Jesus en gebed

Pride gets no pleasure of having something, only having more of it than the next man – C. S. Lewis

Jesus en gebed

Jesus het dikwels gebid. Volgens Leonard Sweet en Frank Viola (Jesus – A Theography) staan Jesus se gebede in skrille kontras met die praktyke van destyds.

  • Daar is op spesifieke tye van die dag gebid: 09:00, 12:00, en 15:00. Jesus het veral soggens vroeg en saans gebid.
  • Die vrome Jode het gestaan as hulle gebid het – gewoonlik het hulle nie gekniel of gebuig nie.
  • Die gebede was selde spontaan. Die vroom Jode het versamelings van gebede opgesê.
  • Gebede is so gereël – tyd en plek – dat die bidder duidelik gesien en gehoor kan word. Hulle bid lang gebede in openbare plekke.

Jesus verbreek hierdie rigiede patroon. Hy moedig mense aan om na hulle kamer te gaan, die deur toe te maak en daar te bid. Hy waarsku: Moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie – Hy beveel kort, eenvoudige gebede aan. Jy kan die Ons Vader-gebed in een of twee minute bid. ‘n Baie goeie voorbeeld is Elia se gebed op Karmelberg (1 Konings 18). Die Baälprofete roep van die môre tot die middag, maar Baäl reageer nie – niks gebeur nie. Toe kom Elia na vore en bid twee sinne en die Here verhoor sy gebed.

Daar is egter een aspek van Jesus se gebedslewe wat ons nie moet miskyk nie: Hy was in voortdurende gemeenskap met sy Vader – elke minuut van die dag. Natuurlik moet ons gereelde tye en plekke hê om te bid, maar ons moenie vergeet dat ons enige tyd op enige plek met ons Vader in die hemel mag praat.




Jesus word kwaad

Iemand vra vir John D. Rockefeller Sr hoeveel geld nodig is om ‘n mens gelukkig te maak. Sy antwoord: Just a little bit more.

Jesus word kwaad

Dit moet ons nie verbaas dat Jesus wel tydens sy aardse lewe kwaad geword het nie. Hy was altyd in beheer as Hy kwaad geword het. Daar was veral drie dinge wat Hom regtig kwaad gemaak het.

 

  • Onvrugbaarheid. In Markus 11 lees ons die verhaal van Jesus wat die vyeboom vervloek. Jesus was honger en sien ‘n vyeboom met blare aan op ‘n afstand. Hy stap nader, maar kry geen vye nie. Hy vervloek die boom en die volgende môre was die boom verdroog. God se opdrag aan die mens in die tuin was om dit te bewerk en op te pas (Genesis 2:15).  Ons primêre opdrag was nie om te verbruik nie, maar  om te bewerk en vrug te dra.
  • Mense wat onreg aan kinders doen. Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ‘n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink (Matteus 18:6). Ons moet onthou dat in Jesus se tyd kinders nie juis gereken was nie. Uit sy moeder se geboorteverhaal het Hy geweet hoe dit moet voel as daar nêrens vir jou plek is nie. Jesus maak die kind die primêre beeld van mense wat Hom volg. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word (Johannes 1:12).
  • Selfgeregtigde veroordeling van ander. Wie het Jesus regtig kwaad gemaak? Die Fariseërs, want hulle het ander gedurig geoordeel en op ander neergekyk.



Verkeerde sienings van dissipelskap

In times of failure keep two words in mind: Remember Peter – Leonard Sweet en Frank Viola

Verkeerde sienings van dissipelskap

Ed Stetzer het ‘n artikel hieroor geskryf. Daar word baie oor dissipelskap geskryf – en met reg. Dit staan immers sentraal in Jesus se Groot Opdrag: Gaan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels. Stetzer glo egter ons dissipelskapmodel is stukkend. Hy identifiseer vyf gebiede wat dringend aandag moet kry.

 

  • Ons stel dissipelskap en Bybelkennis gelyk aan mekaar. Ons kan nie geestelik groei sonder ‘n dieper  kennis van die Bybel nie. So dikwels bestaan ons dissipelskapproses uit: “Lees dit; Bestudeer dit; Memoriseer dit; Reg om te gaan.” Dissipelskap is om meer soos Jesus te wees: dIé wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die eerste is (Romeine 8:29). Die kern is nie inligting nie, maar transformasie. Ons moet Jesus Christus beter leer ken.
  • Ons maak dissipelskap ‘n program. Dissipelskap is nie ‘n ses weke kursus nie. Dit vereis die najaag van kennis plus doelbewuste optrede. Baie mense bied ‘n boek of ‘n klas aan, maar wat ons nodig het, is ‘n lewe. Toe Jesus dissipels gemaak het, het Hy hulle saam met Hom geneem terwyl Hy met sy bediening besig was. Moenie mense net vertel nie, neem hulle saam met jou. Mense soek meer as net ‘n Bybelskool een maal per week. Hulle soek betekenisvolle verhoudings … nie klasse nie.
  • Ons stel dissipelskap gelyk aan preke. Daar is leraars wat glo dat hulle preke een of twee maal per week voldoende is. Deur net na preke te luister beteken nie mense groei geestelik nie. Dissipelskap is ‘n daaglikse proses – dit is nie ‘n Sondag-gebeurtenis nie. Dit vereis daaglikse toewyding.
  • Ons glo dat ons sonder inspanning geestelik kan groei. God het ons gered. Al wat nou nodig is, is om een keer per week die erediens by te woon en van die groot sondes af weg te bly. Daar is niks doelgerig in hierdie proses van geestelike groei nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe (Filippense 2:12). Let op: toelê. Dissipelskap is ‘n proses. Hierdie vers sê nie ek moet my eie redding uitwerk nie – dit gebeur deur genade en in geloof. Maar, as gelowige moet ek groei en dit vereis inspanning van my kant. Dallas Willard verduidelik dit so: “Grace is not opposed to effort, it is opposed to earning.”
  • Ons bied geen praktiese stappe aan nie. Om die verbruikerskultuur van ‘n gemeente te verander, vereis ‘n doelgerigte plan en strategie vir dissipelskap. Gee aan mense praktiese stappe en mense met wie hulle die pad saam kan loop.

 As jou dissipelskapplan Bybels gegrond is, is die besonderhede van die plan nie so belangrik soos die implementering en kommunikering daarvan nie. Ons moet die uitdagings vir dissipelskap identifiseer en ‘n proses daarstel wat hierdie probleme hanteer. Dit is die eerste noodsaaklike stap in ons dissipelskapproses.




Strome van lewende water (7:37-39)

Strome van lewende water (7:37-39) – Francois Malan

Die loofhuttefees, wat die uittog uit Egipte herdenk, het sewe dae geduur (Lev 23:33-36;  Num 29:35 sit egter ‘n  agtste dag daarby). Elke môre met sonop het ‘n priester ‘n goue liter-kan vol water geskep uit die Siloambad, waar die water uit die rotstonnel vanaf die Gihonfontein gestroom het. Dit was ter herdenking van die water uit die rots tydens die uittog uit Egipte (Eks.17:1-6; 1 Kor 10:4). Dit het ook vooruitgesien het die koms van die koninkryk van God wanneer water geskep sal word uit die fonteine van redding (Jes.12:3; Eseg. 47:1-12; Sag.14:8).

Die priesteroptog van Siloam na die tempel met koorsang en danse is by die tempel se waterpoort begroet met drie vreugdevolle aankondigings deur ‘n trompet (sjofar;  vgl. Jes 12:3). Die priesters het om die altaar gestap terwyl die tempelkoor die Hallelujas (Pss 113-118) vir die Here voor die feesgangers gesing het. Met die lees van Ps 118:1 skreeu elke man en seun dit drie maal uit, terwyl hulle die lulab met die regterhand skud (‘n bossie wilger- en mirte-takkies met palmblare vasgebind (Ps 118:27), en ‘n lemoen met die linkerhand omhoog gehou. Na die lees van Ps 118:25 word dit weer drie maal  geskud en geskreeu: ‘Red tog Here, gee tog voorspoed, Here!’ Op die sewende dag is sewe maal om die altaar gestap en die lulab geskud. Die loofhutte was ook die oesfees ná die vrugte-oes, om te bid vir goeie reën tydens die volgende seisoen (Sag.14:16-19). Wyn in een silwer beker en die water in ‘n tweede gegooi en  aan die Here geoffer op die brandofferaltaar. Daarna roep die feesgangers: ‘Lig op u hand!’ en die priester lig sy hand op as teken dat die verrigtinge afgesluit is. Die hele seremonie herinner die feesgangers aan God se verlossing en sorg in die verlede (uittog), hede (oes) en toekoms (koms van die koningskap van God).

 

7:37 Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees het Jesus in die tempelarea gestaan en ten aanhore van almal gesê: ‘As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!’ (vgl. Jn 4:13,14; 6:35; Jesaja 55:1; Mat 11:28; Openb 22:17).  Die woord ‘dors’ het betrekking op die geestelike nood van die sondaar, wat deur die Heilige Gees se inwerking bewus geword het van sy ellende, en verlang na redding. Hulle word uitgenooi om hulle geestelike dors by Jesus te les as die enigste weg van verlossing

 

7:38 Daar is twee vertaalmoontlikhede vir die eerste woorde ‘wie in My glo’: (i) dat dit die nuwe vers inlei, soos in ons vertaling, en na die aanhaling uit die Ou Testament verwys. (ii) dat dit nog deel is van vers 37 wat dan so lui:

            As iemand dors is, laat Hom na My toe kom; en laat hom wat in My glo drink.

Dan is dit nog deel van Jesus se uitnodiging, met Christus as die enigste bron van lewende water vir elkeen wat glo – die een wat dors is, is dan die gelowige wat oortuig is dat Jesus sy dors kan les, soos in 6:35; Vers 38 begin dan met ‘Soos die Skrif sê…’ Die betekenis van die twee moontlikhede bly egter dieselfde, naamlik God se verlossing in die verlede (Jes 55), hede (nou met Jesus), en in die toekoms (op die oordeelsdag).

            Daar is nie ‘n spesifieke teks in die Ou Testament wat na ‘strome van lewende water’ verwys nie. Maar ‘water’ verwys in verskillende uitsprake na die Heilige Gees (Jes.44:3; Jes 58:11; Eseg 47:1-12; Joël 2:28; 3:18; Sag 13:1; 14:8).

            Die een wat glo, word ‘n kanaal waardeur lewende water, wat Jesus gee, na ander toe vloei. 

 

7:39 Die Evangelis verduidelik (nadat die Heilige Gees reeds uitgestort was toe hy geskryf het) dat ‘lewende water’ ‘n beeld is van die Gees van God wat die mense, wat tot geloof in Jesus gekom het, sou ontvang het. Dit is die Gees wat ‘n mens steeds oortuig, sodat hy deurgaans gelei word om in Jesus te glo. Hoewel die Gees van God deur die eeue werksaam was in die wêreld en onder mense, was dit konings en priesters en profete wat gesalf is as teken van die leiding van die Gees in hulle. Maar sy werk het nog nie ten volle tot openbaring gekom solank as wat die werk van God in Christus nog nie volbring was nie. Terwyl Jesus, self God, by die mense was, het Hy mense probeer oortuig. Maar na Jesus se ‘verheerliking’ – dit sluit in sy verhoging aan die kruis vir ons sonde, sy opstanding uit die dood vir ons oorwinning oor die sonde,  en sy verhoging tot die regterhand van die Vader as ons voorspraak en om te regeer as die Here oor die wêreld en sy kerk – het Hy die Vader gevra om die Gees te stuur om ewig by en in sy volgelinge te wees (14:15-17).

            Jesus kom die loofhuttefees se wyn- en wateroffer vervang met sy bloedoffer en die uitstorting van die Heilige Gees op elkeen wat deur die Woord van God en die werking van die Gees uit die slawehuis van sonde uitgelei word in die ewige lewe by God.

 

Skrywer: Francois Malan