Verskille in die Bybel

Verskille in die Bybel – Herman Grobler

 “Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees?

Daar is sekere waarhede wat ons letterlik na elke vers in die Bybel kan invoeg, soos “want sy goedertierenheid is tot in ewigheid” wat na elkeen van die 26 stellings van Ps. 136 aangetref word. Die oproep “…om die waarheid gehoorsaam te wees…” is ook so ‘n stelling. Dit kan na feitlik elke stelling in die Bybel ingevoeg word en nie as “verkeerd” of “vals” bestempel word nie. Maar is dit nodig om so ‘n stelling by meer plekke in te voeg as wat God dit laat neerskryf het?

Daar is ook verse wat op die oog af lyk of die tweede deel daarvan nie neergeskryf is nie, of dat dit dalk per ongeluk weggeval het. Vind mens dan ‘n paar verse verder ‘n stelling wat in sekere opsigte met hierdie “halwe stelling” ooreenstem, kan dit maklik gebeur dat iemand kon besluit om die “halwe stelling” aan te vul en so te “korregeer”. Is dit wat moontlik in die eerste vers van Galasiërs drie gebeur het?

Die sinsnede in donker kom nie in moderne vertalings voor nie:

1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling: “O, onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?

1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling: “Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang!

Hierdie variasie is nie deur moderne vertalers van die Bybel geskep nie. Dit bestaan reeds eeue lank. Maar elke Bybelvertaler moet met erns probeer vasstel wat God oorspronklik deur Paulus laat neerskryf het. Kom ons ondersoek hierdie verskil tussen ouer en moderne vertalings en probeer verklaar hoe hierdie verskil kon ontstaan het. Dan het ons grond onder ons voete wanneer ons kies watter weergawe ons aanvaar.

Met nugtere denke gebruik ons die volgende drie objektiewe kriteria.

1. Eksterne getuienis:

Eerste kyk ons na die manuskripte self.

Die weergawe wat met die 1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling ooreenstem, kom voor in drie unsiale manuskripte:  Ephraeni Rescriptus (±450 n.C.), Athous Lavrensis (±890 n.C.) en Kodeks 0278 (±950 n.C.). Dit kom ook voor in die meeste Griekse minuskels wat almal later as ±900 n.C. ontstaan het.

Die Latynse 1592-Vulgaat wat tot vandag toe die amptelike Rooms Katolieke Teks is, het ook hierdie weergawe. Een Siriese vertaling (616 n.C.) en sekere manuskripte van Hieronymus (†420 n.C.) het ook hierdie weergawe.

Die weergawe wat ons in die 1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling aantref, stem weer ooreen met die unsiale manuskripte: Sinaïticus (±350 n.C.), Alexandrinus (±350 n.C.), Vaticanus (±350 n.C.), Claromontanus (±550 n.C.),  Augiensis (±850 n.C.) en Boernerianus (±850 n.C.). Dit stem ook ooreen met die minuskels (later as ±900 n.C.) bekend as: 33, 81, 630, 1739 en nog ‘n paar ander.

Wat antieke vertalings betref, stem hierdie weergawe ooreen met die grootste deel van die Latynse oorlewering en die ouer Vulgaatmanuskripte. So ook die Siriese Peshitta, (±350-650 n.C) die Koptiese teks (±350 n.C.) en die res van Hieronymus se manuskripte. Hy was vir die Latynse Vulgaat verantwoordelik.

Voor die jaar 800 n.C. het ons dus net een Griekse manuskrip met hierdie sinsnede in, terwyl vier daar sonder is. Die weergawe sonder die sinsnede word ook sterk deur die antieke vertalings ondersteun.

As mens suiwer na die manuskrip getuienis kyk, lyk dit of die weergawe sonder hierdie sinsnede in Gal 3:1, op baie sterker manuskrip – getuies staan.

2. Interne gegewens.

Ons tweede kriterium is om te kyk of daar iewers in die brief aan die Galasiërs self, ‘n moontlike aanleiding kon wees waarom ‘n kopieerder hierdie woorde sou weglaat uit vers een, of dit inderdaad daar sou ingevoeg het. Soos tot vandag toe het woorde wat “verlore raak” mense deur die eeue ontstel. Alleen op grond van uiters sterk gronde sou ‘n kopieerder dit waag om ‘n sinsnede uit die Skrif weg te laat. Maar woorde wat ingevoeg is, word geredelik maklik aanvaar, veral as dit ‘n algemene waarheid bevat. In Galasiërs vyf vers sewe vind ons ‘n sin wat sekere ooreenstemmings met die stelling van hoofstuk drie toon. “Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees?” Hierdie sinsnede pas ideaal as tweede deel van Galasiërs drie vers een: “Wie het julle verstand benewel…” Dat iemand hierdie twee verse met mekaar wou laat harmonieer, deur die sinsnede in hoofstuk drie in te voeg is ‘n moontlikheid. Dis egter ondenkbaar dat iemand ‘n bestaande harmoniëring sou wou verbreek deur die sinsnede uit hoofstuk drie te verwyder!

Die oorspronklike weergawe sou dus eerder die een sonder die sinsnede in hoofstuk drie wees.

3. Intrinsieke gegewens.

Die derde kriterium wat ons gebruik is om na die konteks te kyk.

Aan die begin van Galasiërs drie hanteer Paulus die vraag of die Galasiërs die Heilige Gees ontvang het deur die wet te gehoorsaam, of deur Jesus te glo wat so duidelik aan hulle verkondig is dat hulle Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang. Hy vra die Galasiërs wie dan hulle verstand benewel of betower het. Hulle was seker van die waarheid maar nou is hulle in die war! Hierdie sinsnede pas pragtig binne hierdie konteks.

In hoofstuk vyf verse een tot ses stel Paulus ook die ou bedeling van die wet en besnydenis teenoor die nuwe bedeling van vryheid en juis nie besnydenis nie. Hy maan die Galasiërs baie sterk daarteen dat hulle nie vanuit “geloof en liefde” hulle weer onder die “juk van diensbaarheid” te laat bring nie. Dan volg vers sewe: “Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees?” Hier pas die oproep om die waarheid gehoorsaam te wees inderdaad omdat hier ook ‘n direkte teenstelling ter sprake is.

In albei hierdie dele pas hierdie stelling soos ‘n handskoen. Die intrinsieke gegewens help ons dus nie om ‘n keuse te maak nie.

Gevolgtrekking:

In beide hoofstukke drie en vyf pas hierdie sinsnede so goed soos Ps. 136 se refrein. Maar tog is daar die twee variasies. Albei kan tog nie waar wees nie. Een is ‘n verandering van wat God oorspronklik laat neerskryf het.  ‘n Keuse moet gemaak word.

Die meeste ou Griekse manuskripte asook die meeste antieke vertalings het nie hierdie sinsnede in hoofstuk drie nie. Dis ook ondenkbaar dat enige kopieerder hierdie sinsnede doelbewus daar uit sou verwyder. Dis ook baie aanvaarbaar dat iemand doelbewus hierdie sinsnede vanuit hoofstuk vyf hier kon inplaas.

Volgens hierdie feite, wat is u mening? Watter weergawe sou ooreenstem met wat God oorspronklik laat neerskryf het?

 

Skrywer: Herman Grobler

 




Die getuies ten gunste van Jesus vervolg (5:34-40)

Die getuies ten gunste van Jesus vervolg (5:34-40) – Francois Malan

5.34 Jesus is nie afhanklik van die getuienis van ‘n mens nie, maar Hy verwys tog na Johannes die Doper se getuienis, wat hulle verwerp het, om hulle te laat nadink, om van oortuiging te verander, sodat hulle gered kan word, as hulle die Doper se getuienis oor Jesus sou aanvaar, want dit bly waar. 

5:35 Al was Johannes net ‘n mens, was Hy ‘n gesant van God, die lamp, met ‘n bepaalde opdrag op die keerpunt van die geskiedenis van God met die mens. Die lamp het soos ‘n fakkel gebrand – homself verteer in die uitvoering van sy roeping, en geskyn – lig gebring vir almal in die omgewing deur van die Lig te getuig (1:6-8). Die Jode het hom erken as ‘n profeet, het hulle laat doop, en was bly dat God sy volk deur so ‘n prediker (soos Elia, 1:21) besoek het – so iets het 430 jaar laas gebeur, met Maleagi (maleagi beteken in Hebreeus ‘My Boodskapper’). Maar hulle vreugde was vir ‘n rukkie (letterlik: vir ‘n uur). Toe Johannes van die toneel verdwyn het, het hulle van sy prediking en van hulle doop vergeet. Dit word bewys deur hulle teenstand teen Jesus. (Dawid is die ‘lamp vir Israel genoem, 2 Sam.21:17, vgl. die gesalfde uit Dawid se geslag wie se troon sal skitter in Sion, Ps 132:17-18).

 

5:36 Die tweede getuienis is Jesus self – die sin begin met ‘Maar Ek, Ek het die getuienis wat groter is’ as die menslike getuienis van Johannes. Jesus doen  ‘die werke wat die Vader My gegee het’ – goddelike werke; die werke wat Ek doen getuig oor My dat die Vader My gestuur het. Die werke verwys ten eerste na die tekens en wonders wat Jesus verrig en nog sal verrig, en dit sluit in vv21-22 se opwekking uit die dood en sy regverdige oordeel.

 

5:37 Daar is nog ‘n manier waarop die Vader oor Jesus getuig het en daardie getuienis staan nog steeds (weer die voltooide werkwoord). Hoewel die Israeliete by Sinai die stem van die Here gehoor het (Eks 19:16-19; 20:18-21; Deutr. 4:11,12,33) en daaroor geroem het, kan die tydgenote van Jesus dit nie sê nie. Die gestalte van God het hulle nog nooit gesien nie. Maar sy getuienis is tog beskikbaar (v39). Die gebeurtenisse in die geskiedenis van Israel was grootliks ‘n heenwysing na die koms van die Verlosser.

 

5:38 Die Vader se woord het hulle nie in hulle as iets blywend nie. Hulle het die woord van God nie in hulle opgeneem en daaruit gelewe nie. Dit het ‘n woord van iemand buite hulle gebly, wat hulle lewe nie verander  het nie. Dit word bewys deur hulle ongeloof in God se Gestuurde. Eers wanneer jy in Jesus as die Seun van God, self God, glo, gaan die lig vir jou op, en kan jy God in Jesus herken, sy stem in Jesus se woorde hoor, en sy gestalte in Jesus sien.

 

5:39  Die derde getuienis is die Skrif. Hulle ondersoek die Skrifte omdat hulle dink dat hulle in die Skrifte die ewige lewe het – deur dit te bestudeer. Jesus ontken dat hulle die ewige lewe deur hulle ondersoek van die Skrif het. God het die Skrifte gegee om van Christus te getuig, sodat die mense na Hom toe sal kom, en deur Hom dié lewe te kry wat in die Skrif belowe is. Deur die Skrifte te ondersoek en die Skrifte se getuienis oor Christus te verwerp, word God se doel met die Skrif verydel. Hulle fokus op die eise van die wet in die Skrifte, probeer die eise van die wet met hulle goeie werke te vervul om so deur God beloon te word met die ewige lewe; maar hulle merk nie op dat die Skrifte heenwys na die Messias-Verlosser wat sal kom nie, wat die water van die lewe, wyn en melk gee sonder om te betaal  (Jes 55:1). Die Jode is so anders as die Samaritaanse vrou (4:25). Paulus sê: as hulle die Skrifte lees, is daar ‘n sluier oor hulle verstand (2 Kor 3:15). Hulle weier om Jesus as hulle Messias te erken. Hulle wag vir ‘n politieke bevryder, ‘n stryder met militêre mag om hulle van die Romeinse juk te verlos.     

 

5:40 Deur die getuienis van die Skrifte oor Jesus te verwerp, deur te weier om na Jesus toe te kom en Hom te volg, verbeur hulle die lewe. Daar is by hulle ‘n bewuste wilsdaad van verset teen God se Verlosser en sy genadige verlossing tot die nuwe soort lewe, die ewige lewe. Hulle wil nie. In tye van twyfel is die wil altyd sterker as die insig. God se weg is anders as wat die mens dit voorstel (vgl. Joh 6:60,66; Luk 7:22,23).

 

            Die Jode verset hulle teen die drie getuies wat Jesus oproep om te getuig dat Hy die Seun van God is: Johannes die Doper, sy eie dade, en die Skrifte wat so ywerig ondersoek word deur die Fariseërs, wat hulle lewe wy aan die studie daarvan, sonder om by Jesus uit te kom.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Geregtigheid en selfbeheersing en die komende oordeel

Geregtigheid en selfbeheersing en die komende oordeel – Francois Malan

Andre vra:

Handelinge 24:25  sê, Paulus het vir Feliks en sy vrou geleer oor hoe om hulle sondige begeertes onder beheer te kry/ to take control over their passions. Hoe kry n mens dit reg?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die teks sê nie spesifiek dat Paulus hulle geleer het oor hoe om hulle self te beheer nie, maar dat Paulus met hulle indringend gepraat het oor geregtigheid en selfbeheersing en die komende oordeel. Die reaksie van Feliks was egter vrees en hy het Paulus vir eers laat gaan, so asof die tyd om is, totdat hy weer ‘n geleentheid sal hê om na Paulus te luister. Volgens vers 26 het dit dikwels gebeur ,maar slegs om omkoopgeld vir Paulus se vrylating te soek.

 

Volgens die Joodse geskiedskrywer Josefus  het Feliks met die hulp van ‘n Joodse towernaar die Jodin Drusilla van haar Joodse man afgerokkel om met hom as sy derde vrou, te trou. Feliks was ‘n nie-Jood en vrygelate slaaf wat ‘n vriend van keiser Claudius was en daarom as goewerneur van Palestina aangestel is. Teen die Romeinse wet het hy van Paulus omkoopgeld gesoek volgens Hand. 24:26..

 

Volgens Galasiërs 5:23 is selfbeheersing deel van die vrug van die werk van die Heilige Gees in die gelowige, saam met agt ander deugde. Die Here Jesus sit sy werk op aarde voort deur sy volgelinge in wie God self kom woon om hulle te leer, te lei en te versterk om hulleself te beheer. Die geloof dat Jesus self God is, wat uit liefde ons sonde op Hom geneem het en weggeneem het, kom deur die oortuiging van die Heilige Gees, wat die woord van God gebruik om ons te oortuig. Vergelyk Johannes 1:1  die Woord was self God; Jn 1:29 daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem;  Jn 14:15-17 Jesus sal die Vader vra om die Heilige Gees te stuur, die Gees van waarheid, Hy sal by ons bly en in ons wees, sodat ons Jesus sal liefhê en sy opdragte uitvoer 

 

Paulus bid in Efesiërs 3:14-19 dat die Vader deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrond sal wees…en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.

 

Vergelyk ook 2 Petrus 1:3-7  dat die Here Jesus ons deur sy goddelike mag in staat stel om die verderf wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is te ontvlug en deel te kry aan die goddelike natuur, en dat ons daarom alles in die stryd moet werp om ons geloof te versterk, o.a. met selfbeheersing.

Paulus sê in 1 Korintiërs 9:27 dat hy sy liggaam oefen en onder beheer bring sodat hy nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Laat sy liefde jou lei: Skuldvrye liefde

Laat sy liefde jou lei: Skuldvrye liefde – Milanie Vosloo

Moet niks aan ander mense skuld nie, behalwe om absoluut lojaal en vol liefde teenoor hulle te wees. As jy ander mense liefhet, het jy die hele wet van God nagekom. Romeine 13:8

 

Hoe graag sou ons nie almal skuldvry wou wees nie! Dink net wat ’n verligting dit sal wees as een of ander weldoener vandag al jou skuld betaal en jou boonop ’n paar miljoen gee vir enige toekomstige uitgawes en skuld. Meer nog: dink net wat ‘n heerlikheid dit sal wees as iemand al dié dinge waaroor jy so skuldig voel, eenvoudig uit jou lewe kon wegneem!

Nouja, ons dierbare Vader is nie ‘n aardse filantroop wat sakke vol geld aan almal uitdeel nie. Tog bied Hy ons soveel meer: Hy gee aan ons skuldvrye siele! Sy liefde wis eenvoudig al die dinge waaraan ons hart so swaar dra, uit. Die bloed van sy Seun haal ons uit die rooi van ons lewens en gee aan ons ‘n spierwit bladsy van vrede.

 

God gee hierdie vergifnisliefde gratis, maar vra daarmee saam dat ons, uit dankbaarheid teenoor Hom, self ook hemelse weldoeners sal wees. Hy vra hard en duidelik dat ons aan diegene wat iets aan ons skuld, ook die skoon bladsy van onvoorwaardelike vergifnis sal gee.

 

Deel jy die liefdesmiljoene wat God jou gee, ruimskoots aan ander uit? Gaan spreek vandag almal wat jou iets “skuld”, vry!

 

Genade-God, ek wil uit dankbaarheid oor my skuldvrye status u vergifnisliefde aan almal om my uitdeel. Help my om vrygewig in my liefde te wees asseblief?    

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo