Jesus is groter as Abraham en die profete (8:48-59)

Jesus is groter as Abraham en die profete (8:48-59) – Francois Malan

8:48 Smalend antwoord die Jode: ons het tereg gesê – reeds tevore so oor Jesus gepraat: Jy is ‘n Samaritaan en het ‘n duiwel. Die Jode het die Samaritane verag, gehaat en beskuldig van towery (vgl. Hand.8:9); Jesus het gesê die duiwel is hulle vader – die Jode beantwoord dit met: jy het ‘n duiwel – is een van die onderdane van die duiwel (vgl. Mat 12:24; Mk 3:22).

8:49 Jesus ignoreer die skimp dat Hy ‘n Samaritaan is – Hy het immers ook vir die Samaritane gekom (4:40-42). Maar die beskuldiging dat Hy ‘n duiwel het, word weerlê deur sy woorde en dade, nl. dat Hy die wil van sy Vader doen en daardeur die Vader eer. Maar hulle verwerp sy woorde en doen Hom oneer aan met hulle belediging, en daarmee ook aan God, sy Vader.

 

8:50 Christus kom egter nie vir sy eie eer op nie. Daar is Een wat dit soek en oordeel, en Hy is die Regter in hierdie geding tussen Jesus en die Jode. Hulle ‘soek’ Hom met bose bedoelings, naamlik om Hom dood te maak (5:18; 7:1,19,25,30; 8:37,40, ens.). Sy Vader ‘soek’ om sy Seun te verheerlik en aan Hom goddelike eer te gee (8:50,54; 11:4; 13:31-32; 16:14). Voor die regterstoel van die Vader sal die Jode moet rekenskap gee van die oneer wat hulle Jesus aandoen (8:49).

 

8:51 Voorwaar, voorwaar, verseker Jesus hulle:  as iemand sy woord steeds gehoorsaam  deur dit te glo, daaraan vas te hou, dit te doen, en daarvolgens te lewe, het hy reeds deel vaan  die soort lewe wat die fisiese dood nooit kan uitwis nie. Die koninkryk van God het gekom, in die lewe, bediening, dood en opstanding van Jesus, en in sy stuur van die Heilige Gees. Die lewe is beskikbaar vir elkeen wat in Jesus glo. Die verwysing na die Regter (v50) gee daartoe aanleiding dat Jesus die uitspraak maak oor die bestemming van die mens wat in Hom glo. Sy woord is die volle omvang van sy prediking, die blye boodskap van verlossing. Hy is die Woord van God, die versoening van ons sonde voor God, wat ons kinders van God maak (vgl. 5:24 het die ewige lewe). Vir die Jode is dit andermaal ‘n uitnodiging om Jesus te aanvaar as die Woord van God

 

8:52 Die Jode maak sy uitnodiging af as onsin van ‘n mal man, deur sy woord hulle mis te verstaan. Hulle verstaan die woord ‘dood’ as liggaamlike dood, en verstaan die woord ‘ewigheid’ as ‘nooit nie’. ‘n Ewige voortsetting van die liggaamlike lewe is ondenkbaar –  van  die ‘ewige lewe’ het hulle geen begrip nie. Abraham, die voorvader van die volk Israel, en die profete, wat in die Gees van God gewerk het, die groot godsmanne van die verlede, het gesterf – dit is die menslike ervaring van die dood. Uit hulle ongeloof weet hulle Hy het duiwel.

 

8:53 Hulle meen Hy oorskat Homself en sy volmag mateloos, en dit teenoor die groot manne uit die verlede van God se openbaring aan die mens.  In 5:18 was hulle oordeel: Hy maak Homself gelyk aan God – want God alleen is ewig en kan ewige lewe gee. Daarom was sy woorde vir hulle godslasterlik. Die Jode interpreteer sy woord as  grootdoenerige voorgee om ‘n mag te besit wat Hy nie het nie.

 

8:54 Jesus antwoord op hulle vraag. Hy soek nie sy eie eer nie (v50). Sy Vader sal Hom verheerlik as Hy verhoog word  aan ‘n kruis en alle mense na Hom toe trek (3:14; 12:32-33), soos ‘n graankorrel wat sterf om baie vrug te dra (12:23-24). Dit is die kloof tussen Jesus en die Jode se idee van God en van Jesus. God se manier om Jesus te verheerlik is deur sy selfopoffering, deurdat God self ‘n swakke mens word onder mense (1:14)  en ‘n skandelike dood sterf om mense aan die dood te ontruk en aan hulle die ewige lewe te gee. Sy selfopoffering is so ver van selfverheerliking af as die hemel van die hel. En hulle durf van die Vader sê dat Hy hulle God is!

 

8:55 Hulle ken nie die God op wie hulle hul beroem nie! Hulle het ‘n verkeerde idee oor God. Jesus ken Hom en as Hy sou sê dat Hy God nie ken nie, sou Hy ‘n leuenaar wees, soos hulle – wat sy dood soek (8:44). Die Seun ken die Vader in die allernouste manier, waarby geen mens kan kom nie. Jsus hou Hom gebonde aan die woorde van die Vader om in gehoorsaamheid te doen en te sê wat die Vader aan Hom opdra. 

 

8:56 Abraham  het hom uitermate verheug oor die dag van Jesus, oor sy koms na die wêreld. Dit is so anders as die Jode wat nie deel in hulle voorvader se vreugde oor Jesus nie. Abraham het hom verheug oor die blye vooruitsig van ‘n nakomelingskap op grond van God se belofte (Gen.12:3). In die seun wat aan Abraham beloof is sou al die volke van die aarde geseën word. Abraham het wel die vervulling daarvan gesien en hom verbly – waarskynlik vanuit die hemel (vgl. Luk. 16:22).   

 

8:57 Die Jode hou vas aan die letterlike betekenis van Jesus se woorde en dit lei tot ‘n nuwe misverstand. Hulle lei af dat Jesus vir Abraham gesien het. Dit is tog onmoontlik aangesien Jesus nog nie eers 50 jaar oud is nie. Volgens Num 4:3, 39; 8:24-25was die werksjare van ‘n Leviet van hy 30 word tot hy aftree op 50. Jesus is nog nie eers ‘n senior nie, en as ‘n junior maak Hy daarop aanspraak dat Hy Abraham gesien het, wat eeue gelede geleef het. Die aanspraak van Jesus is vir hulle lagwekkend, en duidelik ‘n leuen, omdat hulle nie sy godheid raaksien nie.

 

8:58 Weereens bevestig Jesus sy volgende woorde as die absolute waarheid: ‘Voor Abraham geword het, is Ek.’ Die kontras word onderstreep tussen ‘n bestaan wat met geboorte begin (vgl. Joh.3:6 wat uit die mens gebore is, is mens) en die ewige ‘Ek is’ wat Hom aan Moses bekendgemaak het  (Eks 3:14; die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, Eks.  3:15; vgl. Ps 90:2). Jesus se woord ‘voor Abraham was, is Ek’ is die grond vir die belofte van die verlossing van God se volk. Daarom kan Jesus die ware vryheid gee (Jn 8:31-32) en die lewe wat die dood oorwin (8:51).

 

8:59 Die Jode begryp dat Jesus Hom met God gelyk gestel het. In hulle oë is dit godslastering, waarvoor iemand gestenig moet word (Lev. 24:16). Maar dan moes hy eers deur die Raad verhoor en skuldig bevind word. Maar in hulle woede dink die Jode nie aan die regsproses nie. Hulle wil die wet in eie hande neem en begin klippe optel om Hom te stenig. 1983-vertaling: ‘Maar Jesus het gaan skuil’ – letterlik staan daar: ‘Maar Jesus  is verberg’; die werkwoord is ‘n passief (vgl. sy optrede in Nasaret toe hulle Hom by die krans wou afgooi, Lk 4:30) . Sy ‘uur’, deur God bepaal,  het nog nie gekom nie (2:4; 7:30; 8:20). En Hy het van die tempel af weggegaan.    

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 40

Humor is not a mood but a way at looking at the world – Ludwig Wittgenstein

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 40

Vraag:

Wat moet ons bid?

Antwoord:

Die hele Woord van God lei en inspireer ons in wat ons moet bid. Dit sluit in die gebed wat Jesus vir ons geleer het.

 

Skrifgedeelte:

14Juis daarom gaan ek op my knieë voor die Vader. 15Al die gelowiges, of hulle nou reeds in die hemel is of nog hier op die aarde, is wat en wie hulle is omdat God hulle so gemaak het. 16Ek bid dat God, wat so wonderlik en sterk is, deur sy Gees vir julle die krag sal gee wat julle nodig het om geestelik julle man te kan staan. 17So sal Christus deel van julle hele lewe word omdat julle op Hom vertrou. Julle lewe sal gebou wees op liefde. Deur ander met liefde te behandel sal julle lewe die vastigheid kry wat julle nodig het.

18Ek bid ook dat julle, saam met al die ander Christene, sal kan ervaar hoe lief Christus ons regtig het. Sy liefde kan ons nie met woorde beskryf nie: dit is te groot en wonderlik. G’n mens kan dit met sy verstand uitredeneer nie, want dit is baie groter as wat ons as mense is.  Maar ek bid tog dat julle so ’n ietsie daarvan sal snap. 19Mag God julle lewe met sy teenwoordigheid oorspoel sodat daar nie ’n stukkie van julle lewe is wat nie deur God se teenwoordigheid geraak word nie.

20God is so magtig en sterk. Juis met daardie krag werk Hy ook in ons. Hy kan en het dinge vir ons gedoen waarvan ons nie eens kon droom nie. 21Hy verdien daarom al die eer wat die kerk het om te gee, veral as ons dink aan wat Christus Jesus vir ons gedoen het. Almal moet Hom so eer, nou, môre en tot in ewigheid. Mag dit so wees. (Efesiërs 3:14 – 21 – Die Boodskap).

 Kommentaar:

Groot is die wins wat ons uit die Skrif kan kry. Dit is voldoende vir elke behoefte.  Paulus het dit beklemtoon toe hy gesê het: Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees (Romeine 15:4). Die Goddelike woorde is inderdaad ‘n skat wat elke vorm van heling bevat – of dit is om sinlose trots te oorwin …of om op die liefde vir rykdom te trap of om blydskap te kweek of om geduld te verkry. In die Woord kry ons in oorvloed die maniere om dit te doen.

Hierdie kommentaar is deur Johannes Chrissostomus (347 – 408) geskryf. Hy was die aartsbiskop van Konstantinopel. Hy is in Antiogië gebore. Hy kry later die titel Chrisostomus wat “goue mond” beteken, want hy was so ‘n goeie prediker. Hy word deur beide die Oosters-Ortodokse en Rooms-katolieke kerke as heilige erken. Hy is bekend vir sy Divine Liturgy of St. John Chrysostom, en sy groot aantal preke – insluitend 67 preke oor Genesis, 90 oor die Matteus-evangelie en 88 oor die Johannes-evangelie.

Hierdie kommentaar kom uit:  “Homily 37: On John” in The Fathers of the Church: Commentary on Saint John the Apostle and Evangelist: Homilies 1–47 by John Chrysostom, vertaal deur Sister Thomas Aquinas Goggin (The Catholic University of America Press, 1957), 359.

 

Verdere leesstof:

Die afsluiting van  “The Humanness of Scripture” in A Faith to Live By, deur Donald Macleod.

 Gebed:

Genadige en heilige Vader! Ons is onwaardig om in u heilige teenwoordigheid te verskyn – beide as gevolg van die sondes van ons natuur en die sondes van ons lewens, selfs in daardie tyd toe ons ‘n mate van kennis van u geseënde waarheid gehad het. Ons het U heilige waarheid nie bely soos ons moes nie. Ons het dikwels teen die lig wat U in ons harte deur u Woord en Gees aangesteek het, baie sondes gedoen. Maar U in Jesus Christus is ‘n genadige Vader vir ons… U liefde en genade is oorvloedig. In Hom kom ons na U en pleit vir ‘n ware insig in ons eie sake sonder om ons eie siele te mislei en van daar lei ons na ware nederigheid. In Christus praat vrede vir ons en sê deur u Heilige Gees dat U ons verlossing is. En vir ‘n duidelike bewys dat ons u guns geniet, laat die geseënde werk van die Heilige Gees ons beter laat verstaan, ons oordeel verhelder, ons foute ontdek, ons liefde aanblaas en ons maak op so ‘n manier dat U vreugde en plesier in ons sal vind. Omdat U bepaal het dat u Woord ‘n lamp vir ons pad sal wees en dat dit ons optrede sal lei en ‘n kragtige manier sal wees om ons meer en meer uit die aantrekkingskrag van die sonde en Satan te trek na u geseënde vryheid, pleit ons dat U u woord vir hierdie en ander doeleindes sal seën Ons pleit dat ons uit u woord u heilige wil sal leer en dat ons dan sal werk om ons lewens daarvolgens in te rig.  Mag U verheerlik word daardeur. Om Jesus, U enigste Seun en ons Verlosser, se ontwil. Amen

 Hierdie gebed is deur Richard Sibbes (1577 – 1635), ‘n Engelse Puriteinse teoloog, geskrywe. In die vroeë 17de eeu staan hy in Londen bekend as the Heavenly Doctor Sibbes. Hy was die leraar by Gray’ Inn in Londen en Hoof van Catherine Hall in Cambridge. Sy bekendste werk was The Bruised Reed and Smoking Flax.

 

Hierdie gebed kom uit:  “The Author’s Prayer Before his Sermon” in The Complete Works of Richard Sibbes, Volume 7 (Edinburgh: James Nichol, 1864), 337.

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.




Wat is die kerk? Maak dissipels (4)

To follow the Law makes you observant. To follow Jesus makes you a servant – Leonard Sweet en Frank Viola

Wat is die kerk?  Maak dissipels (4)

Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

Katalis #4: Verhoudings

As mense van hulle geloof praat, praat hulle altyd van mense wat God op hulle pad geplaas het. Hierdie mense is oortuig dat God hulle daar geplaas het op daardie spesifieke oomblik. Op elke kritieke kruispad op ons geloofspad is daar mense wie se paaie met ons s’n kruis.

 

Ons praat dan dikwels van God se voorsiening. Wat maak so ‘n verhouding voorsiening?

  • As ek van God deur iemand hoor; en
  • As ek God in iemand sien.

Natuurlik kan ons nie sulke ontmoetings/verhoudings organiseer nie. Wat die kerk wel kan doen, is om ‘n omgewing te skep waarbinne die ontwikkeling van sulke verhoudings bevorder word. Kleingroepe is een voorbeeld hiervan, maar dan moet ons nie kort-kort die groepie verander nie.

Laat ons dan na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente as wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom (Hebreërs 10:24 – 25). Moenie sommer aanvaar sulke verhoudings gaan gebeur nie – fasiliteer dit.

Katalis #5: Sleutelomstandighede

Soms is hierdie omstandighede goed; dikwels gaan hierdie omstandighede met pyn en teleurstelling gepaard. Die gevolge van hierdie omstandighede is soms positief – my geloof versterk – maar soms is dit negatief – ek verloor my geloof. Weereens is dit nie iets wat ons nie kan beplan nie – ons kan dit nie skeduleer nie. Daar is een waarheid om te onthou: dit is nie die gebeurtenis wat my geloof versterk of laat wankel het nie … dit is my interpretasie van die gebeurtenis. Dit is die gevolgtrekkings wat ons midde in die omstandighede maak, wat die uitkoms bepaal.

Watter faktore bepaal hoe ek gebeure en omstandighede interpreteer? Twee faktore is belangrik:

  • My wêreldsiening. God openbaar sy mag dikwels as die mens swak is. As ek glo dat God net goeie dinge laat gebeur, is ek in die moeilikheid.
  • Saam met wie ek my lewe deel. Het ek toegang tot vriende, familie, mentors, leermeesters. Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val,kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie (Prediker 4:9 – 10).

Die soeke na geestelike volwassenheid is ‘n lewenslange onderneming. Daarom moet my benadering tot geestelike vorming dinamies genoeg wees om my deur al die lewensfases te dra.

Hiermee sluit ons hierdie reeks uit Andy Stanley se book Deep & Wide af.




Wat is die kerk? Maak dissipels (3)

It was God’s word that made us; is it any wonder that his word should sustain us? —C.H. Spurgeon

Wat is die kerk?  Maak dissipels (3)

Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

Ons is besig om na die vyf geloofskataliste te kyk.

Katalis #2: Privaat dissiplines

Iewers moet Christene begin bid, die Bybel bestudeer en teksverse memoriseer. Persoonlike geestelike dissiplines lei tot ‘n gevoel van intimiteit en aanspreeklikheid in ons geloofslewe. Dit stel ons harte op God in. As God met ons deur sy Woord praat of ‘n spesifieke gebed van ons antwoord, word ons geloof versterk en ons vertroue in God groei. Ons kan nog ander geestelike dissiplines byvoeg soos vas en om te gee.

 

Hoekom privaat? Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon (Matteus 6:6). Hoe gouer ons ongelowige mense so ver kan kry om hulle Bybels te lees en te bid, hoe beter. Maar hoe predikers oor die naweke oor die Bybel praat, bepaal hulle belangstelling in die Bybel tydens die week. Jy moet die Bybel vir hulle toeganklik maak. Hulle moet dit eers lees voordat hulle dit kan glo.

Hoor God die gebede van ongelowiges? Lees weer die verhaal van Kornelius in Handelinge 10. God het nie alleen sy gebede verhoor nie, maar ‘n engel na hom gestuur. Nadat Petrus die evangelie aan hulle verduidelik het, kom Heilige Gees op almal wat na die woord geluister het.

Volgende keer gaan ons na die derde katalis – persoonlike bediening – kyk.

Katalis #3: Persoonlike bediening

Min dinge laat ons geloof so vinnig groei as om in ‘n bedieningsgebied te kom waar ons voel ons nie voorberei is nie. Maar God het dit met Moses, Josua en tot by Paulus gedoen. Jesus plaas hulle voortdurend in onmoontlike situasies. Lees net weer Jesus se eerste vermeerdering van die brood in Matteus 16. Jesus en sy dissipels met 5 000 mans en nog vrouens en kinders is bymekaar. Dit word laat en die dissipels vra Jesus om die mense terug te stuur na die dorpe sodat hulle kos kon koop. Wat sê Jesus vir hulle? Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet. Sjoe, hier is nou ‘n geloofstoets. Wat doen jy nou as Jesus vir jou sê om iets te doen en jy weet jy kan dit nie doen nie? Jy kan verskonings maak of vir Hom vertel wat Hy reeds weet: Ons het hier net vyf brode en twee vissies.  Sekere dinge verander nooit nie – insluitend Jesus se reaksie: bring dit vir My hier.

Wat sê Jesus vir ons? Bring net wat jy het en Ek sal daarmee werk. As ons net dit sou doen, sal ons verbasende resultate sien … en ons vertroue in Hom sal toeneem. Bediening dwing ons om voortdurend op God te vertrou. Daarom moet ons mense so gou as moontlik betrokke kry by een of ander bediening. Hulle sal gou uitvind wat hulle nie weet nie en dan is hulle uiters leerbaar. Hulle sal ook gou agter kom of dit die regte bediening vir hulle is. Die grootste voordeel van deel wees van ‘n bediening is dat ons mense met name, gesigte en stories leer ken.

As jy iemand se vertroue in God wil vermeerder plaas hom net in ‘n bediening voordat hy voel hy gereed is daarvoor. Bediening laat mense se geloof groei.

Volgende keer gaan ons na die laaste twee geloofskataliste kyk.