wat bevestig dat Jesus God is. Jesus het twee nature: volwaardig mens en volwaardig God. Volgende keer kyk ons na Jesus as mens