Jesus herstel Petrus in die apostelamp (21:15-23)

Jesus herstel Petrus in die apostelamp (21:15-23) – Francois Malan

21:15 Na die oggendete langs die houtskoolvuur (anthrakia, 21:9) spreek Jesus Petrus aan as Simon, seun van Johannes, nie met die ‘rots’naam wat Jesus hom gegee het nie (1:42; vgl. Mt 16:18).  Jesus vra drie maal vir Petrus of hy Hom liefhet, nadat Petrus langs ‘n houtskoolvuur (anthrakia, 18:18) drie maal ontken het dat hy Jesus ken en sy dissipelskap van Jesus verloën het. By hulle vorige maal saam, het Petrus oormoedig verklaar: Ek sal my lewe vir U aflê (Jn 13:37; in Mt 26:33 het hy nog gespog: al sou húlle U ook almal in die steek laat, ek sal U nooit in die steek laat nie).

Jesus vra: het jy My baie lief (agapas), meer as hulle hier? Petrus antwoord: Ja Here, U weet dat ek U liefhet (filoo soos ‘n vriend; 15:13-15).  In sy verleentheid vergelyk hy hom nie meer met sy mededissipels nie, maar werp homself op die Here en sy kennis van Petrus, dat die Here weet wat in sy hart aangaan (2:25), ten spyte daarvan dat hy gefaal het. Tot sy groot verligting aanvaar die Here hom deur hom weer aan te stel in sy diens (vgl. Lk 22:31-32). Petrus se liefde vir die Here moet blyk uit sy sorg vir die Here se kudde. Petrus wie se geloof hom gefaal het, kry die opdrag om Jesus se lammers, die swakkes in die geloof, te versorg. 

 

21:16 Jesus vra vir die tweede maal: Simon seun van Johannes, het jy my baie lief (agapas). Petrus antwoord weer: Ja, Here , U weet dat ek u liefhet (filoo). Die herhaling van dieselfde vraag vra rekenskap oor die egtheid van sy gehegtheid aan Jesus, nou nie in vergelyking met die ander nie, maar van hom wat hier voor Jesus staan. Petrus se antwoord steun weereens op Jesus se kennis van sy hart as bewys van sy liefde. Jesus kan sy kudde se sorg alleen opdra aan iemand wat Hom onvoorwaardelik en onwankelbaar liefhet en doen wat Hy sê (15:10).

 

21:17 Die derde keer vra Jesus selfs of Petrus Hom liefhet (fileis) – soos hy nou al twee maal beweer het. Petrus se selfversekerdheid van voor die gevangeneming van Jesus is daarmee heen. Petrus word bedroef  oor hierdie derde keer wat selfs sy vriendskap bevraagteken (Mat.26:75; Mk 14:72; Lk 22:61 vertel van sy droefheid direk na die haan gekraai het). Hy verwys vir sy getuienis van die egtheid van sy vriendskap na Jesus se alwetendheid – Here, U weet alles, U weet dat ek u liefhet (filoo). Die eerste opdrag was ‘laat my skape wei’ (boskoo), die tweede ‘pas my skape op’ (poimainoo), die derde is weer ‘laat my skape wei’ (boskoo). Al drie kere is daar ‘n heraanstelling van Petrus. Sy taak is om die gemeente te versorg, en die enigste vereiste daarvoor is liefde tot Jesus en Jesus se kudde. Dié liefde is ook die vereiste vir die manier waarop die volgelinge van Jesus versorg moet word.

 

21:18-19 Soos Jesus die dwarsbalk van sy kruis op sy nek, met sy hande daaraan vasgemaak, gedra het (19:17), so sal die soldaat, wat Petrus moet gaan kruisig, die dwarsbalk van Petrus se kruis op sy nek sit, en Petrus sal sy hande uitstrek om daaraan vasgemaak te word,  soos die Romeinse gebruik was. Die ‘ander, ’ nl. die soldaat, sal Petrus se lang jurk opbind en met sy gordel om sy middel vasmaak, sodat hy ongehinderd kan stap; die soldaat sal hom aanjaag na waar hy nie wil wees nie. So skets Johannes die kruisiging van Petrus met ‘n alledaagse beeld van iemand wat in sy jeug kan gaan waar hy wil, maar in sy ouderdom afhanklik word van ander om hom aan te trek en te lei, soms na plekke teen sy wil. Johannes beskryf dit as ‘n teken (dieselfde woord as die wondertekens wat Jesus verrig het); die betekenis van die teken is die dood waarmee Petrus God gaan verheerlik, in navolging van Jesus se dood tot verheerliking van God (12:27-28; 13:31-32; 17:1). God word verheerlik deur Christene wat hulle lewe afê vir die naam van Jesus (1 Petr.4:16). Petrus word gewys op die gevolge van sy heraanstelling as herder van Jesus se skape (21:15,17). Hy wat in 21:7 in sy vervaarde eiewilligheid nog sy eie klere aangetrek het, sal in sy ouderdom gebind word vir die Naam van Jesus, en soos die goeie herder sy lewe vir die skape aflê (10:11).

            Jesus se finale opdrag aan Petrus is: Volg My! – sonder om van Jesus af te wyk, en tot in sy dood aan die kruis (‘n onverwagte vervulling van  13:36).Toe hierdie Evangelie geskryf is, het Petrus meer as 20 jaar tevore, moontlik in 64 n.C., aan ‘n kruis in Rome gesterf, volgens die kerklike oorlewering (Eusebius II25; 311 n.C.). Die ‘geliefde dissipel’ was toe waarskynlik ook al dood (vgl. die verklaring by 21:24).

 

21:20-21 Om Jesus te ‘volg’ beteken nie meer om agter Hom aan te loop, soos die dissipels vir ‘n paar jaar lank gedoen het nie, maar verwys na Jesus se voortgaande werk in die wêreld deur sy volgelinge onder leiding van, en met die krag, van die Heilige Gees. Iets van die nuwe soort navolging van Jesus het Petrus reeds gesien in ‘die dissipel vir wie Jesus baie lief was’ (van wie ons reeds sedert hoofstuk 13 lees, die man aan Jesus se bors vir wie Petrus gevra het om by Jesus te vra wie die verraaier onder hulle is, wat eerste by die graf gekom het saam met Petrus, wat Jesus eerste op die strand herken het, en deur hom het Petrus na Jesus toe geswem). As die kruis Petrus se einde gaan wees, wat dan van hom?  

 

21:22 Jesus wys Petrus se nuuskierige vraag af oor die lieflingdissipel se toekoms. Daaroor sal die Here nog self besluit. Die vraag wat ‘n ander se toekoms sal wees is vir geen volgeling van Jesus van belang nie. Dit is in die Here se hand. Maar wat wel uiters noodsaaklik is, is dat jy, wat die besondere voorreg ontvang het om deur Jesus geroep te word om Hom te volg, die vaste besluit neem om Jesus te volg en dit jou lewe lank met toewyding uit te voer. ‘Jy’ staan met klem voorop in die kort sinnetjie: Jy, volg jy My! Die roepstem van God mag nie verdring word deur weetgierigheid oor die wil van God vir ander nie. God gebruik elke mens op ‘n unieke manier. So was die ywerige Petrus ‘n getuie vir Jesus deur sy lewe en ook deur sy marteldood (die Griekse woord vir getuie, martus, het later ‘martelaar’ geword, vir die mense wat weens hulle getuienis oor Jesus gemartel en doodgemaak is). Johannes was weer deur sy lang lewe ‘n getuie van die liefde van God, sodat hy die benaming ‘die geliefde dissipel’ gekry het, die een wat in sy lewe en geskrifte getuie was van God se liefde vir die wêreld en vir hom.  

 

21:23 Die vers is ‘n byvoeging deur die skrywer om die presiese woorde van Jesus  te onderstreep. Dit was skynbaar verkeerd vertolk deur die ‘geliefde dissipel’ se volgelinge, as sou Johannes bly lewe tot die wederkoms. En  nou dat hy waarskynlik al dood is, verstaan hulle nie wat aangaan nie.  Die ‘broers’ by wie die misverstand ontstaan het, verwys waarskynlik na die Johannese gemeentes. Die Here het nie gesê (v22): ‘Ek wil hê hy moet bly tot ek weer kom nie,’ maar ‘as Ek wil hê dat hy moet bly tot Ek weerkom – is dit nie jou saak nie, jy, volg jy My!.’  

 

Die tweede slot (21:24-25)

21:24 ‘Ons weet…’ waarskynlik is dit die skrywer se gebruiklike ‘ons’ (soos in 3:2 deur Nikodemus, in 3:11 deur Jesus; 20:2 deur Maria Magdalena) om die belangrikheid van die getuienis te onderstreep. Hierdie Evangelie is die getuienis van die ‘geliefde dissipel.’ Die skrywer wat sy getuienis opgeteken het, sê ‘ons weet dat sy getuienis (maturia) waar is.’ Hierdie Evangelie is by uitstek ‘n getuienis oor Jesus, wat gebaseer is op die getuienis van Jesus self, en oor Jesus deur die Heilige Gees, wat die ‘geliefde dissipel’ in staat gestel het om dit te glo en te begryp, en daaroor te getuig (martureoo), dit deur die eeue aan die kerk oor te dra. Daarvoor het die ‘geliefde dissipel’ ‘n gelowige en oortuigde volgeling/e (‘ons’) gebruik om dit neer te skryf, soos bv. Tertius wat Romeine vir Paulus neergeskryf het (Rom 16:22).

 

21:25 Soos 20:30-31 sluit 21:25 ook af met ‘n verwysing na baie ander dinge (baie tekens in 20:30) wat Jesus gedoen het. Die doel daarvan word in 20:31 aangegee: dat mense sal glo en lewe, in 21 is die skrywer beïndruk deur die omvang van die werk en lewe van Jesus. Hy gebruik ‘n hiperbool: dat die wêreld nie die boeke sou kon bevat as alles neergeskryf is nie. Wat wel waar is, is dat geen mens ten volle die evangelie, die goeie nuus van Jesus,  kan ken en begryp nie (vgl. Salomo se gebed in 1 Kon.8:27 oor die tempel, vgl. Jn 2:21 Jesus se liggaam as die ontmoetingsplek met God) – die eindige kan nie die oneindige bevat nie. Die menswording van die Woord om die hemel en die aarde en die tye te vervul met sy volheid, vol genade en waarheid (Jn1:14), bly ‘n misterie, ‘n geheimenis. Die openbaring van God in sy Woord/Seun is groter as die hele skepping wat Hy geskep het. Maar Hy het die Heilige Gees aan ons gegee om sy unieke openbaring in hierdie Evangelie te begryp, sodat elkeen wat in Jesus glo ‘n dissipel word vir wie Jesus liefhet.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




‘n Verskeidenheid temperamente

The laborer, not the loiterer, is worthy of his hire. —Henry Wilkinson

‘n Verskeidenheid temperamente

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Mense ervaar lyding  op verskillende maniere, nie net as gevolg van eksterne faktore nie, maar ook as gevolg van interne faktore soos  verskillende persoonlikhede en temperamente van diegene wat die lyding ondervind.

Daar is verskillende maniere waarop mense reageer op lyding:

 

  • Isolasie – ons bou ‘n muur tussen ons en selfs ons beste vriende. Lyding maak van jou ‘n ander persoon. Maar isolasie kan ook die gevolg wees van vriende wat wegbly – hulle weet nie wat om te sê of te doen nie of hulle is bang hulle word by jou lyding ingetrek. Ander bly weg, want hulle voel die persoon wat swaarkry het dit oor homself gebring. Job se vriende was oortuig dat Job se lyding die gevolg was van iets wat hy verkeerd gedoen het. Daar is nog ‘n rede waarom mense wegbly van iemand wat swaarkry:  lyding daag hulle uit om iets te erken wat hulle nog altyd ontken het – dit kan met enigeen van ons te enige tyd gebeur.
  • Inploffing – intense pyn lei onvermydelik daartoe dat ek op myself fokus. Ek kan aan niks anders dink nie. Ons word so in onsself ingetrek dat ons nie bewus is van wat om ons besig is om te gebeur nie. Al wat van belang is, is ek en my behoeftes. Dit is my enigste werklikheid – al die ander is vaag en onbelangrik. Ek kan nie liefde gee of ontvang of voel nie. Dit lyk vir my asof God afwesig is.
  • Veroordeling – lyding kan my verhard en moedeloos maak, want ek voel ek word gestraf. Ek kyk rond en dink aan alles wat ek verkeerd gedoen het … en dit is nie moeilik om iets te kry nie. Lyding maak my bewus van my foute en my kwesbaarheid.
  • Ek word kwaad – dit word op verskillende voorwerpe gerig. Ek kan kwaad wees vir myself of ander wat my benadeel het of in die steek gelaat het. Ek kan ook vir God kwaad word as ook die lewe wat my nie regverdig behandel het nie.
  • Ek word ‘n medepligtige – ek word gemaklik in my ongemak, tevrede met my toestand. Dit is sleg, want nou soek ek nie na ‘n oplossing vir my probleme nie. Ek raak aan my selfbejammering verslaaf. Nou word my lyding ‘n verskoning vir alle soorte gedrag wat ek andersins nooit sou kon regverdig nie.

Al vyf hierdie reaksies is gewoonlik in ‘n wisselende mate teenwoordig. Dit word bepaal deur  die omstandighede, my temperament. Mense van verskillende persoonlikhede, geslagte en kulture reageer ook verskillend op lyding. Ons kan dus dieselfde probleem kry wat verskillende reaksies by verskillende mense uitlok.




Verskeidenheid van lyding

Knowledge is indispensable to Christian life and service. If we do not use the mind that God has given us, we condemn ourselves to spiritual superficiality and cut ourselves off from many of the riches of God’s grace.”—John Stott

Verskeidenheid van lyding

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Lyding is ‘n belangrike manier om te groei. Mense wat maar min in hulle lewe gely het, is dikwels onbewus van hulle sterk- en swakpunte, hulle is naïef oor die menslike natuur en die lewe en hulle is baie kwesbaar. Onthou: lyding verdiep ons nie outomaties nie. Ou spreekwoord: The same sun that melts wax hardens clay. Dieselfde traumatiese ondervinding kan die een mens vernietig en die ander sterker maak. Hoe kan ek lyding hanteer dat dit my versterk?

 

Daar is ‘n verskeidenheid as die Bybel oor pyn en lyding skryf. Baie soorte lyding en ook ‘n groot verskeidenheid van reaksies op lyding word bespreek. Mense wat ly kom ook met verskillende temperamente. Daarom kan ons nie ‘n enkele templaat gebruik vir die hantering van lyding en hartseer nie. Maar die mens soek altyd formules oor hoe om lyding te hanteer. Maar elkeen wat ly het nie dieselfde medisyne nodig nie.

Breedweg beskryf die Bybel vier soorte lyding:

1.Lyding wat ons oor onsself bring – voorbeelde Dawid en Jona

Jona het twee traumatiese gebeure ondervind. Jona weier om God se roeping te gehoorsaam en vlug. ‘n Groot storm tref hom op see. Later stuur God vir Jona ‘n komkommerplant om vir hom skaduwee te gee. Die volgende môre stuur God ‘n wurm en die plant verdroog. Jona was kwaad omdat God Nineve nie verwoes het nie. God gebruik hierdie negatiewe ondervindings om vir Jona op die boosheid van sy hart te wys. God stuur ‘n spesifieke boodskap na Dawid oor sy verhouding met Batseba en die moord van haar man – hulle jong seun sterf. Wat hulle moes leer is berou oor wat hulle verkeerd gedoen het

2.Lyding as gevolg van verraad – voorbeelde Paulus en Jeremia.

Paulus en Jeremia het hulle goed gedra en tog ly hulle as gevolg van verraad en aanvalle van ander. Paulus is voortdurend geslaan en in die tronk gegooi. Hy word deur sy eie mense en die heidene aangeval. Lees net 2 Korintiërs 11:23 – 29 om te sien wat hy alles moes deurmaak.

In Jeremia 20:1 – 6 lees ons wat Jeremia alles moes deurmaak: hy is in ‘n blok vasgeskroef en later in ‘n put gegooi. Openbare kritiek op die regering of godsdienstige en kulturele instellings kan in baie lande lei tot swaarkry. Mense word aangeval omdat hulle ‘n ongewilde saak steun. Die swaarste is egter as ‘n persoonlike verhouding skipbreuk ly en jou “vriend” probeer om jou reputasie af te breek. Hierdie persoonlike verraad kan mense bitter maak. Jeremia en Paulus moes leer om te vergewe.

3.Lyding as gevolg van verlies – Marta en Maria

Marta en Maria het hulle broer, Lasarus, verloor. Hulle is hartseer en treur oor hom. Hierdie vorm van lyding en hartseer ondervind alle mense op een of ander stadium in hulle lewens. Hierdie vorm van lyding kan baie probleme skep. Wat moet ek doen? Ek kan my hartseer hanteer deur my hart en gedagtes te rig op die hoop en vertroosting wat my geloof bied. Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapendes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie (1 Tessalonisense 4:13).

4.Lyding is ‘n misterie – voorbeeld Job

Hoekom Job gely het, is ‘n misterie. Mense noem dit sinlose lyding. Die Bybel gee baie aandag aan hierdie vorm van lyding. Al hierdie dinge het oor ons gekom, hoewel ons U nie vergeet het nie en aan u verbond nie ontrou was nie. Ons het nie afvallig geword nie en van u pad nie afgewyk nie. Tog het U ons verwoes; ons land het ‘n puinhoop geword; U het die donker oor ons laat toesak … Waarom draai U u rug vir ons? Waarom steur U U nie aan ons ellende en smaad nie? (Psalm 44:18 – 20, 25). Hierdie uitroep van die psalmis kry ons ook in boeke soos Jeremia en Habakuk … en Job.

Job se kinders sterf, hy verloor al sy rykdom. Nêrens lees ek dat dit as gevolg van Job se sondes of verraad of vervolging was nie. Gebeur dit word mense dikwels kwaad vir die lewe en vir God. Toe Job se lewe uitmekaar val, soek hy ‘n spesifieke sonde waarvoor hy gestraf word. Wat wou God vir hom hierdeur leer? Hier word lyding gebruik om Job te laat groei en vir God se heerlikheid. Hy soek tevergeefs na ‘n oorsaak vir sy lyding. Hy word gebring by ‘n plek waar hy God sou gehoorsaam omdat Hy God is. As dit met my gebeur, beteken dit, soos vir Job, ‘n lang reis. Job se lyding vereis eerlike gebed, huil en harde werk om God onder alle omstandighede te vertrou.

Daar is verskillende soorte lyding. Maar daar is ook mense met verskillende temperamente wat hulle reaksie tot lyding beïnvloed. Daaroor volgende keer.




Diversiteit op die pad wat ek loop

The high-minded man must care more for the truth than for what people think. -Aristoteles, filosoof (384-322 vC)

Diversiteit op die pad wat ek loop

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through pain and suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

 

Elke persoon se lyding is uniek en elkeen moet ‘n verskillende pad ontdek om daardeur te kom. Die probleem is dat mense wat probeer help sake dikwels vererger. Baie hiervan het met teologie te doen. Sommige waarhede wat voorgehou word, is waar maar irriterend en maak my moedeloos. Baie van wat Job se vriende oor God sê, is waar, maar dit bly abstrak. Geen wonder Job sê vir hulle: Julle is almal maar hopelose troosters (16:2).

God veroordeel hulle ook. Hoekom? Alhoewel hulle stellings waar is, word dit ontoepaslik gebruik. Hulle gebruik teologiese argumente wat eerder seermaak as genees. Dit is nie die teologie se skuld nie, maar dit is mense wat dit op die verkeerde tyd of op die verkeerde manier gebruik.

Daar is mense wat ly en dan hulleself bejammer – hulle voel soos ‘n martelaar. Hulle moet met deernis reggehelp word. Daar is ander wat ly en skuldig voel – hulle haat hulleself. Hulle het versekering nodig.

Daar is baie waarhede in die Bybel oor lyding, maar hulle moet gebruik word na gelang van die omstandighede en die persoon se temperament. Everything is needful that he sends; nothing can be needful that he withholds (John Newton).

Daar is meer as een pad deur die vallei. God, die volmaakte gids, sal jou help om die regte pad vir jou te loop.