Jesus is die Christus (7:25-31)

Jesus is die Christus (7:25-31) – Francois Malan

7:25,26 Onder die feesskare in Jerusalem was daar verskillende groepe wat elkeen op sy eie wyse reageer op Jesus se prediking: (i) die volksleiers ‘die Jode’, wat vyandig was en Hom wou doodmaak;  (ii) die feesskare is onseker (v10) en verontwaardig dat iemand Hom wil doodmaak (v20); (iii) die inwoners van Jerusalem weet iets van die moordplanne, en is verbaas dat Jesus openlik optree, en dat die leiers Hom nie teengaan nie. In Jn 6 het die leiers nog met Hom geredeneer, maar nou bly hulle stil, en wonder waarom die leiers nie teen Jesus optree nie.

7:27  Die groep Jerusalemmers praat minagtend van ‘hierdie man’. Hulle weet hy kom van die agterlike Nasaret af (vgl. 1:46). Maar hulle verwag ‘n Messias/Christus wat onverwags sal verskyn, wat niemand sal weet waar hy vandaan kom nie. Daarom kan Jesus, wat op so ‘n oninspirerende manier gekom het, nie ‘Die Gesalfde’ wees nie. 

7:28 Jesus weet wat die mense oor sy afkoms sê, maar net Hy ken sy ware afkoms. Hy is gestuur deur ‘ware God’ (letterlik: die Ware/Getroue) – wat die waarheid is en die waarheid doen. Die Jerusalemmers ken nie die ware God en sy werkwyse nie. Hulle oordeel op die oog af (7:24) met hulle verdraaide kennis van God.

7:29 Jesus weet hoe die ware God is en wat sy plan is; want Hy kom van Hom af – dit is Jesus se ware oorsprong, God uit God, gestuur om mens te word om God se reddingsplan  vir die wêreld uit te voer.

7:30 Daar is weer ‘n gemengde reaksie op Jesus se aanspraak dat Hy deur God gestuur is: (i) Die Jerusalemmers wou Hom arresteer omdat Hy gewaag het om hulle idee oor God te verwerp. Maar hulle kon dit nie doen nie, omdat die tyd wat God daarvoor bepaal het nog nie gekom het nie (vgl. 17:1).

7:31 (ii) Uit die groot feesskare is daar egter baie wat in Hom geglo het. Hulle kon nie dink dat die Messias meer wondertekens kon doen as wat Jesus al gedoen het nie. Johannes vertel nie van baie wondertekens wat Jesus in Jerusalem gedoen het nie, maar die feesskare kom van oral af, en het van Jesus se wonders in Galilea gesien. Hulle glo in Jesus, maar dit is nog maar net wondergeloof, wat nie stand hou nie.

 

4 Jesus praat oor sy teruggaan na die Vader (7:32-36)

7:32 Die Fariseërs, wat hulle toewy aan die wet, beskou Jesus as ‘n wetsverbreker beskou. Hulle hoor die teenstrydige gedagtes oor Jesus en sy uitsprake oor sy verhouding tot God, wat hulle as godslasterlik beskou.  Hulle kan egter nie alleen optree teen die Jesus, wat die volk in verwarring bring nie, en nader hulle teenstanders in die Joodse Raad, die Sadduseër priestershoofde, wat seggenskap het oor die tempelwagte, om die wagte te stuur om Jesus te arresteer.

7:33 In die hoogspanning van ‘n dreigende arrestasie reageer Jesus: hulle wonderlike geleentheid dat God self by hulle is, is kort. Op sy tyd en volgens sy besluit gaan Hy terug na sy Sender. Die inisiatief om Hom weg te kry is nie in die hande van die Jode nie. Al gaan hulle Hom doodmaak, bly sy terugkeer hemel toe sy daad. 

7:34 Die onverwagte is dat hulle wat nou soek om Hom dood te maak, sal Hom dan te laat en tevergeefs soek om hulle vry te spreek voor sy Regterstoel. Hy gaan na sy Vader in die hemel, en daar kan die vyandige Jode weens hulle verwerping van Jesus nie kom nie, omdat hulle deur God verwerp is, die God wat hulle met hulle ywer verkeerd dien, om hulle self te red deur te probeer om sy wet stiptelik te hou sonder om Hom lief te hê (9:16; vgl. Lk 11:39-42). Die gemeenskap met God bly ontoeganklik vir dié wat Jesus in hulle selfvoldaanheid verwerp. Hulle sal die Messias soek en Hom nie kry nie.

7:35  Die vyandige Jode probeer hulle eie verklaring gee vir Jesus se woorde. Hulle misverstand is so ironies soos Jesus se woorde wat hulle nie verstaan  nie. Maar onwetend is hulle woorde profeties. Hulle reken Jesus wil sy eie land  verlaat om die gevaar van arrestasie te ontvlug, deur in die buiteland kontak te soek met die Griekssprekende Jode in die verstrooiing (diaspora), en daar vir die Grieke te gaan leer. Dit is presies wat die apostels onder leiding van die Heilige Gees later gedoen het, om die boodskap van Jesus uit te dra, na sy dood en opstanding. Deur sy ‘vertrek/heengaan’ het Christus verlossing vir alle volke bewerk en vanuit die hemel die Heilige Gees van God se wêreldsending in sy volgelinge gestuur, om die boodskap, wat die Jode verwerp het, te verkondig. Die Jode se vraag word so gestel dat hulle nie glo dat Jesus dit sal regkry nie, want vir hulle klink dit belaglik. 

7:36 Die Jode herhaal Jesus se woorde letterlik. Hulle kan nie daarvan loskom nie, maar maal oor die raaiselagtige woorde se betekenis, en besef nie dat Hy hulle tot bekering roep met die waarskuwing dat Hy weggaan en hulle Hom sal soek, maar nie sal vind nie, en nie kan kom waar Hy dan is nie. Vir sy gelowige volgelinge/dissipels is dit anders: 14:4 ‘…en Ek sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.’       

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Laat sy liefde jou lei: Wrang smake

Laat sy liefde jou lei: Wrang smake – Milanie Vosloo

Kom Ek sê nou vir julle hoe Ek wil hê julle moet leef. Julle moet julle vyand liefhê. Wees goed vir almal wat julle haat. Moenie hulle sleg behandel nie. Lukas 6:27

Ken jy iemand wat ‘n wrang smaak in jou mond laat? Gewoonlik is dit iemand wat op ‘n manier opgetree het waarvan jy nie hou nie, iets gesê het wat jou ontstel of seergemaak het of dinge doen wat eenvoudig teen jou grein ingaan. En natuurlik het ons die geneigdheid om die mense van wie ons nie hou nie, óf te vermy, óf heeltyd in konflik met hulle te wees óf heimlik te hoop dat hulle vergeld sal word. Ja, soms tree ons, soos die Fariseërs, vreeslik “ordentlik” op terwyl ons eintlik wil skree van irritasie of hulle sommer net wil vermy.

 

Die vraag is wat maak ek en jy met hierdie mense? Is vermyding, konflik of enige ander vorm van vergelding die antwoord? Allermins. Jesus sê hard en duidelik vir ons dat ons ook ons vyande – die mense met wie ons ‘n probleem het – met onvoorwaardelike liefde moet koester. Dís makliker gesê as gedaan en ons kan aanvaar dat ons dit nie sonder die kragtige werking van die Gees in ons, gaan regkry nie.

 

Begin vandag deur vir dié mense wat aan jou krap, ernstig te bid. Jy sal agterkom dat gebed ’n manier het om twee harte dramaties te verander! Bid veral dat Hy by jóú hart sal begin.

 

Vader, dis nie maklik om u liefdesgebod teenoor álmal uit te leef nie. Help my asseblief! 

 

 

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Christene is mense op reis

God’s purpose in redeeming men from sin is not to give them freedom to do as they please but freedom to do as He pleases. —John MacArthur

Christene is mense op reis

Ons roeping herinner ons daaraan dat volgelinge van Jesus Christus mense is wat die Weg bewandel. Geen persoonlike of geestelike verhouding groei vanself nie – dit moet gekoester word; die kole moet aangeblaas word om te verseker daar is ‘n vlammetjie. Doen ons dit nie gaan die vuurtjie dood. Die probleem is dat die Christelike geloof vandag ‘n formaliteit, roetine, geword het. Dit wat buitengewoon was, is nou gewoon. Die band tussen die verklaring van ons geloof en die uitoefening van ons geloof is verbreek. Geen wonder die geloof in Christus verloor sy geloofwaardigheid nie. Daarom kry ons T-hemde soos: Jesus, save me from your followers. Aartsbiskop William Temple sê: I believe in the Holy Catholic Church and I only regret that it does not exist.

 

  As Christene besef dat die lewe ‘n reis is, word baie dinge vir ons duideliker:

  • Ons besef ons is net volgelinge solank as wat ons Hom volg – as ons al ons ander lojaliteite los; as ons doen wat Hy vir ons sê; as ons leef soos Hy van ons verwag. Die weg is vir reis – of ons vorder of ons het die pad byster geraak. Goeie bedoelings en teorie is nie deel van hierdie reis nie.
  • Ons moet besef dat hierdie reis nooit sy eindpunt op aarde sal bereik nie. As ons ons lewens en geloof as ‘n reis sien. Het dit implikasies vir ons: dit herinner ons dat almal wat nog op reis is nog nie by die eindpunt uitgekom het nie. The true city of the saints is in heaven … Here on earth Christians travel as ons a pilgramage through time looking for the Kingdom of Eternity (Augustinus).
  • Christene weet waarheen hulle op pad is en wat vorentoe vir ons wag; ons weet wie is saam met ons op reis … maar ons bly steeds op reis.
  • As ons besef dat ons almal op reis is, besef ons dat nie almal op dieselfde plek is nie. Party staan nog aan die begin; ander het al ‘n ent langs die pad gevorder.

Ons is God se kinders op reis. Hy het vir ons die kaart gegee vir hierdie pad. Volg dit.




Roeping: Individueel of gemeenskaplik

Your life is shaped by the ends you live for. You are made in the image of what you desire.”

—Thomas Merton

Roeping: Individueel of gemeenskaplik

God roep ons persoonlik, maar nie individueel nie. Die hele idee van die gemeenskap is problematies vir die moderne mens. Die moderne mens het ‘n vooroordeel teen instellings. The conveyer belt of life carries you on, no one knows where. One is more of an object, a thing, than a living creature (Franz Kafka).

 

Moderne gelowiges ondervind selde die gemeenskaplike aard van die kerk; die invloed van die plaaslike gemeente is selde beslissend in die samelewing. Die kerk is geroep deur Jesus Christus en behoort aan Hom. Elke gelowige is persoonlik geroep, maar nie as ‘n klomp individue nie, maar as ‘n geloofsgemeenskap. Die kerk is nie ‘n klomp verskillende kerke op verskillende plekke nie, maar een kerk op baie plekke. Elke plaaslike gemeente beliggaam en verteenwoordig die hele kerk. Die kerk is plaaslik en universeel, sigbaar en onsigbaar.

Teenoor die vrywillige groeperings in die samelewing staan die gewillige lede van die geloofsgemeenskap. Die gemeenskaplike roeping vul ons persoonlike roeping aan. Daar is egter uitdagings vir hierdie geloofsgemeenskap:

  • Die moderne neiging tot individualisme.
  • Ons moet besef dat daar nie net een “regte” manier – ons manier – is om kerk te wees nie.
  • Die toewyding aan ‘n gemeenskaplike roeping herinner ons aan die voortdurende behoefte om te hervorm.

Without individuals, nothing happens; without institutions, nothing survives (Talleyrand).