‘n Nuwe Kategismus: Vraag 45

The primary qualification for a missionary is not love for souls, as we so often hear, but love for Christ. —Vance Havner

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 45

Vraag:

Is die doop met water die afwassing van sonde?

 

Antwoord:

Nee, net die bloed van Christus en die vernuwing deur die Heilige Gees kan ons van sonde reinig. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

Skrifgedeelte:

Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.” (Lukas 3:16)

 

 Kommentaar:

Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.” Die vraag word gevra waarom Johannes nie gesê het dat dit slegs Christus is wat siele met bloed was nie. Die rede is dat dié was deur die krag van die Heilige Gees gedoen word. Johannes het gereken dit is voldoende om die hele effek van die doop deur die een woord – Gees – uit te druk. Die betekenis is duidelik: Christus alleen gee al die genade wat nodig is. Figuurlik word dit deur die uitwendige doop verteenwoordig, want dit is Hy wat die gewete  besprinkel met sy bloed. Dit is ook Hy wat die ou mens doodmaak en die gees van regenerasie gee. Die woord vuur word bygevoeg en op die Gees toegepas, want Hy neem ons besoedeling weg – soos vuur goud suiwer.

 Hierdie kommentaar is deur Johannes Calvyn (1509 – 1564) geskryf. Gebore in Frankryk as kind in ‘n streng Rooms-Katolieke familie was hy ‘n teoloog, administreerder en pastor. Vir die grootste deel van sy lewe het hy in Geneve gewerk en die Gereformeerde Kerk georganiseer Hy skryf  The Institutes of the Christian Religion, die Geneva Catechism, sowel as baie kommentare op die Skrif. Hierdie kommentaar kom uit Calvin’s Bible Commentaries: Matthew, Mark and Luke, Deel I, vertaal deur John King (Forgotten Books, 2007), 187.

 

Verdere Leesstof:

 “Illumination” en “Regeneration” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed:

Ons vader … ons kom na U en bid dat, vir Jesus se onthalwe, en deur die bloed wat eenmaal vir baie gestort is vir die vergifnis van sonde, dat U ons volledig vergewe vir elke oortreding van die verlede. Verwyder al ons sondes, o God, dat hulle nooit weer gesien word nie. Gee aan ons ook die woord van vrede soos belowe en soos in die Heilige Gees verkry word, dat deur die vryspraak deur geloof ons vrede met God deur Jesus Christus ons Here mag ontvang. Laat ons vergewe word en dit weet, en mag daar geen voortslepende vraag in ons harte wees oor ons versoening met God nie – net ‘n vaste versekering gebou op geloof in die afgehandelde werk van Christus. Mag ons staan as mans en vrouens wat verlos is teenoor wie geen oortreding meer vermeld sal word nie. En dan, Here, het ons nog genade om te vra – iets wat ons in ons gebede sal voorlê. Dit is dat U ons sal help om sulke lewens te leef soos mense wat vrygekoop is. Ons het maar ‘n kort tydjie om hier deur te bring, want ons lewe is maar net ‘n wasem wat vinnig verdwyn. Maar ons is angstig dat ons die tyd van ons reis hier op aarde in heilige vrees sal lewe, dat genade  van die begin van ons Christelike lewe tot aan die einde van ons aardse bestaan op ons sal wees.

 

 Hierdie gebed is deur Charles Haddon Spurgeon (1834 – 1892), ‘n Engelse Baptiste prediker geskryf. Spurgeon word die pastor van New Park Street Church (later die Metropolitan Tabernacle) toe hy slegs 20 jaar oud was. Hy preek dikwels vir meer as 10 000 mense sonder enige klankversterking. Hy skryf baie en sy gedrukte werke is baie. Toe hy sterf het hy amper 3 600 preke gelewer. Hy het 49 volumes kommentare, liedere en dagstukke geskryf.

Hierdie gebed kom uit  “Prayer XIII: The Wings of Prayer” in Prayers from Metropolitan Pulpit: C. H. Spurgeon’s Prayers (New York, Revell, 1906), 71–72

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.




Hoekom gee mense vir die gemeente

Before we can begin to see the cross as something done for us, we have to see it as something done by us. —John Stott

Hoekom gee mense vir die gemeente

As die gemeente moet groei, moet gelowiges gemotiveer word om hulle hulpbronne daar te belê. Dit is die verantwoordelikheid van die leierskap om die gelowiges te motiveer. Maar baie leiers hou nie daarvan om mense vir geld te vra nie. Hulle persoonlike vrese verhoed dus die uitbreiding van die koninkryk van God.

Rick Warren sê dat hy teen fondsinsameling is, maar dat hy mense leer om te gee. Hy sien fondsinsameling as geld kollekteer in ruil vir ‘n produk, diens, beloning of erkenning. Maar ons moet verstaan hoekom mense gee.

 

  • Mense gee as hulle die leierskap vertrou. Mense gee eers vir mense wat hulle vertrou, dan vir doelwitte en eers daarna vir programme. As ons mense wil leer om te gee, gaan dit eerstens oor verhoudings en eers daarna oor funksies. Die persoon wat vra, moet die persoon met die meeste geloofwaardigheid wees.
  • Mense gee as hulle ‘n visie aanvaar – nie as hulle ‘n behoefte sien nie. Maar dan moet jy seker wees wat die visie is. Geboue en geld is nie goeie visies nie. Wat met die geboue en geld gedoen kan word, is goed. Beklemtoon die lewens wat verander kan word as mense gee.
  • Mense gee om die vreugde van vrygewigheid te ondervind. Dit voel goed om vrygewig te gee. Die gelukkigste mense op aarde is dié wat gee. Skuldgevoelens motiveer nie mense om te gee nie – altans nie op die langtermyn nie. Jy moet vreugde en nie skuldgevoelens gebruik om mense te motiveer.
  • Mense gee as hulle deur modelle geïnspireer word. Ons leer deur modelle dop te hou. Daar is ‘n getuienis oor gee ‘n duisend maal meer effektief as ‘n preek oor gee. Modelle motiveer ons. Gee is aansteeklik.
  • Mense gee as hulle betrokke is. Mense wat betrokke is, is die mense wat bereid is om op te offer.
  • Mense vra as jy hulle vra om te gee. Jakobus sê dat ons nie het nie, want ons vra nie. Mense wat gee, groei in geloof en liefde en toewyding en karakter soos hulle leer om te gee.
  • Mense gee as jy dit vir hulle moontlik maak om te gee. Mense moet op soveel maniere as moontlik kan gee. Mense kan uitredeneer wat hulle kan gee terwyl ander dit ‘n gebedsaak maak.
  • Mense gee as hulle gawes waardeer word. Die hele Filippense-boek is een van dankbaarheid. Mense wat gee moet bedank word. ‘n Klein bietjie waardering bemoedig mense om vrygewig te wees.



Naskrif oor Jesus se bediening – die Jode se ongeloof (12:37-43)

Naskrif oor Jesus se bediening – die Jode se ongeloof (12:37-43) – Francois Malan

12:37-38 Die skrywer kyk terug op Jesus se hele bediening. Ten spyte van  die baie wondertekens wat Hy voor sy eie mense, die Jode, gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie (1:11)  . Hulle reaksie op Hom was volgehoue ongeloof. Johannes sien hierin ‘n vervulling van Jes 53:1 wat hy uit die Griekse vertaling aanhaal: ‘Here, wie het ons boodskap geglo (Jesus se woorde wat Hy van die Vader gekry het, 3:34; 7:16-17; 8:26,28; 12:49-50 ), en aan wie is die arm van die Here (Jesus se wondertekens) geopenbaar?’  Die klag in Jes. 53 oor die Jode se ongeloof in die dienaar van die Here wat verag en deur mense verstoot is, gaan voort tot by die Jode se ongeloof teenoor Jesus en sy boodskappers – en tot vandag toe onder mense.

12:39-40 Dit is nie net dat die mense nie in Jesus geglo het nie, hulle kon ook nie in Hom glo nie, soos reeds in Jesaja 6:10 uitgespel is: ‘Hy het hulle oë verblind en hulle harte verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart begryp en omdraai en Ek hulle sal genees nie’ (die teks word deur Johannes vry aangehaal ; Jes. se opdrag word hier iets wat reeds gebeur het, en Jesaja se ‘sodat hulle nie genees word nie’, word ‘sodat Ek hulle nie sal genees nie’). Toe hulle Jesus se woorde gehoor en wondertekens gesien het,  moes hulle die besluit geneem het om in Jesus as Seun van God te glo. Agter hulle beslissing staan die beskikking van God. Daarmee is hulle nie van hulle verantwoordelikheid onthef nie, en word hulle deur God verwerp en geoordeel (3:36). Slegs dié wat die Vader aan Jesus gee, húlle glo in Hom (6:37,44,65; 10:29). Hulle is soos ‘n stuk hout wat uit die vuur gered is (Sag.3:2).

 

12:41 Die heerlikheid van die Here wat Jesaja gesien het (Jes 6:1-3) word hier geïdentifiseer met die heerlikheid van die Seun van God (1:14). Sy verwerping deur die ongelowiges en sy vernedering, waarvan die aanhalings uit Jesaja getuig, is deel van die openbaring van die heerlikheid van die Messias. Jesus se lyding en sy offer aan die kruis vir ons sonde is sy heerlikheid; die bevestiging dat Hy ‘vol genade en waarheid’ is (1:14).

 

12:42 Daar was egter selfs baie van die lede van die Joodse Raad wat in Jesus geglo het, om nie eers van die gewone mense te praat nie. Maar hulle posisie op die Raad en status as leiers van die volk was in gevaar as hulle openlik sou bely het dat hulle in Jesus glo. Dan sou hulle aposunagoogoi  word,  ‘uitgebandes-uit-die-sinogoge’ (vgl. 9:22), met verlies van hulle sitting op die Raad, en toegang geweier word tot die weeklikse samekomste van die volk in die sinagoges. So sou hulle aansien in die gemeenskap verloor.   

 

12:43 Johannes se beoordeling van hulle optrede is: hulle het die eer/erkenning van mense liewer gehad as die eer/erkenning van God. Die weg tot die eer van God is deur Jesus aangedui: dit gaan deur lyding en vernedering tot verhoging en heerlikheid. Dit is ‘n stille beroep op Johannes se lesers om die eer van God hoër te ag as die eer van mense, en met vrymoedigheid te bely dat Jesus God is wat in ons plek gesterf het, en dat Hy ons, wat in Hom glo, se Here oor ons lewe is. Jesus is God se Gestuurde, met die opdrag om met gesag te praat en op te tree in sy Vader se Naam (vgl. Johannes die Doper se getuienis oor Hom in 3:31-36;  en Jesus se getuienis in 6:38; 7:33; 8:16,18; 28-29; 44;  10:36-38). 

 

Hier eindig die vertelling van Jesus se openbare optrede (hoofstukke 1-12). In hoofstukke 13-16 word vertel van Jesus se onderrig van sy enger groep dissipels en sy gelowige volgelinge deur die eeue, deur sy gesprekke met sy dissipels, en in hoofstuk 17 voor hulle deur sy gesprek met sy Vader oor hulle en dié wat deur hulle tot geloof in Jesus sal kom.  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Watter kerk is die regte kerk?

Watter kerk is die regte kerk? – Kobus Kok

Sarie vra:

Daar is soooo baie kerke en leerstellings. Watter kerk (denominasie) is die mees Bybel korrek? Net as mens dink NOU het jy die regte plek vir aanbidding opgespoor, is daar weer n dwaalleer wat êrens kop uitsteek!!

Antwoord:

Prof. Kobus Kok antwoord:

Dit is baie moeilik om sommer so breedweg en kategories te kan sê watter kerk is goed en watter kerk is sleg. Gelowiges word deur God se Gees bemagtig om gees-geïnspireerde besluite te neem. Wat vir sommiges reg is, is dikwels vir ander verkeerd. Kyk maar net na die vroegste Christene. Selfs binne die kerke van Paulus was daar gelowiges wat verskillend oor sake geoordeel het. Vat maar net die groot debat in die gemeente in Korinte (1 Kor 8) rondom die eet van offervleis. Vir baie van die gelowiges was dit problematies om offervlies te eet. Vir ander gelowiges was dit nie ʼn probleem nie. Paulus verstaan beide kante en dink dat nie een van die twee opsies problematies is nie. In die oplossing wat Paulus aanbied, beveel hy aan dat die gelowiges wat voel dat die eet van offervleis aanvaarbaar is, eerder ter wille van die ander gelowiges vir wie dit onaanvaarbaar is, moet wegbly daarvan. Die punt is net dat selfs die heel vroegste Christene in die Bybelse tyd ook dikwels gevoel het dat hulle medegelowiges nou te ver gegaan het of die grense oorsteek het. Dit leer ons dat mense reeds van die heel begin af van mekaar verskil het oor die wyse waarop die geloof vergestalting moes kry.

 

Die antieke Christene het altyd gesê: “Lex orandi, lex credendi” – “die wet van gebed is die wet van geloof”. Anders gestel – soos wat mens bid, so glo mens. Die vroeë Christene het geglo dat die barometer van ʼn goeie kerk gemeet kan word aan die hand van die wyse waarop die betrokke kerk hulle gebedslewe inkleur. In die aanbidding kan mens sien hoe naby of hoe ver mense aan God is. Tog is die saak nie so eenvoudig nie. Mense wat bid is ook maar dikwels mense wat sondig. Luther het eenmaal gesê ons is almal Simul Iustus et Peccator – dieselfde tyd regverdig, maar ook sondige oortreders. Waar daar liefde is, daar is God – maar waar daar mense is, is daar sonde. Daarom moet mens maar vrede maak met die feit dat kerke ook kan foute maak en dat mens soms teleurgestel gaan word. Juis om hierdie rede het mens onderskeiding van geloof nodig. Dit word net in die dampkring van God se troonsaal, en aan sy voete gevind. Bly daarom naby aan God se voete, vergewe mense wat in hul eie menslikheid foute maak. Wees ook oop vir jou eie foute en bely dit voor God. Voel vrymoedig om die saak wat jy voel God op jou hart plaas met jou kerk en haar leiers te bespreek. Met jou oë gerig op God, sal Hy jou wys of jy by jou kerk met bly, en of ʼn nuwe seisoen vir jou aangebreek het, en jy na ʼn ander plek moet gaan. Dalk is jy geroep om binne jou kerk ʼn verskil te maak – om nie net ʼn passiewe volger te wees nie, maar ʼn leier. Onthou dat daar ook ruimte binne ʼn kerk is vir verskillende standpunte. Net so het jou standpunt ook ruimte, en mag jy verskil van jou kerk op sekere punte. Dalk wil die Here jou juis binne jou kerk gebruik om daar ‘n verskil te maak. 

 

Skrywer:  Prof Kobus Kok