God is aan die beweeg

You see things as they are and ask ‘Why?’ But I dream things that never were and ask ‘Why not?’ – George Bernard Shaw

God is aan die beweeg

God is aan die beweeg. Daarom gaan geloof dikwels met ‘n mate van rusteloosheid gepaard.  God roep vir Abraham, maar sy bestemming is vir hom onbekend. Al wat hy weet, is dat dit God is wat roep. Maar as God roep is daar ‘n stem bo ons en ‘n visie voor ons.

Ons moet egter versigtig wees.

 

  • Oppas vir vals roeping. As ons ons visie en verbeelding van God se roeping losmaak, flits die rooi ligte. Ons kan ‘n visie maklik misbruik. Dan word dit ‘n verskoning om my eie persoonlike begeertes na te jaag.
  • Visie beteken ook dat ek nie meer so maklik in die bestaande kampe in die samelewing inpas nie. Die moderne lewe fokus op verandering en vooruitgang. Ons dring aan op keuses; ons verwag dat dinge gaan verander; relevansie is baie belangrik. Dit is verbode om te verbied – ons mag nie die vrou se keuse om ‘n aborsie te kry, verbied nie; ek mag nie pornografie verbied nie. In die proses moet alles wat lyk na tradisie verdwyn.
  • Ons moet versigtig wees vir dinge wat soos ‘n visie lyk, maar nie werklik een is nie. Dit is dinge soos selfhelp, positiewe denke, ens. Nou word geloof in God geloof in geloof – vir my en my belange. Ons strewe het nou geen grense meer nie.

 No one can construct for you the bridge upon which precisely you must cross thestream of life, no one but you tourself alone – Nietzsche. ‘n Baie goeie samevatting van baie mense se siening vandag. God se aandeel aan ons lewens word totaal ontken.




Verdeeldheid onder die mense (7:40-44)

Verdeeldheid onder die mense (7:40-44) – Francois Malan

7:40-41 Na Jesus se openlike verklaring is een groep van die feesgangers oortuig: Hy is die Profeet wat God aan  Moses beloof het in Deutr.18:15,18:  in wie se mond die Here sy woord gee, en vir wie hulle moet gehoorsaam.

            ‘n Tweede groep is oortuig Hy is die verwagte Messias/Christus/Gesalfde, die Koning wat hulle van die Romeinse juk sal verlos (vgl. 6:15).

            Die derde groep kyk vas teen sy vermeende afkoms uit Galilea van die heidene, wat vir hulle ‘n struikelblok is om in Hom te glo.

7:42  Die twyfelaars ken die Skrifte. Hulle weet dat die Messias uit die geslag van Dawid sou kom, uit Betlehem waar Dawid was (1 Sam 20:6; 2 Sam 6:12 Jerusalem as Dawidstad; 2 Sam 7:16;. Ps 89:4; Miga 5:1). Die twyfelaars is onbewus daarvan dat Jesus in Betlehem gebore is, uit die geslag van Dawid (Luk.2:4), en dat sy eintlik herkoms die hemel is (6:50-51)

 

7:43-44 Die meningsverskille lei tot skerp verdeeldheid onder die skare. Sommige dink selfs daaraan om Jesus gevange te neem, maar niemand doen dit nie, want sy uur het nog nie gekom nie – alles verloop volgens die plan van God (vgl. 7:30). 

 

Verdeeldheid onder die leiers (7:45-52)

 

7:45-46 Die wagte wat Jesus moes arresteer (7:32) gaan met leë hande terug, en word voor stok gekry deur hulle senders. Ten spyte van moontlike dissiplinêre optrede, verklaar hulle openlik dat Jesus se woorde hulle weerhou het.. Sy woorde kom met ‘n onverklaarbare onweerstaanbare mag. Sy optrede en woorde het swaarder geweeg as die woorde van die hoogste gesag in die Joodse volkslewe: Fariseërs wat God se woord vir die volk uitlê en toepas, en priesters wat by God intree vir die volk met offerandes.

 

7:47 Die leermeesters wat God se wet vir die volk uitlê is geskok dat selfs die tempelpolisie nie hulle leiding volg nie. Spottend vra hulle: Julle is tog nie ook mislei nie?  Die wagte het hulle laat mislei deur ‘n bedrieër (vgl. by 7:12).  

 

7:48 Die helde-op-‘n-afstand vra met selfverheffing: Is daar dan  een van die leiers of van die Fariseërs wat in hom glo? In Grieks word die vraag so gestel dat die antwoord daarop net ‘nee, niemand nie’ gesuggereer word. Niemand van húlle groep is toeganklik vir Jesus se verleidende invloed nie (Heel ironies skryf Johannes dit, in die lig van v50).

 

7:49 ‘Maar hierdie gespuis (die bevolking van die land), wat nie die wet ken nie, is vervloektes’ (vgl. Deutr 27:26). Vervloek beteken om iemand buite God en sy seën en sorg te stel. Al was die Fariseërs juis die leraars van die volk, het hulle op die gewone mense neergesien (vgl. Lk 18:10-12). In hulle houding tot die gewone bevolking het die Fariseërs en Jesus aan teenoorgestelde kante gestaan.

 

7:50-51 Johannes weet van een lid van die Joodse Raad wat in die nag na Jesus toe gekom het omdat hy geweet het dat Jesus ‘n leermeester is wat van God af kom (3:1-2); anders as die Fariseërs se verklaring in vers 48. Nikodemus tree vir Jesus in, deur die Fariseërs daarop te wys dat hulle nie volgens die wet optree nie, en dus eintlik soos ‘die bevolking van die land’ is, wat nie die wet ken nie. Deutr. 1:16-17 ‘…moenie partydig wees as julle ‘n saak verhoor nie, luister na klein en groot…’ (vgl. Deutr. 17:2-5!). Maar Nikodemus doen dit slegs deur ‘n vraag te stel na die wettigheid van hulle optrede, sonder om hom openlik vir Jesus uit te spreek.

 

7:52 Die atmosfeer is egter so gespanne oor Jesus se optrede dat Nikodemus se vraag oor die regte prosedure bitsig beantwoord word met ‘n wedervraag wat nie sy vraag beantwoord nie, en hom persoonlik aanval. Hulle weet Nikodemus kom nie uit Galilea  nie, maar verkleineer hom deur te suggereer dat hy ‘n landgenoot verdedig wat uit die agterlike Galilea kom, wat nie die wet so nougeset soos Judea onderhou nie (dit is ‘n vergissing, want Jesus is eintlik in Betlehem gebore en kom van God af) , en dat hy, Nikodemus, self nie die Skrifte ken dat geen profeet uit Galilea kom nie (ook ‘n vergissing, want dit is bekend dat bv. Jona uit Galilea gekom het; 2 Kon.14:25). Daarby kan God enigiemand van enige plek af roep, en is hulle snedige opmerking eintlik ‘n beperking en minagting van God.           

 

Twee temas loop deur hoofstuk 7: (i) Jesus het gekom as die vervulling van Israel se geloof en van hulle feeste; (ii) die beoordeling en beslissing oor Hom wat die mense verdeel. Jesus tree openlik, in die openbaar op, tussen die Jode wat Hom wil doodmaak (v1). Toe Hy in hulle kring instap, stap Hy in ‘n openbare verhoor in.

Hy word aangekla van ‘n reeks oortredings: (i) Hy mislei die mense (v12). (ii) Hy is ‘n onkundige leek sonder opleiding en daarom sonder gesag om die mense die wet van God te leer (v15). (iii) Hy oortree die sabbatwet met die genesing van die lamme by die Betesdabad (v21-23). (iv) Hy sê valslik dat Hy die Messias is, want almal weet waar Jesus vandaan kom, maar niemand sal weet waar die Messias vandaan kom voordat Hy aan Israel geopenbaar word nie (v28). (v) Hy kom van Nasaret in Galilea af, en die Skrif sê die Messias kom van Betlehem af (v42,52).   

Jesus antwoord op die klagtes: (i) sy lering kom van God wat Hom gestuur het (v17). (ii) Hy soek nie sy eie eer nie, maar die eer van sy Sender (v18). (iii) Hy kom God se doel met die sabbat vervul (v22-23). (iv) Hulle weet nie waar Hy vandaan kom nie, omdat hulle die ware God nie ken nie (v28,29). 

Jesus se verhoor het húlle verhoor geword. Dit vereis nou van hulle ‘n antwoord en geloof. Nie een van hulle hou Moses se wet nie; dit word duidelik uit hulle begeerte om Hom dood te maak, selfs sonder verhoor, soos die wet vereis. Daarom Jesus se vermaning: Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig (v24). Om regverdig te kan oordeel is dit nodig om in God te glo, en dat Hy Jesus gestuur het om alles te vervul wat Israel se loofhuttefees simboliseer: verlossing deur God, God se woord en wet deur Moses as riglyn vir sy volk (v16-19; 21-23), hulle verwagting van die Messias/Christus-koning (v25-31), strome van lewende water uit die rots in die woestyn (die Heilige Gees in dié wat tot geloof in Jesus kom; v37-39), oesfeesvreugde oor God se gawes.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Geloof werk: Hebreërs 11

Preach Christ … He is the whole gospel. His person, offices, and work must be our one great, all-comprehending theme – Charles Spurgeon

Geloof werk: Hebreërs 11

Hierdie is waarskynlik een van die bekendste hoofstukke oor geloof in die Bybel. In hierdie heldesaal van gelowiges moet ons net oplet hoe dikwels hy die woord geloof gebruik. In vers 1 begin hy met ‘n definisie: Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. In vers 6 lees ons dat sonder geloof is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.

 

Daarna beweeg die skrywer sistematies deur die annale van die verlossingsgeskiedenis om te wys dat die gelowiges van ouds geglo het. Let daarop dat ons elke keer ‘n naam lees (Abel, Henog, Noag …) gevolg deur geglo het en daarna ‘n werkwoord wat dui op optrede. Geloof wat God tevrede stel, gaan altyd met optrede gepaard. Dit is natuurlik die punt wat Jakobus ook maak. Dade/werke is die noodsaaklik vrug van geloof. Ware geloof lei altyd tot vrugte van liefde en gehoorsaamheid.

Omdat Abel geglo het, het hy ‘n beter offer aan God gebring …

Omdat  Noag geglo het, het … hy die ark gebou.

Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek …

So kan ons hulle een vir een nagaan. Die boodskap van Hebreërs 11 is dat geloof elke keer met optrede gepaard gaan. Geloof lei tot werke.




Waaroor het Jesus gepraat?

Envy is sorrow at another’s good – Thomas van Acquino

Waaroor het Jesus gepraat?

Daar is veral vier sake waaroor Jesus gepraat het – meer as enige van die ander sake wat Hy ook hanteer het. Hulle is:

  • Die koninkryk van God – die manifestering van God se teenwoordigheid as heerser vandag en in die toekoms.
  • Lewe – die ewige lewe wat in Homself beliggaam word. Hierdie lewe sal aan sy volgelinge gegee word na sy opstanding.
  • Sy Vader – die aanbod dat ons ‘n persoonlike verhouding met die Vader kan hê net soos Hy ‘n verhouding met sy Vader gehad het.
  • Homself – Jesus was die vervulling van die hele Ou Testament.

Die ander sake waaroor Jesus gepraat het, was gewoonlik aanvullend tot hierdie vier sake.

[Uit; Leonard Sweet en Frank Viola se Jesus A Theography.]