Paasfees in Galilea: Jesus die brood van die lewe (6:1-71)

Paasfees in Galilea: Jesus die brood van die lewe (6:1-71) – Francois Malan

In hierdie hoofstuk word twee natuurwondertekens vermeld, daarna twee gesprekke, dan ‘n lering oor die Brood van die Lewe, en weer twee gesprekke. Dit begin by die see van Galilea en eindig in Kapernaum. Waar die sabbat die aanknopingspunt van die gesprek oor die gesag van die Seun in hoofstuk 5 was, is die Paasfees, wat Israel se bevryding uit Egipte en behoud van hulle eersgeborenes herdenk, die aanleiding tot die gesprek oor die redding uit die mag van die dood, van die Seun wat gekom het om die weg tot die ewige lewe te open in hoofstuk 6. Die vermeerdering van die brood wek die verwagting van ‘n nuwe eksodus met lewende brood uit die hemel, en van die offerdood van die Lam van God, wie se liggaam geëet en sy bloed gedrink moet word (Johannes vertel nie van die instelling van die nagmaal  nie).

Die vierde wonderteken: spysiging van die menigte (6:1-15)

6:1 ‘Hierna’ – letterlik: na die dinge. Dit is ‘n verwysing na ‘n onbepaalde tyd. Johannes gee nie die gebeurtenisse kronologies weer nie. Hy knoop sy bekendstelling van wie Jesus is aan sekere gebeurtenisse. In hoofstuk 5 was Jesus nog in Jerusalem. Daarna is Hy blykbaar na Galilea, waar Hy ‘n klomp siekes genees het (v2), en toe na die gebied oos van die see van Galilea gegaan het. Dit is die gebied Dekapolis, die tien Griekse stede (deka 10, polis stad; ‘n gebied in die huidige Jordanië, wat destyds elkeen sy eie stadsbestuur gehad het, onafhanklik van die Herodusse). Slegs in Johannes word die see van Galilea ook die see van Tiberias genoem, na aanleiding van die stad Tiberius, wat deur Herodes Antipas in 26 v.C. ter ere van keiser Tiberius gebou het aan die wes-oewer van dié see (Tiberius was die opvolger van  keiser Augustus, tydens Jesus se geboorte, Lk 2:1, en Tiberius was keiser in Rome tydens Jesus se kruisiging, Lk 3:1).

            Johannes sê nie waarom Jesus daarheen gegaan het nie. Mark 6:30-32 sê: ‘Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie’ – na ‘n baie besige tyd waarin mense aanmekaar na hulle toe gekom en gegaan het. Mat.14:13 sê: ‘Jesus het met ‘n skuit daarvandaan (uit die gebied van Herodes Antipas) weggegaan na ‘n stil plek om alleen te wees’ – nadat Herodes Antipas vir Johannes die Doper laat onthoof het.

 

6:2 Jesus word deurgaans gevolg deur ‘n skare wat die genesingswonders gesien het, wat Hy deurentyd gedoen het (waarvan Johannes slegs enkele beskryf het, Jn 20:30,31). Hulle volg Hom blykbaar om nog wonders te sien.

 

6:3 Jesus gaan die berg op – dit is die bergwêreld van Jordanië, met baie berge in die omgewing. Waarskynlik om sy dissipels te leer.

 

6:4 Die pasga, die fees van die Jode, was naby. Dit vorm die agtergrond vir die gesprekke wat volg.

 

6:5-7 Jesus aanvaar die versorging vir die groot getal volgelinge. Jesus toets Filippus se vertroue in Hom om ‘n menslik-onmoontlike situasie op te los. Filippus het reeds ‘n aantal wondertekens van Jesus gesien, maar sy berekening van die koste wys sy menslike denke. Twee honderd dinarii (een dinarius was die dagloon vir ‘n arbeider) sal nie genoeg wees om vir elkeen ‘n klein stukkie brood te koop nie.

 

6:8-9 Andreas, Petrus se broer, kom vertel van wat beskikbaar is: ‘n seuntjie met vyf garsbroodjies (kos van die armes), en twee stukkies toekos, gewoonlik gedroogde vis – slegs genoeg vir twee mense.  Sy skeptiese vraag is: wat is dit vir so baie mense?  Soos Filippus, sien hy ook geen uitweg nie (vgl. egter 2 Kon 4:42-44).

 

6:10-11 Vir Jesus is dit nie ‘n verleentheid nie. As gasheer laat Hy die mense in groepies sit, waarskynlik gesinne bymekaar, met omtrent 5,000 hoofde van gesinne. Nadat Hy God gedank het vir die voedsel, deel Hy die brood en die vis uit, sonder beperking van die hoeveelheid wat elkeen kan kry nie.

 

6:12-13 Die oorvloed mag nie aanleiding wees vir verkwisting nie; maar die 12 vol mandjies oorskiet wat deur die twaalf dissipels bymekaarmaak word vergelyk met die skamele vyf broodjies om die oorvloed te beklemtoon. Soos die oorvloed wyn van 2:6, is die oorvloed kos simbole van die oorvloed van die nuwe lewe saam met Jesus (1:16: Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang).

 

6:14 Die mense beskou Jesus as die beloofde profeet soos Moses (Deutr. 18:15), maar  nie as ‘n lydende Messias nie. Dat Hy na die wêreld toe moes kom, en nie net na die Jode nie, spreek uit die feit dat die spysiging in die heidense gebied van Dekapolis geskied het; dit pas by 3:16 met God se liefde vir die wêreld, en 1:29 se Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.

 

6:15 Die mense sien hierdie wonderwerker as die ideale koning om hulle te lei teen die Romeine. Hulle wil Hom met geweld koning maak, maar Jesus weerstaan die versoeking om ‘n aardse koning te word, wat sy goddelike mag misbruik vir geweld en vir sy eie eer. Hy is nie so ‘n aardse Messias koning nie. Hy gaan alleen hoër op teen die berg (Mk 6:46 en Mt 14:23 sê: ‘om te bid’).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Wat glo ons?

As preachers of the gospel of Jesus, do not expect worldly honors: these Jesus Christ neither took to himself, nor gave to his disciples” —Adam Clarke

Wat glo ons?

Andy Stanley het ‘n interessante blog geskryf. Daarin sê hy onder andere dat die kerk oorleef het, want Jesus het dit belowe en was in die middelpunt van die aktiwiteite van die plaaslike gemeente vir 2 000 jaar. Jy kan glo of nie glo nie; jy kan deelneem of nie deelneem nie; jy kan jou gedra of nie gedra nie – dit maak nie saak nie. Jesus het en sal voortgaan om sy kerk te bou, en niemand se dood sal dit stopsit nie – nie eers sy eie dood nie.

 

 

Maar Stanley voel die kerk het te groot vir sy skoene geword. Die kerk verkondig nie meer die boodskap wat die kerk van die eerste eeu na Christus verkondig het nie. Kerkleiers moet weer kyk hoe dit alles begin het. Die kerk fokus vandag daarop om dinge wat Christene glo te verkondig. Die vroeë kerk het ‘n ander boodskap gehad.

 Die sentrale boodskap van die vroeë kerk was nie: Ons glo iets is waar nie. Nee die sentrale boodskap van die vroeë kerk was: Ons glo daar het iets gebeur.

 Elke kerk het ‘n boodskap wat hy verkondig. Die Christelike boodskap is dat God vir Jesus uit die dood opgewek het.

 




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 35

“Faith idles when character shrivels.” –Miroslav Volf

n Nuwe Kategismus: Vraag 35

Vraag:

Aangesien ons deur genade alleen en deur geloof alleen verlos word, waar kom hierdie genade vandaan?

 

Antwoord:

Al die gawes wat ons van Christus ontvang, ontvang ons deur die Heilige Gees – dit sluit geloof in. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

 

Skrifgedeelte:

Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.  God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser (Titus 3:4 – 6)

 

Kommentaar:

Ons moet besef dat die Christelike geloof die maklikste godsdiens in die wêreld is, want dit is die enigste godsdiens waarin God die Vader en Christus en die Heilige Gees alles doen. God is die Skepper: ons het niks met ons bestaan of die bestaan van ander dinge te doen nie. Ons kan ander dinge vorm, maar ons kan nie die feit dat hulle bestaan, verander nie. Ons doen niks vir ons verlossing nie, want Christus het alles gedoen. Ons hoef niks te doen nie. In elke ander godsdiens moet ons iets doen … maar met die Christelike geloof doen ons niks nie. God het alles gedoen: Hy het ons gemaak en Hy het sy Seun gestuur; die Seun sterf en omdat sy Seun ewig is, dra Hy ons totale skuld. Ons hoef nie ons skuld te dra nie, ons hoef ook nie die guns van Christus te verdien nie. Hy doen dit alles. So, in ‘n sekere sin is dit die maklikste godsdiens in die wêreld.

Hierdie kommentaar is deur Francis Schaeffer (1912 – 1984), ‘n Amerikaanse Presbiteriaanse leraar en filosoof, geskryf. Schaeffer is veral bekend vir sy boeke en die vestiging van die L’Abri (Die Skuiling) gemeenskap in Switserland. Hy het 22 boeke geskryf waarvan die bekendste die trilogie The God Who is There, Escape from Reason en He is There and He is not Silent as ook sy A Christian Manifesto is. Hierdie kommentaar kom uit The God Who is There in The Francis A Schaeffer Trilogy: The Three Essential Books in One Volume  (Wheaton Crossway, 1990).

Verdere leesstof

 “Effectual Calling” in Concise Theology, deur J. I. Packer.
“Full Assurance” in A Faith to Live By, deur Donald Macleod.

 

Gebed:        

Mag God se genade oor ons almal wees en mag Hy deur sy Gees ons oë oopmaak om die heerlikheid van die kruis te sien

Hierdie gebed is deur David Martyn Lloyd-Jones (1899 – 1981) geskryf. Hy was ‘n Walliese geneesheer en Protestantse leraar wat veral vir sy prediking en onderrig by die Westminster Chapel in Londen bekend was. Hy het dertig jaar daar gedien Hy het maande, selfs jare geneem om ‘n hoofstuk in die Bybel uit te lê – vers vir vers. Sy bekendste publikasie is waarskynlik sy kommentaar op Romeine – 14 volumes!

Hierdie gebed kom uit The Cross (Wheaton: Crossway, 1986), 83.

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.




Die Jode weier om te glo (5:41-47)

Die Jode weier om te glo (5:41-47) – Francois Malan

5:41,42 Die Jode het nie die woord van God in hulle nie (5:38), ook nie die lewe van God nie (5:40), of die liefde van God nie (5:42).  Jesus weet dat hierdie beskuldigings oor wat hulle nie het nie die Jode nog meer vyandig teenoor Hom maak. Maar Hy is nie oor die eer van mense gesteld nie, Daarom kan Hy vry uit die Jode wys waar die fout in hulle godsdiens is. Hy ken hulle en weet dat ware liefde vir God by hulle ontbreek. Hulle is so gesteld op hulle godsdiens, maar deur hulle godsdienstige ywer sê hulle dat Jesus godslasterlik praat wanneer Hy God as ‘My Vader’ noem (5:18).

5:43 Jesus het in die Naam van die Vader gekom – dit beteken dat Hy in opdrag van die Vader gekom het, met die gesag van die Vader, namens die Vader, om die wil van die Vader uit te voer; in Hom is die Vader teenwoordig. Die Jode weier om Hom te aanvaar as God, wat in die Naam van die Vader gekom het.  Maar wanneer iemand in sy eie naam kom – met sy eie volmag optree – word die Jode deur so iemand se woorde en optrede gefassineer, en volg hom sonder kritiek, want hy verwoord gewoonlik ‘n sentiment van sy hoorders. Jesus se boodskap gaan juis teen die mens se selfsug en eiegeregtigheid in, en word daarom verwerp.

 

5:44 Die eer van God en die eer van mense word teenoor mekaar gestel as motief vir ons optrede. Die Jode en veral die Fariseërs was gesteld op die eer van mense (Mat 6:1-6; 23:5). Die Vader word genoem ‘die enigste God’. Die Jode roep die Here daagliks aan met die belydenis: Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here (Deutr. 6:4). Daarby is die opdrag gegee: Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou kragte (Deutr 6:5). Maar dit is nie moontlik as jou optrede bepaal word deur die eer wat mense vir jou sal betoon, of wat hulle van jou sal dink nie. Om van mekaar eer aan te neem maak dit onmoontlik om in Jesus te glo en sy weg van selfverloëning te volg.

 

5:45 Jesus is nie hulle aanklaer voor die Vader nie. Sy aanklag teen die Jode is ‘n waarskuwing en oproep tot bekering, en dit doen Hy dikwels. Die Jode het gehoop dat Moses hulle voorspraak by die Vader sal wees – daarmee word verwys na die eerste vyf boeke van die Bybel, veral na die wette wat hulle probeer vervul om van God ‘n gunstige oordeel oor hulle lewe te kry. Maar in plaas daarvan dat hulle goeie werke volgens die wet van Moses tot hulle vryspraak deur God sal lei, sal Moses se geskrifte hulle juis aankla, dat hulle dié wette oortree het, deur hulle self daarmee te regverdig. Al is hulle so trots op die besit van die Torah (die eerste vyf boeke), het dit hulle nie tot liefde vir God gelei nie, maar  tot trots en liefde vir hulle self.

 

5:46 Hulle ondersoek die geskrifte van Moses daagliks, maar kyk vas teen wette, sonder om die belofte van verlossing en ‘n Verlosser te glo; watter hoop is daar dat hulle Jesus se woord sal glo? Hy praat die woorde van God wat in die Skrif opgeteken is (30,37-39). Hulle verwerping van Jesus en sy woord is ‘n verwerping van God en sy woord, ook die God van die Ou Testament en sy woord deur Moses. Daarom sal Moses (die Torah en die hele Ou Testament) die ongelowige Jode aankla

 

Terugblik oor hoofstukke 1-5 .

 

Die overture het Jesus aangekondig as God, die Skeppingswoord, die enigste Seun van die Vader, wat uit genade mens geword het en met die waarheid oor God se wet onder ons kom woon het (1:1-18) – die Jode moes leer die enigste Here van Deutr.6:4 is ‘n Vader met ‘n enigste Seun as medeskepper.

Die eerste dissipels volg die Lam van God as die verwagte Messias, die Seun van God, die Koning van Israel (1:29-51) – Hy kom Ou-Testamentiese offers vervul en die Joodse offerkultus vervang.

Hy verander die Joodse reinigingswater in goeie wyn en reinig die tempel, wat Hy vervang met sy opgestane liggaam vir toegang tot God (2:21) – Hy vervang die Joodse reinigingsgebruike en bring vir die Jode ‘n  ‘n nuwe manier om God te dien. 

            Uit liefde vir die wêreld stuur God Hom om die ewige lewe oop te maak vir die mense wat deur die Gees van God van Bo af weer gebore word en tot geloof gelei word in die enigste Seun van die Vader (3:1-36) – kindskap van God word bewerk deur God die Heilige Gees.

Die heidense Samaritane luister na Hom en glo dat Hy waarlik die Messias is, die Verlosser van die wêreld; ‘n heidense regeringsamptenaar met sy hele huisgesin kom tot geloof in Jesus, wat deur sy woord die lewe gee aan ‘n sterwende kind (4:1-54) – God se doel met Israel is steeds: ‘in jou sal al die volke van die aarde geseën wees (Gen.12:3).

Die genesing van ‘n jarelange lamme op die sabbat lei tot ‘n diepgaande gesprek met die ongelowige Jode oor die eenheid tussen die Vader en die Seun (5:1-47). Die Seun doen niks sonder die Vader nie, en alles wat Hy doen, is werke van die Vader. Dit sluit in die opwekking van die mensdom en die oordeel, wat aan die gelowiges die ewige lewe gee. Die Seun is geheel en al gehoorsaam aan die Vader, maar ook een met die Vader. God se rus op die sewende dag beteken nie ledigheid nie, maar voortgang van die onderhouding van die skepping. Die versorging van die skepping op die sabbat is nie ‘n skending van die sabbat nie, so ook Jesus se genesing van lydendes, sy bevryding van dié wat deur die sonde gebind is, sy herskepping van die hele skepping. As die Lig in die wêreld skyn Hy oor elke dag en nag. As beeld van die werkende God is die mens geskep om te werk, vir liefdesdiens aan God en medemense – Jesus verander die Joodse opvatting oor die sabbat, en verlos die arbeid van die vloek van Gen 3:17-19.   

 

Skrywer:Prof Francois Malan