Jesus se gebed vir die dissipels (17:6-19)

Jesus se gebed vir die dissipels (17:6-19) – Francois Malan

Na Jesus se gebed vir Homself, om die verheerliking van die Seun van God/Seun van die mens, deur sy kruisdood tot sy hemelvaart (1-5), bid Jesus vir sy dissipels(volgelinge)/apostels(gestuurdes): 6-11a: die rede vir die gebed, 11b-16: vir hulle situasie in die wêreld, en dat God hulle sal bewaar om in Hom te bly en uit die kloue van die Bose te bly, 17-19: vir hulle toewyding aan God  deur aan Jesus verbind te bly (17-19).

17:6 Ses redes word gegee waarom Jesus vir sy volgelinge bid: (1) die Vader het hulle aan Jesus gegee – Hy het hulle uit die wêreld gekies om aan sy Seun te behoort as sy volgelinge en dienaars; (ii) Jesus het die Vader se Naam aan hulle geopenbaar – dit is God se karakter en gesindheid, sy liefde vir die wêreld om hulle te red, sodat hulle vir Hom sal lewe as hulle God, wat oor hulle lewens die seggenskap het; (iii) hulle het die woorde van God wat die Seun aan hulle oorgedra het, bewaar – hulle daaraan probeer hou om daarvolgens te lewe. Vers 6 onderstreep dat die gemeente as volgelinge van Christus deur Jesus se woord tot stand gekom het.        

 

17:7 (iv) hulle het geleer en weet nou (net voor Jesus se kruisiging) dat alles wat God aan Jesus gegee het van die Vader af kom (Jesus doen niks op sy eie, sonder die Vader nie; 12:49-50) – veral na die twee gesprekke in hoofstukke 13-16 het hulle geloofskennis  tot rypheid gekom (16:29-30);

 

17:8 (v) die gawes van die Vader aan Jesus is juis die woorde wat Jesus aan hulle oorgedra het, die dissipels het die woorde aangeneem as die waarheid, as woorde wat van God af kom (in teenstelling met meeste van hulle tydgenote); (vi) hulle weet nou uit oortuiging dat Jesus inderwaarheid van die Vader af kom (dit wat die Jode nie wou aanneem nie), en glo dat Hy  God se sending kom uitvoer – om God te openbaar en sy reddende Koningskap te kom vestig. Omdat hulle Jesus as Seun van God aangeneem het en in Hom glo, is hulle bevoorreg om kinders van God te wees (1:12). Weet en glo verwys na dieselfde saak: hulle weet dat Ek van U uitgegaan het, en hulle glo dat U My gestuur het. Verse 7&8 stel die wese van die gemeente: sy oorsprong is uit God wat hulle gekies het en aan Jesus gegee het as sy eiendom. Deur sy woord het Jesus hulle uit die wêreld geroep en in hulle die geloof gewek dat Hy deur God gestuur is. So word hulle ‘n gemeenskap wat van die wêreld geskei is, en in die kennis en geloof in God en Christus leef.

 

17:9 Jesus se sending na die wêreld gaan Hy van nou af deur sy volgelinge voortsit. Daarom bid Hy vir hulle sodat Hy die wêreld deur hulle kan bereik (v18; in hierdie Evangelie word die woord erootao gebruik vir Jesus se gebede, wat minder dringend is as aiteoo wat vir die mens se (pleitende) gebede gebruik word – by Jesus is daar geen onsekerheid dat sy Vader Hom hoor en verhoor nie (6:11; 11:41-42). Die kerk vervul sy sendingroeping deur in liefde met mekaar te lewe en deur die eenheid van die kerk sal die wêreld erken dat Jesus deur God gestuur was (vv21-22). Jesus se gebed vir sy dissipels is indirek ook vir die wêreld. Die wêreld vir wie Jesus nie bid nie, is die vyandige mensheid wat ‘n stryd voer teen Christus en sy kerk (16:9), nie die mensheid as sodanig, na wie die Here sy volgelinge stuur nie, vir wie die Vader liefhet nie (3:16). Uit hierdie mensheid gee die Vader aan Jesus die mense wat aan Hom behoort (6:39,44,65; 10.:29; 17:2).

 

17:10 Alles/almal wat aan die Vader behoort, is ook Jesus s’n – daar is ‘n onbegrensde wederkerigheid tussen die Vader en die Seun. Hier verwys dit veral na die dissipels (in 16:15 verwys dit na die volle openbaring van God), die mense wat aan die Vader behoort, wat Hy uitgekies het, behoort ook aan die Seun, wat hulle geroep het om Hom te volg. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Groepe op Pinksterdag

Groepe op Pinksterdag – Francois Malan

Mandie vra:

Watter 5 groepe was vervul met die Heilige Gees op pinksterdag – 50 dae na Christus se opstanding?

Antwoord:

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Handelinge 1&2 praat nie van vyf groepe nie.

Handelinge 1:13-14 noem die name van 11 mans, vir wie Jesus as apostels uitgekies het. Hulle het saam met ‘n aantal vroue, onder wie ook die moeder van Jesus, en die broers van Jesus (wat in Markus 6:3 en Matteus 13:55 genoem word) ná die hemelvaart van Jesus bymekaar gekom in Jerusalem (40 dae na die kruisiging tydens die Paasfees). Hand 1:15-26 vertel dat dié groep aangegroei het tot omtrent 120 gelowiges, waaruit  Mattias as die twaalfde apostel deur loting aangewys is. Hand 2:1-4 vertel dat hulle almal op een plek bymekaar was op die dag van die pinksterfees, en op die dag is hulle almal met die Heilige Gees vervul.

 

Op dié dag was daar baie Jode en mense wat die Joodse geloof aangeneem het, wat van ander lande gekom het vir die fees. Die mense het verskillende moedertale gepraat. Die nasies wat genoem word in Hand. 2:9-11 kom uit die Ooste (huidige Iran): Perse, Mediërs, Elamiete; en (huidige Irak) mense uit Mesopotamië; uit die dorpe en platteland van Judea; uit die Noorde (huidige Turkye): Kappadosië, Pontus, Frigië en die provinsie Asië, Frigië, Pamfilië; uit die Suide (Noord-Afrika): Egipte, dele van Libië om Sirene; uit die Weste: mense uit Rome, van die eiland Kreta;  ook Arabiere uit die Suid-ooste. Hand.2:41 sê: omtrent 3,000 van dié mense is op dié dag by die getal van die gelowiges bygevoeg, en dat hulle almal saam deur die werking van die Heilige Gees in geloof verbind is deur die liefde van God aan die Here Jesus en sy woord en aan mekaar om ook mekaar lief te hê (vgl. Hand. 2:38-42) – almal saam een groot groep wie se sonde vergewe is en wat die gawe ontvang het dat die Gees van God in hulle kom woon het (vgl. ook Johannes 14:15-17; Romeine 8:9,11).

 

Die Griekse woord pentekonta beteken 50, en pentekoste 50ste. Die Jode het op die 14e van hulle jaar se eerste maand Nisan (April-Mei wat in die Noordelike halfrond tydens hulle lente val) die Pasga gevier ter herdenking aan die uittog uit Egipte toe die Here die huise, wat bloed aan die kosyne gehad het, ‘oorgeslaan’ het (Hebreeus pasag, Engels: ‘pass over;’ Eksodus 12:13; Levitikus 23:5).

Op die volgende dag, die 15e Nisan, het die ‘fees van die ongesuurde brood’ begin, ter herinnering aan die ongesuurde brood wat hulle op die woestynreis saamgeneem het, wat nie so gou sleg geword het nie. Dit was ook die dag waarop die eerste gerwe van die Jode in Palestina se graanoes aan die Here gewy is (Levitikus 23:6-14).

Sewe weke daarna, op die vyftigste dag, word die ‘fees van die weke’ gehou (Levitikus 23:15-16; in Grieks pentekoste genoem). Dit is gehou met die voltooiing van die graanoes se insameling, as ‘n dankdag vir die oes. Die eerste Christelike Pinksterdag was waarlik ‘n oesdag met die 3,000 bekeerlinge in wie die Heilige Gees kom woon het, sodat Jesus sy verlossingswerk deur hulle kon voorsit, soos Handelinge verder vertel, en soos Hy vandag nog sy koninkryk oor die hele aarde uitbrei.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesus se toewydingsgebed (17:1-26)

Jesus se toewydingsgebed (17:1-26) – Francois Malan

Na Jesus se openbare onderrig  in die wêreld (1:19-12:50), het Hy sy groepie vriende dieper  ingelei in die geheim van sy liefde vir hulle, tot die uiterste toe (13:1-16:33). In hoofstuk 17 laat Hy hulle deel word van sy gebedslewe. Hy laat sy vriende insit in sy intieme gesprek met sy Vader. In verse 1-5 gaan dit om sy verhouding tot sy Vader; in 6-19 bid Hy vir sy dissipels; in 20-26 bid Hy vir die hele kerk wat deur hulle getuienis tot stand gaan kom. [Cyrillis wat in 412 n.Chr. biskop van Alexandrië in Egipte geword het, het al gepraat van die ‘hoëpriesterlike gebed’, na aanleiding van die verklaring van Jesus as ons hoëpriester in Hebr.4:14 tot 8:6. Die benaming is in die 16e eeu deur David Chitreus van Rostok in Duitsland gebruiklik gemaak]. Baie van die temas in hoostukke 13-16 word hier herhaal.

17:1 Na Jesus se verklaring dat Hy die wêreld oorwin het, kyk Hy op na die hemel met ‘n feestelike gebed om sy oorwinning te vier: ‘Vader (Aramees Abba – ‘n verkleinvorm van Ab Vader – soos kindertjies hulle pa aangespreek het as uitdrukking van hulle liefdes- en vertrouensverhouding) die uur het gekom!’ Deur die Evangelie het Hy telkens gesê: my uur het nog nie gekom nie (2:4; 7:6,8,30; 8:20) en van hoofstukke 12 en 13 af dat die uur wel gekom het. ‘Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik’ – dit is die grondtoon en samevatting van die gebed. Hier reg voor sy kruisiging is dit Jesus se begeerte dat Hy sy lewe in hierdie uur aan sy Vader sal wy as ‘n aanvaarbare offer vir die sonde van die wêreld (17:19); dat die Vader Hom uit die dood sal opwek tot die troon van heerlikheid (13:31-32); dat almal dit sal erken as die begin van die koms van God se koningskap oor die hele wêreld; dat die heerlikheid van die Vader sal straal uit sy liefde om mense te oortuig en te verlos.

 

17:2 Die heerlikheid van die Vader en die Seun word aangedui as die seggenskap van die Seun oor die mensheid (oor alle vlees). Hy oordeel oor alle mense. Dié wat in Jesus glo word nie veroodeel nie, maar het reeds die ewige lewe (3:18). Dit is hulle wat die Vader aan Hom gee om in Hom  te glo (6:37-40). Die Vader trek hulle na Jesus toe (6:44) en gee dit aan hulle om na Jesus toe te kom (6:65). Daarteenoor bly die straf van God op dié wat ongehoorsaam is aan Jesus en sal hulle die lewe nie sien nie (3:18). Joh. 12:37-42 verwys na Jes.53:1, na die mense wat nie in die lydende Kneg van die Here glo nie, en na Jes.6:10,13 na die volk wat doof bly en net ‘n stomp oorbly. Maar ‘n takkie sal uit die stomp spruit (Jes.11:1) en ‘n oorblyfsel sal terugkom na die almagtige God toe (Jes.10:21). Aan hulle wat in Jesus glo, skenk Hy die ewige lewe, die lewe saam met God, met die inwoning van die ewige God in ons (14:25).

 

17:3 Die ewige lewe word omskryf as ‘om die enigste ware God en sy gesant, Jesus Christus, te ken.’ Die Griekse woord ‘ken’ het die volgende aspekte: om te leer ken deur persoonlike betrokkenheid, om bekend te wees met, om te begryp en te erken. Die ewige lewe is ‘n persoonlike liefdesvriendskap met die ware God as die God vir wie ons lewe en as Vader wat vir ons sorg, en met sy Seun Jesus (as ons Verlosser uit die mag van sonde), die Christus (gesalf as ons Koning wat oor ons lewe heers met sy opofferende liefde).

 

17:4 Jesus se ganse bediening was tot verheerliking van sy Vader, wat die opdrag daartoe gegee het. Hy het die werk van sy Vader volbring. Met ‘dit is volbring’ sterf Jesus aan die kruis (19:30) as die kulminasie van sy verheerliking van sy Vader  – tot die dood getrou as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (1:29) – van die God wat die wêreld so liefhet dat Hy sy enigste Seun daarvoor gegee het (3:16).

 

17:5 Nou vra Jesus dat die Vader aan Hom die heerlikheid, wat Hy voor die skepping by die Vader gehad het, weer sal gee by die Vader self – terug in die gestalte van God (Flp.2:6), aan God se regterhand (Rom.8:34), sodat Hy as God in ons kan woon, en sy werk op aarde deur ons kan voortsit. Op aarde was sy goddelike heerlikheid verberg, en moes dié wat Hom in geloof aanvaar, dit uit sy woorde en optrede aflei, dat Hy vol genade en waarheid is (1:4); deur te glo dat sy wondertekens (2:11) openbarings is van die mag van God, om Hom te verheerlik (11:4,40). Soos sy heerlikheid van die begin af aan die liefde van die Vader verbind was (3:16), so is Jesus se heerlikheid ná sy hemelvaart steeds met dié liefde vervul en daardeur bepaal. Deur sy terugkeer na die Vader behou die Woord van God wat mens geword het (1:14) die heerlikheid van God in die volste sin van die woord as lig tot verligting van die nasies (Luk. 2:32; 2 Kor.4:4,6), as liefdesmag van God se genade (Ef.3:16-19), as openbaring van God se woord en wil aan die mensdom.  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




‘n Nuwe Kategimus: Vraag 48

When thou prayest, rather let thy heart be without words, than thy words without  a heart – John Bunyan

‘n Nuwe Kategimus: Vraag 48

Vraag:

Wat is die kerk?

 

Antwoord:

God kies en bewaar vir Homself ‘n gemeenskap verkies vir die ewige lewe, verenig deur geloof en wat saam God liefhet, volg, leer van en aanbid.  God stuur hierdie gemeenskap uit om die evangelie te verkondig en om as model vir sy koninkryk te dien deur die gehalte van hulle lewe saam en hulle liefde vir mekaar. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders,]

 

 

Skrifgedeelte

Ons moet God altyd vir julle dank, broers. Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo (2 Tessalonisense 2:13).

 

Kommentaar

Broers, julle moet te alle tye soos Christus wees. Boots Hom in die openbaar na. Baie van ons woon in een of ander vorm van publisiteit; baie van ons is geroep om elke dag voor ons medemense te werk. Ons word dopgehou; ons woorde word gehoor; ons lewens word ondersoek. Die wêreld met sy arendsoë sien alles wat ons doen; skerp kritici is op ons. Laat ons die lewe van Christus in die openbaar lewe. Laat ons seker maak dat ons ons Meester ten toon stel – nie onsself nie. Dan kan ons sê dat dit nie langer ons is wat lewe nie, maar Christus in ons. Jy moet dit ook in die kerk indra … wees soos Christus in die kerk. Hoeveel is daar wat nie die kalklig soek nie? Hoeveel van ons wil nie waardigheid en mag oor ons mede-Christene hê nie. Die basiese reël van alle kerke is dat alle mense gelyk is – soos broers en moet as sulks ontvang word. Dra die Gees van Christus uit in jou kerk en waar jy ook al is. Laat jou medelidmate van jou sê: Hy was met Christus.

 

Hierdie kommentaar is deur Charles Haddon Spurgeon (1834 – 1892), ‘n Engelse Baptiste prediker geskryf. Spurgeon word die pastor van New Park Street Church (later die Metropolitan Tabernacle) toe hy slegs 20 jaar oud was. Hy preek dikwels vir meer as 10 000 mense sonder enige klankversterking. Hy skryf baie en sy gedrukte werke is baie. Toe hy sterf het hy amper 3 600 preke gelewer. Hy het 49 volumes kommentare, liedere en dagstukke geskryf.

Hierdie kommentaar kom uit   “Christ’s People—Imitators of Him” in Sermons of the Rev. C. H. Spurgeon (New York: Sheldon, Blakeman & Co.,1858), 263–264.

 

Verdere leesstof

 “Church” en “The Kingdom of God” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

Gebed

My daaglikse gebed, broers, sal wees dat in hierdie tyd waar so baie mense van die waarheid afdwaal, en dit selfs teenstaan aan die een kant;  daar is ‘n groot onverskilligheid ten opsigte van die dinge van God; min van die oorblywendes word bruikbaar vir God gemaak deur ‘n kombinasie van ywer vir die waarheid en die vermoë om dit te verdedig. Jy sal hulp van Bo kry en bemoediging om op alle maniere moontlik betrokke te raak deur die evangelie van Jesus Christus te versprei en om voortdurend te werk om te verseker dat die waarhede van God nie onder die voete van mense vertrap word nie; dat jy nie moeg word nie ten spyte van al die teenstand, veragting wat jy sal ondervind; dat jy nie sal afdwaal en met foute en valshede betrokke raak nie; dat jy naby die gesonde woorde van die leer van die evangelie bly; dat jy as ‘n lig sal skyn te midde van ‘n skewe wêreld en perverse geslag. Jy weet tog dit is nog net ‘n kort tydjie voor Hy weer kom. Ja, kom Here Jesus, kom.

Hierdie gebed  is deur John Owen (1616–1683), ‘n Engelse Puriteinse teoloog, geskryf.  Hy gaan na Oxford Universiteit toe hy slegs 12 jaar oud was; hy kry sy M.A. graad toe hy slegs 19 jaar oud was. Later word hy as Vise-Kanselier van Oxford aangestel Hy preek in die Parlement die dag na Koning Charles I se teregstelling. Hy vervul die taak sonder om na die gebeurtenis te verwys..Hy het baie boeke geskryf insluitend geskiedkundige verhandelings en verskeie boeke oor die Heilige Gees.

 

Hierdie gebed  kom uit  “The Doctrine of the Saints’ Perseverance Explained and Confirmed” in The Works of John Owen, geredigeer deur Thomas Russell, Volume VI (London, 1826), xxix–xxx.

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.