Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:22-29)

Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:22-29) – Francois Malan

4:22 Met hulle vyf-boek Bybel het die Samaritane nie die volle openbaring van God nie, al verwag hulle ook ‘n profeet soos Moses (Deutr. 18:15,18). Hulle aanbid ‘wat’ hulle nie ken nie, hulle ken nie ‘n persoonlike verhouding met God nie. Vir baie Jode het hulle God ook ‘n ‘wat’ geword en nie ‘n ‘Wie’ nie. Dit is juis die Profete-boeke en Geskrifte van die Ou Testament wat die verwagting van ‘n verlossing verkondig; ‘n Verlosser vanuit die Jode, wat God uitgekies het, waaruit sy Verlosser sou kom  (vgl. Jes.2:2-5 se verheffing van Sion bo alle berge, waar alle volke na die Here sal kom luister, Hom sal dien, en in vrede begin lewe; die vervulling van dié profesie is met Jesus se koms begin, Lk 2:32, en sal voltooi word wanneer alles aan Hom onderwerp is (1 Kor 15:25).

4:23 Nie op Gerisim of in Jerusalem nie; die nuwe tyd het aangebreek met Jesus se menswording, soos reeds met die tempelreiniging aangekondig is. Jesus beweeg verder as die vrou se persoonlike en huislike tragiek, haar skuld en haar skuiling agter die godsdiens. Ware aanbidders volg die wil van die Vader. Hulle aanbid Hom deur  Gees en Waarheid: deur die Heilige Gees, wat in hulle kom woon om hulle te lei; en deur die Waarheid – in 14:6 sê Jesus ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.’

 

4:24 God is Gees – nie aan ‘n plek verbonde nie, maar oral teenwoordig deur die Heilige Gees. Die Gees leer ons hoe om God te aanbid; die Gees is verbonde aan die Waarheid, wat vir ons die weg na God open deur sy liefdesoffer aan die kruis (14:26; 15:26; 16:14).

 

4:25 Volgens Deutr.18:18 verwag die Samaritane ‘n profeet soos Moses. Hulle noem Hom  Ta’eb (‘bekeerder’), wat die vrou met Messias bedoel (Christus in Grieks). Maar sy het nie Jesus se woorde in vers 23 gehoor nie: ‘daar kom ‘n tyd, en dit is nou’.

 

4:26  Jesus sê ‘Ek is, wat met jou praat’. Dit is die eerste keer in Johannes dat Jesus die uitdrukking ‘Ek, Ek is’ gebruik (vgl. 6:20; 8:24,28,58; 13:19). Dit herinner aan die selfbekendstelling van die Here aan Moses by die braambos (Eks 3:14: ‘Ek is’, Jaweh, HERE vgl. Jes 52:6). Hy is voortdurend aktief teenwoordig. In die res van Johannes word ‘Ek is’ uitgebrei, bv. met Ek is die goeie herder (10:14), die brood van die lewe (6:35), die ware wynstok (15:15), die weg, die waarheid en die lewe (14:6), die lig (9:5), ens.

            Vir die vrou is Jesus se selfbekendstelling ‘n bevestiging: Ek is die Messias wat julle nog verwag, jy hoef nie meer te wag nie! Dit is die hoogtepunt van die gesprek – Jesus se selfopenbaring aan ‘n Samaritaanse vrou, as teken van Jesus se sending om God se verlossing vir alle volke te verkondig, ook vir vroue, en hier ‘n vrou met ‘n slegte reputasie. ‘n Nuwe era vir God se verhouding met die mense het aangebreek met God se liefdesgawe van sy enigste Seun vir die wêreld om die ewige lewe saam met God te verkry. 

 

4:27 Die dissipels kom terug van die dorp waar hulle gaan kos koop het, daag by die fontein op, juis toe die gesprek sy hoogtepunt bereik het. Hulle verwonder hulle dat Jesus met ‘n vrou praat. Vir die Jode was dit verbied. Die Rabbi’s het later nog geskryf: ‘n Man moet nie met ‘n vrou op straat praat nie, nie eers met sy eie vrou nie, en vir seker nie met iemand anders se vrou nie, vanweë die geskinder van mense. Dit was selfs verbied om ‘n vrou op straat te groet. En hier kom Jesus en die eerste persoon aan wie Hy Homself as die Messias openbaar, is ‘n vrou. Die dissipels vra egter nie vrae oor Jesus se afwyking van die gedragspatrone van sy tyd nie. Dit sou van wantroue getuig en hulle het te veel eerbied vir Hom. Later sou hulle begryp dat Jesus vroue kom bevry uit hulle ondergeskikte posisie in die samelewing, en dat Hy van hierdie vrou  sy getuie gemaak het.

 

4:28,29 Met groot geesdrif los die vrou haar waterkruik net daar by die put. Sy het iets gevind van baie meer waarde as die water wat sy gaan haal het, nl. die blye boodskap. Sy haas haar daarvandaan na die stad, en gaan  vertel van haar heel persoonlike ondervinding, van Jesus wat haar sondige lewe en verlede oopgevlek het, en dat sy daardeur bevryding gevind het by die verwagte Redder Messias. Die Samaritane het die Ta’eb, die hersteller en openbaarder van die waarheid, verwag. Sy nooi hulle uit: kom kyk! Die wind waai waar hy wil…maar jy weet nie waarheen hy gaan nie; so onverklaarbaar is die lewensvernuwing deur die Heilige Gees.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




‘n Doeltreffende bediening (3)

Laws too gentle are seldom obeyed; too severe, seldom executed. -Benjamin Franklin

‘n Doeltreffende bediening (3)

Ons het gesien dat Rick Warren sewe sleutels in Romeine 15 geïdentifiseer het vir ‘n doeltreffende bediening. In die vorige blog het ons na die eerste drie sleutels gekyk. Ons kyk nou na die laaste vier sleutels.

  • ‘n Doeltreffende bediening word in God se krag gedoen.

Deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God. En so kon ek … my taak om die evangelie van Christus te verkondig, ten volle uitvoer (18:19). Hierdie beginsel word ook beklemtoon in Johannes 15:5:  Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom,dra baie vrugte, want sonder My kan hulle niks doen nie. Jy doen nie jou bediening in jou eie krag of in die krag van  jou eie persoonlikheid nie. Ons dink dikwels aan Paulus as iemand met baie selfvertroue. Luister hierna: Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees (1 Korintiërs 2:4). Gewone mense word op buitengewone maniere gebruik. In my eie krag kan ek dit nie doen nie, maar met God se krag is ek tot alles in staat.

  • ‘n Doeltreffende bediening word binne God se plan gedoen.

Ek het my eer daarin gestel om die evangelie te verkondig waar die mense nog nie van Christus gehoor het nie (15:20). Dit was sy ambisie. Ambisie is nie verkeerd nie solank jy dit gebruik om God se doel vir jou lewe en die bediening wat Hy aan jou toevertrou het, te vervul. Paulus maak planne – hy wil nog Spanje toe gaan. Ons kan nie soggens opstaan en sê: “Here wat wil U hê moet ek vandag doen nie?” Paulus het ‘n duidelike strategie gehad – hy wou al die groot stede in die Romeinse Ryk besoek. Hy het besef dat hy nie oral kon gaan nie en daarom fokus hy op die stede. God wil hê dat ons beplan – lees net Spreuke. God wil hê dat ons die hulpbronne wat Hy vir ons gegee het optimaal moet gebruik. Iemand het vir Billy Graham gevra  of hy nie moeg word van bediening nie. Sy antwoord was: “Ek word moeg in die bediening, maar nie van die bediening nie.”

  • ‘n Doeltreffende bediening word deur God se mense ondersteun

Finansiële ondersteuning is een manier om jou gemeente se bedienings te ondersteun: Die gemeentes in Masedonië en Agaje het die naamlik goedgedink om iets by te dra vir die armes onder die gelowiges in Jerusalem (15:26). Gelowiges moet hulle tyd, energie, diens en geld gee.

  • ‘n Doeltreffende bediening word op gebed gebou

Stry saam met my deur vir my te bid dat God my veilig mag hou tussen al die ongelowiges in Judea en dat my hulp aan Jerusalem aanvaarbaar mag wees vir die gelowiges daar (15:30 – 31). Ons moet vir mekaar se bediening bid. Saam is ons ‘n simfonie waarin elkeen sy deel moet speel. Die wysie is dieselfde, maar die klank verskil. Almal van ons lees van dieselfde bladsy – ons bladmusiek is die Bybel. Ons moet vir mekaar bid.

As ons hierdie sewe beginsels navolg, sal ons bediening meer doeltreffend wees.




‘n Doeltreffende bediening (2)

Talking to men for God is a great thing, but talking to God for men is greater still. —E.M. Bounds

‘n Doeltreffende bediening (2)

In die vorige blog het ons breedweg na Romeine 15 gekyk. Ons het gesê dat Rick Warren sewe noodsaaklike sleutels vir ‘n doeltreffende bediening in hierdie gedeelte identifiseer. Kom ons kyk na hierdie sleutels. Vandag kyk ons na die eerste drie.

 

  • ‘n Doeltreffende bediening word op God se genade gebou

God het my immers in sy genade die voorreg gegee om in diens van Christus Jesus onder die heidennasies te werk.  Ek verdien nie om in ‘n bediening te staan nie. Dit is ‘n voorreg. God gebruik my op hierdie plek net as gevolg van sy genade. God weet ek gaan foute maak, maar tog gebruik Hy my – dit is wat genade is. Jy gaan struikel; jy gaan dinge doen wat vir jou ‘n verleentheid is. Genade is die feit dat God onvolmaakte mense gebruik. As Hy net volmaakte mense gebruik het, sou niks gedoen word nie. Ons is almal op pad; ons groei nog. Maar terwyl ons groei, bedien ons. Jy ontvang jou bediening – jy verdien dit nie. Alles wat God in en deur ons lewens doen, is genade. Soms sê ons: “Ek het te veel foute – God kan my nie gebruik nie.” In sy genade gebruik God gewone mense.

  • ‘n Doeltreffende bediening word nie net op God se genade gebou nie, maar ook op sy woord.

Dit is my priesterlike taak  om die evangelie van God aan hulle te bedien (15:16). Wat is hierdie evangelie? Die Bybel. Dit is die gids vir bediening. Mense wat in bediening betrokke is, moet 1 en 2 Timoteus en Titus goed bestudeer, want hulle is aan mense wat in die bediening gestaan het, geskrywe. Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade. Die woord is magtig om julle op te bou (Handelinge 20:32); Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaalleer te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17). Die woord is toerusting, ons handleiding.

  • n Doeltreffende bediening word vir God se heerlikheid gedoen

 Dit word nie gedoen om my beeld te bevorder nie. Paulus wou gehad het dat mense meer deur God as deur hom beïndruk sou word. Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as oor wat Christus deur my tot stand gebring het (15:17). Let op: wat Christus deur my gedoen het. Hy staan in die bediening om God te verheerlik God doen dinge deur mense. Maar sodra jy trots raak op wat jy bereik het, onttrek God sy seënende hand van jou bediening. Nederigheid is om eerlik oor jou tekortkominge te wees en te besef dat jou sterkpunte gawes van God is.

Volgende keer gaan ons na nog vier sleutels vir ‘n doeltreffende bediening kyk.




‘n Doeltreffende bediening (1)

Scripture is the womb from which arises divine truth and the church – Luther

‘n Doeltreffende bediening (1)

Naas Jesus Christus self was Paulus ons grootste model vir bediening. As jy jou bediening doen, kan jy met vrug na Romeine 15 kyk. Hier identifiseer Paulus sekere beginsels vir doeltreffende bediening. Hy gee vir ons ‘n kykie in sy eie bediening: My broers, ek is self maar alte bewus dat julle vol goeie hoedanighede is en omvattende kennis besit, en dat julle mekaar self op die regte weg kan help (15:14). Paulus sê ons kan mekaar op die regte weg help – jy is bekwaam genoeg vir ‘n bediening. Moenie dink jy sal dit nooit kan doen nie. Begin net die Here dien en Hy sal vir jou alles gee wat jy nodig het.

 

Hier is twee sleutelwoorde in hierdie hoofstuk: bedien (15:16) en diens. As ons hierdie gedeelte (15:14 – 33) lees, sien ons dat Paulus hier twee verskillende bedienings beskryf. Die eerste is aan ongelowiges en die tweede aan gelowiges.  Sy bediening aan ongelowiges (15:14 – 22) was om die goeie nuus aan soveel mense as moontlik oor te dra: Dit is my priesterlike taak om die evangelie van God aan hulle te bedien. Hy praat hier van sy taak onder die heidennasies.

Paulus het egter ook ‘n bediening aan die gelowiges (15:23 – 33). Sy bediening was om na die behoeftes van gelowiges om te sien. Hy het by al die gemeentes in Klein-Asië geld bymekaargemaak vir die armes onder die gelowiges in Jerusalem. Elke gelowige het ‘n bediening aan gelowiges en ‘n sending na ongelowiges.

In vers 16 lees ons Paulus se boodskap: om die evangelie van God aan hulle te bedien. Ons taak is nie om uit te gaan en mense te vertel dat as hulle die dag doodgaan hulle hel toe gaan nie. Ons moet vir hulle vertel dat hulle vergewe kan word. Hoekom bring Paulus hierdie boodskap aan ongelowiges? Om God te verheerlik. Elke keer as ek my geloof met iemand anders deel, verheerlik ek vir God. Sy boodskap was die goeie nuus wat hy verkondig om God te verheerlik.

In vers 19 vertel hy ons van die kragtige tekens en wonders wat hy gedoen het – van Jerusalem tot in Illirikum Die tekens en wonders het hy gedoen in die krag van die Gees van God. God het dit deur hom gedoen.  Sy werkswyse was om nuwe gemeentes te plant. Ek het my eer daarin gestel om die evangelie te verkondig waar die mense nog nie van Christus gehoor het nie, want ek wil nie op die fondament van iemand anders bou nie.

Hierdie is die agtergrond. Rick Warren identifiseer uit hierdie gedeelte  sewe sleutels vir ‘n doeltreffende bediening. Maak nie saak waar of hoe God jou gebruik nie, hierdie sewe sleutels is noodsaaklik.  Volgende keer gaan ons na hierdie sleutels kyk.