Bufferplakker teologie

Blog170c

 Heaven would be hell to me without Christ. —Thomas Goodwin

 Bufferplakker teologie

Daar is vandag allerlei nuwe woorde wat gebruik word. Een daarvan is bufferplakker teologie.

Honk if you love Jesus! God is my co-pilot! Daar is nog dosyne ander plakkers op die buffers van ons motorkarre. Bufferplakkers is die eerste keer in die 1940’s gebruik. Vandag word dit algemeen deur politici en besighede gebruik.

 

 Omdat buffers so klein is, moet dit net ‘n paar, eenvoudige woorde bevat anders kan dit nie gelees word nie. Min verduideliking; min besonderhede.  As jy ‘n Christen is, sal jy waarskynlik weet wat die plakker beteken; as jy ‘n ongelowige is, sal jy wonder hoe hulle by daardie gevolgtrekking uitgekom het.

 Christene beskou bufferplakkers as te kort en te oppervlakkig. Daarom word bufferplakker teologie gebruik vir enige idee wat oppervlakkig is.  Ek lees op ‘n blog die volgende definisies van bufferplakker teologie:

  • Kernagtige teologiese slagspreuke op bufferplakkers wat Christene op hulle karre plak as manier om die Christendom te bevorder.
  • Enige kernagtige teologiese stelling of slagspreuk wat veronderstel is om oortuigend en gedenkwaardig te wees.
  • Teologie of  teologiese stellings wat by nadere ondersoek blyk om simplisties, oppervlakkig, onvoldoende en onbybels te wees

 Is hierdie “teologie” van waarde? Ek weet nie.




Stukkend of heel?

Prayer is the difference between the best you can do and the best God can do – Mark Batterson

Stukkend of heel?

”Oor die jare het ek besef dat die grootste strik in ons lewens nie sukses, gewildheid of mag is nie, maar selfverwerping … Sodra iemand my beskuldig of kritiseer, sodra ek verwerp of alleen gelaat word, dink ek: ‘Dit bewys weereens dat ek ‘n niemand is, ek is goed vir niks nie … ek verdien om opsy gestoot te word, verwerp te word, vergeet te word” – Henri J. M. Nouwen.

 

 Waar kom hierdie siening vandaan? Baie van ons het so grootgeword: “Jy moet jou kinders leer dat hulle gebroke is.” Maar dit is ‘n verkeerde manier om kinders te leer. As jy jou kinders die evangelie leer, begin jy nie met: “Julle is sleg en daarom het julle Christus nodig” nie. Jy begin met: “Voor jy nog gebore is, het God jou al lief gehad,” Begin met God se liefde en eindig met God se liefde.

 Ons moet ons kinders leer dat hulle heel is – hulle is immers na die beeld van God gemaak. Ons moet hulle leer dat God hulle onvoorwaardelik liefhet en hulle koester. Ons moet ons kinders leer dat niemand of niks hulle van die liefde van Christus kan skei nie.

 As jy jou kinders leer dat hulle onwaardig en op een of ander manier intrinsiek gebroke is, stuur jy af op ‘n ramp – nie net in hulle verhouding met God nie, maar ook in hulle verhouding met ander mense. Jy skep in hulle die onvermoë om liefde te ontvang … ook nie die liefde van God nie, want ek blokkeer dit met ‘n”ek is stukkend; ek verdien nie liefde nie” gesindheid.

 

 




Latere variasies in die Manuskripte.

Latere variasies in die Manuskripte. – Herman Grobler

In alle handgeskrewe kopieë kom daar variasies voor. Wanneer ons iets afskryf, maak ons toevallige foute. Toevallige variasies as gevolg van verkeerd sien, of verkeerd hoor in ‘n skriptorium, of iets wat herhaal of gewysig word vanuit die geheue van die kopieerder kom ook in die Nuwe Testamentiese manuskripte voor. Maar daar is ook doelbewuste veranderinge om as bevestiging te dien vir ‘n bepaalde kerklike gebruik of siening.

 

Soos wat baie van ons ook doen, het mense soms nota’s in die kantlyn van hul manuskripte geskryf. Wanneer ‘n kopieerder op ‘n latere stadium ‘n kopie van hierdie manuskrip maak, moes hy besluit of hierdie maar net ‘n toevallige nota is, of iets is wat per abuis uitgelaat was. Eerder as om iets verlore te laat gaan, is so ‘n nota dan op die gepaste plek in die teks geplaas. So ‘n invoeging noem ons ‘n glos.

 

Ons kyk na ‘n voorbeeld van ‘n glos.

Toe Desiderius Erasmus in 1516 die eerste Griekse teks van die Nuwe Testament laat druk het, het ‘n paar mense hom gekritiseer dat sy teks nie ooreenstem met die Latynse Vulgaat nie. Die woorde in donker gedruk ontbreek in 1 Johannes 5:7-8: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.” Erasmus kon nêrens ‘n Griekse manuskrip vind met die woorde in nie, maar het belowe om dit by te voeg sodra een gevind word. Vyf jaar later word ‘n splinternuwe manuskrip waarvan die ink seker nog nie droog was nie, aan hom oorhandig met hierdie woorde ingeskryf. Erasmus het woord gehou en sluit dit in sy derde uitgawe van 1622 in. Noudat ons feitlik alle manuskripte wat oor die wêreld versprei is, kan bestudeer, is gevind dat slegs een ander Griekse manuskrip, Nr.629 uit ongeveer 1350 n.C. wel hierdie uitbreiding oorspronklik in het. Maar dit is opmerklik dat dit ook nie voorkom in enige van die agt ou tale waarin die Nuwe Testament vertaal is nie. Dit kom net in Latynse manuskripte voor, die oudste ± 650 n.C. en dan verskeie eers ná 1100 n.C. Dit kom ook voor in ‘n laat uitgawe van die Vulgaat.

Die groot stryd om die verhouding tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees te verstaan en te beskrywe, openbaar ‘n verdere interessante feit. Athanasius, (†373 n.C.) ‘n ortodokse teoloog wat aan die voorpunt was van die stryd teen die Arianisme wat Jesus se Godheid ontken het, het nie hierdie uitbreiding geken nie. Hy sou sekerlik daarvan gebruik gemaak het! Selfs Basilius die Grote, (†379 n.C.) biskop van Sisarea in Kappadosië het dit ook nie geken nie. Hy was die teoloog wat die Drie-Eenheid geformuleer het as een Wese, maar Drie Persone!

Uit al hierdie gegewens is dit duidelik dat hierdie woorde beslis nie deel van die oorspronklike outografie was wat God deur Johannes laat opteken het nie. Een of ander iemand moes dit as ‘n kantaantekening in sy Latynse manuskrip ingeskryf het, en so beland dit in die Vulgaat, en vandaar via Erasmus ook in ons Ou Afrikaanse Bybel!

 

In hierdie reeks gaan ons kyk na die variasies en die gronde waarop ‘n keuse gemaak word. Ek nooi lesers uit om vrae en teksverse wat hulle hanteer wil hê, aan my deur te gee sodat ek die feite op die tafel kan plaas.

Ek persoonlik verkies om werklike feite te beoordeel, en nie uitgelewer te wees aan die propaganda vir die een of ander vertaling nie.

Kom ons vat hande en bestudeer die feite objektief sodat ons in eerlikheid kan sê dat ons die eer van God soek.

Wat keuse van vertalings betref, is dit die beste om soveel moontlik vertalings te gebruik. Elke vertaling kan ‘n bepaalde siening of interpretasie na vore bring. Maar as algemene reël kan aanvaar word dat wanneer bepaalde woorde in die moderne vertalings ontbreek, of die vertalings drasties afwyk, daar grondige redes daarvoor bestaan. Aan die ander kant help die ouer vertalings ons meer wanneer studie gedoen word om die gebruik van ‘n spesifieke woord in die Bybel te bestudeer, omdat die ouer vertalings woorde vertaal, al maak dit nie sin nie. 

 

Skrywer: Herman Grobler




Jesaja 53 en Jesus

Jesaja 53 en Jesus – Francois Malan

Johan vra:

Jesaja 53 in die middel van die profeet se profesie dat God sy volk gaan red uit bannelingskap en dat die volk Hom moet vertrou, Hy sal sy belofte gestand doen, verwys hy na die Here se dienaar wat sal ly. Alles in die hoofstuk soos dit voorkom, verwys na Jesus – ook ander plekke soos Jes 42:1-4, Jes 7:14. Vraag is hoe moet mens dit verstaan? Jesaja die eerste een of die tweede een praat van die val van Babilon en alles wat daarmee gepaard gaan, maar hy profeteer ook toekomstige dinge, Jesus se swaar kry ens., wat ons nou weet het gebeur. Daar is nie ‘n kronologiese tydverloop nie, maar wat is die verband tussen die belofte van verlossing uit bannelingskap en die toekomstige belofte van verlossing. Sien hy dit soos ‘n klippie wat op die water gegooi word, hy tref hier en daar tref hy verder, weer en weer

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

God openbaar Homself aan die mensdom in die Skrif. Dit geskied deur verskillende soorte geskrifte in die Bybel, ook in die profetiese geskrifte soos Jesaja, deurdat God sy woord en sy optrede deur mense vir sy volk en ander volke aan die profete openbaar. Die profeet ontvang, verkondig en skryf die woord van God vir sy eie tyd se mense. Maar nadat dit op skrif gestel is, dien dit ook as die woord van die Here vir opvolgende geslagte. God bedoel dit vir alle tye, en in die volheid van die tyd word sy verlossingsplan ten volle geopenbaar in Jesus Christus; vgl. Galasiërs 4:4 ‘…toe die tyd wat God daarvoor bepaal het aangebreek het (letterlik: in die volheid van die tyd) het Hy sy Seun gestuur…’

 

Die eerste wegvoering van Juda na Babel was in 597 v.C. en die tweede in 587 v.C. In 539 word Babel deur die Pers Kores ingeneem wat ‘n ander filosofie gehad het. Hy het die Jode laat teruggaan na hulle eie land om hulle god daar te aanbid en vir hom as hulle koning voorbidding te doen by hulle god. Jesaja 44:8 noem hom die gesalfde van die Here. Die eerste Joodse ballinge keer in 538 v.C. terug na Palestina onder leiding van Serubbabel, met die opdrag om hulle tempel te herbou (2 Kron. 36:22-23; Esra 1:1-4; Jesaja 44:28). Daar is met die bouwerk begin (Esra 3), maar die goewerneur van die provinsie en die buurvolke het beswaar gemaak, en meer as een keer die bouwerk probeer stop (Esra 5:3-4). Navraag oor die koning se toestemming tot die bou van die tempel is gedoen by die Persiese hof, by Kores se opvolger in 530 v.C, Darius die Meder. Voordat die offisiële goedkeuring ontvang is, verdwyn die naam van Serubbabel. Jesaja 53 suggereer dat hy geslaan en doodgemaak is deur die owerhede wat nie kon droom dat die koning toestemming sou gee om die bouwerk te hervat nie. In 518 v.C. gee die nuwe koning Darius opdrag dat die tempelbou moet voortgaan (Esra 6:1-13) en kom self in Jerusalem aan op pad na Egipte en verhoor die klag oor die dood van Serubbabel. Die Here se leiding aan Darius oor Serubbabel se lyding word in 53:11 aangekondig en Darius se onskuldigverklaring oor Serubbabel in 53:12. Die tempel word herbou van 520-515 v.C.

 

Deur die eeue wat op 518 v.C. gevolg het, is die Joodse volk telkens as die lydende kneg van die Here van Jesaja 53 gesien. Maar toe Jesus gekom het, is God se bedoeling met die woord ten volle gerealiseer. Die vroeë kerk het dit ook so gesien en meeste van die geskrifte van die Nuwe Testament getuig daarvan: vgl. die aanhalings van Jes.53:1 in Joh. 12:38 en Rom 10:16; Jes 53:4 in Mat 8:17 en 1 Petr 2:24; Jes 53:5 in 1 Petr. 2:24; Jes 53:6 in 1 Petr 2:25; Jes 53:7-8 in Hand.8:32-33; Jes 53:9 in 1 Petr 2:22; Jes 53:12 in 1 Petr 2:24; daarby is daar talryke sinspelings in die Nuwe Testament op Jes.53. 

 

Die skrywer van Jesaja 53 het nie die toekomstige verlossing gesien soos ‘n klippie op die water nie, maar God het ‘n skrefie oopgemaak van sy verlossingsplan vir die wêreld. Wat vir die ballinge na 70 jaar se straf op hulle afgodsdiens onmoontlik gelyk het, het God deurgevoer deur ‘n koning met ‘n ander beleid as die Babiloniërs. God het Kores se siening gevorm om sy volk terug te stuur na die beloofde land soos deur sy profete voorspel is. En 500 jaar later is sy Seun in die beloofde land geslaan en doodgemaak as die offer van die sonde van al die gelowiges in die tyd van die Ou Testament en van almal wat in Jesus glo sedert sy menswording. Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh 1:29) en van elkeen wat in Jesus glo, kinders van God maak (Joh 1:12). Daarmee word die woorde van Abraham aan Isak, wat die hout vir die offervuur gedra het, soos Jesus sy kruis, op ‘n besondere manier vervul: ‘My seun, God sal sy eie offerlam voorsien’ (Gen.21:6,8).

 

Dat die Seun van God vir die sonde van die wêreld gesterf het, is die toppunt van God se liefdesdiens aan die wêreld (Joh 3:16). Jesus se nuwe gebod aan sy getroue volgelinge is ook dat ons mekaar moet liefhê soos Hy ons liefhet (Joh 13:34), dat ons bereid sal wees om ons lewe vir mekaar af te lê (Joh 15:12-13), dat ons Hom ook sal volg in sy lyding (Mat 16:24-25). Paulus sê: ‘Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid’ (Rom 8:17). So word ons ook deel van die lyding van die  Kneg van die Here van Jesaja 53. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan