Wat die wêreld nodig het, is rus

 

Prayer is sitting in the silence until it silences us, choosing gratitude until we are grateful, and praising God until we ourselves are an act of praise – Richard Rohr

Wat die wêreld nodig het, is rus

“Ek sal rus as ek die dag dood is.” Oppervlakkig kan ons hom bewonder – sy wil en vasberadenheid om te werk. Natuurlik sal jy rus as jy dood is – dalk gouer as wat jy dink. Dit is duidelik dat die ontneming van slaap ernstige mediese gevolge mag hê – verhoogde risiko van beroerte, oorgewig, diabetes, verlies aan geheue, ens.

  • Rus maak van jou ‘n beter persoon. Ons leef in ‘n kultuur van sensoriese oorlading. Daarom sukkel ons om te rus. Dikwels is die mees geestelike ding wat jy kan doen om niks te doen nie. Om niks te doen nie, kan alles verander. Net om te sit en na te dink, doen wonders. Ons vrees stilte; ons wil nie alleen wees nie – altyd omring deur ander mense. Begin met klein treetjies – stap elke dag vir ‘n paar minute in die natuur. Stap weg van die rekenaarskerm en stap na buite. As jy terugkom is die rekenaar steeds daar.
  • Rus maak van jou ‘n gelukkiger persoon. Baie mense dink dat ons identiteit deur ons besig wees bepaal word. Ons is besige mense. Vra vir iemand hoe gaan dit en jy mag hoor: Besig of dinge is dol. Ons is trots op ons besig wees, maar dit ondermyn ons fisiese, emosionele en geestelike gesondheid.
  • Rus gaan oor ‘n beter lewe. Maak nie saak hoe lank God geneem het om die wêreld te maak nie, maar Hy het gerus na alles gedoen was. Dit was nie dat die Skepper dit nodig gehad het nie, maar Hy wou ‘n patroon vir ons daarstel. Hy wys vir ons hoe om ‘n beter lewe te leef. Volg sy voorbeeld: Sit; draai die volume af; skakel al jou toestelle af. Dink. Rus.

Nie so maklik nie, want dit is moeilik om te ontsnap – jou selfoon kry jou oral – behalwe op plekke in die Wildtuin.




Ek is nou ‘n volwassene

Gratitude is happiness doubled by wonder – G.K. Chesterton

Ek is nou ‘n volwassene

Wanneer is ‘n persoon ‘n volwassene? As hy die huis verlaat? As hy begin werk? Dit lyk nie asof hierdie dinge outomaties ‘n persoon ‘n volwassene maak nie. Volwassenheid is ‘n geleidelike, daaglikse proses. Dit gebeur nie op een spesifieke oomblik nie, maar na jare van wyse besluite. Hierdie is ‘n ingewikkelde, soms pynlike, proses. Hier is ‘n paar hulpmiddels.

  • Besef dat  jy nie die middelpunt van die wêreld is nie – die wêreld draai nie om jou nie. Ons stel onrealistiese verwagtings van onsself, ons beroep, ons huwelik, ens. Dan raak ons teleurgesteld as ons verwagtings nie realiseer nie. Eers as jy met nederigheid begin dink, word jou verwagtings van jouself en ander realisties.
  • Ontwikkel emosionele volwassenheid. As ek onvolwasse is, beheer my emosies my; as ek volwasse is, beheer ek my emosies. Volwassenes kan hulle emosies beheer – dink voor jy reageer of praat.
  • Leer die verskil tussen die bestuur van tyd en energie. Net omdat iets in jou tydskedule pas, beteken nie dat jy die energie het om dit te doen nie. Jy moet leer om “ja” en “nee” te sê vir dinge. As jy “ja” vir een ding sê, beteken dit dat jy “nee” vir iets anders moet sê.
  • Moenie met ongesonde aannames saamleef nie. Baie mense leef in ‘n verbeeldingswêreld. Hulle dink aan hipotetiese vrae soos: wat daarvan as hulle sleg van my dink? Dit verander baie vinnig in ‘n aanname: Hulle dink sleg van my. Dikwels neem ons besluite, verbreek verhoudings en ontwikkel emosies gebaseer op aannames – wat dikwels nie waar is nie. As jy nie seker is of iets waar is nie, moenie leef asof dit waar is nie.
  • Belê in mense jonger as jy. Dit help hulle om te groei, maar dit druk jou ook in die rigting van volwassenheid.
  • Ontwikkel diep verhoudings. Soms belê ons nie in verhoudings nie, want ons is bang dat ons sal seerkry. Daarom probeer ons nie eers verhoudings ontwikkel nie. Ons het egter betekenisvolle verhoudings nodig. Risiko, kwesbaarheid en pyn is alles deel  van ‘n gesonde verhouding, maar dit is nie ‘n rede om ‘n verhouding te verbreek nie.
  • Maak ‘n plan. So baie dryf maar deur die lewe, want hulle het nie ‘n visie van wat hulle wil doen nie. Stel vir jouself doelwitte. Al bereik jy nie al jou doelwitte nie, is dit tog goed, want jy leef doelgerig en dryf nie net rond nie.
  • Leer om goed te rus. Jy kan nie goed werk as jy nie goed kan rus nie. Jy moet jou skedule so organiseer dat jy tyd het om te rus.
  • Jy moet die Here liefhê. Maak nie saak hoe goed dit met jou werk of verhoudings, ens gaan nie, as jy nie leef om God te verheerlik nie, is jou lewe nie wat dit moet wees nie. Jou diepste behoefte in om op Jesus Christus, jou Verlosser en Here, te vertrou. Dit vereis dat jy deel van ‘n geloofsgemeenskap word. Hierdie is die fondament van ‘n ware gesonde volwasse lewe.

Moenie tevrede wees om maar net voort te ploeter nie – word volwasse.




Aanbidding: Wat is dit? my hele lewe

It is only with gratitude that life becomes rich!Dietrich Bonhoeffer

Aanbidding: Wat is dit? My hele lewe

Die hoogste doel van die mens is om God te verheerlik en vir altyd te geniet. Hierdie is ‘n aanhaling uit die Westminster Shorter Catechism. Aanbidding is waarvoor ons gemaak is. Besef ons dit nog? Baie mense loop weg van God al het hulle geweet van hierdie waarheid.

My hele lewe

Aanbidding is nie die sing van ‘n paar liedere voor die preek nie. 

Wees altyd bly. Bid gedurig (1 Tessalonisense 5:16 – 17). Aanbidding is voortdurende  bid wat elke oomblik van my lewe vul. Ons liggame is immers veronderstel om tempels van aanbidding te wees: Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie?  Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik (1 Korintiërs 619 – 20). Elke gelowige is deel van die koninklike priesterdom wat vir God afgesonder is (1 Petrus 2:9). Gee julleself aan God as lewende en heilige offers … dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen (Romeine 12:1 – 2).

Die priesters van die Ou Testament het beurte geneem om diens te doen in die tempel. Aanbidding was 24 uur per dag beskikbaar. Ons moet steeds vir God op ‘n voortdurende basis aanbid. Gedurende die dag, soos ons werk,  gee ons aan God in aanbidding ons vreugdes, ons vrese, ons werk, ons familie en vriende, ons wil en ons toekoms.

Die aanbidding van God is ‘n deug – ons hoogste doel in die lewe

Doel beteken om  te vervul dit waarvoor ons gemaak is. Om in sonde te leef – doelbewuste ongehoorsaamheid aan die geopenbaarde wil van God – is die teenoorgestelde van ‘n deug. Sonde laat ons leeg en gefrustreerd agter. As ons ons lewens toewy aan doelwitte van God, as ons saam met Hom loop en as ons Hom daagliks verheerlik, word ons verander en word die wêreld om ons geraak.

Omdat ons gemaak is om God te verheerlik, is aanbidding dié deug van die mens. In aanbidding vervul ons ons ware doel.




Jesus se gebed vir die eenheid van sy kerk (vervolg)

Jesus se gebed vir die eenheid van sy kerk (vervolg) – Francois Malan

17:22-23 Hierdie verse herhaal wat in 20-21 gesê is, om die belangrikheid van die eenheid tussen die gelowiges te onderstreep, effens van ‘n ander kant af beskryf: In 21 word die gelowiges een deurdat hulle deel kry aan die gemeenskap tussen die Vader en die Seun. In 23 word die gelowiges een deurdat Christus in hulle kom woon en die Vader in Hom is, met Jesus as Middelaar.

So word gelowiges ‘volkome-gemaaktes’ (teteleioomenoi) tot een liefdesgemeenskap. Jesus sê in Mat,5:44-48 dat ons  volmaak moet wees, soos ons hemelse Vader volmaak is, deur ons vyande lief te hê. Die Heilige Gees kom maak ons volmaak in die liefde, wat ook insluit vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal.5:22-23).

            In v21 word die vrug van die eenheid beskryf as ‘sodat die wêreld mag glo dat U My gestuur het.’ In v23 word ‘glo’ vervang met ‘weet’ (ginooskoo kan ook aandui: ‘leer’, ‘erken’ ‘begryp’). Geloof lei tot kennis, en kennis vermeerder die geloof. Hier word bygevoeg: ‘en hulle liefhet, soos U My liefhet’ – uit hulle onderlinge liefde sal die wêreld God se liefde vir sy kinders aflei, die liefde wat die Vader vir die Seun het, aan wie die Heilige Gees ons kom verbind (Rom.8:17 sê ons is erfgename saam met Christus, wat deel het aan sy lyding en sy heerlikheid).

            Vers 22 praat van die heerlikheid wat die Vader aan Jesus gegee het, en wat Christus aan ons geskenk het sodat ons, soos Hy en die Vader, een mag wees. Hierdie Evangelie sien Jesus se verhoging aan die kruis as deel van sy heerlikheid (12:28,33), soos ook sy opstanding en hemelvaart. Die heerlikheid wat die gelowiges ontvang is die voorreg om lief te hê soos Jesus, wat Homself opgeoffer het vir sy vriende (15:13; vgl. Luk.9:23-24), en om deel te word van die ewige lewe saam met God, ‘n nuwe manier van lewe wat nou reeds begin, die lewe in liefde vir mekaar.

 

17:24 Die laaste verse is ‘n eggo van 17:1-5 oor die ewige heerlikheid  van die Seun. Hier gaan dit daaroor dat  die gelowiges sy heerlikheid mag sien (die woord theooreoo sluit ook in ‘om in te sien’ en ‘om te beleef’). God word weer as Vader aangespreek, die Vader in wie se huis Jesus ‘n plek vir sy volgelinge gaan gereedmaak (14:2). Hier bid Hy dat sy volgelinge ook by Hom sal wees in sy verheerlikte staat, wat 17:5 in die vooruitsig stel. Die woord ‘Ek wil graag hê’ (theloo, druk nie slegs sy begeerte uit nie, maar ook sy doel met sy volgelinge se lewe, en ook sy vreugde daaroor).  ‘Hulle wat U My gegee het’, wys weer na dié mense wat God uit genade gekies het om altyd by Jesus te wees, ook in hulle lyding en swaarkry. Maar saam met die huidige insig in Jesus se heerlikheid aan die kruis, gaan die gebed tot in die ewigheid, waar Hy verhoog is en waar sy volgelinge ook by Hom gaan wees. Die liefde van  die Vader vir die Seun is ewig, en dié mense wat aan die Seun verbind is, word deel van God se ewige liefde vir sy Seun. So kan hulle ook mekaar begin liefhê.

 

17:25-26 is die grond vir die bede in v24, en ‘n opsomming van die evangelie. Slegs hier word God ‘Regverdige Vader’ genoem,  om sy regverdige oordeel oor die wêreld uit te druk. Die wêreld ken nie die Vader nie, want hulle het Jesus se openbaring van God nie aanvaar nie. Daarom sal hulle nie die heerlikheid van Jesus sien nie en  bly die straf van God op hulle (3:36). Sy dissipels, ‘hulle hier,’ het egter in Hom geglo, en weet dat Hy deur die Vader gestuur is. Daarom val hulle nie onder die oordeel van die wêreld nie (3:36: hulle hét die ewige lewe). Jesus sal voortgaan om die Naam van die Vader (sy woord en sy wese) aan hulle bekend te maak deur die Heilige Gees, wat in hulle kom woon om Jesus se lewe, woorde en werke aan hulle te verduidelik (14:26; 16:12-15).

            Dat die liefde, waarmee die Vader vir Jesus liefhet, in die dissipels sal wees, en Hy in hulle, wys op die volgende: (i) dit impliseer dat ons insig in die liefde van die Vader vir die Seun steeds sal toeneem (selfs die kruis getuig van die liefde van God vir die Seun, hoe teenstrydig dit ook al klink); (ii) dat ons begrip van die wonder dat daardie liefde ook deel word van die gelowiges, steeds sal toeneem; (iii) dat ons wederliefde vir die Vader sal toeneem as ‘n krag wat ons hele lewe bepaal, en wat ons gemeenskap met ons Vader en met ons medegelowiges sal laat ontwikkel. Dit spruit alles uit ons verhouding met die Seun, wat al hegter word met die liefde van die Vader vir die Seun in ons, en die Seun in ons, met sy liefde. Met die Heilige Gees wat in ons woon dring die liefde van God deur in ons hele wese (vgl. 2 Kor.3:18; 5:14-15).

 So word Jesus se liefdesgebod van 13:34 al beter uitgeleef, en dit bereik sy vervulling wanneer ons na Hom toe gaan in die huis van sy Vader. So word die gebed in 17:24 ook ten diepste verklaar: die heerlikheid van Christus is die heerlikheid van God se liefde, wat deur sy eie mense aanskou sal word, en sal deurwerk om hulle te verander in draers van Christus se liefde. Dit is die einddoel van Jesus se koms na die wêreld. Hy is die Openbaarder van God, wat liefde is (1 Joh.4:8,16); Hy is die goddelike Verlosser van die wêreld, deur wie die liefde van God vir die Seun in ons lewe kom oorneem.  

 

Skrywer: Prof Francois Malan