Die eerste gesprek vervolg (3:11-3:21)

Die eerste gesprek vervolg (3:11-3:21) – Francois Malan

3:11 Vir die derde keer begin Jesus met ‘amen, amen, Ek sê vir jou…’ om die betroubaarheid van sy getuienis te bevestig. Jesus stel ‘ons’ teenoor Nikodemus se ‘ons’ van vers 2: Jesus en dié wat in Hom glo (soos bv. Johannes die Doper en Jesus se dissipels), wat vir Jesus aanvaar en sy wonders as tekens van sy goddelike sending aanvaar, teenoor ‘julle’, bv. Nikodemus en die Jode wat Hom en die heil wat Hy bring nie aanvaar nie.

3:12 Jesus stel die aardse en hemelse dinge teenoor mekaar. Die aardse verwys waarskynlik na wat Hy nou reeds aan hulle vertel het van die geboorte uit die Gees; die hemelse na wat nog verborge is van God se planne, soos bv. Jesus se wederkoms en die komende koninkryk van God. 

 

3:13 Alleen Jesus is in staat om die hemelse dinge bekend te maak, omdat Hy in die hemel was – in voortdurende verkeer tussen die Vader en die Seun. Elke poging van die mens om op sy eie die hemel te bereik is nutteloos. Hy, wat in die hemel by God was, het uit die hemel gekom, mens geword (1:51), sodat weergeboorte kan geskied. Die hemel het van Bo af oopgemaak.

 

3:14 Soos in 1:51 gebruik Jesus ‘n Ou-Testamentiese beeld (Numeri 21:4-9). Soos Moses die slang op ‘n paal gesit het, moet die Seun van die mens ‘verhoog’ word. Die ‘moet’ wys weer na God se besluit wat agter sy kruisdood sit (8:29). ‘Verhoog’ word in Johannes in twee betekenisse gebruik; vir Jesus se verhoging aan die kruis, soos hier en in 12:32,33 – goed sigbaar soos Moses se koperslang; ook vir Jesus se verhoging na die hemel, soos in 8:28. In 12:23,24 word Jesus se verheerliking en sy sterwe gekoppel. Sy kruisdood is in Johannes deel van sy verhoging uit die graf en verheerliking in die hemel, wat mense na Hom toe trek (12:32). Vergelyk Genesis 40:13 ‘die Farao sal jou kop verhoog’ en die skinker word in sy amp herstel; in 40:19 ‘die Farao sal jou kop verhoog’ en die bakker word opgehang (NAV aan jou aandag gee). Terwyl die ander Evangelies die kruisiging sien as Jesus se diepste vernedering, sien die Johannes-Evangelie die kruisiging as die klimaks van Jesus se gehoorsame selfopoffering, sy verheerliking as dienskneg.   

 

3:15 Jesus antwoord Nikodemus se vraag: ‘hoe is dit moontlik?’: ironies, soos wat elkeen, wat deur ‘n slang gepik is en na die koperslang opgekyk het, bly leef het, sal elkeen wat glo, in Jesus die ewige lewe hê. Vir die eerste keer word ‘ewige lewe’ genoem, vgl. ‘lewe’ in 1:4. Anders as die sinoptiese Evangelies, wat met ‘ewige lewe’ na die lewe hierna verwys (Mk 10:30), gebruik Johannes die woorde vir die nuwe lewe wat nou reeds begin en aanhou tot in die ewigheid. Die sleutel tot hierdie lewe is die geloof en vertroue waardeur  ons lewe verbind is aan die gekruisigde en opgestane Seun van die mens. Hy is God se gawe aan ons, en in Hom is die ewige lewe.

 

3:16  Hier is die fundamentele opsomming van die boodskap van hierdie Evangelie, die agtergrond van die doek waarop die  die evangelie geskilder word: die blye boodskap begin by die liefde van God vir sy ongehoorsame wêreld; die kern daarvan is dat God sy enigste Seun (dit dui op intieme liefdesverhouding, Genesis.22:2) vir die wêreld gegee het (deur sy menswording en plaasvervangende dood); die einde daarvan is dat mense nie sal verlore gaan nie, maar sal lewe onder die reddende heerskappy van God, nou reeds en tot in die ewigheid. Die hele sondige wêreld word reeds in 1:4 se ‘mense’ veronderstel, ook in 1:7 en 12:32 se ‘almal’ en 1:9 se ‘elke mens’. Maar die liefde van God plaas die mens voor ‘n keuse en elke mens is self verantwoordelik vir sy beslissing. Die liefde van God open die deur tot redding, maar wie daardie liefde nie met geloof beantwoord nie, gaan verlore. Volgens die voorafgaande gesprek is dit die wedergeborenes wat tot geloof kom en die lewe kry – die antwoord op Nikodemus se vraag: hoe is dit moontlik?. Die geloof is in sy oorsprong die werk van God, maar ook ‘n bewuste wilsbesluit van die mens (1:11,12). God wil dat die mens Hom vrywillig liefhê en dien as reaksie op sy liefde en liefdesoffer.

 

3:17,18  Die Seun het gekom as die Redder van die wêreld (4:42), vir die hele wêreld (die woord kosmos wat in vv16-17 vier maal gebruik word, verwys na die ganse skepping). Maar sy koms stel die mensewêreld voor ‘n beslissing. Hy is die verlossing, maar sy koms staan ook in die teken van oordeel. God het die oordeel aan Hom toevertrou (5:22,27) en Hy oordeel regverdig (5:30) en na waarheid (8:16), en Hy sal ook die eindoordeel volvoer (5:27-29). Die oordeel is reeds gevel, die ongelowige veroordeel homself deurdat hy die Redder afwys. Deur te weier om in Jesus te glo lewer hy homself oor aan die veroordeling. Die eindoordeel deur Jesus is net ‘n bevestiging daarvan.

 

3:19 Die woord ‘oordeel’ word in twee betekenisse gebruik: as ‘n besluit oor wat reg of verkeerd is, soos hier (NAV ‘skeiding’), en ‘veroordeling’ soos in v18. Die Verlosser het as die Lig in die duisternis van die wêreld ingekom . Party mense kom na die Lig toe (1:4,5,9; 8:12) en ander draai weg van die Lig af. So skei hulle, of besluit hulle verskillend, en dit geskied nou in hierdie lewe. God se groot reddingsaksie word ‘n oordeel deur die slegte of sondige reaksie van die mense, omdat hulle die duisternis liewer het as die Lig.

 

3:20 Elkeen wat kwaad (faula  gemeen, veragtelik, sedelik vuil spel) doen, verkies om in die duisternis te bly, sodat sy dade nie oop en bloot as verkeerd aangewys kan word in die Lig-Jesus nie.

 

3:21 Die een wat die waarheid doen, het die waarheid as die norm en inhoud van sy leefwyse. In 14:6 sê Christus ‘Ek is … die waarheid …’. Iemand wie se gedrag dieselfde kenmerk as Christus dra, hoef nie die dekmantel van die duisternis op te soek nie; hy kom na die Lig, in geloof na Jesus, ‘sodat sy werke duidelik kan word, dat dit deur God gedoen is’ (NAV in gehoorsaamheid aan God gedoen is). Sy lewe wys dat hy weergebore is, kind van God is en aan God gehoorsaam lewe. Maar dit kom nie uit homself nie; dit is die vrug van God se genade, God werk in en deur hom.           

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Laat sy liefde jou lei: Wanhoop of hoop jy?

Laat sy liefde jou lei: Wanhoop of hoop jy? – Milanie Vosloo 

Die ryk man het ook gesterf en is begrawe en sy siel het na die doderyk gegaan. Daar, terwyl hy gefolter word, het hy Lasarus in die verte by Abraham gesien. Lukas 16:22b-23

Om sonder God te leef, is om leeg te leef. Om sonder Hom te sterf, vreesaanjaend. Daar word vertel dat Stalin – die man wat verantwoordelik was vir 80 miljoen Russe (die meeste Christene) se dood – se eie dood ‘n wrede gesig was om te aanskou. Daaroor het sy dogter gesê: “Dit was ‘n nagmerrie om my pa te sien sterf!” Lenin het weer gesterf na ‘n nag van geestelike wanhoop waarin hy dwarsdeur die nag vurig om vergifnis vin sy sonde gepleit het. So word daar baie verhale vertel van sterwende ateïste wat op hul sterfbed in doodsangs was … of in genadebesef na God geroep het.

 

Geredde kinders van God sterf daarenteen ánders. Hulle gaan die ewigheid met ‘n stuk vrede tegemoet omdat hulle wéét dat die dood geen verskrikking inhou nie. Hulle is kennelik bewus van die feit dat die dood maar net ‘n oorgang is na die vólle lewe saam met hul Here.

 

Ons kan nie kies waar, wanneer en hoe ons gaan sterf nie, maar so lank as wat ons leef, het ons tyd om te kies hoe ons wil voel … wanneer ons die dood tegemoet gaan.

 

Om saam met God die ewigheid in te stap is … waarlik réde!

 

Vader, ek wil elke dag van hierdie lewe én die ewigheid sáám met U leef.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 




Die eerste gesprek (2:23-3:36)

Die eerste gesprek (2:23-3:36) – Francois Malan

2:23 Na die wynwonder het die dissipels begin glo in Jesus (2:11). Die wondertekens waarvan in 2:23 gepraat word, word nie beskryf nie (20:30), maar daardeur het ‘baie’ wat dit gesien en begryp het, tot geloof gekom in sy Naam, dit is in Hom as persoon, wat God aan ons kom openbaar.

 

2:24 Jesus het Hom nie aan hulle toevertrou nie. Hy ken die mens deur en deur en weet: geloof op grond van wondertekens hou nie. Hulle begin glo dat Hy die verwagte Messias-Redder is, maar as Hy nie aan hulle verwagtings voldoen nie, draai hulle teleurgesteld van Hom af weg, wondertekens ten spyt (Jn 6:66).

 

2:25 Jesus as God ken die swakheid en wispelturigheid van die mens deur en deur (1 Kon. 8:39).

 

Die twee magsdade van Jesus word in die volgende twee gesprekke verder uitgewerk om die radikale nuwe verhouding tussen die mens en God bekend te stel. Persoonlike vernuwing, wat gesimboliseer is deur die wyn wat die reiningingswater vervang , word aan die Joodse leier Nikodemus uitgespel. Die nuwe godsdienstige verhouding, wat gesimboliseer is deur Jesus se liggaam wat die tempel vervang, word aan die nie-Joodse Samaritaanse vrou aangekondig.

 

3:1 ‘n Mens kom na Jesus wat die mens deur en deur ken (2:25). Deur die wondertekens  begin hy in Jesus glo. Hierdie Fariseër, wat teen die Grieks-Romeinse invloed op die Joodse volkslewe veg, het ‘n Griekse naam: Nikodemus (oorwinningsvolk), ‘n leier van die volk as leraar en raadslid (3:10).

 

3:2 Nikodemus kom na Jesus in die nag, ‘n simbool van die duisternis waarin Israel verkeer (11:10). Hy spreek Jesus eerbiedwaardig aan  as rabbi/my leermeester – al is Jesus nie deur rabbi’s opgelei nie, maar die wondertekens bewys dat God by Hom is, dat Hy deur God geleer is. ‘ons’ – Nikodemus en ‘n groepie begin insien dat Jesus van God af kom.

 

3:3 Jesus weet wat Nikodemus wil vra en antwoord sy ongestelde vraag oor hoe ‘n mens deel kan word van die koninkryk van God. Jesus antwoord met ‘n dubbele versekering (‘voorwaar, voorwaar’) om die gesag en waarheid van sy woord te onderstreep. ‘Koninkryk van God’ kom in Johannes slegs in 3:3,5 voor. Om die koninkryk, waar God as koning regeer, te ‘sien’, kan nou reeds beleef word deur ‘n geboorte; die Griekse woord anoothen beteken ‘weer’ maar ook ‘van bo af.’  Nikodemus verstaan dit as ‘weer’ ‘n slag gebore word; Jesus bedoel ‘van Bo af’ gebore word, soos 1:13 ‘uit God gebore.’  Menslike prestasie gee nie toegang tot God se koninkryk nie. Slegs God gee die toegang, deur ‘n geestelike geboorte van Bo af.

 

3:4 Nikodemus kan dit nie met sy gesonde verstand verstaan nie. ‘n Tweede geboorte uit sy moederskoot is onsin en onmoontlik vir ‘n volwasse man soos hy. Hy begryp nie dat dit ‘n vernuwing is van sy hele wese van die grond af nie. Dit is ‘n nuwe soort lewe wat God met jou begin. Die ‘kan’ van die mens kom teenoor die ‘kan’ van  God (vgl. die vyf maal  ‘kan’/’kan nie’ in v2, v3, v4 tweemaal, v5).

 

3:5 Jesus verduidelik op sy versoek weer met ‘voorwaar, voorwaar.’  Sy  antwoord herinner aan Esegiël. 36:25-27 se reinigingswater en God se Gees in ons. Die water is simbool vir Jesus se bloed (6:53-56). Die Heilige Gees oortuig mense van sonde en dat Jesus jou verhouding met God regmaak deur in Hom te glo (16:8). .     

 

3:6 Waarom weergeboorte nodig is word verduidelik: wat uit ‘n mens gebore is, is ‘n mens met sy swakhede, sterflikheid en sondigheid (1:13), en wat uit die Gees gebore is, is gees – ‘n geestelike mens  (1:13 ‘uit God gebore’), ‘n kind van God. Die koninkryk van God is geestelik, en word gebou deur die Gees van God in die harte van mense (4:23-24). 

 

3:7 Om in die Godsryk te kom, moet  jy weergebore of liewer ‘van Bo af gebore’ word. Die ‘moet’ verwys altyd dat God dit vereis. Maar die wedergeboorte kan nie deur ‘n mens gesoek of verdien word  nie. Dit word deur die Heilige Gees in ons gewerk deur ons met die woord van God te oortuig sodat ons in die Seun van God glo.

 

3:8 ‘uit God gebore’ word verduidelik as ‘uit die Gees gebore’, en die Gees se werking word vergelyk met die wind, wat ons nie kan beheer nie, maar voel en bome sien buig. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. Ons kan niks doen om in die koninkryk van God te kom nie – Hy doen dit vir, en aan, en in ons. Ons kan slegs die veranderde lewe van mense sien, en self ook weet van ons nuwe dryfveer. Die Hebreeuse woord ruach en die Griekse woord pneuma word altwee gebruik vir ‘wind’ en vir ‘gees’ of ‘Gees’. Vandaar die vergelyking van die werking van die Gees in ons gees met dié van die wind.

 

3:9,10 Nikodemus weet nou wat Jesus bedoel: nie ‘n tweede keer liggaamlik gebore word nie, maar verstaan nog nie hoe die geboorte deur die Gees plaasvind nie. Nou is dit nie meer ‘n teoretiese vraag nie, maar een wat hom persoonlik raak. Die antwoord daarop gee Jesus eers van vers 14 af, ná ‘n inleiding daarop. Jesus noem  Nikodemus ‘die leraar van Israel,’  ‘n verteenwoordiger van die ware volk van God (nie van ‘die Jode’ wat gebruik word vir die ongelowige verwerpers van Jesus nie). As Fariseër kon hy uit die Skrifte iets aflei van  die nuwe verbond wat God beloof het (Esegiël 11:19-20; 36:26-29; Jesaja 44:3-5; 59:21; Ps 51:12-13).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Psalm 119:50

Pleasure in the job puts perfection in the word – Aristoteles

 

Psalm 119:50

Dit is my troos in my ellende; dat u belofte my in die lewe hou (NAV)

Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewendig maak (OAV)

In slegte tye hou u beloftes my aan die gang (Die Boodskap)

 

Hierdie is die tweede vers in die Sajin-gedeelte van Psalm 119. Elke vers in die Hebreeuse Bybel begin met Sajin.

 

 

Wat doen ons as ons mismoedig is? Slaap? Eet? Hardloop? Lees? As die psalmis mismoedig is,  gaan hy na God se beloftes. Hierdie vers belowe vir ons dat God se beloftes lewe gee. Maar hoe kan dit gebeur?

  • God se beloftes gee vir ons hoop. Dit is iets wat ons almal nodig het, veral as die lewe moeilik is. Hoop  ondersteun ons en fokus ons op die toekoms., wanneer dinge beter sal wees as God sy belofte nagekom het.
  • God se beloftes vertroos ons.  Ons besef dat God se wêreld vol mense, soos die psalmis, is wat in ellende verkeer. Ons is nie alleen nie – daar is ander mense net soos ons  wat op God en sy beloftes in hulle ellende vertrou.
  • God se beloftes gee vir ons God. Dit is sy belofte. God maak die belofte en Hy sal dit uitvoer. Om op sy beloftes te fokus, verdiep ons verhouding met Hom, want dit verseker dat ons die hele tyd na Hom kyk.

 

God belowe nie dat hy ons ellende onmiddellik sal wegneem nie, maar te midde van ons ellende vertroos Hy ons – Hy is by ons teenwoordig. Wat gee vir jou lewe te midde van jou ellende?