Het die kultuur ons geloof vasgevang?

God does not, for our convenience, become a direct object of scientific investigation, since God by definition is not finite and thus not subject to the measurements required by empirical sciences. — Thomas Oden

Het die kultuur ons geloof vasgevang?

Nadat Konstantyn, die Romeinse keiser,  die Christelike geloof gewettig het, het Pous Sylvester (pous van 314 – 335) ‘n droom gehad. Hy verstaan sy droom soos volg: “Nou is gif in die kerk gegooi.” Of die pous nou werklik dit gedroom het, is onseker, maar dit weerspieël ‘n werklikheid dat iets giftig besig is om met die kerk te gebeur. Marcus Borg sê dit het gebeur toe die kerk ‘n bondgenoot van die heersende kultuur geword het.

 

 Hierdie beeld van die kerk wat vergiftig is, verwys na “die kulturele gevangeneming van die kerk.” Dit beteken dat die kerk gekoöpteer word deur en die gebruike van die kultuur navolg. Hierdie gebruike gaan meestal oor oorheersing, mag en rykdom.

 Die nakom deur die kerk van die waardes van die dominante kultuur is deel van die geskiedenis tot vandag toe nog. Toe die heersende kultuur slawerny goedgekeur het, het meeste Christene dit aanvaar. Hierdie kulturele gevangenskap vorm steeds Christene. Ons kan nie verhoed dat die kultuur waarin ons grootgeword en gelewe het ons vorm nie, maar ons moet bewus wees op watter maniere ons gevorm is en dat die Christelike geloof se siening van hierdie dinge mag verskil.

 Borg bespreek dan een so ‘n waarde wat ons Christelike geloof gevorm het: die etos en ideologie van individualisme. Ons moenie individualisme as ideologie met die waarde van individue verwar nie. Vir God is almal belangrik. Individue, individuele regte en menseregte is belangrik.

 Individualisme as ideologie is iets heeltemal anders. Dit is die siening dat ons lewens bepaal word deur ons individuele prestasies. Diegene wat goed doen in die lewe, doen goed, want hulle het hulle geleenthede gebruik – die “selfgemaakte mens.”

 Diegene wat sukses behaal verdien die vrugte van dit wat hulle bereik het. Dit gaan egter verder. Moraliteit gaan nou primêr oor persoonlike optrede. Dit staan in teenstelling met sosiale moraliteit: kommer oor die welstand van die gemeenskap. Die blatantste voorbeeld van individualisme is die voorspoedsteologie.

 Die Christelike verstaan van verlossing word ook nou individualisties: dit gaan oor die verlossing van individue. Die Christelike geloof word nou ‘n lewenspolis vir individue wat glo en hulle reg gedra – hulle gaan hemel toe.

 Natuurlik gaan die Christelike geloof oor individue en ons verhouding met God as individue. Maar as dit opreg is, gaan dit ook oor God se droom van ‘n wêreld van geregtigheid en vrede. Dit gaan oor die welstand van almal en nie net oor die welstand van die individu nie.

 




Ananias en Saffira teenoor Barnabas

Public opinion is a weak tyrant compared with our own private opinion. What a man thinks of himself, that is which determines, or rather indicates, his fate – Henry David Thoreau

Ananias en Saffira teenoor Barnabas

Ons lees die verhaal van Ananias en Saffira in Handelinge 5. J. D. Greear glo dat hulle dood ‘n waarskuwing vir die kerk vandag is en dat ons baie uit die verhaal kan leer.

  • In die kerk is daar twee soorte mense en van buite is dit feitlik onmoontlik om hulle te kan onderskei

Ananias en Saffira, van buite, lyk net soos Barnabas. In Handelinge 4 lees ons dat Barnabas ook sy grond verkoop het en die geld vir die apostels gebring het. Vir ons lyk dit asof Ananias en Saffira dieselfde doen.

Maar diep in hulle hart is daar ‘n liefde vir geld en ‘n begeerte om deur mense geprys te word. Hulle sweer saam om ‘n deel van die geld terug te hou terwyl hulle die indruk skep dat hulle die volle bedrag aan die apostels oorbetaal het. Hulle gesindheid verskil radikaal van dié van Barnabas al lyk dit dieselfde.

Ons mag tydelik met hierdie valsheid wegkom, maar as iemand dit nader bekyk sal hy die leuens sien.

 

  • Ons kan nie van God wegkruip nie

Dit mag vir ons moeilik wees om te onderskei tussen ware en vals berou, maar niks is vir God verborge nie. Die Heilige Gees ken ons gedagtes; daar is geen geslote deure vir die Heilige Gees nie. Hulle mag die mense bluf, maar nie vir God nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie (Matteus 10:26). Glo ons dit? Ananias en Saffira het dit geweet … maar daarvan vergeet.

Die geheime van ons harte is nie geheim vir God nie. As jy sê: “Jesus is die Here,” maar jy leef nie asof Hy jou Here is nie, moet jy nie dink dat jy God gebluf het nie.

 

  • Hoe nader ons aan die genade is, hoe groter is die oortreding van sonde

Nie almal wat jok, val dood neer nie. Hoekom gebeur dit met Ananias en Saffira?

Een: Hulle dood dien as ‘n teken.  God doen dit nie met almal wat vir die Heilige Gees lieg nie, maar hierdie dood is die beeld van hoe God daaroor voel. Dit is ‘n teken van die toekomstige oordeel oor almal wat soos Ananias en Saffira optree.

Twee: Ananias en Saffira het die optrede van die Heilige Gees van so naby gesien dat dit die erns  van hulle sonde vermeerder het. Hulle was waarskynlik ooggetuies van Jesus se dood.

Moenie heilige dinge sommer ligtelik aanvaar nie.

 

  • Vrees is deel van aanbidding

Toe Ananias dit hoor, het hy dood neergeval; en al die ander wat dit gehoor het, het baie bang geword. Tog lees ons dat meer en meer mense  algaande by hulle getal gevoeg is. Ons glo in ‘n God wat ons oneindig liefhet, maar dit maak slegs sin as ons bewus is van sy heerlikheid en mag. Daarom skryf John Newton: Tis grace that taught my heart to fear. Soos ons vrees vir God toeneem, so neem die sin van sy liefde toe – ons besef nou eers waarlik waarvan ons gered word.

Ons word uitgenooi in die mees intieme verhouding met God, maar hierdie intimiteit mag nooit die majesteit van God oorskadu nie.

 

  • Sonde is ‘n baie ernstige saak vir God

Ons vra: Waarom het hulle gesterf? Dit dui op onkunde van ons sonde en God se heiligheid. Die vraag wat ons eintlik moet vra, is: Hoekom leef ons nog? God is geduldig; God word nie gou kwaad nie. Hoekom? Om ons na berou en bekering te lei … beslis nie om meer te sondig nie. Dink aan wat Christus aan die kruis deurgegaan het. Hoe sal ons dat ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het? (Hebreërs 2:3).

 




Abraham Lincoln se Gettysburg toespaak

And the more I considered Christianity, the more I found that while it had established a rule and order, the chief aim of that order was to give room for good things to run wild –  G K Chesterton.

 

 Abraham Lincoln se Gettysburg toespaak

Vier en ‘n half maande na die Slag van Gettysburg reis President Lincoln  per trein na Gettysburg om deel te neem aan die toewydingseremonie by ‘n begraafplaas waarin amper 50 000 soldate wat aan die slag deelgeneem het, begrawe is. In totaal was Lincoln se toespraak 272 woorde – tien sinne. Sy toespraak het minder as drie minute geduur. Dit was so gou verby dat die fotograwe nie eers al hulle apparate kon opstel om ‘n foto van die President tydens sy toespraak te neem nie. Voor hom het Edward Everett gepraat. Sy toespraak was 13 607 woorde en het twee uur geduur.

 

 

Watter lesse kan ons hieruit leer:

  • Langer is nie noodwendig beter nie

Boodskappe, ook preke, het ‘n piek doeltreffendheid. Daarna neem die doeltreffendheid af. Lang preke/toesprake is gewoonlik nie ‘n teken van deeglike voorbereiding nie, maar van swak voorbereiding. Jy het nie die materiaal wat net van perifere belang is, verwyder nie; jy het nie net dit wat belangrik is behou nie. Daar kom ‘n stadium wat lengte negatief werk.

  • Impak is nie altyd onmiddellik nie

Ons weet nie wat die onmiddellike impak van ons boodskappe is nie. Dikwels as ons klaar is, dink ons dit was nou nie my beste praatjie nie.  Dikwels is dit juis hierdie boodskappe wat God gebruik om ‘n impak te maak.

  • Lig mense bokant die onmiddellike en tydelike

Lincoln het sy luisteraars verder as die slagveld by Gettysburg gevoer na ‘n hoër en edeler plek. Hy lig hulle na ‘n “new birth of freedom, and that the government of the people, by the people, and for the people, shall not perish from the earth.”  Te veel boodskappe hanteer net die hier en nou. Hoe dikwels dra ons boodskappe die mense  hoër as hierdie wêreld na die wêreld wat sal kom.

 




Petrus loop op die water

In truth it is right to make a great distinction between the faults that come from our weakness and those that come from our malice –  Michel de Montaigne

 Petrus loop op die water

Meeste Christene ken die verhaal van Petrus wat op die water geloop het. J. D. Greear sê dat die vraag is waarom Matteus dit in sy evangelie ingesluit het. Dit is tog nie bedoel om ons aan te moedig om op water te loop nie. In Handelinge 27 word Paulus se skipbreuk beskryf. Paulus oorweeg dit nie om op die water strand toe te loop nie.

 

Die verhaal van Petrus sê vir ons hoe om met dit wat ons in geloof begin het, te volhard.

  • Aanvanklike geloof is nie genoeg nie – ons moet volhard

Petrus moes baie moed gehad het om uit die skuit te klim en op die water te loop. Hy was ‘n beroepsvisserman wat ure op die water deurgebring het. Hy weet ‘n mens kan nie op water loop nie. Tog, toe Jesus sê kom klim hy uit. Geen van die ander dissipels oorweeg dit nie. Maar net daarna begin Petrus sink. Jesus sê vir hom: Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?  Aan die begin was Petrus se geloof sterk – sy aanvanklike geloof was ongelooflik. Die probleem: hierdie sterk geloof van Petrus duur nie te lank nie. Aanvanklike geloof is nie genoeg nie; ons het volhardende geloof nodig.

 

  • Ons kry volhardende geloof op dieselfde plek waar ons aanvanklike geloof gekry het

Wat het Petrus van die veilige boot na die onvoorspelbare water laat beweeg? Twee dinge:

Een:  ‘n Visie van Jesus. Toe Jesus die boot nader skrik die dissipels en roep hard uit. Hulle was oortuig dat dit ‘n spook was. Jesus praat met hulle: Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.  Toe Petrus sien dat dit die groot “Ek is,” wat die skuit nader, was hy gerusgestel. Hy was vol geloof om Hom te volg.

Twee: Jesus se opdrag.  God sê vir hom: Kom. Petrus glo dit is belangriker om God se opdrag te gehoorsaam as om op die omstandighede te fokus. Die woord van Jesus was vir Petrus belangriker as die golwe. Petrus loop nie op water nie… hy loop op die beloftes van God.

 

  • Jesus se trou is belangriker as Petrus se geloof

Wat vertel hierdie verhaal vir ons? Nie om die krag of swakheid van Petrus se geloof te wys nie, maar om die grootheid van God se genade te demonstreer.  In Markus lees ons van Jesus wat op die water loop, maar daar is geen vermelding van Petrus nie. Hoekom nie? Was Petrus skaam vir sy kleingelowigheid? [Markus se evangelie is direk deur Petrus beïnvloed.] Waarskynlik verwys hy nie na homself nie, want Jesus se trou en genade was vir hom belangriker as sy eie geloof.

 

Hierdie verhaal is nie vir ons ‘n verhaal om na te boots nie, maar ‘n verhaal om op ons Verlosser te vertrou. As ons na Jesus roep – al is ons bang, al is ons geloof klein – hoor Hy en help Hy vir ons. As ons twyfel, moet ons nie die gehalte van ons geloof bevraagteken nie. Nee, ons moet weer ons oë op Jesus Christus rig. Ons moet ons weer en weer en weer oorgee aan sy genade.