Sportgeleenthede op Sondag

 The more you know about Christ, the less you will be satisfied with superficial views of him. —C.H. Spurgeon

Sportgeleenthede op Sondag

Mense woon al hoe minder eredienste op Sondae by. Een van die redes wat aangevoer word, is sport op Sondae – ook vir kinders. Steve McMullin het onderhoude met kerkleiers en lidmate gevoer. Sy bevindings is in die Review of Religious Research gepubliseer. Beide groepe identifiseer  “kompeterende Sondagaktiwiteite” as ‘n rede vir ‘n daling in erediensbywoning.

Daar is ander studies wat egter bevind het dat dit juis die gesinne wat by sportprogramme   op Sondae betrokke is wat nog eredienste bywoon. Die vraag wat die kerk moet antwoord, is: Hoe reageer ons op hierdie uitdaging? Kan sport nie gebruik word om die waarde van ‘n holistiese Christelike lewe te beklemtoon nie?

Baie volwassenes weet nie meer hoe om te speel nie. Sport leer kinders dissipline, die waarde van vriendskap en spanwerk en etiek as dit reg benader word. Sport kan gebruik word vir ‘n bespreking oor karakterbou met jou kinders. Dit mag egter nie die bywoning van eredienste vervang nie. Ons moet versigtig wees, want sport kan tot misplaaste waardes lei. Dit wat ons kultuur hoog aanslaan is sukses en geluk.

Sport kan beslis inbreuk op eredienste maak. Ons kan dit veroordeel met baie min kanse op sukses. Is dit nie beter dat ons dit wat sport bied positief in ons gemeente gebruik nie?




Kleipotte wat maklik breek

“When both parties are right, it’s a bad day for ‘right.’” ~ Yiddish Proverb

Kleipotte wat maklik breek

Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie (2 Korintiërs 4:7).

God maak dit baie duidelik: die rede waarom Hy gewone mense gebruik om die bonatuurlike werk – om die evangelie te versprei – te verrig, is sodat sy mag en heerlikheid duidelik word en sodat ons vertroue nie in onsself is nie, maar in Hom alleen. Dikwels gebruik God gewone, swak mans en vroue  om sy werk te doen.

Dit is een van die baie maniere waarop God se gedagtes en optrede nie ons gedagtes en optrede is nie (Jesaja 55:8 – 9). Jesus se roeping van sy twaalf dissipels is ‘n goeie voorbeeld hiervan: In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God. Toe dit dag word het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy ook apostels genoem het. Hulle was Simon, wat Hy ook Petrus genoem het, en sy broer Andreas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus, Matteus en Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot, Judas seun van Jakobus, en Judas Iskariot wat die verraaier geword het (Lukas 6:12 – 16).

 Nadat Jesus die hele nag gebid het, kies Hy sy twaalf dissipels – vir Homself, vir sy doel. Hy noem hulle  ook apostels – sy amptelike verteenwoordigers. Maar wie was hierdie manne op wie Christus sy kerk wou bou? Hoogs geleerde mense? Mense wat goed kon praat? Nee, doodgewone manne – manne met baie gebreke.

  • Simon/Petrus was ‘n visserman. Hy was ‘n man van uiterstes en baie sterk emosies. Soms vertrou hy vir Jesus, maar ander kere twyfel hy aan Jesus – hy verloën Hom drie maal. Op pinksterdag verander die Heilige Gees hom  in ‘n kragtige leier en prediker.
  • Andreas, Petrus se broer, het Jesus eerste gevolg. Hy was ook ‘n visserman en hy het sy broer na Jesus gebring.
  • Jakobus en Johannes was ook vissermanne – vurig van geaardheid. Jesus noem hulle die seuns van die donder.
  • Filippus bly in dieselfde dorp as Petrus en Andreas. Hy het Natanael aan Jesus voorgestel. Toe hy voor 5 000 honger mans te staan kom, het hy nie vertroue in Jesus nie. Hy is oortuig dat daar geen manier was waarop hulle hierdie mense kon voed nie.
  • Bartolomeus, ook Natanael genoem, kon nie glo toe hy Jesus ontmoet het dat daar iets goeds uit Nasaret kon kom nie.
  • Matteus was ‘n tollenaar – gehaat deur alle Jode. Toe Jesus hom roep, los hy sy winsgewende besigheid om Jesus te volg.
  • Tomas staan vir altyd bekend as “twyfelende/ongelowige Tomas.” Hy het nie onmiddellik geglo dat Jesus wel opgestaan het nie Hy was ‘n toegewyde man, maar het dikwels ook wanhopig gevoel.
  • Jakobus die seun van Alfeus was waarskynlik baie kort.
  • Simon die Seloot was ‘n voormalige lid van hierdie rebellegroep  wat terreur teen die Romeinse regering versprei het.
  • Judas die seun van Jakobus staan ook as Taddeus bekend. Hy wou gehad het dat Jesus meer in die kollig moes gewees het.
  • Judas Iskariot wat Jesus verraai het. Hy was ‘n bose, selfsugtige mens. Hy het geld liefgehad en ‘n vrou tereggewys het wat duur olie gebruik het om Jesus se voete mee te salf.

 Daar is niks spesiaal aan hierdie mense nie – geen groot kanonne nie. Hulle was gewone, alledaagse mense. Maar tog het hulle iets gehad wat ‘n verskil gemaak het. Wat was dit? In Handelinge 4:13 lees ons: Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus.

 Gewone mense, maar kosbare mense vir die Verlosser. Dink maar net hoe het Jesus vir hulle gebid die nag voor Hy deur Judas verraai is (Johannes 17:6 – 18). Hier lees ons van Jesus se liefde en deernis vir hierdie “gewone” mense. Jesus gaan verder: Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom (17:20) – Hy bid ook vir jou en vir my.

 Hierdie kort oorsig oor die twaalf apostels behoort ons te bemoedig. God soek nie supersterre nie – Hy soek gewone, alledaagse mense wat hulle volledig aan Hom en sy koninkryk sal oorgee. Hy gee aan ons die regte geestelike gawes om sy werk te doen. Hy het ook sy Heilige Gees aan ons gegee – die ware krag agter alles wat ons doen om God te verheerlik.




Wat sê Genesis 1 – 2 oor God?

A Christian is not a person who has made a new start in life, but a person who has received a new life to start with. —John Blanchard

 Wat sê Genesis 1 – 2 oor God?

Soms kry debatte oor ‘n sekere teks soveel aandag dat ons skoon van die teks self vergeet. Temper Longman (What Genesis 1 – 2 Teaches) se artikel in hierdie boek is waardevol – noodsaaklik om weer ‘n slag die groot prentjie te sien. Hy begin deur te sê dat die Bybel waar is. Die vraag is egter wat is die waarheid wat in ‘n spesifieke gedeelte geleer word. Genesis 1 – 2 vertel ons van God en dat God geskep het. Dit vertel ons niks van hoe God geskep het. Daar is ‘n groot verskil tussen die twee,

 

 Eerstens moet ons vasstel watter soort literatuur – genre – Genesis 1 – 2 is. Dit is duidelik ‘n verhaal, maar nie alle verhale is noodwendig historiese verhale nie. Sommige verhale is fiksie. Ons moet ook let op die teenwoordigheid van beeldspraak (die dae, Adam se rib, ens). Daar is sterk verbintenisse met ander skeppingsverhale uit die antieke Nabye-Ooste. Die orde van die gebeure in Genesis 2 laat ons dink dat ons hier met twee skeppingsverhale te doen het en nie een verhaal wat net saamgevoeg is nie. Hulle is nie identies nie.

 Wat leer Genesis 1 – 2 vir ons? God, die God van Israel, die enigste God, het alles geskep – insluitend sterre en mense. Die skepping is van God afhanklik, maar God is nie van die skepping afhanklik nie. God is betrokke. God het nie ‘n geslag nie, maar die mens het wel. Mense het ‘n verhouding met God en met mekaar. Die verhouding man-vrou is wederkerig en gelyk – nie meerderwaardigheid nie. Mense is beelde van God op die wêreld geplaas as sy verteenwoordigers.

 Daar is baie verslae van die skepping in die Bybel (Psalms 8, 19, 136, 24 ,33, 104; Spreuke 3:19 – 20. 8:22 – 31; Job 38:4 – 11). Hulle verskil in presies wat daar gebeur het. Daar is baie beeldspraak. Nie een van hulle vertel vir ons hoe God geskep het nie. Al wat hulle sê, is dat dit God is wat geskep het.




Die ware geestelike voedsel en drank (6:52-59)

Die ware geestelike voedsel en drank (6:52-59) – Francois Malan

6:52 Die Galileërs mor eers oor Jesus se woorde, en soos die gesprek vorder baklei hulle vir ‘n hele ruk heftig oor sy woorde. Weereens misverstaan hulle Jesus se metafoor om sy ‘liggaam te eet’ letterlik. Met veragting verwys hulle na Hom as ‘hierdie een’.

6:53 Die gedagte van v51 word hier negatief herhaal, met die byvoeging van die drink van sy bloed, wat die ergernis vererger. Vers 35 lui ‘wie kom sal  nooit honger word en wie glo nooit dors word nie. Hier word ‘kom’ en ‘glo’ vervang met ‘eet’ en ‘drink’, en v35 se ‘versadiging’ en ‘dors les’ met ‘besit van die lewe in jou.’ Die voorwerp van geloof is Christus wat sy liggaam en bloed vir die lewe van die wêreld gee. Jesus gebruik die uitdrukking van sy teenstanders in v52 sy ‘liggaam eet’. Met ‘voorwaar, voorwaar’ beklemtoon Jesus die erns van die saak:  Wie nie Jesus se liggaam geëet en sy bloed gedrink het nie, het nou reeds nie  lewe in homself nie.

 

6:54 Die negatiewe stelling in vers 53 word nou positief herhaal. Vers 51 se ‘brood’ word nou ‘my liggaam en my bloed’. Die werkwoorde ‘eet’ en ‘drink’ se tyd  dui voortgang aan – steeds eet en steeds drink. Jesus spaar hulle nie die ergernis nie: die Seun van die mens openbaar Homself in sy menslike liggaam en bloed. Deur sy liggaam te ‘eet’ en sy bloed te ‘drink’ is beelde vir aanvaar en glo van  sy selfopenbaring as Seun van God en van sy selfoffer aan die kruis.  Vers 53 se ‘lewe in homself’  word hier ‘ewige lewe’. Daar word bygevoeg: Jesus sal elkeen wat die ewige lewe het, in die laaste dag opgewek uit die dood, om die lewe in ewige heerlikheid binne te gaan.

 

6:55 Jesus se fisiese liggaam en bloed is die ‘ware’ kos en drank, wat die ewige soort lewe moontlik maak. Met sy fisiese liggaam en bloed het Hy aan die kruis die offer gebring vir ons sonde en ons nuwe soort lewe.

 

6:56 Soos die inname van kos en drank ‘n noue verbintenis met die liggaam vorm, is die deelname aan Jesus se liggaam en bloed aan die kruis ‘n metafoor vir ‘n intieme persoonlike verhouding met Hom – die gelowige bly lewe in My en Ek in hom. Die lewe wat die gelowige in homself het (vv53-54), is die inwoning van die Heilige Gees in hom, waardeur Christus met al sy volheid in die gelowige woon. Die liggaam en bloed van Jesus aan die kruis, sy selfofferande, word die fondament van ons lewe, van ons geloof en hoop, van ons denke en ons keuses in ‘n lewe van selfverloëning en liefdesdiens aan ander, so bly ons in Hom.

 

6:57 Die innige gemeenskap tussen die gelowige en Christus weerspieël die verhouding tussen die Seun en die Vader. Die Seun Jesus lewe ‘deur’ die Vader – sy lewe kom van die Vader af en word deur die Vader onderhou. So het die gelowige sy lewe ‘deur’ die gekruisigde Seun (‘Hom eet’) en hy word onderhou deur die lewende Seun van die lewende Vader, die oorsprong van alle lewe (vgl. 5:26). Die Seun het deel aan die lewe van die Vader en Hy lewe vir die Vader wat Hom na die wêreld gestuur het. Jesus verklaar dat die een wat Hom ‘eet’ in dieselfde verhouding met Jesus lewe as waarin die Seun met die Vader lewe. ‘My eet’ verduidelik die metafoor  ‘liggaam en bloed’.  Dit het betrekking tot die toe-eiening van die hele Chrisus (v53). Die ewige lewe is die soort lewe van die Vader en die Seun. ‘eet’ nie met die mond nie, maar die hele mens wat hom deur geloof met Christus verbind, met Hom een word om in Hom te bly (v56). Die gelowige ontvang nie die lewe regstreeks van die Vader nie, maar word in geloof deel van die lewe van die gekruisigde en opgestane Christus (‘My eet’), deel van die liefde tussen die Vader en die Seun, en die gehoorsaamheid van die Seun aan die Vader.

 

6:58 Die gesprek word afgesluit soos dit begin het in verse 31-33 met die teenstelling tussen die woestyn se manna en Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee. Die brood uit die hemel is die lewe en versoeningsdood van die Seun van God wat mens geword het, die Openbaarder  en Verlosser, wat ewige lewe gee waar die dood geheers het, aan diegene wat bereid is om deur die geloof hierdie ‘Brood’ te eet, tot ‘n intieme persoonlike geloofsverbinding met die gekruisigde Seun van God.

 

6:59. Die gesprek het in die sinagoge in Kapernaum plaasgevind, en daarom waarskynlik op die sabbatdag.  Dit word beskryf as ‘n lering, ‘n onderrig.

 

Johannes gebruik ‘n hele reeks metafore om geestelike waarhede oor te dra. Die ander drie Evangelies het ‘n hele reeks gelykenisse wat ook geestelike waarhede moet oordra (vgl. die rede daarvoor in Markus 4:10-11; Matteus 1310-17; Lukas 8:9-10).   

 

Skrywer: Prof Francois Malan