Gekraakte potte

Scripture is the cradle in which Christ lies – Martin Luther

 Gekraakte potte

John C. Holbert het ‘n baie interessante blog oor Jeremia 18:1 – 11 gehad. In hierdie gedeelte lees ons van ‘n baie algemene gesig in Juda – ‘n pottebakker aan die werk. Die potte was nie die luukse artikels wat vandag so algemeen is nie, maar tipiese huishoudelike gebruiksartikels. Hulle was miskien nie volmaak in vorm en kleur nie, maar bruikbaar. Hierdie potte het gewoonlik nie lank gehou nie, want swak materiaal is dikwels gebruik. ‘n Besoek aan die pottebakker was dus nie iets seldsaam nie.

 

Die Here roep vir Jeremia: Gaan af na die pottebakker se huis. Dit was waarskynlik nie die eerste keer dat Jeremia die pottebakker besoek het nie. Hierdie was nie die gewone besoek om potte te vervang nie: Ek sal daar met jou praat. Jeremia gaan na die pottebakker se huis waar die pottebakker besig was om iets op die skyf te maak. Die pottebakker plaas die klei op die skyf om dit te vorm.

Die ding wat hy aan die maak was uit die klei, het misluk, en hy het toe iets anders gemaak soos hy dit wou hê. Pottebakkers maak gereeld een of ander fout – om weer van voor te begin is nie vir die pottebakker iets vreemds nie. Net so is dit met God: Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? … Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel. Een oomblik kondig Ek aan dat Ek ‘n nasie, ‘n koninkryk sal afbreek, sal uitroei, sal vernietig. Maar wanneer die nasie hom bekeer van sy boosheid waarvoor Ek hom wou straf, sien Ek af van die straf wat Ek oor hom wou bring.

Die Here is net soos die pottebakker – Hy het volle beheer oor die pot, Israel. Soos die pottebakker kan Hy weer voor begin nadat Hy dit afgebreek het. Anders as die pot kan Israel wel sy optrede verander en die Here kan van sy beplande straf vir Israel afsien en die volk spaar.

Maar wanneer hy doen wat verkeerd is in my oë en ongehoorsaam is aan My, sien Ek af van die goeie wat Ek aan Hom wou doen. God kan afsien van sy straf of daarmee voortgaan.

Die les van die pottebakker is duidelik: God is oppermagtig oor Israel soos die pottebakker oppermagtig oor die klei is en daarmee kan doen wat hy wil. Daar is egter een groot verskil tussen Israel en die klei: Israel (ons) kan verbeter as ons besef dat God soewerein is. Beteken dit nou dat as ek goed doen God gaaf met my sal wees en as ek sleg doen Hy my gaan teregwys. Lees net weer die boek Job en ons besef dit is nie so eenvoudig nie.

Wat moet ons doen? Fokus op die breekbare pot. Ons is die breekbare potte van God. Paulus gebruik ook hierdie beeld van die pot: Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek (2 Korintiërs 4:7). Wat is hierdie skat waarvan Paulus hier praat? Die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie –  ons fokus nie op onsself nie, maar net op God en sy Seun wat Hy gestuur het. Die verhaal van die pottebakker in Jeremia gaan nie so seer oor God se vermoë om op ons goeie en slegte te reageer nie, maar dat Hy ons gekies het om potte van sy evangelie te wees. Ons is God se gekraakte potte.




Ontspanning en Werk: Twee gawes van God

If you don’t start, you can’t fail”– Seth Godin

 Ontspanning en Werk: Twee gawes van God

Christene sien werk as ‘n plig, maar vergeet dat dit ook ‘n gawe is. God het dit vir ons moontlik gemaak om te werk – om skape op te pas, die grond te bewerk … en rekenaars te bou. Deur ons werk stel Hy ons ook in staat om ten minste deel van ons doel in die lewe te verstaan: om ‘n roeping te vervul. Ons sien dikwels die resultaat van ons arbeid, maar baie mense sukkel om werk as ‘n gawe te sien.

 Ontspanning is vir meeste van ons nog moeiliker. Ontspanning is ook een van God se gawes. Ontspanning is nie luiheid nie, maar ‘n gawe vir diegene wat werk. In sy boekThe Pursuit of Happiness sê Robert M. MacIver: The leisure is ours but not the skill to use it. So leisure becomes a void, and from the ensuing restlessness men take refuge in delusive excitations or fictitious visions, returning to their own earth no more. Ontspanning word ‘n koorsagtige sirkus.

 

 Albert Mohler sê dat Christene baie boeke het wat leiding gee oor ons werk en beroep. Ons het egter nie duidelike riglyne oor ontspanning nie. Ons het ‘n werksetiek, maar geen ontspanningsetiek nie. Daarom vind baie mense dit moeilik om ontspanning te hanteer – ons bly koorsagtig besig.

 Ontspanning, reg verstaan, is ‘n gawe van God wat ons met dankbaarheid en vreugde moet aanvaar. Gebruik jou ontspanning om God te verheerlik en Hom vir sy gawes te bedank.

 

 




Die najaag van plesier

The Word of God never yet prospered in the world without opposition. —Iain Murray

Die najaag van plesier

Alles wat ek begeer het, het ek my veroorloof  (Prediker 2:10)

Elvis Aaron Presley kom uit ‘n arm huis. In die 1950’s word hy beroemd – hy is immers die koning van Rock & Roll. Hy bou vir hom ‘n enorme huis – Graceland – in Memphis. Sy liedere is bo-aan die gewildheidsleer; hy tree in Hollywood films op. Dit lyk of sy rykdom en aanhangers geen perke het nie. Hy koop Cadillacs en privat+e vliegtuie … en betaal kontant. Maar dit alles kon nie geluk koop nie.  In 1973 sterf hy as gevolg van ‘n oordosis dwelms.

 

 Eeue tevore het die Prediker dit reeds besef: aardse rykdom kan nie bevredig nie. Hy sê: Ek het my geen plesier ontsê nie. En dan die skok: Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, ‘n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie. Hoe meer hy gekry het, hoe ongelukkiger word hy. Besittings, aktiwiteite en vermaak bevredig nie – dit is net nooit genoeg nie.

 Dwarsdeur die Bybel sien ons hierdie neiging van mense – die sondige begeerte vir meer. In die tien gebooie lees ons dat ons nie iemand anders se vrou of huis of grond of slaaf of diere mag begeer nie. Elkeen van ons het ‘n private wenslysie – dinge wat ons begeer, maar buite ons bereik is. Hierdie dinge is nie noodwendig sleg nie. Ons moet egter besef dat al kry ons hierdie dinge dit nie vervulling en geluk sal bring nie. ‘n Lewe gesentreer op besittings impliseer dat hierdie aardse lewe van ons al is wat daar is. Ons moet bid dat ons die lewe deur God se oë kan sien.

 

 




Verheerlik die Here

‘Twas much that man was made like God, long before. But that God should be made like man, much more – John Donne

 Verheerlik die Here

Een van die aangrypendste gedeeltes in die Ou Testament is Hanna se gebed in 1 Samuel 2. Samuel is gebore en word nou na die tempel geneem: Ja, van die Here het ek hierdie kind afgesmeek, en nou sal hy sy lewe lank iemand wees wat van die Here afgesmeek is.  Daarna volg haar gebed waarin sy die Here verheerlik. Wat gebeur as ons die Here verheerlik? In Hanna se gebed kry ons ‘n paar gevolge:

 

  • Ek is sterk in die Here – die Here gee vir my krag.
  • Ek lag my vyande uit, ek is bly oor die uitkoms wat U gegee het – ek het vertroue; my vyande maak my nie bang nie.
  • Ek lag my vyande uit – ons is vol vreugde in God.
  • Daar is geen rots soos ons God nie – Hy is ‘n rots vir ons ook in tye van gevaar.
  • Julle moenie in hoogmoed bly praat nie, en aanmatigende dinge sê nie – trots en meerderwaardigheid is nie deel van ‘n Christen se gesprekke nie.
  • Hy laat die geringstes uit die stof opstaan, Hy hef die armes op van die ashoop af.
  • Hy beskerm sy troue dienaars op hulle pad.

 Wat ‘n ongelooflike God dien ons.