Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (7)

Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (7) – Adrio König

2.4 Kolossense 2:16

Tog is daar Christene wat oortuig is dat ons Kolossense 2:16 verkeerd verstaan. Hulle meen dit gaan daarin nie om die gewone weeklikse Sabbat nie. Daar word onder andere twee argumente aangebied.

  • Dit gaan hier oor ander feesdae as die gewone Sabbat. Daar sou ook ander feesdae wees wat “Sabbat” genoem was.
  • Die Griekse woord vir “Sabbat” is hier in die meervoud. Dit sou bevestig dis nie die gewone Sabbat waarna Paulus verwys nie.

 Kom ons kyk eers na die meervoud. Die vorm van die Griekse woord lyk na ‘n meervoud. Maar dit is presies dieselfde woord wat in die Ou Testament (in die Septuagint) gebruik word vir die weeklikse Sabbat. Daar is twee moontlikhede: Dit is óf werklik ‘n meervoud, óf dit is die transkripsie van die Hebreeuse woord in Griekse letters. En dit maak geen saak watter een van die twee korrek is nie. Dit is die woord wat in die Ou Testament vir die weeklikse sabbat gebruik is.

 

En dan die bewering dat “sabbat” hier nie verwys na die weeklikse Sabbat nie, maar na ander feesdae.

 

Dit is inderdaad moontlik dat daar enkele gevalle is waar ‘n ander feesdag as die gewone Sabbat ook “Sabbat” genoem word (Lev 16:31; 23:9, 15, 32). Dit gaan hier onder andere oor die groot versoendag. Maar dit kan nie wees wat Paulus hier onder “Sabbat” bedoel nie. Hy noem dan klaar hierdie feeste onder “die jaarlikse feeste” (“die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbat” Kol 2:16).   

 

Wat egter veel belangriker is, is die feit dat hy die staande uitdrukking hier gebruik wat oor en oor in die Ou Testament vir Israel se totale feeskompleks gebruik word: “Die jaarlikse feeste, die nuwemaanfees, en die Sabbat”. Waar hierdie uitdrukking in die Ou Testament gebruik word, beteken “Sabbat” altyd die weeklikse Sabbatdag. Dit kan dus nie hier skielik na ‘n ander feesdag verwys nie. Kyk gerus na hierdie uitdrukking in die Ou Testament (1 Kron 23:31; 2 Kron 2:4; 31:3; Neh 10:33; Eseg 45:17; Hos 2:10. Kyk ook na 2 Kon 4:23; Jes 1:13; Eseg 46:1, 3; Amos 8:5; Jes 66:23; Klaagl 2:6). Dit is ook duidelik dat “Sabbat” in hierdie uitdrukking die weeklikse sabbat bedoel (Jes 66:23; Eseg 45:17; Neh 10:33).    

 

‘n Mens kom dus nie maklik weg van die oortuiging dat die Sabbat nie net skynbaar verdwyn het uit die lewe van die vroeë Christene nie, maar selfs dat Paulus die gelowiges heeltemal vry wou maak daarvan.

 

Hierdie oortuiging word nog versterk deur sy opmerking in Galasiërs. Onthou die eintlike stryd in Galasiërs gaan oor die wet en die besnydenis. Maar dit raak ook ander gebruike uit die Ou Testament. Die dwaalleraars in Galasië is Fariseërs wat tot bekering gekom het, maar nie van die Ou Testamentiese reste van hulle geloof wou afsien nie. Hulle eis dat die heidene wat Christene word, die wet moet hou, en dan veral besny moet word. Ons kry tekens hiervan meer kere in die Nuwe Testament, oa ook in Handelinge 15:2, 5.

 

Paulus wys nie net hierdie eise skerp af nie – so skerp dat dit nie eintlik skerper kán nie (Gal 5:2-4). Dis ‘n kwessie van alles of niks.

 

Maar dan kom hierdie ander gebruike uit die Ou Testament ook ter sprake. “Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk onder julle was dalk tevergeefs” (Gal 4:10-11).

 

Daar is gelowiges wat meen dit gaan hier ook nie oor die weeklikse Sabbat nie, maar oor hierdie (moontlike) ander “Sabbatte”.  Maar dit is om ‘n paar redes nie regtig moontlik nie.

 

Dis duidelik dat Paulus dieselfde bedoel as in Kolossense. Dit is in al sy Briewe net op hierdie twee plekke waar hy die vreemde uitdrukking gebruik: “wettiese godsdienstige reëls” (Gal 4:9; Kol 2:20). En beide kere gaan dit oor dieselfde feeskompleks. In Galasiërs is hy net baie negatiewer. Hy noem dit hier: “die minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls”.  Hy skryf dus die hele feeskompleks radikaal af.

 

Verder is die reeks woorde wat hy gebruik duidelik ‘n aanduiding van die totale feeskompleks van die Ou Testament. Hy voeg eintlik by die lys in Kolossense nog een soort fees by. Naas die dagfees (Sabbat), die maandfees (nuwemaansfees), en die feesgeleenthede  (die jaarlikse feeste), voeg hy ook die “jare” by, dit is die Sabbatjaar- en die jubeljaarfees, dus letterlik al die feeste.

 

En sy waarskuwing is baie ernstig. Hy is bang hulle deel nie regtig meer in die genade nie, hulle het nie regtig gelowiges geword nie. Dit is presies ook wat hy oor hulle onderhouding van die wet en die besnydenis geskryf het (5:2-4). Dit beteken tog dis net so gevaarlik om met hierdie feeste aan te hou as om besny te word. 

 

Volgens Paulus moet mense kies:

  • óf Jesus,
  • óf die gebruike van die Ou Testament soos die besnydenis en die Sabbat en die feeste.

 

Ons sal later sien dat die skrywer aan die Hebreërs verder nog die tempel, die priesters, en die offers byvoeg. Dit gaan dus op die ou end oor die hele Ou Testamentiese kultus. Dit was ‘n eenheid.  Daaruit kan ‘n mens nie willekeurig ‘n paar kies en die ander los nie.    

 

Is die Sabbat deel van die tien gebooie? Daarna kyk ons volgende keer.

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Ons verheug ons ook in die swaarkry

It may be very well to do this and that for good fellowship; but it will never do to lose the friendship of God in order to keep on good terms with men.” —Charles Spurgeon

 

Ons verheug ons ook in die swaarkry

Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding (Romeine 5:3).

Die ou filosowe het volharding as een van die belangrikste deugde van die mens gesien. Om ten spyte van teenstand en swaarkry te volhard, is as positiewe karaktereienskappe gesien. Ook in ons moderne kultuur is volharding ‘n positiewe deug.

 

 

Ook mense wat ten spyte van druk, persoonlike swaarkry, voortdurende versoeking en selftwyfel hulle geloof behou het , word geëer. Die Christelike lewe is nie ‘n naelloop nie, maar ‘n maraton. Hoekom volhard ons? Ons sien die einde nader kom. Ons einde kom – of Jesus kom weer of ons sterf. Aan die einde sien ons die nuwe Jerusalem en ons verkeer elke dag saam met God (Openbaring 21 en 22).

 

In 1952 probeer Florence Chadwick, ‘n Amerikaanse langafstand swemster, die 30 kilometer kanaal tussen Catalina eiland na Palos Verde swem – die eerste vrou wat dit sou regkry. Weens die gevaar van haaie, koue water en ‘n digte mis gooi sy tou op – met minder as twee kilometer oor om te swem. Die mis veroorsaak dat sy nie meer kon sien waarheen sy swem nie – dit voel vir haar asof sy geen vordering maak nie, want sy kon nie sien dat sy nader aan haar doel kom nie.  Twee maande later probeer sy weer en hierdie keer slaag sy. Toe sy gevra is waarom sy nie die eerste keer geslaag het nie, sê sy: “As ek net die land kon gesien het, sou ek dit gemaak het.”

 

Hier is ‘n baie belangrike les vir ons: Ons sal die resies voltooi as ons net die einde kan sien.  Gelowiges volhard, want hulle kan die einde sien: God wat saam met sy mense woon. Dit is die einde waarheen ons elke dag streef. Ons loop in geloof tree vir tree altyd nader aan ons ewige tuiste.

 




Vir wie verkondig ons die Woord?

Those who cannot remember the past are condemned to repeat it.~George Santayana

 

Vir wie verkondig ons die Woord?

Bill Tenny-Brittian sê dat meeste van ons die Woord verkondig aan ‘n moderne gehoor wat goed bekend is (of bekend was) met die kerk – eintlik maar “een van ons.” Ons aanvaar dus dat die mense met wie ons praat ‘n sekere mate van kennis van die Bybel het. Kerklos mense weet dat die Bybel “die heilige boek van die Christene” is … en baie min meer as dit. Vir hulle is die Bybel ‘n ou boek wat min te sê het vir die lewe in die 21ste eeu. As ons dus ons gesprek begin met die lees van ‘n gedeelte uit die Bybel begin ons met ‘n onstabiele aanname.

 

 

As ons diegene buite die kerk wil bereik, moet jy begin waar hulle begin – die ware lewe van die kerklos kultuur. Praat ons met mense in die kerk begin ons by die Bybel, ons verduidelik dit en ons pas dit toe. Hierdie mense aanvaar dat die Bybel darem gesagvol is en dat die waarhede daarin in hulle lewens toegepas kan word.

 

As ons met kerklos mense praat, begin ons deur ‘n saak/bekommernis/belangstelling van die teikengehoor te ondersoek. Bespreek dan hoe die kultuur van vandag hierdie vrae antwoord. Wys dan daarop hoe die Bybel hierdie sake hanteer – vergelyk en/of stel teenoor mekaar. Pas dan die Bybel op die lewe toe. Die aanname is dat diegene met wie jy praat min of geen positiewe ervarings van die Skrif het. Wat jy probeer doen is om te wys dat die Skrif tog wel iets vir hulle te sê het.

 

Hy eindig met twee waarnemings uit die Nuwe Testament:

  • Jesus begin by die Skrif net as Hy met mense wat die Skrif ken, praat. Andersins begin Hy met ‘n storie of ‘n saak. In werklikheid gebruik Hy selde die Skrif as Hy met hierdie mense praat.
  • Nie een keer sien ons dat ‘n Nuwe Testamentiese prediker ‘n Skrifgedeelte (=Ou Testament) uitlê nie.

 

Dit beteken nie dat ons nou hulle praktyke slaafs moet navolg nie, maar ons moet daarvan kennis neem. As ons teikengehoor nie kerkmense is nie, moet ons hulle anders benader.

 




Hoekom lees mense nie meer die Bybel nie?

You are saved because Christ  says yes to you – Michael Horton

 

Hoekom lees mense nie meer die Bybel nie?

Mense lees minder die Bybel. Biblica gee veral drie redes hiervoor:

  • Mense lees net fragmente – op die vlak van verse en nie eers meer groter gedeeltes nie. Beslis nie hoofstukke nie.Mense sien dus nie meer  die groter prentjie nie. Biblica het nou die NIV sonder hoofstukke en verse gepubliseer – The Books of the Bible.
  • Mense lees sonder ‘n gevoel vir die geskiedkundige konteks. Biblica het die boeke van die Nuwe Testament herrangskik om iets van ‘n geskiedkundige orde te weerspieël. So begin Paulus se briewe met 1 Tessalonisense en eindig met 2 Timoteus met Romeine in die middel. Lukas-Handelinge begin die Nuwe Testament as een werk. Matteus en Markus volg na Paulus se briewe.  In die Ou Testament bly Genesis – 2 Konings soos tans. Kronieke en Daniël word saam met die geskrifte geplaas. Dit stem baie ooreen met die tradisionele Joodse kanon. Daar is niks heilig aan die volgorde waarin die boeke verskyn nie.
  • Mense lees in isolasie. Om die Skrif te lees is ‘n taak vir die gemeenskap waar gelowiges mekaar kan help en bemoedig.

 

Read big, read real, read together.