Jesus se selfgetuienis oor sy hemelse oorsprong (8:21-29)

Jesus se selfgetuienis oor sy hemelse oorsprong (8:21-29) – Francois Malan

8:21 Die woorde van  Jesus se weggaan in 7:33-34 word herhaal, maar hier met baie ernstiger gevolge vir dié wat nie in Hom glo nie. Ironies sal die Jode Hom soek om die gawe van God, wat Hy verkondig het, by Hom te kry, maar hulle sal Hom nie vind nie, en sterf in hulle sonde van ongeloof, terwyl die gelowiges die lig wat lewe gee sal hê (8:12). Ongelowiges lewe in die duisternis van hierdie wêreld op pad na die ewige dood , wat die uitsluiting is uit die koninkryk van God, uit die huis van my Vader waar daar baie woonplek is (14:1-3). 

8:22 Die dringende waarskuwing word met ‘n smalende vraag deur die Jode beantwoord. Op sy woorde in 7:33-35 het hulle ook sarkasties gevra of Hy dan die land uit wil gaan sodat hulle Hom nie sal kry nie. Nou vra hulle of Hy selfmoord wil pleeg. Dat Hy Homself mag doodmaak sou Hom buite hulle bereik gestel het, want vir die Jode was selfmoord ‘n veragtelike daad waardeur so ‘n mens gaan na die ‘donkerste Hades’ (sê Josefus), die onderste dele van die doderyk, waarheen geen ordentlike Jood  in elk geval wil gaan nie. Die rabbi’s het uit Gen. 9:5 afgelei dat God van die selfmoordenaar sy eie bloed sal eis. Eintlik is hulle woorde wrange verwysings na Jesus se selfoorgawe in die dood as ‘n vervloekte aan ‘n kruis vir ons sonde, deur met sy bloed vir ons versoening te doen (Deutr. 21:23; vgl. die ironie van hulle vraag  of Jesus na die Grieke toe wou gaan, 7:35). 

 

8:23 -24 Jesus antwoord nie op hulle snedige opmerking nie, maar verklaar die wesenlike verskil tussen Hom en hulle. Hulle is gemaak van die aarde se stof en is tuis in die wêreld van sonde en verganklikheid (die dood as straf op die sonde, Gen. 2:17). Hy kom as God van Bo af, om uit die straf van die dood te red. Maar hulle glo nie ‘Ek is wat Ek is’ nie. So het God Homself aan Moses bekendgemaak (Eks. 3:14). Jesus is die Woord van God wat tot Moses gekom het. As hulle in Hom sou glo, sou hulle gered word (vgl. Jes. 43:10,11,24; en Ps 118:25-27 wat hulle tydens die Paasfees sing). Jesus het gekom om die mense wat in Hom glo aan die Vader te verbind as sy kinders. Omdat hulle nie in Jesus glo, of sy aanbod aanvaar om by Hom die strome van lewende water (die Heilige Gees – God wat in ons kom woon) te kry nie, sal hulle in hulle sondes sterwe.

 

8:25 Na sy verklaring dat Hy die ‘Ek is wat Ek is’ van Eksodus 3:14 is, vra die Jode vir Hom: ‘Wie is jy?’ Hulle weier om te aanvaar dat Hy iets meer as ‘n mens is, en is daarom in hulle oë ‘n valse aanspraakmaker, ‘n godslasteraar en misleier van die volk. Wie is jy regtig? Hulle bedoel: Wie verbeel jy jou, is jy?

            Jesus se antwoord is in die Griekse teks die mees duistere teks in hierdie Evangelie. Daar is al 7 verskillende vertalings daarvoor aangebied. Die 1983-vertaling verander die antwoord in ‘n vraag: ‘Waarom praat Ek eintlik nog met julle?’ ‘n Ander vertaling wat ook ‘n teregwysing daarvan maak is: ‘Dat Ek enigsins nog met julle praat!’ Ander vertalings: ‘(Ek is) van die begin af wat Ek vir julle sê;’  Die Latynse vertaling, wat vir Luther op die verkeerde spoor geplaas het: ‘Ek is die begin, dit wat Ek vir julle sê.’  Die 1953-vertaling is moontlik die naaste aan reg en behou dit as ‘n stelling: ‘Net dit wat Ek vir julle sê.’ Daarmee bevestig Hy dat Hy is die ‘Ek is’ wat met Moses gepraat het (Eks.3:14), die Een wat is (in die onvoltooide tyd:  nie Hy was, of Hy sal wees nie; na Hom kan jy net in die aktiewe teenwoordige tyd praat)  – die aktiewe God wat aktief is in die hede (Joh. 5:16: My Vader werk tot nou toe en Ek werk ook). Hy is nie ‘n abstrakte God, êrens nie. Hy is aktief in die geskiedenis van die wêreld en in die lewe van sy volk as die lewende Here.

 

8:26 Hy het baie dinge om oor die Jode te sê en te oordeel (anders as 1983 se vraag in v25b) – om hulle op hulle verkeerde insig en optrede en hulle skuld te wys; en Hy sal voortgaan om vir die wêreld te vertel wat Hy gehoor het by sy Sender. Jesus is Self die waarheid (Joh. 14:6). Die Vader het Hom egter nie gestuur om die wêreld te veroordeel nie (vgl 8:15), maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word (Joh. 3:17), en daarmee gaan Hy voort.   

 

8:27 Die Jode verstaan nog nie dat die Vader Jesus se Sender is nie, soos Hy so dikwels al vir hulle gesê het. Daarmee bevestig hulle sy woorde in 8:19: wie die Seun nie ken nie, ken ook nie die Vader nie.

 

8:28 Hy moet verhoog word (3:14). Jesus se verhoging aan die kruis is nou verbind met sy verhoging tot die hemel en tot die regterstoel van God (12:23; 13:31-32; 17:1; vgl. Jes 52:13). Die Jode sal eers agterkom wie Hy is nadat hulle die Kneg van die Here (Jes. 53) aan die kruis verhoog het, en besef dat Hy die Seun van die mens van Dn 7:13,14 is, aan wie God die regering van ganse wêreld oorgedra het. Na sy verhoging sal die gelowige Jode en gelowiges oor die wêreld glo: Jesus is die ‘Ek is’; en dat Hy niks op sy eie gesag doen nie, maar in volkome gehoorsaamheid en vertroue praat en doen wat Hy van die Vader geleer het, nl. die waarheid oor God, oor die hele wêreld, wie se sonde Hy gaan wegneem (1:29).

 

8:29 Sy Sender en Hy het voortdurende kontak en Hy voer sy opdrag getrou uit. Ek (!) Ek doen voortdurend vanself en met graagte wat die Vader behaag (vgl. Ps 40:9). Die Vader los Hom ook nooit alleen nie. Dit is sy beskerming. Wie aan Jesus vat, vat aan die Vader. Dit is ‘n waarskuwing en indirekte pleit by die Jode om Hom te aanvaar  (vgl. Jn 1:11,12).  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus die lig vir die wêreld (8:12-20)

Jesus die lig vir die wêreld (8:12-20) – Francois Malan

Die gesprek tydens die loofhuttefees, wat deur die verhaal van die owerspelige vrou onderbreek is, word hier voortgesit.

8:12 ‘Op ‘n ander keer…’ – letterlik: ‘Jesus het weer… (tydens dieselfde fees) – vir die mense gesê…’ Die Evangelieskrywer beskou Jesus as die mens se toegang tot God. Hy vervang die Paasfeesoffers vir die sonde as die Lam van God (1:29,36), sy liefdesoffer van Homself vervang die tempel as die deurgang na God (2:21; 4:21-24; 14:6), en Hy vervang die Loofhuttefees as God wat self in die gelowige kom woon deur die Heilige Gees (7:39; 14:20,23). Strome van lewende water vloei uit elkeen wat in Hom glo (7:38), soos die water uit die rots tydens die uittog uit Egipte, wat tydens die fees in herinnering geroep word deur water wat op die altaar uitgegooi word. Hy is ook die Lig vir die wêreld, soos die vuurkolom vir Israel se trek deur die nag, en die wolkkolom bedags om hulle te lei, as die teken van die magtige teenwoordigheid van die Here by hulle (Eks. 13:21-22; 40:34-38). Met die Loofhuttefees is die tempel  met groot lampe verlig en daar was heelnag kore en danse met fakkels tot eer van die Here, met die hoop op ‘n tweede eksodus wat deur God gelei word. Christus openbaar Homself as die teenwoordigheid van God self wat hulle lewe kom verlig (Ps 27:1), om hulle te lei in die nuwe uittog uit die duisternis van die sonde na God toe, om in sy teenwoordigheid en onder sy leiding te lewe (vgl. Jes. 60:19-22; Sag. 14:5b-7).

 

8:13 Jesus het in 5:31-39 na drie getuies verwys wat God aan die Jode verskaf het (Johannes die Doper, Jesus se werke, die Skrifte). Hier plaas Hy Hom egter bo die Wetsgrond, omdat sy woord die volle waarheid is en geen verdere getuies nodig het nie, want Hy kom van die Vader en gaan na die Vader terug – die Woord van God, self God (Jn 1:1). Die Fariseërs gaan egter nie op sy uitspraak in nie, maar opper ‘n formeel-regterlike beswaar.  Hulle hoor nie sy wonderlike uitnodiging om Hom te volg nie, en ervaar nie die magtige teenwoordigheid van die Here by hulle nie. Hulle is so verstok deur hulle wetsgebondenheid, dat hulle net verwys na Deutr. 19:15 se eis van twee of drie getuies, en Jesus as die Lig vir die wêreld verwerp. Sy getuienis is vir hulle waardeloos want Hy getuig oor Homself – dit impliseer vir hulle net selfbelang. Maar Hy en sy woord is juis in hulle belang. Die koms van Lig is egter vanself ‘n oordeel, ‘n beslissing, want die mense het die duisternis liewer gehad as die lig omdat hulle werke boos is (3:19-21).

 

8:14  Jesus se onverwagte antwoord is: As Ek oor Myself getuig is my getuienis waar! Want Ek weet waar Ek vandaan kom (sy oorsprong) en waarheen Ek gaan (sy bestemming), en sy teenstanders weet nie. Hy kom van God en gaan na God (13:3) en God is met Hom (8:16). Dit onderstreep die eenheid van Vader en Seun. Die selfgetuienis van Jesus is die openbaring van God, want Hy is die Woord van God (1:1).

 

8:15 Die Jode kon dit nie verstaan nie, want vir hulle geld net wat voor oë is (7:24), die uiterlik sigbare verskyning van Jesus in ‘n nederige gestalte. Sy goddelike ewige wese sien hulle nie raak nie. Die doel van Jesus se sending is egter nie om te oordeel nie (3:17), maar die oordeel is ‘n onafwendbare gevolg van sy koms en sy woord.

 

8:16 Soos sy getuienis oor Homself van die Vader kom (v14), so kom sy oordeel ook van die Vader af. As Jesus praat is daar  altyd ten minste twee getuies: die Vader en die Seun. Daarom is sy getuienis waar!  Dit openbaar die hart en denke van God.

 

8:17-18 Jesus verwys na ‘julle wet’ se voorskrif van twee getuies, Jesus noem dit twee persone. Hy en die Vader is twee persone met dieselfde getuienis: Ek, Ek is (soos Hy Hom aan Moses geopenbaar het) die een wat oor My getuig, en die Vader wat My gestuur het getuig oor My – as geregtelike getuies, maar ook as mede-getuies van die verkondiging van Jesus. Alle getuienis oor Jesus kom van die Vader en die Seun saam. 

 

8:19 ‘Waar is jou Vader?’ openbaar  weer ‘n misverstand onder die Jode, en van hulle minagting vir Jesus. Hulle wil die tweede getuie sien en sy getuienis hoor. Omdat hulle nie Jesus as die Gestuurde van die Vader kan herken nie, lei hulle af dat  hulle die sogenaamde Vader van Jesus nie ken nie en daarom nie sy getuienis kan aanvaar nie. In 5:37 het Jesus reeds gesê: ‘Sy stem het julle nog nooit gehoor nie en sy gestalte ook nie gesien nie’ – as iemand Hom van Jesus afsny, nie in Hom glo nie, sny hy homself ook van die Vader af (5:18). Waar is God? Daar waar Jesus is! Wie die Seun sien, sien die Vader (14:9). Daar is geen ander toegang tot God nie (14:6).

 

8:20 Ná Jesus se getuienis dat Hy deur die Vader gestuur is, en dat hulle nie die Vader ken nie, wou hulle Hom gryp oor sy ‘valse’ leer (7:28-30). In die tempel se voorhof van die vroue was daar  13 offerkiste vir die bydraes van die volk. Daar openbaar Jesus Homself aan die Fariseërs en aan die mans en vroue wat na Hom geluister het. Maar omdat sy uur nog nie gekom het nie, kon niemand iets aan Hom doen nie (soos in 7:30,44; 8:59; 10:39).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Waar is God? Het God dalk verslaap?

Without new hearts there can be no new world – Leonard Sweet en Frank Viola

Waar is God? Het God dalk verslaap?

Philip Yancey se nuwe boek, The Question that Never goes away, het onlangs verskyn. Die vraag waarna hier verwys word is: Waarmee is God besig – of nie besig nie – in ‘n wêreld vol tragedies en pyn? Hy het vantevore ook oor hierdie onderwerp geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs spandeer aan sy boek.

Ons het gekyk na natuurrampe, maar wat van massamoorde – Sarajewo, Rwanda, konsentrasiekampe … Herinner ons aan Habakuk: Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? … waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? … Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag (1:2 – 4). Psalm 23 beweeg van groen weivelde na donker dieptes.

War egter vas staan is dat God by ons is In u hande is ek veilig.

God het egter verkies om deur mense te werk – mense wat verander is om die geskiedenis te verander. God verkies om in my en langs my te werk. As daar iets is wat ons meer nodig het as die antwoord op die hoekom-vraag is dit die versekering van God se teenwoordigheid by ons. Daarom het God sy Seun gestuur. Hy aanvaar sy lyding vrywillig. Dietrich Bonhoeffer wat in ‘n Duitse konsentrasiekamp gesterf het, stel dit so: Only a suffering God can help.

Dit help nie ons probeer die hoekom-vraag antwoord nie – ons moet besef  dat God nie ‘n afwesige God is wat nie weet wat op die aarde aangaan nie. Ons gaan nie alleen deur ons lyding nie. Christian Wiman wat sy vrou en kind in ‘n motorongeluk verloor het, s: Christ is God crying out I am here.

Die volgelinge van Jesus Christus glo dat God eendag ons planeet sal genees. Die probleem is dat baie van ons nie ‘n wêreld vol pyn en lyding met ‘n liefdevolle God kan vereenselwig nie. Willard Dallas gee ‘n bietjie perspektief hierop: Nothing irredeemable has happened to us or can happen to us on our way to our destiny in God’s full word. Alles kan en gaan reggestel word.

Die volgelinge van Jesus Christus is nie van tragedies vrygestel nie – Jesus was ook nie van sy kruisdood vrygestel nie. As dit lyk of God afwesig is, moet sy volgeling sy teenwoordigheid op aarde wys. Sonder ondersteuning van ander lei lyding tot isolasie en wanhoop.

Slaap God? Is Hy afwesig? Paulus antwoord: Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? … Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here (Romeine 8:35 – 39)




Waar is God? Soek die helpers

A disciple, who is not inwardly the same as outwardly, will not enter the House of Study – Gamaliël, die rabbi en Paulus se leermeester..

Waar is God? Soek die helpers

Philip Yancey se nuwe boek, The Question that Never goes away, het onlangs verskyn. Die vraag waarna hier verwys word is: Waarmee is God besig – of nie besig nie – in ‘n wêreld vol tragedies en pyn? Hy het vantevore ook oor hierdie onderwerp geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs spandeer aan sy boek.

Hoe bepaal ek die ware krag van ‘n samelewing? Deur te kyk na hoe hy die kwesbaarste lede van sy samelewing hanteer. Die boodskap wat ons aan die persoon wat swaarkry moet gee, is: Jy is nie alleen nie. Dit is ongelukkig nie wat ons vandag in ons samelewings kry nie. Ons kultuur ontken pyn en die dood. Daarom plaas ons mense wat swaarkry in inrigtings. So isoleer ons hulle van normale menslike kontak.

 

Navorsing bewys dat ‘n persoon wat deel is van ‘n gemeenskap wat omgee, gouer herstel. Ons weet dat mense stadiger herstel as daar spanning, skuldgevoelens, angs of eensaamheid is. Hierdie bykomstige faktore word baie goed deur ‘n deernisvolle samelewing verstaan.

Paulus sê dat as een deel van die liggaam ly, die hele liggaam ly. Die geloofsgemeenskap kan ‘n unieke bydrae maak tot mense wat ly. Ongelukkig hoor ons so dikwels dat die kerk die situasie vererger het. Sommige gelowiges het die tsunami in Asië beskryf as God wat Hom op die “heidennasies” wreek. Die probleem is dat hierdie uiterste stellings deur selfaangestelde spreekbuise van die geloofsgemeenskap wye dekking in die media kry. Almal probeer soos Job se vriende ‘n verduideliking gee.

Woorde veroorsaak dikwels meer pyn as die moeilike situasie self. Dink maar aan: Daar moet tog ‘n rede wees waarom dit gebeur het; In sulke tye sal God nie ‘n groter las op ons plaas as wat ons kan hanteer nie; God het hom nodig gehad in die hemel; Alle dinge werk saam ten goede; ens. Hierdie woorde is negatief en vererger dikwels die situasie.

Voordat ek met iemand wat swaarkry praat, moet ek twee vrae vra:

  • Hoe sou my woorde klink vir die persoon wat swaarkry? Sou dit hom troos of sy pyn vererger?
  • Wat sou Jesus Christus vir daardie persoon gesê het?

Moenie probeer om die hoekom vraag te antwoord nie – dit vryf net sout in sy rou wonde. Wat die wonde verbind, is ons liefdevolle teenwoordigheid.

Ons weet almal van die sewe dodelike sondes. In die Middeleeue het die kerk die sewe genadewerke geformuleer: voed diegene wat honger is; gee vir dié wat dors is water; gee klere vir diegene wat naak is; gee huisvesting vir diegene wat haweloos is; besoek die siekes; begenadig die gevangenes; begrawe die dooies.

Na die orkaan Katrina sê die bekende Amerikaanse TV regiseur, John Marks: The faith no longer travels by the word. It moves by the deed. Wat moet die gelowige in tye van krisisse doen: Wees beskikbaar en wees ‘n helper.