Romeine 14 en eenheid in die gemeente

When I understand that everything happening to me is to make me more Christlike, it resolves a great deal of anxiety.”  – AW Tozer

Romeine 14 en eenheid in die gemeente

Kry ons ‘n gemeente waarin die lidmate mekaar liefhet, trek dit mense soos ‘n magneet aan. ‘n Lewende en liefdevolle gemeente groei. Rick Warren sê dat ons in Romeine 14 ses maniere kry waarmee ons mekaar kan opbou en nie aftrek nie.

 

  • Om ‘n meer eensgesinde gemeente te bou, moet ons ons toewy aan die opbou van mekaar. Die lewe is moeilik en daar is genoeg negatiewe mense in die wêreld. Ons het ‘n hele leër bemoedigers nodig – mense wat bereid is om tyd aan my te spandeer en my op te bou.
  • Om ‘n meer eensgesinde gemeente te bou, moet ons die waarde van elke lidmaat waardeer. In elke gemeente kry ons mense met ‘n wye reeks persoonlikhede. Soms sien ons ander as onvolwasse. In ‘n eensgesinde gemeente mag  jy van hulle verskil, maar jy mag nooit vergeet dat Christus vir hulle ook gesterf het. Dit is hoe waardevol en belangrik hulle is. Ek het mos nie die reg om mense vir wie Christus gesterf het, seer te maak nie. Almal is belangrik vir God: leer jy dit en modelleer jy dit?
  • Om ‘n meer eensgesinde gemeente te bou, moet ons op dit wat werklik belangrik is, fokus. Dit is interessant dat gemeente gewoonlik nie oor groot sake verdeel nie – hulle verdeel oor klein dingetjies. Meeste mense wat die gemeente verlaat, verlaat as gevolg van een of ander klein saak. Wyse gemeenteleiers fokus op dit wat innerlik is. Fokus op wat werklik belangrik is.
  • Om ‘n meer eensgesinde gemeente te bou, moet ons ons vryheid ter wille van ander inperk. As my vryheid die werk van God beperk, het ons ‘n probleem. Daar is sekere dinge wat ‘n lidmaat nog kan doen, maar ‘n leier kan dit nie doen nie, want almal hou hom dop. Wees bewus daarvan. Dit is die prys wat ‘n leier moet betaal.
  • Om ‘n meer eensgesinde gemeente te bou, mag ek nie my siening op ander afdwing nie. Sommige mense gaan ontsteld wees, maak nie saak wat jy doen nie. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense (Romeine 12:18). Daar is mense met wie jy nie oor die weg sal kom nie. Jesus het dikwels dinge gesê en gedoen wat die Fariseërs ontstel het. Tog het Hy voortgegaan om hierdie dinge te sê en te doen, want hulle was mense vir wie Hy onmoontlik tevrede kon stel.
  • Om ‘n meer eensgesinde gemeente te bou, moet ons deur die geloof leef. Mense moet in hulle eie gedagtes oortuig wees. Paulus stel hier diegene wat alles eet teenoor diegene wat net groente eet. Jy moet sekere Bybelse  beginsels ontwikkel en in liefde eerlik oor hulle wees.

Dit is die taak van elke gelowige om ander gelowiges op te bou. Doen jy dit nie is jy besig om ‘n deel van jou taakomskrywing te verwaarloos. As jy soos Christus wil wees, moet jy die behoeftes van ander voor jou eie stel – wees ‘n dienaar.

Hoe het Christus ons aanvaar? Onvoorwaardelik. Nie veroordelend nie. Om ander te aanvaar soos Christus dit gedoen het, beteken dat ek hulle moet aanvaar soos Hy my aanvaar nie. Dit word nooit deur my prestasies bepaal nie.




Soms weet ons nie

Zeal is like a fire: in the chimney it is one of the best servants, but out of the chimney it is one of the worst masters. —Thomas Brooks

Soms weet ons nie

Lees weer Genesis 6:1 – 4.

Scot McKnight sê dat toe hy hierdie gedeelte die eerste keer gelees het, het hy gewonder wat op aarde gaan hier aan. Ons lees hier van reuse. Dit is interessant dat die NIV praat van Nephilim – hulle vertaal nie die Hebreeus nie.

 

Ons kry ook ander verwysings na reuse in die Bybel. Toe die verkenners terugkom om verslag oor Kanaän te doen sê hulle: Ons het daar ook die reuse gesien (Numeri 13:33). Goliat was ook ‘n reus. Meeste Ou Testamentici vertaal Nephilin met “die gevallenes.” Sommige sien hulle as gevalle engele.

McKnight sê dat ons hier met baie spekulasie te doen het. Nou het ons twee keuses:

  • Raai wat dit beteken – reuse, gevalle engele … spekuleer.
  • Erken ons nie weet nie.

Soms weet ons nie en om nie te weet nie, is beter as spekulasie.




Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:10-21)

Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:10-21) – Francois Malan

4:10 Jesus bied haar egter die ‘gawe van God’ en ‘lewende water’ aan. Hy is die lewende water, en gee ook die lewende water, die water wat ewige lewe gee (vgl. 6:35). Jeremia 2:13 noem God ‘die bron van lewende water’; Jer. 17:13 noem die Here ‘die bron van lewe’; in Jn 7:37-39 word na die Heilige Gees, wat Jesus gee, verwys as die ‘lewende water’. Hiermee stuur Jesus die gesprek in ‘n nuwe rigting en kom daar ‘n geestelike diepte aan die gesprek.

4:11 Die vrou spreek Hom aan met die beleefdheidsvorm, Here. Sy verstaan ‘lewende water’ anders, want enige lopende water, ook syferwater soos onder in die Jakobsput, word as lewend beskou. Jesus het ook geen emmer/skepding om water uit die 32 meter diep Jakobsput te trek nie. Effe spottend vra sy waar Hy dan die ‘lewende water’ vandaan sal haal. Die vrou misverstaan Jesus se woorde letterlik,  soos die Jode in 2:20 en Nikodemus in 3:4.

 

4:12 Die Samaritane beroem hulle daarop dat hulle Jakob ‘ons vader’ kan noem. Hulle woon ook op die stuk grond wat Jakob by Sigem gekoop het, en gebruik die put wat hy 1,670 jaar tevore gegrawe het. Selfs die vee drink sedert die voorvader van die goeie water. Wie is tog die arrogante man, wat dink Hy is beter as ‘ons vader Jakob’ wat ons deur al die eeue so goed versorg!        

 

4:13-14 Oor die water van die Jakobsput, wat sy so hoog ag, sê Jesus dat jy altyd weer sal terugkom om water te trek, omdat dit nie jou dors blywend kan les nie. Maar as jy eenmaal gedrink het van die water wat Jesus sal gee, sal jy nooit weer dors word nie. Fonteinwater wat elke dag opborrel is ‘n simbool vir sy water, die ewige lewe. As die Heilige Gees jou oortuig het, sodat jy glo dat Jesus die Here en Verlosser van jou lewe is, het Hy in jou kom woon om jou elke dag aan die ewige lewe, die nuwe soort lewe, te bind; aan die liefdesgawe van die Vader aan die wêreld, nl. sy enigste Seun (vgl. 3:16; 17:20-23). Met Nikodemus praat Jesus oor ‘van Bo af weer gebore word’ deur die Heilige Gees om in die koninkryk te kom (3:5-8); met die vrou oor lewende water wat Jesus gee (nl. die Heilige Gees) tot die ewige nuwe lewe.

 

4:15 Hoewel Jesus van die ‘gawe van God’ en die ‘ewige lewe’ praat, begryp die vrou nog nie die geestelike sin van Jesus se gesprek nie. Sy beskou Hom egter as ‘n wonderwerker wat haar  sou verlos van haar daaglikse swaar sleurwerk om te kom water trek – as dit tog sou waar wees wat die man belowe!      

 

4:16-18 Die gesprek oor lewende water het nie die vrou tot geestelike insig gelei nie. Nou raak Jesus haar ongelukkige huwelikslewe aan, om na haar deur te dring. As sy sê sy het nie ‘n man nie, weerspreek Jesus dit nie. Hy sê: ‘Dis reg/goed wat jy nou gesê het’ (letterlik: jy het mooi gesê – jou mooi uitgedraai). Jesus openbaar sy goddelike alwetendheid aan die vrou. Hy ken haar verlede, dat vyf mans haar waarskynlik na mekaar geskei het, en die man wat jy nou het, is nie jou man nie. Die implikasie is dat dit iemand anders se man is, wat haar aanhou. In die samelewing, en veral onder die vrouens, het so ‘n vrou ‘n slegte reputasie gehad.

 

4:19,20 Jesus moet duidelik ‘n profeet wees om haar so deur en deur te ken (vgl. Natanael 1:48,49). Maar sy  draai die gesprek dadelik van haarself af weg, met ‘n vraag na die regte godsdiens. ‘Ons voorouers’, van beide Israel en die Samaritane, ‘het op hierdie berg aanbid’ – die put van Jakob lê aan die voet van die berg Gerisim. Volgens Deutr.11:29 moes hulle die seën op Gerisim afkondig en die straf op Ebal (vgl. 27:9-26). Volgens Deutr.27:3 moes hulle op die berg Ebal ‘n altaar bou waar vir Here geoffer moes word – in die Samaritaaanse Bybel, wat net uit die eerste vyf boeke van Moses bestaan, staan daar Gerisim en nie Ebal nie (wat moontlik reg is, en later deur die Jode in hulle Bybel, uit teenstand teen die Samaritane, verander is na Ebal, waar die vervloekings uitgespreek is). Die Samaritane aanvaar nie die profetiese en ander geskrifte van die Ou Testament nie. Daarom aanvaar hulle ook nie die opdrag van die profeet Gad aan Dawid om ‘n altaar vir die Here op die dorsvloer van Arauna van Jebus, dit is Jerusalem, te bou nie (2 Sam.24:18; vgl. 1 Kron.22:1). Dit was die plek waar Salomo in 950 v.C. die tempel vir die Here gebou het (2 Kron.3:1).

            Die vrou sê: ‘En julle sê dat Jerusalem die plek is waar aanbid moet word’ – moet, volgens God se bevel. Wat sê die ‘profeet’, wat God se wil bekendmaak, daarvan.

 

4:21 Jesus, die enigste Seun van God antwoord beleefd: ‘Glo My, Mevrou, die uur is aan die kom dat julle die Vader (van alle volke) nie op hierdie berg of in Jerusalem sal aanbid nie.’ ‘n Nuwe bedeling het aangebreek met die koms van die Messias. Die aanbidding van die Vader is nie langer aan ‘n plek verbind nie (vgl. Openb 21:22).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Levitikus: Moet ons die boek nog lees? (6)

With a Saviour less than divine you have a religion less than saving. —C.H. Spurgeon

Levitikus: Moet ons die boek nog lees?  (6)

In die vorige blog het ons gekyk na hoe ons beginsels uit hierdie wette kan aflei. Ons sluit af met ‘n praktiese toepassing deur te vra: Wat sou Jesus en Paulus gesê het?

 

Die ryk jongman sê vir Jesus: Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou (Lukas 18:21). Jesus antwoord hom dat hy vir Jesus moet volg en sy prioriteite reg kry – soek eers die koninkryk van God in jou lewe. Selfs die wet beskryf sekere prioriteite: Die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer, sy wil moet gehoorsaam, Hom moet liefhê en dien met hart en siel (Deuteronomium 10:12). Die profete plaas sosiale geregtigheid bokant godsdienstige rituele: Ek verwag liefde eerder as offer, toewyding aan My eerder as brandoffers (Hosea 6:6).

Jesus sê presies dieselfde: Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgends die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid (Matteus 23:23). Hy konsentreer die hele wet in twee gebooie: liefde vir God en liefde vir jou naaste. Paulus het dieselfde siening: Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit (Romeine 13:8).

 

Paulus gaan selfs verder. Vir diegene wat glo dat om “Bybels te leef,” beteken om al die wette wat jy in die Bybel kan kry, uit te voer, sou hy gesê het: “Julle verstaan niks van die evangelie nie. Die Goeie Nuus is nie, ‘Hier is die reëls, kyk hoeveel jy kan onderhou’ nie”. Hy sou waarskynlik gesê het: “Hier is Jesus. Kyk wat God vir jou deur Hom gedoen het.”

 

Die goeie nuus is dat God wat die wêreld gemaak het en sy belofte om die wêreld te verlos, nagekom het. Hy het dit deur die dood en opstanding van Jesus Christus gedoen. Ons kan deel wees van daardie verhaal wat eindig met ‘n nuwe skepping waar Christus as koning regeer. Die goeie nuus verder is dat as ons in daardie verhaal gegaan het deur bekering en geloof, God sy Gees aan ons gee. Hoekom? Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, ons wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees (Romeine 8:4).

 

Daar is baie wat ons uit die Ou Testamentiese wette kan leer. Hulle kan steeds aan ons etiese en missionele denke en optrede rigting gee. Die tora was nog altyd veronderstel om dit te doen. Die hartklop van die Christelike lewe en vryheid is nie om reëls na te kom nie. Nee, dit is om te leef soos mense wie se hele lewe en karakter deur God se woord gevorm word – om meer soos Christus, wat ons vertrou en volg, te word en die vrug van die Gees te dra. Dit is om Bybels te leef.