‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand

God, I pray, light these idle sticks of my life and may I burn up for Thee. Consume my life, my God, for it is Thine. I seek not a long life but a full one like Yours, Lord Jesus” (Jim Elliot).

 ‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand

Julle het gehoor dat dat gesê is: “’n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand.”  (Matteus 5:38). Jesus mag hier Deuteronomium 19:21 aanhaal. (Ons kry basies dieselfde in Eksodus 21:24 en Levitikus 24:20). Gaan ons na Deuteronomium 19:21 terug, lees ons: Jy mag so ‘n persoon nie genade betoon nie: ‘n lewe vir ‘n lewe, ‘n oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand, ‘n hand vir ‘n hand en ‘n voet vir ‘n voet. Geen genade nie. Vergelding is nie ‘n opsie nie maar ‘n verpligting.

 

In Jesus se tyd was daar die Romeinse Lex talionis wat bepaal het dat oortredings gestraf moet word, maar dat die straf by die oortreding moet pas. Jy kan nie sommer buitensporige strawwe oplê vir kleiner oortredings nie. Deuteronomium 19:21 en die Lex taliones sê wat ‘n mens verkeerd gedoen het, moet reggestel word deur dieselfde aan hom te doen – Jy mag so ‘n persoon nie genade betoon nie. Geregtigheid moet wel gebalanseer word – die straf moet by die oortreding pas.

Jesus kom in Matteus 5:38 – 42 met ‘n heeltemal nuwe benadering – bewys genade!  Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. In plaas van vervolging en vergelding om die verkeerde te herstel, wys Jesus ‘n ander pad vir ons … bewys genade.

Pinchas Lapide stel dit so:

Weg van konflik na deernis.

Weg van konfrontasie na samewerking.

Weg van ‘n dogmatiese monoloog na ‘n dialoog tussen gelykes

 

As iemand jou op die regterwang slaan (‘n groot belediging), draai ook die ander wang na hom toe. Dit is vir ons een van die moeilikste gedeeltes in die Bybel om uit te leef

 

 




‘n Spies word in sy sy gesteek (19:31-37)

‘n Spies word in sy sy gesteek (19:31-37) – Francois Malan

19:31 Dit is die dag van die Voorbereiding vir die Paasfees, waarvoor die lammers vir die herdenking van die Here se verlossing van Israel uit hulle Egipties slawerny gevier word. Die Sabbat breek aan teen sononder. Dit is ‘n groot Sabbat omdat dit tydens die Paasfees is met ‘n menigte mense in Jerusalem.

Die Romeine het kruiselinge selfs vir dae gelos tot hulle sterf en die aasvoëls hulle begin opeet. Die Joodse wet was dat geen lyk aan ‘n paal mag bly hang tot die aand toe om die land te verontreinig deur die vloek van God op ‘n opgehangde nie (Deutr.21:22,23). Daarom die Jode se versoek aan Pilatus om hulle bene te breek om gou te sterf en nie die Paasvierings te verontreinig nie. Dit sal ook ‘n bewys wees dat Jesus deur God vervloek is volgens hulle gedagtes.   

 

19:32-34 Met Pilatus se toestemming word die twee mede-gekruisigdes se bene gebreek, maar Jesus is reeds dood. ‘n Soldaat steek sy swaard in Jesus se sy en daar kom dadelik bloed en water uit [Dokters gesels nog daaroor, maar dr Sava se ondervinding van vars kadawers het bloed en water gehad in die ruimte tussen die longe en die ribbes van lyke wat ernstig intern beseer is voor hulle gesterf het]. Vir die Evangelis is dit ‘n bewys dat Jesus waarlik mens was en waarlik dood is (teenoor die dosetiste wat dit ontken en praat van ‘n skyndood).   

 

19:35 Die skrywer was ‘n ooggetuie van die spiessteek en bevestig dat Jesus reeds dood was. Die doel van sy getuienis is ‘sodat julle kan glo’ dat Jesus waarlik mens was en Seun van God (1 Jn 1:1-3; Jn 12:37; 20:21).

 

19:36  Die Evangelis sien in Jesus se dood  terwyl die Paaslammers by die tempel geslag word en geen been van hulle gebreek word nie, die vervulling van die Skrif, van die raadsplan van God. Drie Skrifgedeeltes kan na verwys word: Eksodus. 12:46 en Num 9:12 verwys na die Paaslam waarvan die bene nie gebreek mag word nie – Jesus vervul in sy dood die betekenis van die Paasfees se bevryding uit die slawerny van sonde en die hoop op ‘n nuwe eksodus; Ps 34:21 verwys na die Here wat vir die hele liggaam van die lydende Regverdige sorg, geen been word gebreek nie – Jesus vervul ook die rol van die Regverdige Mens wat ly, maar steeds onder die sorg van God bly, tot die opstanding en lewe in gemeenskap met God.     

 

19:37 In Sagaria 12:10 sê God: ‘hulle sal na my kyk, na Hom wat hulle deurboor het (en hulle sal oor Hom treur soos ‘n mens treur oor ‘n enigste kind)…’ Die ‘Hom’ is dan God se verteenwoordiger, die Herder, wat met die swaard deurboor is. Sagaria verwys na die mishandeling van die profeet, wie se verwerping eintlik ‘n verwerping van God is. Die Evangelis sien hierin die teken van die menslike skuld teenoor die goddelike liefde. Gelowiges sal oor Hom treur, maar ongelowiges bly onder die oordeel van God. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesus se antiteses

The Spirit of Christ is the spirit of missions, and the nearer we get to Him, the more intensely missionary we must become” (Henry Martyn).

Jesus se antiteses

[Antitese = bestaande uit twee teenoorgesteldes – HAT]

In Matteus 5:21 begin Jesus met ‘n reeks antiteses.  Julle het gehoor dat daar gesê is … Maar Ek sê vir julle. Jesus se luisteraars het een ding gehoor – dikwels iets wat van die ou tyd af aan die mense gesê is – maar Jesus stel iets teenoor dit. Die klem val hier op Jesus se antitese.

 

Jesus gebruik ‘n spesifieke metodiek:

  • Hy haal die Skrif aan – Jy mag nie moord pleeg nie.
  • Jesus interpreteer en brei uit op die stelling: Elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank.
  • Jesus kyk dieper – Hy kyk as ‘t ware agter die Skrif in God se denke in. Ek moenie dink dat Jesus hier die Skrif weerspraak nie. Wat Hy wel doen, is om die mense se interpretasie van die Skrif reg te stel.
  • Jesus interpreteer dan wat God se ware bedoeling met die stelling was en sê dan hoe sy volgelinge moet leef. Elkeen wat vir sy broer kwaad is,is al strafbaar voor die regbank.

Wat Jesus hier doen is dat Hy ‘n vollediger uiteensetting van God se wil vir God se mense gee. Jesus sê dat ons nie vir ons broers kwaad moet word nie, want as ons nie kwaad word nie, sal ons ook nie moord pleeg nie.

In hierdie besondere antitese is die doel versoening met ander mense – nie kwaad word vir ander nie, maar versoen jou met hulle.

 




Julle is die sout vir die aarde

It ain’t those parts of the Bible that I can’t understand that bother me; it is those parts I do understand – Mark Twain

Julle is die sout vir die aarde

Ons lees hierdie vers in Matteus 5:13. Maar in hierdie gedeelte is daar ook ‘n kragtige waarskuwing: Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit. Jesus gebruik  ‘n woord wat hier met weggooi vertaal word, wat in die Matteus-evangelie met oordeel verbind word:

 

  • Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi (3:10).
  • Dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word (5:29).
  • Maar die onbruikbares gooi hulle weg (13:48).
  • Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies en hulle in die brandende  oond gooi (13:50).

Die soutlose sout word weggegooi. Presies dieselfde gebeur met gelowiges wat hulle impak in die wêreld verloor het – hulle word weggegooi/geoordeel. As die impak wat gelowiges op die wêreld het eers verminder is dit baie moeilik om dit weer terug te wen. Jesus waarsku hier daarteen. As gelowiges hulle impak verloor, volg gevolge. Niemand van ons is volmaak nie, maar almal word opgeroep om getrou te bly.

Dit is die vraag wat ek elke dag vir myself moet afvra: Is ek nog sout vir die aarde of het ek al verslaan?